Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Donkerdrif
Donkerdrif
Donkerdrif
Ebook527 pages9 hours

Donkerdrif

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

’n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ’n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 23, 2020
ISBN9780798181679
Donkerdrif
Author

Deon Meyer

Internasionaal bekende skrywer Deon Meyer woon op Stellenbosch. Sy publikasies sluit in dertien misdaadromans (onder meer Spoor, 2010, 7 Dae, 2011, Kobra, 2013, Ikarus, 2015, Koors, 2016, Prooi, 2018, en Donkerdrif, 2020). Orion, Proteus en Infanta is met die ATKV-prosaprys bekroon en Prooi met die ATKV-prys vir Spanningsfiksie.

Read more from Deon Meyer

Related to Donkerdrif

Related ebooks

Related articles

Reviews for Donkerdrif

Rating: 4.177419274193548 out of 5 stars
4/5

31 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Donkerdrif - Deon Meyer

    9780624089810_FC

    Human & Rousseau

    Vir Marianne

    Met liefde

    We are in danger of destroying ourselves by our greed and stupidity.

    – Stephen Hawking

    As ’n sekulêre psigologiese konsep is gierigheid ’n buitensporige begeerte om meer te besit as wat jy nodig het.

    – Wikipedia

    JULIE

    1

    Kaptein Bennie Griessel hoor die dringende voeteval en die noodkreet; sy Valke-kollega Vusi Ndabeni roep hulle moet kom, hulle moet kom, daar’s ’n transitorooftog, nóú.

    Dinsdagoggend in Julie, middel van die winter.

    Hy los die dossier voor hom op die lessenaar net so, hy gryp die Z88 uit sy laai en hy hardloop. Vusi is klein van gestalte, die stil een, altyd kalm. Maar nie nou nie, daar is ’n intensiteit in sy stem, dis daarom dat Griessel nie huiwer nie.

    In die gang gordel hy die pistoolsak so in die draf om sy heupe vas. Hy sien Vaughn Cupido aankom, lang jas wat agter hom wapper, sy Batsuit, sy winteruitrusting.

    Praise the Lord, roep Cupido. Bennie weet dis omdat sy kollega nie hou van die dralende speuradministrasie nie. Dis waarmee hulle besig was. Hierdie is ’n uitkoms.

    Frankie Fillander en Mooiwillem Liebenberg verskyn uit hul gedeelde kantoor. Die gedreun van sole op die kaal teëlvloer van die DPMO – die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke – in Bellville, ’n kapteinstrop wat storm na die wapenstoor op die eerste verdieping.

    Ndabeni is al daarbinne; hy gee R5-aanvalsgewere en ekstra magasyne aan terwyl adjudant-offisier Bossie Bossert haastig aantekeninge in sy inventaris maak.

    I want a Stompie, sê Cupido.

    Vusi gee vir hom die RS200-haelgeweer met die pistoolgreep aan, en ’n patroonband.

    Jy’s altyd ’n annerster gatta, jy, sê Fillander. Dis ’n cash-in-transit, nie ’n bankroof nie.

    Method in my madness, uncle, sê Cupido. Just wait and see.

    Bring hulle terug! skree Bossert agterna.

    * * *

    Die laaste vyf maande al het hulle soggens met oggendparade kennis geneem van Vusi se ondersoek: Hy werk aan die vlaag transitorooftogte in die Wes-Kaap. Dieselfde bende, dieselfde modus operandi; tien mans in vier gesteelde motors wat ’n vrag voorlê. Een voertuig, altyd oud en swaar, wat doelbewus in die sekuriteitswa vasjaag en dit tot stilstand dwing. Die ander wat die wa omsingel en, volgens ballistiese toetse ná die aksie, losbrand met AK47’s en ’n eksotiese versameling handwapens. Tot die wagte oorgee. Of, as hulle weier, springstof by die agterdeure. ’n Geraamde veertienmiljoen rand al gesteel.

    Die rowers is skimme, hulle laat geen goeie forensiese bewyse agter nie. Ndabeni is raadop, en onder baie hoë druk van hulle almal se direkte bevelvoerder, kolonel Mbali Kaleni.

    Daarom dat die vyf speurders nou jaag, teen honderd-en-vyftig kilometer per uur, met die twee ongemerkte motors, die BMW X3 voor en die Ford Everest agterna. Eers N1 toe, dan oos.

    Griessel se foon lui. Dit is Vusi, vanuit die BMW wat Fillander bestuur.

    Vusi?

    Ndabeni moet baie hard praat bo die geloei van die sirenes: I believe the robbers have a police radio, so we’ll restrict comms to the phone. It’s a very hot tip from my new piemp, very credible. They’re going to hit a Pride Security van on the R45, between Malmesbury and Paarl.

    Griessel herhaal al die inligting vir Cupido, agter die stuurwiel, en Liebenberg.

    I’ve notified Paarl, they’re sending the task force, sê Ndabeni.

    Die Paarl huisves die hoofkwartier van die SAPD se Boland-klos en dié streek se taktiese taakmag, wat in die volksmond as S.W.A.T bekendstaan.

    Griessel deel die nuus met sy kollegas.

    O wee, sê Cupido, wat nie baie respek vir die landelike polisiekantore se vermoëns het nie.

    I’ve called Pride Security. They’ll reroute the van, sê Vusi. So we’re hoping to get the gang as they’re waiting.

    Do we know where they’ll be? vra Griessel.

    At the junction of the R45 and the Agter-Paarl Road, sê Vusi. En ten slotte: The chopper is coming too.

    Hulle ry. Die blou berge is majestueus daar voor, die Boland mooi en helder op dié koue dag.

    * * *

    Dit is, soos Cupido dit later sal beskryf, ’n clusterfuck of majestic proportions. Van die begin af.

    Want die rowers het ’n radio wat ingestel is op die frekwensie van Pride Security. Hulle hoor van die nuwe roete wat die wa gaan volg.

    Want Vusi kies die R44 omdat hy tereg redeneer dit sal veel stadiger wees om deur die Paarl te ry, sirenes ofte nie.

    Want mevrou Barbara van Aswegen, boervrou in die opstal net sestig meter weg van die rooftoneel, sal die slae en skote hoor en dadelik die Paarl se SAPD bel, wat op hul beurt die taakmag laat weet waar die aksie is. En dan sal sy haar man se .308 Winchester-jaggeweer uit die kluis gaan haal.

    Maar eers haal die rowers die wa in. Hulle slaan toe net anderkant die Windmeul-wynkelder, waar die dubbelpad soos twee rivierstrome saamvloei in ’n enkele ryvlak. Dit is ’n swaar ou 1995-model Mercedes S500 wat met ’n dowwe slag teen die gepantserde sekuriteitsvoertuig se regter-sykant vasjaag. Die Pride-bestuurder, vol adrenalien en vrees en vasberadenheid, ry te vinnig. En hy oorkompenseer met sy teenreaksie. Hy ruk die stuurwiel na regs, maar die Mercedes maak in dié oomblik nie kontak nie en die wa swaai te skerp. Dit rol, twee, drie, vier keer, en skuif dan oor die teer, vonke wat spat, metaal wat skuur, ’n hoë, temende geluid. Dan kom dit op sy linkersy tot stilstand, in die middel van die teerpad.

    Die vier roofkarre trek laer om die wa – die Mercedes voor om die moontlike aankomende verkeer weg te hou, een weerskant en een agter. Die rowers spring uit en begin op die sekuriteitsvoertuig skiet. Hul gebruiklike strategie. Hulle weet die wa se vensters en panele is koeëlvas, maar die gordynvuur van klappende lood is gewoonlik só vreesaanjaend dat die wagte oorgee. Daarom dat hulle hul magasyne leegskiet en tydens die herlaaislag die Pride-manne kans gee om met hul hande in die lug uit te klim. Sodat die stertkant se deure sonder verdere slag of stoot oopgesluit kan word.

    Nie dié keer nie. Die wagte bly hang in hul veiligheidsgordels, beseer, geskok en beangs.

    Die rowers wend hulle tot Plan B. Twee spring uit die agterste motor en hardloop met die springstof na die wa. Hulle druk dit behendig teen die naat van die deure vas, hardloop terug om agter die voertuig skuiling te soek, en laat dit ontplof. Die slag dawer oor die kaal winterwingerde, só luid dat die skoolkinders van die Laerskool Slot van die Paarl daar naby grootoog na die juffrou kyk.

    ’n Bollende wolk van vlamme en swart rook styg op. Die rowers se ore tuit van die knal, sodat hulle nie die sirenes van die aankomende Valke dadelik hoor nie.

    * * *

    Vusi Ndabeni sien die rook van die ontploffing eerste. Hy skree Ndiyoyika! en beduie met sy vinger vir Fillander.

    Swerkater, sê Frankie, die ou veteraan. Hy kyk na die agterste sitplek waar sy geweer lê.

    Hul hartklop versnel. Fillander trap instinktief rem.

    Vusi bel vir Griessel. Do you see the smoke?

    Yes, sê Bennie en wys dit vir die ander twee in die Everest uit.

    Fokkit, sê Cupido. Party time.

    Griessel voel meteens ’n intense behoefte na die kalmerende kragte van ’n Jack Daniel’s. Hy is ’n rehabiliterende alkoholis, al meer as tweehonderd dae lank sonder drank.

    Hy en Liebenberg klap die voubare kolwe van hul R5’s terug, en haal oor. Duime op die groot veiligheidsmeganismes. Cupido rem om sy afstand van die BMW te behou.

    * * *

    Die twee rowers wat voor by die Mercedes wagstaan vir aankomende verkeer, sien en hoor die Valke gelyk. Hulle skree op die ander agt, wat besig is om die geldkiste agter uit die Pride-wa te haal, maar dit is te laat. Wanneer hulle die eerste skote op die SAPD-karre begin afvuur, het die BMW en Everest reeds met skreeuende bande stilgehou – dwars in die pad. Die speurders het uitgepeul aan die veilige kante van die motors. Hulle skuil agter die voertuie en beantwoord nou die vuur. Cupido, wie se Stompie nie vir dié afstand gebou is nie, het sy Glock 17 in al twee hande.

    Vuurwapens knetter, lood klap teen al drie die voertuie en die padoppervlak, koeëls wap-wap verby, sommige baie naby, die chemiese reuk van dryfladings dik.

    Vir die agt geldkisdraers is daar ’n oomblik van wik en weeg: Help hulle terugskiet, of kry hulle die buit so spoedig moontlik in hul wegkomvoertuie? Want die pad Paarl toe is nog oop agter hulle. Die leier met die oranje mus op, seningrig en slim en vreesloos, het ervaring van vele rooftogte. Hy het nie veel respek vir die polisie se vaardighede nie en glo sy makkers sal hulle lank genoeg besig kan hou. Hy skree op die ander om die kiste in die motors te kry.

    Hy weet nie van Frankie Fillander se talente nie.

    Fillander is een van die drie topskuts in die Kaap se DPMO – beter bekend as die Valke. En sy destydse ervaring by die SAPD-stasie in Mitchells Plain het hom geleer om kalm te bly as daar op jou losgebrand word. Daarom dat sy R5 op enkelskote ingestel is en dat hy agter die gatkant van die BMW op sy maag lê. Sy kollegas bied dekkingsvuur. Hy wag sy kans af, lê deur die groot voorste ringvisier van die geweer aan op die eerste man by die Mercedes. Fillander tref hom hoog in die regterskouer. Die man ruk en laat sy AK val.

    Fillander swaai die loop na links. Hy kan net die een arm van die ander rower by die Mercedes sien waar dit geknak is om die AK vas te hou. Hy mik, probeer die beweging van die ledemaat in ag neem, en skiet. Die 5.56×45-rondte verbrysel die elmboog, die man roep sy pyn en skok uit.

    Geen rower skiet nou terug nie.

    Dit is die oomblik dat Bennie Griessel dink hulle het dié ding onder beheer, vandag wen die goeie ouens.

    Dan daag die kavallerie op.

    2

    Die Boland-taakmag kom van die Paarl se kant af. Oos.

    Die Valke het uit Butterfly World se rigting gejaag. Wes. ’n Perfekte knyptangformasie, sou hulle dit vooraf beplan het, ’n dodelike flankstrategie wat die rampokkers in die kruisvuur sou plaas.

    Maar hulle hét dit nie vooraf beplan nie. Die radiostilte, die rook van die ontploffing en die dampe van geweervuur, die rowers wat heen en weer hardloop om kiste te laai, en wilde skote tussenin afvuur, beteken dat die taakmag-bevelvoerder, luitenant-kolonel Phila Zamisa, aanvanklik nie eens bewus is van die Valke daar oorkant nie.

    Hy en sy troepe in hul koeëlvaste swart stedelike gevegsbaadjies en met hul Heckler & Koch MP5N-masjienpistole, R5-gewere en ’n McMillan TAC-50-skerpskutgeweer, hou stil, spring uit en begin skiet. Die agt oorblywende rowers duik onder en agter voertuie in, en die meeste van die taakmag se skote klap aan die oorkant teen die Valke se motors vas.

    Hulle tref Mooiwillem Liebenberg, die man wat bekendstaan as die Valke se weapon of mass seduction vanweë sy aantreklikheid vir vroue, teen die wang. Genadiglik vir sy voorkoms is dit skrams, ’n bloedstreep verby sy linkeroor. En die taakmag hou aan met skiet.

    Die Valke het hul vuur gestaak omdat hulle die taakmag kan sien.

    Wat het ek gesê? O wee! skree Vaughn Cupido.

    Fok, sê Griessel.

    I’ll call them, roep Vusi, want hy het kolonel Zamisa se nommer. Hy lê net onder die voorpunt van die BMW, wikkel sy foon uit sy baadjiesak, en bel.

    Dit neem ’n rukkie voor die offisier antwoord. Ndabeni skree so hard as wat hy kan bo die geknetter en geknal, en eindelik snap Zamisa wat hy sê.

    Stilte daal neer.

    By die plaasopstal reg langs die pad het die boervrou Barbara van Aswegen die oorlog lank reeds gehoor. Sy is alleen by die huis, maar sy is paraat, die jaggeweer reeds in haar hande. Sy besluit dat dit nou tyd is om te begin skiet, om huis en haard te beskerm. Sy brand los op die ongemerkte Valke-voertuie wat sy duidelik kan sien, want sy glo hulle is deel van die rooftog.

    * * *

    Bennie Griessel hoor die skoot hier iewers van links af. Dit klap reg bo hom teen die Everest vas. Hy vloek en sak op sy hurke neer.

    Nog ’n skoot. Weer klap dit teen die Ford vas.

    Jissis, sê Cupido.

    Frankie Fillander kan vir Barbara van Aswegen sien. Dit is ’n antie! skree hy. En dan vir haar: Antie, dis polieste diékant!

    Maar sy hou aan met skiet.

    Griessel hoor hoe Vusi se foon lui. Seker Zamisa van die ander kant af, om te hoor wat nou aangaan. En dan sien hy hoe die rowers die situasie benut, hoe hulle begin hardloop. Suid, weg van die boervrou af, oor die draad, die wynplaas in. Kom, Vaughn, Willem, sê Griessel. Hy herlaai sy R5, spring op en hardloop agterna.

    Die rowers is jonger, ratser. Griessel is fietsry-fiks, maar hy was nog nooit ’n naelloper of ’n oor-die-draad-springer nie. Cupido is veel meer van ’n atleet, maar dit was voor hy sestien kilogram oor die afgelope jaar aangesit het. En Mooiwillem Liebenberg wil gaan help, maar Barbara van Aswegen skiet op daardie oomblik die passasiersdeur se ruit hier by sy kop uit, sodat die glas oor hom spat en hy moet platval.

    Bennie is eerste oor die draad en deur die lang ry populierbome wat ’n soom met die pad vorm. Hy sien die agt rowers wat op die kruin van die helling by die plaas se witgekalkte buitegebou verbyhardloop. En, uit die hoek van sy oog, dat van die taakspan se mense aan sy linkerkant ook aan die nader beweeg is. Hy kyk terug. Vaughn Cupido se lang, elegante jas sit in die draad vas, die pistoolgreep-haelgeweer in sy hand.

    Ek kom, Benna!

    Griessel hardloop. Die grond is sopnat van die laaste reën, die modder glad. Bo by die buitegebou moet hy rem om te gaan staan, want hy wil eers versigtig om die hoek loer. Maar hy gly en slaan neer. Hy spring op, modder op sy broek en sy elmboë.

    Hy sien die rowers, in volle vlug. Hy wil die R5 lig en skiet, maar besef daar is ’n ry arbeidershuisies voor. Die vier taakmagmanne kom vinnig met die plaaspad aan, maar hulle is nog te ver weg om die rowers te kan onderskep.

    Hy hardloop, sy asem jaag nou en sy bors brand.

    By die huisies moet hy weer talm en kyk. Die voortvlugtiges is af na die laagte toe, anderkant die dam, op volspoed. Hy lig die geweer, skiet drie skote. Dit maak geen verskil nie.

    Iets is nie reg nie. Hy tel die hardlopende figure – daar is nou net sewe rowers tussen die lang rye winterkaal wingerde. En hulle breek op. Een groep van vier swaai regs, die ander drie hou reguit aan.

    Dan is die taakmagmense by hom. Hy herken vir kolonel Zamisa.

    Ah, Bennie, sê Zamisa. Come with me, we’ll take those three. Hy beduie vir sy spanlede om die groep van vier te jaag.

    Griessel kyk terug. Cupido is dertig meter agter hom. Vaughn, een van hulle is hier in ’n werkershuis in! skree hy.

    Los die fokker vir my! skree Cupido terug, baie uitasem.

    Zamisa spring weg. Hy is in sy veertigs, maar fiks en flink. Griessel moet uithaal om by te bly.

    There’s a primary school there, sê Zamisa so in die hardloop, en wys oos.

    Shit, sê Bennie Griessel, want dit kan gyselaars beteken. Groot moeilikheid.

    Maar die drie vlugtendes swaai meteens noord, in die rigting van ’n peloton dennebome.

    They want to double back to their vehicles, sê Zamisa.

    Griessel het nie asem om te antwoord nie.

    * * *

    Cupido staan reg langs die boonste werkershuis, sy hand teen die muur om tot verhaal te kom. Hy sal gewig moet verloor, hy was lanklaas só dik en onfiks, hoe gaan hy maak? Sy Banting-dieet wil nie aan die gang kom nie. Dis sy vriendin, Desiree Coetzee, se skuld. Sy hou van kosmaak en uiteet. Daar’s altyd soetgoed in die huis, wat hy nie kan weerstaan nie.

    Hy sien hulle wegsnel oor die deining van die landskap, sy kollega en die taakmaglede.

    Van anderkant die pad kan hy steeds die enkelskote hoor wat die boervrou op Vusi-hulle afvuur.

    Hy skud sy kop.

    Clusterfuck.

    Hy loer om die hoek, kyk af in die pad wat tussen die ry van vier geboutjies en ’n boomlaning loop.

    Stil.

    ’n Beweging tussen die bome. Hy lig die haelgeweer, al weet hy dis te ver vir dié wapen.

    Dis ’n kind – ’n bruin seuntjie, dalk vyf jaar oud – wat kop uitsteek, die gesiggie verskrik.

    Cupido sluip om die hoek, hou teen die muur, beweeg na die kleintjie toe.

    Skote klap, suid, ver weg.

    Die kind skrik.

    Cupido voel aan die eerste huisie se deur. Dis gesluit. Die rower kon dit van binne af gesluit het.

    Die kind beduie iets vir hom. Cupido kyk. Die vingertjie wys in die rigting van die derde huis.

    Cupido draf nader, so ligvoets as wat hy kan, tot by die seun.

    Hy fluister: Is hy dáár in?

    Die koppie knik.

    Is daar nog iemand daar binne?

    Die baby.

    Die baby? Waar’s sy ma?

    Die kind wys weer met sy vinger, dié keer in die rigting van die opstal. Hy fluister: Sy’t hout gaan haal, uncle. Dis koud.

    Cupido knik. Bly daar agter die boom. Lê plat.

    Die kleintjie knik plegtig en gaan lê, hande oor sy ore.

    Vaughn loop oor die stoepie, tot by die toe deur. Hy plaas die haelgeweer op die sementvloer, trek sy jas uit, sit dit langs die vuurwapen neer. Hy wil nie hê dit moet sy bewegings beïnvloed nie. Hy tel weer die RS200 op, gaan staan langs die deur, rug teen die muur.

    Come out, and I won’t shoot you! roep hy.

    Skote klap van binne af, ’n AK47 op outomaties. Die houtdeur versplinter. Die baba begin skree daar binne.

    Cupido wag tot die magasyn leeg is. Dan skop hy die deur oop en duik na binne. Hy rol een keer, rig so in die lê die haelgeweer op die rower. Die leefvertrek is klein. Die man staan agter ’n rusbank. Op die rusbank lê die huilende baba, die skril geluid wat deur murg en been sny. Die rower het ’n pistool in sy hand, rig die loop teen die baba se wang.

    I’ll kill the baby, sê hy vir Cupido, sy oë wild.

    Vaughn besef Fillander was reg. Die Stompie was die verkeerde keuse. Want as hy nóú skiet, gaan die hael die baba ook tref.

    3

    Take it easy, brother, sê Cupido.

    Hy hou sy linkerhand hoog, maak die vingers van sy geweerhand oop in ’n gebaar van oorgawe, kom stadig op sy voete.

    Drop the gun, sê die rower. Die pistool teen die baba se wang bewe. Die kind skree.

    Okay, sê Cupido. Easy. Hy verplaas stadig die Stompie na sy linkerhand terwyl hy afsak, maar haal nie sy oë van die man af nie. Hy laat sak die haelgeweer stadig vloer toe, al stadiger, laer en laer. Hy weet die oomblik dat hy die greep los, gaan die man sy pistool lig en hom skiet.

    See, I’m going to put it down gently. Hy wil die rower se aandag by die haelgeweer hê, sodat sy regterhand hier agter in sy gordel kan vat.

    Hy sal sy tydsberekening moet regkry.

    You want me to kick it over to you? vra hy net voor hy die Stompie neersit.

    Die baba skree. Oorverdowend.

    Hy vra weer, harder: You want me to kick it over to you?

    Die man antwoord nie, hy is ’n gespanne veer, maar sy oë volg die RS200.

    Cupido hoor die vrou se stem buite, vreesbevange. My kind, my kind!

    Vaughn laat die geweer val, die laaste paar sentimeter, sy regterhand het die Glock 17 se kolf agter sy rug. Hy ruk dit uit. Die man lig sy pistool. Cupido duik en skiet.

    Die twee skote klap gelyk.

    * * *

    Kolonel Zamisa is sewe treë voor Bennie by die lang klipmuur. Die dennebome is nog ’n entjie verder.

    Griessel se bors brand, hy moet eers teen die koue klip aanleun. Sy hare, soos gewoonlik een sny agter, is nog meer deurmekaar as gewoonlik. Sy amandelvormige oë, wat al as Slawies beskryf is, is geskreef teen die skerp son. Hy’s te oud vir dié soort manewales, dink hy, ses-en-veertig, maar jissis, sy myle is veel hoër.

    The shooting has stopped, sê Zamisa.

    Griessel knik. Die boervrou het tot haar sinne gekom.

    It’s a cemetery, sê Zamisa, wat op sy tone moet staan om oor die muur en tussen ’n paar sipresse deur te loer.

    Griessel doen dieselfde.

    Die Slot van die Paarl-kerkhof is omtrent honderd meter lank en vyftig breed. Die muur loop reg rondom, daar is ’n hekkie aan die teenoorgestelde kant van waar hulle is. ’n Paar honderd grafstene.

    Hy sien ’n beweging. Die loop van die Russiese aanvalsgeweer net-net sigbaar van agter ’n groot marmersteen. ’n Rower kruip daar weg.

    They’re in there, sê hy.

    Zamisa talm net ’n oomblik. Bennie, you go around to the gate. I’ll wait for you to cover me. When you start shooting, I’ll come over the wall. Catch them by surprise.

    Right, sê Griessel. Hy spring weg, effe gebukkend om agter die muur te bly. Hy gaan regsom, wat na die korter pad lyk om by die hekkie te kom. Hy probeer sy voeteval so sag moontlik hou. Dit is relatief maklik op die nat, sagte grond en gras.

    Om die eerste hoek. Hy hardloop langs die kort kant van die kerkhof af. Hy hoor niks, net duiwe wat koer in die sipresse. ’n Akkedis skarrel oor die oker klippe.

    Om die laaste hoek.

    ’n Rower by die hek, op sy hurke, waaksaam, AK in sy hande. Maar hy kyk noord, weg van Bennie af. Dan hoor hy die speurder en hy draai om. Griessel duik plat sodat hy die kleinste moontlike teiken bied, hy mik en skiet, twee vinnige skote.

    Die man slaan agteroor.

    Knalle van binne; dit klap skadeloos teen die ander kant van die muur vas.

    Bennie besef Zamisa gaan dink dit was sy dekskote gewees. Die kolonel gaan nou oor die muur spring. Griessel vlieg op, hekkie se kant toe.

    Anderkant die muur hoor hy knalle, dié van die taakmag-bevelvoerder se R5.

    * * *

    Buitekant die werkershuisie gil die ma van die baba, ’n skril klaaglied wat uitstyg bo die geskree van die kind.

    Cupido hoor haar oor die sementstoep hardloop. Bly buite! roep hy, want hy wil nie hê sy moet die rower sien met die gapende wond waar sy regteroog was nie. Hy spring op, druk die Glock terug in sy gordel, tel die baba baie versigtig op en draai om.

    Sy staan in die deur, ’n klein, fyn vrou, skaars in haar twintigs. Sy teem hoog en aanhoudend, hou haar arms uit vir die baba.

    Hy gee die kind vir haar. Die baba huil onophoudelik. Kom, sê hy, alles is okay. Hy loop terug, tel die Stompie op, en hy stuur die vrou na buite. Hy kyk na die koeëlgat in die muur – die rower se skoot. Dit het hom met millimeters gemis.

    Fokkit.

    Hy loop uit. Hy wil vir die seuntjie daar buite gaan dankie sê.

    * * *

    Griessel hardloop by die kerkhof se hekkie in.

    ’n Skoot tref die muur hier reg langs hom, klipsplinters en stof spat in sy regteroog. Hy slaan agter ’n graf neer. Nog koeëls klap, hier rondom hom. Hy kan nie ordentlik sien nie, die trane loop, hy los die R5, probeer sy oë skoonvryf.

    ’n Oomblik van stilte. Niemand skiet nie.

    Hy hoor net betyds die voetstappe. Die rower dink hy’s raakgeskiet, vermoed Griessel, hy kom om die doodskoot te gee. Hy gryp die geweer, rol op sy rug, lig die R5, wag. Alles is wasig, sy sig is steeds belemmer.

    Die man verskyn in die paadjie met ’n uitdrukking van moordlus in sy oë, doelgerig, maar hy skiet oorhaastig, die geweer nog swaaiend na onder, sodat die knetterende AK die hekkie en die muur tref.

    Griessel se hart galop, die impuls om die sneller te trek is oorweldigend, maar hy wag, neem die man se beweging in ag, skiet een, twee keer, en die man val bo-op hom, sy vinger steeds om die sneller, tot die Russiese wapen leeggeskiet is. Bennie druk die rower met geweld van hom af, sy loop teen die rower se bors. Hy skiet nog een keer. Die liggaam is leweloos.

    Alles stil.

    Griessel kom op sy knieë, bewend van die adrenalien. Hy lig sy kop van agter die grafsteen. Hy sien vir Zamisa, sestig meter ver. Hulpeloos, die R5 in sy hande, die magasyn klaarblyklik leeg. Voor hom is die seningrige man met die oranje mus – sy rug na Griessel – wat op die taakmagleier afstap, pistool in die hand.

    Hy het een kans, weet Griessel. Sekondes.

    Sy regteroog traan, maar daar is nie tyd vir nog vee daaraan nie. Hy sit sy elmboog op die grafsteen, hy lê aan deur die mistigheid van sy sig, en hy skiet.

    * * *

    Die lenige bendeleier lê en steun. Die wond hoog teen sy blad bloei, sy hande is agter sy rug geboei. Hy sê nie ’n woord nie.

    Griessel en Zamisa kyk hoe die taakmagvoertuie aankom.

    Fancy gun, sê die kolonel en raak met sy stewel se punt aan die AK47 wat nou regop teen die muur staan. I’m assuming – and hoping – you’ll be doing the Buddie Fick?

    Want om ’n wapen te Buddie Fick beteken die betrokke speurder moet die aansienlike vuurwapen-dokumentasie voorberei vir die SAPD se Verbeurdverklaringstoor in Silverton, buite Tshwane, waar kolonel Blink Buddie Fick in beheer is. Fick is ’n puntenerige, ietwat despotiese heerser in sy klein koninkryk, nie besonder gewild onder die land se polisiemanne nie omdat hy dikwels die dokumentasie met ’n paar snedige opmerkings terugstuur vir korreksies. Sy bynaam het hy gekry omdat sy uniform se knope – en sy motor – altyd blink en perfek gepoleer is.

    I suppose I’ll have to, now, sê Griessel, en kyk na die aanvalsgeweer. Die pistoolgreep agter die sneller is vervang met ’n ivoorgreep. Een woord daarin uitgekerf: Ukufa.

    It’s Xhosa, sê Zamisa. It means ‘death’.

    SEPTEMBER

    4

    19 September

    Die maand van die lente.

    Wanneer die Weskus sy blommeprag in uitbundige skakerings van wit, oranje en pers uitstal, van Bloubergstrand tot anderkant Springbok. Wanneer Kaapse platejoggies loslitmusiek oor die radio speel en met bruisende geesdrif hul luisteraars aanmoedig om die seisoen se eerste skaflike weer met blymoed te benut. Sodat hulle die de facto-einde van die winter kan vier op dié kristalhelder, warm sonskyndag. Met ’n huppel in hul stap en ’n lied op hul lippe. Want al die veld is vrolik, al die voëltjies sing.

    Vroegoggend in Paradyskloof, Stellenbosch, lyk dit op die oog af of daar ’n opgeruimde lentedrif in Sandra Steenberg se tred is.

    Haar hakke klik-klak oor die plaveisel voor die kleuterskool, die donkergrys handsak swaaiend van haar skouer. Oënskynlik net ’n haastige, doelgerigte ma wat haar kinders kom aflaai het, dalk nou ’n bietjie laat vir werk. In haar grys ruitpatroon-romp, dun vlootblou trui oor die wit kraaghemp, is sy die toonbeeld van ’n suksesvolle beroepsmens.

    Sy is aangetrek vir koeler weer, asof sy uit ervaring nie die weervoorspellers se optimisme deel nie. Onmiskenbaar ’n sensuele vrou, met haar slanke enkels en vol kuite, haar lieflike mond, haar donker hare dik en los en lank. Sy lyk net effens anderkant ’n lewenslustige dertig, vol selfvertroue, dinamies.

    Maar voorkoms kan bedrieg.

    Want op dié oomblik is Sandra voortvlugtig. Sy is angstig, rek haar treë, loop so vinnig as wat haar waardigheid dit toelaat, op pad na die veilige loopgraaf van haar motor. Haar vrees is dat die crèche-prinsipaal haar sal sien, en konfronteer oor die agterstallige gelde. Drie maande s’n.

    Die een skuldeiser wat sy elke dag in die oë moet kyk.

    Sewe meter van die kar af, ses, vyf, vier, sy is verlig dat sy nóg ’n oggend kan ontsnap.

    Mevrou Steenberg. Asseblief, kom die roepstem met daardie keurige Stellenbosch-versnit van hoflike beslistheid.

    Sandra steek vas, werk aan haar glimlag voordat sy omdraai, haar verskonings en leë beloftes gereed, sy sal dit met ’n beheerste, verdedigende aggressie opdis.

    Haar selfoon lui. Sy gryp daarna soos ’n reddingsboei, haal dit uit die handsak se sykompartement. Sy ken nie die nommer nie. Sy kyk verskonend na die fronsende prinsipaal wat al byna hier by haar is.

    Dis Sandra, antwoord sy die oproep.

    Die eiendomsagent. ’n Manstem. Saaklik. Nie ’n vraag nie, ’n stelling.

    Dis reg.

    Jasper Boonstra, sê hy. Dan bly hy stil, asof hy eers kans gee vir die drama van sy identiteit om te ontvou.

    Dit neem haar ’n oomblik om die kloutjie by die oor te bring, omdat die prinsipaal hier reg voor haar kom staan, die vrou se verontwaardiging gehurk vir die wegspring.

    Dan besef Sandra dit is Jasper Boonstra. Die skelm. Dit is die omstandighede van dié oomblik – die skoolhoof te naby, Sandra se dringendheid om weg te kom – wat haar nie eens laat wonder of dit ’n grap is nie. Net ’n skeut adrenalien in haar bloed.

    Hallo, sê sy. Hoe kan ek help?

    Ek wil hê jy moet my kom sien. Soos in nou.

    Sy weet sy gaan ja sê. Sy móét ja sê.

    Goed, sê sy.

    Dit is die oomblik waarop Sandra Steenberg se lewe onherroeplik verander.

    * * *

    Al die veld is nie vrolik in die slaapkamer van die mooi ou Victoriaanse huis by Brownlowstraat 47 teen die flank van Seinheuwel nie. Bennie Griessel se gemoed is swaar en somber. Hy het omtrent niks geslaap nie. Sy draad is kort. Sy senuwees knaag.

    Hy trek sy enigste pak aan, die swarte, en sy grys das by ’n wit hemp.

    Sy aanstaande, Alexa Barnard, kloek om hom. Sy trek-trek aan sy kraag, vee sy hare sodat dit netjieser lê.

    Jy lyk lieflik, Bennie.

    Hy weet hoe hy lyk. Moeg en gespanne. Maar hy hou hom in. Hy wil nie aan gekarring wees nie. Nie vandag nie. En lieflik lyk gaan hom in elk geval vandag net mooi niks help nie.

    Kom, ek gaan maak vir jou ’n heerlike omelet. En lekker koffie.

    Koffie is nie wat hy nou wil drink nie. Sy lus lê elders. Hy wil ook nie ’n omelet hê nie, want hy het hoegenaamd geen aptyt nie. Boonop is kookkuns nie een van Alexa se grootste talente nie. En hy wil ook nie nou saam met haar in die kombuis vasgekeer wees nie. Hy ken vir Alexa, sy gaan gisteraand se moeilike gesprek wil herbesoek. Om hom te probeer paai. Moed inpraat. Daar’s niks wat hom nou kan kalmeer of hoop gee nie.

    Hy loop agter haar teen die trappe af, kombuis toe. Knersend op sy tande, want hy sal sy veldslae met haar moet kies oor dié ding.

    Hy wil die koffiemasjien se fles gaan vat, maar sy keer hom. Sit jy, laat ek jou bietjie bederf.

    Alexa, in haar moeder-modus. Dit is gewoonlik onstuitbaar.

    Hy gaan sit by die tafel. Sy skink die koffie en gee vir hom aan. Dankie, sê hy en kyk na sy horlosie.

    Nog sewentig minute voor die verhoor.

    Jy sal sien, hulle sal nie ’n baasspeurder afdank nie, sê sy in haar opbeurende stem terwyl sy eiers uit die yskas haal.

    Hy gaan nie weer dieselfde antwoorde gee as gisteraand nie. Hy het hierdie vrou lief. Meer as waarvoor hy woorde het. Maar sy kan aanhoudend wees, die Vader weet. En sy verstaan nie die polisie nie, en haar oorweldigende optimisme maak haar dikwels blind vir die gemors wat in die land aangaan. Hy het haar twee weke gelede, by ’n duur wynplaas-restaurant, gevra om met hom te trou. Sy het ja gesê, tot sy onbeskryflike verligting. Gisteraand het hy haar op die bank in die sitkamer laat sit, en ernstig met haar gepraat. As hy vandag sy werk verloor, het hy gesê, sal hulle hul huweliksplanne eers moet uitstel. Tot hy ’n ander betrekking gekry het. Maak nie saak hoe lank dit vat nie. Hy gaan nie trou as hy werkloos is nie.

    Sy het gesê hy is te negatief, hy bekommer hom verniet. En sy het botweg geweier om die Desember-troudatum te skuif. Nee, Bennie, ek het die kerkie al klaar bespreek, en ek gaan nie kanselleer nie. Sy geniet dié huweliksbeplanning, sy is opgewonde soos ’n kind. Hy gun dit vir haar, maar sy moet verstaan …

    Hy kyk hoe sy die eiers klits.

    Ek het lank gedink, Bennie, laas nag …

    Dit het hy vermoed.

    En ek dink ek het ’n plan. As die heel ergste gebeur, en ek wéét dit sal nie, dan het jy nog altyd jou musiek. En goeie baskitaarspelers … Ons het ’n konstante tekort.

    Hy sug. Alexa is die eienares van die AfriSound-platemaatskappy wat sy by haar oorlede man geërf het. Hulle het ontmoet toe Bennie die moord op haar destydse eggenoot ondersoek het, al ’n hele paar jaar gelede. Sy het opgestaan uit dié tragedie, haar alkoholisme onder beheer gekry, en ’n reusesukses van die onderneming gemaak. Sy is ’n welgestelde vrou.

    Wat sy nou klaarblyklik wil doen, is om vir hom sessiewerk in die ateljee aan te bied. Die feit van die saak is, sy baskitaarspel is nie goed genoeg nie. Was nog nooit, sal nooit wees nie. Hy is maar bra gemiddeld. Goed genoeg om Vrydag- of Saterdagaande op troues en partytjies ou treffers saam met sy orkes, Roes, te speel. Maar niks meer as dit nie. Sessiewerk sal ’n geneuk wees. Aalmoese. Liefdadigheid. En daarvoor sien hy nie kans nie. Hy het darem nog ’n bietjie trots.

    Ek sal ondersoekwerk kry, sê hy. Sonder oortuiging. Want die ekonomie is in sy moer, en watter private speurfirma of sekuriteitsmaatskappy sal ’n ou, voormalige dronkgat wil aanstel as hulle in dié tye kan kies en keur?

    Ek wéét jy sal. En dis hoekom ek nie aan die troudatum gaan torring nie. Lekker bacon op jou omelet?

    Liewer kaas, asseblief, sê hy.

    Dis veiliger.

    * * *

    Die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Wes-Kaap is by Alfredstraat 25, Groenpunt. Dit is ’n lelike ou gebou wat aan ’n kommunisties-geïnspireerde woonstelblok herinner, sewe verdiepings van witgeverfde mure, rye en rye klein staalvensters, geroeste lugversorgingseenhede en ’n wye verskeidenheid songebleikte blindings.

    Die konferensiekamer waar die tugverhoor gaan plaasvind, is heel bo, net af in die gang van die provinsiale kommissaris se vesting. Griessel wag om geroep te word in die klein kantoor langsaan. Dit is nie ’n opbeurende vertrek nie.

    Sy hande sweet. Hy vee hulle aan sy broek af en voel weer in sy baadjie se binnesak. Sy aanstellingskaart is daar, in sy beursie. Sodat hy dit kan inhandig wanneer hulle hom in die pad steek. En sy verklaring, wat hy sal voorlees. Sonder veel hoop.

    Sy Z88 het hy gistermiddag vir adjudant-offisier Bossie Bossert by die Valke se wapenstoor gegee.

    Sy selfoon hou aan vibreer – WhatsApp-boodskappe van sy Valke-kollegas wat hom sterkte toewens: Vusi Ndabeni, Mooiwillem Liebenberg, Frankie Fillander, selfs majoor Benedict Bones Boshigo van die Statutêre Misdaadgroep, en die mediaskakeloffisier, John Cloete.

    Hy kry ’n knop in die keel. Here, hy gaan hulle mis, dié broederskap, opgebou oor jare van saam deur diep dinge gaan.

    Vaughn Cupido is nog nie daar nie. Sy verhoor is eers om 10:00. Dan moet hulle saam sit en wag vir die uitslag.

    Griessel se aanklagbrief het gesê die tugkomitee bestaan uit vyf mense. Hy weet brigadier Musad Manie, bevelvoerder van die DPMO in die Wes-Kaap, sal daarop wees. En die provinsiale kommissaris. En die brigadier in bevel van menslike hulpbronne. En ’n offisier van die regsafdeling. En nog een ander polisielid. ’n Tolk is op bystand.

    Van Manie kan hy simpatie verwag. Genade. Manie ken hom, en Manie is ’n goeie man. Maar van die kommissaris, luitenant-generaal Mandla Khaba, gaan hy teenspoed kry. Khaba is ’n politieke aanstelling, ’n ondersteuner van die President. Die korrupte, staatskapende president van die land. Khaba sal Griessel se kop eis, dis ’n feit. Dalk die MH-brigadier ook. Van die regsoffisier behoort hy minstens regverdigheid te kry.

    Sy lot gaan baie afhang van wie die vyfde komiteelid is.

    Hy haal sy verklaring uit sy sak uit. Hy het die afgelope twee weke daaraan geskryf, stadig en sukkelend. Oor en oor. Vaughn wou dit sien. Hy het geweier. Met goeie rede.

    Hy lees dit nou ’n laaste keer.

    5

    Ek is kaptein Benjamin Griessel. Ek is ’n lid van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke se Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade, by die kantore in Markstraat, Bellville.

    Ek word dissiplinêr verhoor ingevolge artikel 24(1) van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 1995, se Bylae van 1 November 2016, en spesifiek Artikel 5(3), wat die volgende bepaal oor ’n lid van die SAPD:

    (b) enige handeling verrig, of versuim om te handel, met

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1