‘Het jy al gevoel hoe sag is skaapskeerders en wolklasseerders se hande?” vra Leon en Hanli Stegmann amper gelyk toe Leon, die vyfde geslag op die plaas, in die ou skeerskuur op Kruidfontein ’n oopgespreide merinovag uithou. “Vryf dit tussen jou vingers en voel self…”
Die ongewaste, vuilbruin wol voel sysag en amper olierig. Binne sekondes het dit dieselfde uitwerking op jou vingers.
“Dis die wolvet – meestal rou, ongesuiwerde lanolien – wat elke veseltjie bedek en die wol waterbestand maak,” sê Hanli. “Dit help om die skape warm en droog te hou as dit koud en nat is.”
Merino’s is bekend as wol-envleisskape, voeg Leon by, maar dis toevallig ook die ras wat die meeste lanolien produseer. Op Kruidfontein loop 2500-3000 van hulle, plus sowat 1000 angorabokke.
“Die molekulêre struktuur van lanolien is baie dieselfde as die olies wat die menslike vel afskei, en daarom word dit vinniger en dieper in die vel geabsorbeer as baie ander vogrome,” het die Stegmanns se jongste seun, JC, ’n chemikus in Londen, net die vorige week in die Paarl verduidelik terwyl hy op ’n blitsbesoek aan die land was.
“Dit plomp die vel op en laat plooitjies beter vertoon, onder meer omdat lanolien