Dis die Beryl se laaste vaart voordat sy in Bangladesj vir skrootmetaal opgesny word. ’n Mens kan sommer sien die skip is op haar einde: Dis raserig en wárm. Die kajuit wat ek met drie manne deel, kry weinig lug en daar hang pal ’n wolk muskiete. Ek het glo laasnag só hard gesnork dat die ander ouens elders loop slaapplek soek en my alleen met die goggas gelos het.
Ek en Kukuza het gister saam met tien vragmotorbestuurders in die stad Mersin, Turkye, op die Beryl geklim. Marie moes vir werk terugvlieg Suid-Afrika toe, maar sal haar een van die dae weer by my aansluit.
Die seereis was veronderstel om slegs twee dae te duur, maar weens slegte weer gooi ons eers vyf dae later buite Haifa anker. Israel se doeane-enimmigrasie vereis dat inkommers eers aanboord deur ’n beampte ondervra word voordat hulle voet aan wal mag sit. En as hulle nie vir jou klaring gee nie, is dit nou maar wors – dan gaan jy nêrens heen nie.
Om 3 vm. die oggend word ek wakker geklop. Dis glo ’n ou laai van hulle om mense op sulke aaklige ure te ondervra en die drie jong, intimiderende militêre amptenare laat nie op hulle wag nie. Die onderhoud verloop min of meer só:
“Wat maak jy in Israel? Gee jou selfoon hierso. Ontsluit die ding!”
“Wat is daar in Israel wat jy wil sien? Vir hoe lank gaan jy hier wees?”
“Wát?! Jy het jou eie motor saamgebring?”
Die vrae reën omtrent op my neer en ek sukkel om my gedagtes te orden. Dit