MARC LOTTERING ’n Anderste soort pastoor
Daai boskasie. Einstein, Simson sou Marc Lottering s’n sweerlik beny het.
En het al drie se krag nie dalk in hul hare gelê nie? Simson was die wêreld se sterkste, Einstein die slimste en Marc . . . vir lojale ondersteuners die snaaksste. As regstudent by die Universiteit van Kaapstad was sy hare kort, betaamlik. Toe beland hy op die verhoog, die kreatiewe sappe begin vloei – en kyk hoe lyk pastoor Lottering se seun nou!
Sy oë flits oor die see waarop die koffieplek in Seepunt uitkyk. Dan boor hy ingedagte met sy wysvingers weerskante van sy kop, asof hy só, op ’n magiese manier, diep dinge daar onttrek. Woel aan ’n krulletjie. Sy stem is sag, sy lag hartlik en uit sy maag.
Moenie vra hy moet grappies rondom ’n braaivleisvuur maak nie. Jý gaan teleurgesteld wees – hý gaan stres. Meraai lê kaal in die pad, néé. Maar die komiese, absurde in ’n situasie, dié praat onmiddellik met hom en hy bons dit na jou toe terug. “Gister kyk ek wie op my Facebookblad word Corona genoem. Kan jy jou indink dis jou naam en jy moet by internasionale paspoortbeheer aanmeld . . .”
Op skool was hy soos ’n vis op droë grond, “bietjie van ’n alleenou”. Daar was wel onderwysers tyd gewees, maar in sy laat hoërskooljare het hy sy eie gevind. “Randeiers soos ek” wat buite die boks dink en met wie hy steeds vandag vriende is. Stadigaan het die besef posgevat: Hy wou mense goed laat voel. “As ek sien jy stry met ’n vriend, gaan ek uit my pad om die situasie met ’n snaakse storie te ontlont. Die lewe is nou eenmaal net te kort. Ek probeer sover moontlik die kant van als raaksien.
You’re reading a preview, subscribe to read more.
Start your free 30 days