TOE haar kinders jonk was, het hulle haar soms oor die letsel aan haar arm gevra. Ella Blumenthal het vir hulle gesê dit is die gevolg van ’n motorongeluk. Maar dit was nie waar nie. Dit was die plek waar sy ’n tatoeëermerk laat verwyder het wat sy as ’n gevangene in Auschwitz gekry het.
In dié uittreksel uit haar boek deel die 101-jarige oorlewende van die Jodeslagting haar verhaal van oorlewing en veerkragtigheid – van die Warskou-ghetto’s tot die gruwels van die Nazi-konsentrasiekampe, die trauma daarvan om 23 familielede te verloor, en hoe sy deur geloof en chutzpah vrygekom het om ’n nuwe lewe in Suid-Afrika te bou.
‘EK IS op 15 Augustus 1921 in Warskou, Pole, gebore, en my baie godsdienstige ouers het my Nechama gedoop. Dit beteken “vertroosting” in Hebreeus.
Maar ek is nie seker hoeveel vertroosting ek gebring het nie, want ek was ’n baie stout kind. Ek weet nie of dit was omdat ek die jongste van sewe was nie; dit is maar net hoe ek altyd was. En ek bedoel baaaie stout! Ek was ’n besige by.
Toe die moeilikheid in 1938 begin, het ons nie besef wat gebeur nie. Ons het geweet die Duitse leër, die Nazi’s, het die grens van Oostenryk oorgesteek – hulle het net ingestap en dit beset – maar dit het ons nie eintlik geraak nie.
Kort voor lank het hulle Tsjeggo-Slowakye op ’n skinkbord gekry. Party mense het gedink dit sou Adolf Hitler se aptyt versadig. Steeds het ons gesê dit kan nie met ons gebeur nie.
‘MY PA HET TERUGGEDRAAI OM NA MY EN ROMA TE KYK, EN IEMAND HET HOM OOR DIE KOP GESLAAN. DIT WAS DIE LAASTE WAT EK VAN HOM GESIEN