Die Karoo was nog altyd ’n plek van stories. Diégroot stuk aarde – teen meer as 400 000 km2 groter as Duitsland, ons buurland Zimbabwe en selfs die eilandstate Japan en Nieu-Seeland – strek immers oor vier van Suid-Afrika se nege provinsies: die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap én Vrystaat. Sy mense ken van planne maak, van aanhou en uithou en moedhou, terwyl menige moeë stadsiel hier kom afskakel en herlaai.
Maar die Karoo was ook nog altyd vrot van die spoke. Op eensame paaie wandel hulle, doelloos. Hulle kuier sinister in sitkamers, talm in die gang as jy op pad is bed toe, gee jou ekstra opelyf in die kleinhuisie. Jy kan hulle so te sê agter elke soutbos of tolbos uitskop.
Omdat my ma ’n Karoomeisie was, het ek het grootgeword met spookstories – as kind het sy my met verskeie geeste uit die distrik Middelburg die skrik op die lyf gejaag.
Dan was my geliefde ook jare gelede vol stories oor die vreemde ervarings wat sy vriende gehad het by Warmwaterberg, die ou Victoriaanse spa tussen Barrydale en Ladismith in die Klein-Karoo. Die guitige geeste het veral in die ou sanatorium gekuier. Een pêl het eenkeer alleen daar oornag, en hy het vertel hy kon hóór hoe die spoke in die Romeinse bad langs sy badhuisie rondplas. ’n Ander vriend en sy vrou onthou weer hoe ’n wasige tannie in ’n lang, swart rok by hulle kampplek kom vra het vir ’n dop. Iemand anders het ná ’n nag in die einste sanatorium ophou drink en weer kerk toe begin gaan…
Vroeër jare het die mense ’n dominee ontbied om dié spul kuierspoke te besweer, en baie van die dwalendes het mettertyd