Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat
Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat
Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat
Ebook443 pages5 hours

Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

Eugene de Kock het die bloed van tientalle mense aan sy hande. Vir die meeste Suid-Afrikaners is hy die "monster" van Vlakplaas. Tog was Anemari Jansen gefassineer toe sy hom in 2011 vir die eerste keer in Pretoria-Sentraal ontmoet. Hoe versoen sy die man "met die sagte stem" met die mens wat Prime Evil gedoop is? Jansen se soeke na antwoorde het haar na alle uithoeke van die land geneem, na De Kock se familie, vriende en oud-Koevoet- en Vlakplaaskollegas, wat talle ontboesemings teenoor haar gemaak het. Sy haal ook groot dele aan uit De Kock se dagboeke en 'n ongepubliseerde tronkmanuskrip. In sy eie woorde is De Kock skreiend eerlik: oor sy wandade, oor sy opdraggewers - en oor sy berou. Dié boek skets 'n prentjie van 'n intelligente, komplekse mens. Dit belig nie net De Kock se keuses nie, maar ook die onlangse Suid-Afrikaanse verlede op 'n openbarende, soms skokkende manier.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 11, 2015
ISBN9780624070160
Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat
Author

Anemari Jansen

In 2011 het Anemari Jansen onverwags die kans gekry om Eugene de Kock in die tronk te gaan ontmoet. Sy was dadelik gefassineer deur die man "met die sagte stem", die voormalige bevelvoerder van Vlakplaas wat algemeen as Prime Evil bekend staan. Sy het De Kock se vertroue gewen en haar vir die volgende drie jaar deur niks laat stuit nie om alles oor hom uit te vind: sy het Vlakplaas besoek, tientalle onderhoude met sy oud-Koevoet- en Vlakplaaskollegas gevoer en hom Sondag na Sondag in die ou Pretoria-Sentraal gaan besoek. Sy moes net weet: Hoe het dit gebeur dat De Kock sulke wrede dinge kon doen? Haar soeke na antwoorde het haar na alle uithoeke van die land geneem en sou haar lewe onherroeplik verander. Jansen se debuutroman, Glipstroom, het in 2014 by Tafelberg verskyn. Sy het 'n M.A. in Afrikaans van die destydse R.A.U. en 'n B.A. (HOD) van die Universiteit Pretoria. Sy skryf sedert 2012 artikels vir die aanlynpolisietydskrif eNongqai.

Related to Eugene de Kock

Related ebooks

Related articles

Reviews for Eugene de Kock

Rating: 3.5 out of 5 stars
3.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Eugene de Kock - Anemari Jansen

    Die man sonder die bril

    Dis die middel van die winter en bibberkoud die dag in 2011 toe ek die eerste keer by die parkeerterrein van die berugte Pretoria-Sentraal-gevangenis, of Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum soos dit vandag genoem word, inry. Net die vorige naweek het die politieke wetenskaplike Piet Croucamp aan ’n groep gemeenskaplike vriende by die Full Stop-restaurant in Johannesburg vertel van sy besondere band met Eugene de Kock. Hy het vertel van sy besoeke aan die tronk, van hoe vlymskerp en intelligent Eugene is. Croucamp het ook gesê hy dink dis onregverdig dat hy die enigste individu is wat vir die apartheidsregering vuilwerk gedoen het en steeds in die tronk is.

    Om die waarheid te sê, het ek jare lank nie eens aan Eugene de Kock gedink nie. Soos die meeste ander mense om die volgepakte etenstafel. Hy was vir my die man met die bril wat ons destyds op TV gesien het. Ek onthou wel dat ek kort voor sy hofsaak in 1995 gehoor het dat hy een van die hoogs gedekoreerde polisiemanne in die ou Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) was.

    Om die etenstafel word vertel dat hy as een van die stigterslede van die berugte polisie-eenheid Koevoet honderde kontakte aan die Grens oorleef het. Dat hy die polisie se Vlakplaas-moordbende met ’n ysterhand beheer het. Iemand spekuleer dat Eugene ná sy inhegtenisname op geleende tyd was, want in ’n ander era sou hy die doodsvonnis gekry of deur sy eie lede stilgemaak gewees het.

    My nuuskierigheid is dadelik geprikkel. Die etenstafelgesprekke was dalk toevallig, maar dit val saam met ’n persoonlike draaipunt in my lewe. In 2011 het ek my in die niemandsland van ’n ongeleefde lewe bevind en my daardie jaar voorgeneem om myself uit te daag.

    Daardie aand besluit ek toe om al my moed bymekaar te skraap en Piet te vra of ek hom een Sondag na Pretoria-Sentraal kan vergesel. ’n Eenmalige besoek, dink ek; ek wil eintlik net sien hoe lyk ’n tronk van binne.

    Piet stem in en die volgende Sondag reeds ontmoet hy my op die parkeerterrein. Hy het vooraf gewaarsku dat ek nie eens my handsak saam met my mag inneem nie. Daar is rye en rye houtbanke in die ontvangslokaal. Die plek wemel van besoekers wat in toue wag om besoekerstrokies in te vul en tronkbewaarders, mans en vroue, in bruin uniforms. Die joernalis en skrywer Karin Eloff is by Piet. Sy het Eugene al ’n paar keer saam met hom besoek.

    Piet is haastig en ek kan nie juis veel indrukke vorm nie. Ek onthou net dit was ’n taamlik vreemde ervaring om ingeteken te kom en deur die deursoekingspunt te gaan. Sodra besoekers deurgesoek is, moet hulle aan die agterkant van die ontvangslokaal wag vir ’n bussie wat hulle die sowat 500 meter na Medium-B aanry. Daar aangekom, wag ons nog ’n halfuur voordat ons die tweede keer deurgesoek word. Uiteindelik kan ons deur die laaste traliehek beweeg na die snerpende koue van ’n vierkant onder ’n afdak. Nog rye en rye banke. Ons kies ’n sitplek en ek kan nie help om te staar na die groepies gevangenes en hulle kuiergaste wat vooroorgeleun saam kuier nie.

    En skielik is hy daar, die man met die bril. Of, om meer akkuraat te wees, die man sonder bril. Deesdae verkies hy kontaklense. Hy kom aangestap vanaf die traliehok waar hulle vir besoekers wag: ’n lang frisgeboude man met ’n regop houding. Hy lyk anders, loop anders as die gevangenes om hom. Doelgerig. Beslis.

    Hy gaan sit. Piet stel hom vinnig voor en toe trek hy weg. Die woorde borrel by sy mond uit. Daar is geen kans vir vrae nie, die stroom stories en opmerkings laat jou dit nie toe nie. Hy vertel van gebeure in die tronk, Koevoet-herinneringe, maak opmerkings oor die politiek van die dag – alles deurspek met sy eiesoortige humor. Karin raak aan sy arm.

    Binne ’n oogwink is ons toegelate uur verby. Toe ek by my motor kom, sak ek uitgeput en oorgestimuleer in die bestuurdersitplek neer. Ek kan feitlik niks onthou van wat hy vertel het nie. Maar ingebrand in my geheue is die prentjie van sy linkermondhoek wat telkens bitter aftrek wanneer hy oor sekere dinge praat.

    Ek ry die dag huis toe, na my man en kinders, na ’n veilige, warm huis en ek besef met ’n donderslag dat ek eintlik níks weet van die tye en gebeure wat soos geweervuur uit sy mond geknetter het nie. Was ek dan aan die slaap gedurende die 1980’s en vroeë 1990’s? Ek is in 1964 gebore en het in die hoogbloei van apartheid mens geword. Wanneer ek egter terugdink aan my jeug, is ek verbaas oor presies hoe oningelig en naïef ek was. Wou ek nie geweet het hoe die land brand nie of was ek net blind?

    Op 16 Desember, Geloftedag, moet ons kinders altyd in die bedompige Voortrekkersaal in Ou-Alberton sit tussen mense wat na poeier en sykouse en benoude pakke ruik. Ons moet bid en God dank. Ons is sy uitverkore volk wat hy gekies het om te red. Ek word groot met ’n bewussyn van die belang van Afrikaner-geskiedenis – my oupa skryf sy doktorale proefskrif oor Bloedrivier en die geskiedenis van die republiek van Natal.

    Ek word saam met die meeste van my maats in die NG Kerk aangeneem. Snags is die strate veilig. Selfs die gate crashers by ons garage paarties is nie gevaarlik nie. Hulle spin hulle 50 cc-motorfietswiele, rook en drink. Tydens opening in die skoolvierkant van Hoërskool Alberton sing die matriekseuns soms He’s a wanker, he’s a wanker, hey hey hey. Dit neem my jare om uit te vind wat ’n wanker is.

    Ons het ’n huishulp wat in ’n bediendekamer agter ons huis woon. Nesta maak huis skoon, was, stryk en kook vir die klomp Venters in Fleurstraat. Tot my skaamte kan ek nie haar van onthou nie. Samuel versorg die tuin. Hulle drink uit blikbekers koffie en het hulle eie borde en messe wat onder die opwasbak gebêre word. Ons kinders noem hulle op hulle name en hulle noem my en my suster nonna Anemari en Annette en my broer kleinbasie Hennie. My pa en ma se woord is wet. In 1981 drink Nesta die bloutrein (spiritus), word siek en word in ’n gestig iewers in Noord-Natal opgeneem.

    Ek weet nie dat my pa in die Broederbond is nie. Hy werk vir Krygkor en is maande aaneen oorsee. My ma kry ’n pistool en bêre die sleutel van die kluis in haar japonsak. Sy woon skietoefeninge by wat deur plaaslike reserviste aangebied word. By die skool het ons weerbaarheidsperiodes. Vrydae dra die seuns kadetuniforms en marsjeer op die rugbyveld. Ons meisies marsjeer soms ook: rig op die regterflank, voorwaarts, mars. Ons vir jou, Suid-Afrika.

    In 1981 verken ons matrieks in die Afrikaans-klas goedheid en boosheid in die karakters van Koki en Raka in Van Wyk Louw se epiese werk Raka. Ons redeneer oor die outsider-skap van Diederik Versfeld in die voorgeskrewe boek Die son struikel: Iemand het verkeerd gesny – ons geslag is te gou van die moer losgesny … Ons is nie klaar gebore voor ons in die lewe gelos is nie … ¹

    In die geskiedenisklas bestee ons ure aan gesprekke oor Europese geskiedenis en natuurlike segregasie wat blyk ’n oplossing vir Suid-Afrika te wees. Was ons onderwyser soms moedeloos oor die naïwiteit van die kinders voor hom? Het hy ooit self geweet wat régtig aan die gebeur was, gegewe dat die Nasionale Party-regering die pers so gemuilband het?

    Al waarin ek en my maats eintlik belangstel, is seuns. Ons het eindelose gesprekke oor verhoudings. Oor die naweek se paartie en hoe betekenisvol dit gaan wees as ’n ou met jou close dans. Ons raak verlief en vry op die pawiljoene in die atletiekseisoen en op RAU-eiland tydens ons prefekkampe. Onder leiding van die dirigente verbrand ons in matriek die ou gees en glo dat ons onsterflik is. God is aan ons kant.

    Ons matriekmaats gaan weermag toe. Twee jaar se nasionale diensplig, spesifiseer hulle oproepinstruksies. Maar Arthur Froneman en Neville Schoeman sterf tydens hulle dienspligopleiding. Skielik is die dood teen ons velle. Ons huil terwyl ons erewag staan op hulle begrafnisse by die begraafplaas reg agter die skool.

    Eugene de Kock se 1981 is heeltemal ’n ander wêreld. Hy is daardie jaar in etlike bloedige gevegte betrokke en het toe as stigterslid van die SAP se koverte Operasie Koevoet al meer mense doodgemaak as wat hy kan of wil onthou. In 1981 lees hy boeke soos The Day of the Jackal deur Frederick Forsyth.

    In 1982 spat ons groep skoolmaats uitmekaar. ’n Klomp van ons gaan universiteit toe. Die lewe word opwindend. Studiebeurse is volop. Daar is studente wat polities aktief is, maar ek beweeg nie in daardie kringe nie.

    En die lewe gaan aan. Ek trou en in 1989 speel ek pop met my eersteling, ’n seun. Ons bly in die woude van Venda, later ook in die slaperige Louis Trichardt (vandag Makhado). Ek het geen politieke bewussyn nie.

    In November 1989 is Almond Nofomela in die dodeselle vir die moord op ’n wit plaasboer en die veiligheidspolisie red nie sy gat nie. Hy moet hang. Nofomela besluit toe hy praat uit. In dieselfde maand laat Dirk Coetzee, ’n voormalige bevelvoerder van Vlakplaas, in onderhoude met Jacques Pauw in Vrye Weekblad die bom bars oor Vlakplaas se moordbendes en ander bedrywighede.

    ’n Oudpolisielid vertel my dat die polisie ’n omsendbrief geskryf het waarin aangevoer is dat Coetzee suikersiekte opgedoen het en dat dit die rede is waarom sy kop so raas. Daar is ook van elke polisielid verwag om R2 aan generaal Lothar Neethling se regsfonds te skenk, vir sy hofsaak teen Vrye Weekblad. In daardie stadium was daar ongeveer 134 000 polisielede in die mag.

    My man is ’n siviele ingenieur en ons trek na ’n plek met die naam Shinyungwe in die Caprivi. Hulle gaan die Golden Highway, wat Rundu en Katima Mulilo met mekaar verbind, opgradeer. Van 1992 tot 1994 is ’n voorafvervaardigde struktuur in ’n padkamp huis vir my en my twee seuns van onderskeidelik vier en een jaar oud. Ek is die enigste vrou in ’n see van mans.

    Enkele jare tevore het die Grensoorlog nog hier gewoed. Ons loop op die baksteenspore waar die geboue van die Recces se Fort Doppies op die Kwandorivier eens was. Ons het geen toegang tot radio of televisie nie. Dit is nie ’n verskoning nie, ek weet. Maar ek het nie ’n politieke bewussyn nie.

    Ons trek weer, die tiende keer in soveel jaar, na nóg ’n huurhuis. Ons is net betyds terug in Suid-Afrika vir stemdag 1994. In 1995, ná die geboorte van ons dogtertjie, Carina, verhuis ons wéér – die keer na Salt Rock aan die KwaZulu-Natalse noordkus, eens ’n bastion van die koloniale leefstyl. Daar is goeie skole vir die kinders en ons lewe veilig en bevoorreg.

    Toe die trek Alberton toe. En net daar raak ek verstrengel in die sleur van ’n voorstedelike lewe. Dit is ’n gemaksone waar die regte vriendinne, kerkgroepe, aktiwiteite en jou laerskoolkinders se prestasies jou prestige bepaal. Ek raak verveeld, pas nie in nie. Jare lank voel dit asof ek my in ’n niemandsland bevind.

    Tot die besoek aan Eugene de Kock in Junie 2011 toe iets in my bewussyn verskuif. Die bloedige werklikheid van ons verlede tref my vir die eerste keer soos ’n vuishou in die maag. Ek begin wens ek het destyds meer geweet, gedink, gedóén. Dertig jaar later wil ek ineenkrimp van skaamte oor my onkunde, my apatie en my aanvaarding van die illusie van normaliteit in ’n tyd toe ’n lae-intensiteitsoorlog in ons townships gewoed het en Suid-Afrika betrokke was by ’n volskaalse oorlog in die destydse Suidwes.

    Teen my vierde besoek het ek reeds besluit dat ek Eugene as mens beter wil leer ken. Ek hoop om in die proses ook meer te wete te kom van die era waarin hy as polisieman gewerk het. Ons sit in die vierkant by die vrouegevangenis. Die tronkbankies laat jou aan tuinmeubels dink. Bokant my sien ek slierte onderklere en handdoeke wat by vensters uitgehang is om droog te word. Agter my op die eerste verdieping is rye klein venstertjies waarvandaan die besoek dopgehou word. Die bewaarders wat oral rondbeweeg en ’n paar mans in oranje oorpakke hou ons ook in die oog. Kartonbokse tussen die banke dien as vullisblikke. Alles voel ’n bietjie vuil.

    Ons drink Coke en eet ’n KitKat wat Eugene stafie vir stafie breek en dan met my deel. Hy is ’n outydse jintelman wat altyd eers die vuil bankie met sy sakdoek vir ’n mens afstof voordat jy gaan sit. Sy oorpak is glad gestryk, sy hare netjies gesny. Kyk daai ou met net een oog, sê Eugene. Dis die Melville Koppies-moordenaar.

    Ek kyk rond. Omtrent 20 mans in oorpakke sit in verskillende groepe op die bankies en kuier. Daar is ouers met plastieksakke wat vir hulle seuns kom kuier, girlfriends en vriende. In die bus tussen die ingangslokaal en die besoekpunt gesels hulle oor en weer. Kinders in hulle Sondagpakkies sit op hulle gevangene-pa’s se skoot of speel op die klimraam in die sandvierkant. Christoff Becker, een van die Waterkloof Vier, sit eenkant saam met ’n blonde vrou. Sy hare is in ’n mullet gesny en sy oorpak pas so styf soos ’n tweede vel. ’n Mens herken naderhand ander: Ferdi Barnard, Clive Derby-Lewis, Janusz Walus.

    Wat is die storie met die ou se oog? vra ek oor die Melville Koppies-moordenaar.

    Bendes.

    Eugene se oë flits heen en weer. Ek wil jou ’n ding vra. Ek hoor dit gaan nie goed met die klomp eks-Koevoetpolisiemanne wat iewers anderkant Warmbad hervestig is nie. Kan jy asseblief na die plaas Vingerkraal gaan en eerstehands gaan uitvind hoe dit met hulle gaan? Hulle is Ovambo- en Kavango-mense … ontheemdes.

    Goed so, sê ek.

    Die uur lange besoektyd is baie intens. ’n Mens praat vinniger, fokus verbete, haal vlakker asem.

    Eugene gaan staan eenkant en gesels terwyl ek by die snoepie in die ry val. Twee pakkies chips (R4 elk), drie Cokes (R7 elk) en ’n Tex (R7). Dit is gerieflike items om te hê vir die tronk se ruilhandelstelsel. Wat ’n ander wêreld!

    Dan is dit al weer groettyd. Hy prop al die kos in sy sakke, gee my ’n vinnige druk. Ek stap uit sonder om terug te kyk. Die son laat my oë traan toe ek in die bussie klim.

    Wie is Eugene de Kock werklik? Die man is ’n komplekse individu. Ek besef gou daar is meer aan hom as die mediabeeld van Prime Evil. Ek begin oplees oor die Bosoorlog en die apartheidsera. Ek versamel ook inligting uit sy handgeskrewe notas vir die sielkundiges en kriminoloog tydens sy verhoor, lees sy dagboeke wat hy aan my beskikbaar gestel het, die verslae van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) en koerantknipsels en luister na die stories en anekdotes van familielede en oudkollegas.

    Twee keer per maand met besoektyd, drie jaar lank, maak ek notas van ons gesprekke op my arm – geen papier word toegelaat nie. Wanneer ek terug is by my motor in die parkeerterrein, is die eerste ding wat ek doen om ons gesprek te herroep en na aanleiding van die sleutelwoorde op my arm dele daarvan neer te skryf.

    Ek is nie ’n sielkundige, ’n geskiedkundige of ’n joernalis nie, maar ek is wel ’n kind van apartheid. Een wat wil verstaan hoe sekere dinge kon gebeur. Daarom begin ek agter Eugene se spoor aan deur die land reis en probeer ek sy geskiedenis stukkie vir stukkie rekonstrueer. Op ’n soektog na begrip.

    Alle persoonlike omstandighede van die oortreder moet in ag geneem word. Dit sluit in sy karakter, sy algemene lewenswandel, verwys na hom as persoon los van die misdade wat gepleeg is, in. Alles wat ’n invloed op die pleeg van die misdrywe gehad het, moet oorweeg word om ’n korrekte besluit te kan neem oor die toekoms van daardie besondere individu. Die hof het verder vermeld dat behalwe die koue, kliniese feite van ouderdom, invloede tydens kinderjare en latere lewe wat ’n rol gespeel het by die vorming van sy karakter, lewenservaring, huwelikstaat, loopbaan, godsdienstige en ideologiese oortuigings, vorige oortredings, opvoedingspeil, gesondheidstoestand, ensovoorts, daar gepoog word om die individu as mens op te som.

    ‒ UIT REGTER WILLEM VAN DER MERWE SE VONNISOPLEGGING IN EUGENE DE KOCK SE STRAFREGTELIKE VERHOOR, 30 OKTOBER 1996.

    2

    En eendag was daar

    Midrand se kantoorgeboue flits by my verby en ná nog tien minute doem die Voortrekkermonument voor my op. Ek is weer op pad na Pretoria-Sentraal en Classic FM se volume is hoog gestel. Ek neurie die woorde van Gabriella’s Song uit die rolprent As it is in Heaven, die verhaal van ’n wêreldbekende dirigent wat as jongeling op skool geboelie is en later na sy tuisdorp terugkeer waar hy ’n Damaskus-ervaring het. Die N1 is oop so vroeg op ’n Sondagmôre.

    Ek kry lag wanneer ek terugdink aan hoe naïef ek nog gedurende my eerste besoeke was. My onkunde was waarskynlik my redding. So wou ek op ’n keer graag iets vir Eugene saamneem en het gedink aan ’n boek, maar wat nou? ’n Tronkstorie? Ek het toe op Shantaram besluit (die hoofkarakter in die verhaal was lank in ’n Indiese tronk opgesluit), ’n pakkie biltong en twee Lindt-sjokolades. Daar was daardie dag seker ’n engel op my skouer, want ek is deur albei deursoekpunte sonder dat ’n haan daarna gekraai het. ’n Klein wonderwerk.

    Eugene het ’n ondersteuningsnetwerk soos min ander gevangenes en sy sake is onder beheer. Wat ek wel later vir hom reël, is die ses boeke en ses tydskrifte wat hy maandeliks mag ontvang en waarvoor hy ’n toestemmingsbrief van die psigiater by Pretoria-Sentraal moet kry. Dit, asook die lysie mense wat hy graag in sy toegelate besoektyd wil sien. Vooraf gesels ons oor die boeke waarin hy belangstel en ek probeer so ver moontlik aan die wenslysie voldoen. Tussendeur stel ek hom ook aan van my gunstelingskrywers voor: Cormac McCarthy se epiese drieluik: All the Pretty Horses, The Crossing, Cities of the Plain; Peter Høeg se Miss Smilla’s Feeling for Snow en die trilogie van Stieg Larsson: The Girl with the Dragon Tattoo, The Girl who Played with Fire, The Girl who Stirred the Hornet’s Nest.

    Eugene de Kock as jong seuntjie saam met sy broer, Vosloo of Vos.

    Ek wonder hoe lank dit gaan neem voordat hy my sal begin vertrou. Soos ek dit sien, behels ’n ware gesprek tweerigting-kommunikasie, dit kom neer op ’n gee en neem van inligting en energie. Ná die hoeveelste besoek, begin ek dink dat Eugene eenvoudig in Pretoria-Sentraal vergeet het hoe om dit te doen. Selfs teen die sewende, agtste besoek bly die warboel stories net uitborrel, oor Koevoet, oor Vlakplaas, oor gebeure en kontakte, mense wat ek nie ken nie, tronkstories ‒ dis asof sy honger vir gesels nie gestil kan word nie. Altyd vertel hy sy stories met ’n vonkel in die oog. Maar die ware Eugene steek hy versigtig agter vele skerms weg.

    Dan, een Sondagoggend, verander alles. Vandag gaan jý gesels en ek gaan luister, sê hy. Toe weet ek ons is by ’n draaipunt. Van daardie dag af kon ek gewone gesprekke met hom hê soos ’n mens in gewone geselskap kan verwag. Geen politiek of oorlogstories of verskuilde agendas meer nie. Stadig maar seker begin Eugene sy binnelewe stuk-stuk met my deel.

    Om by hierdie punt uit te kom, was regtig moeilik vir hom, sou hy heelwat later teenoor my erken. Hy wou dit nie wys nie, maar sulke persoonlike gesprekke was vir hom so geheel en al ongewoond, vreemd.

    Eugene reël mettertyd ook dat ek sy broer, Vos, en dié se vrou, Rita, op hulle plot in Sundra aan die Oos-Rand kan gaan ontmoet. By hulle sal ek meer persoonlike agtergrond kry, daar is ook fotoalbums wat ek kan deurblaai.

    Draai links by die geel huis met die groen dak, sê Vos toe ek die dag bel. Ek is by die huis langsaan. Ek wag by die hek.

    Elfuur op ’n Woensdagoggend staan Vos met sy vierjarige kleinseun Alexander aan die hand op die sypaadjie vir my en wag. Klim, seun, sê hy. Ons gaan ’n ietsie drink.

    Die ooreenkoms tussen Vos en sy broer is opmerklik. In die loop van die dag sou die kenmerkende De Kock-gelaatstrekke en -geaardheid my telkens opval. Met die inklimslag trek Vos weg ‒ hy is net so ’n intense, betrokke storieverteller soos Eugene. Ná ’n oogoperasie kan hy byna niks sien nie, maar hy ken die terrein en gee baie presiese aanwysings. Hy kan sommer van die agtersitplek af aanvoel toe ek ’n verkeerde rigting inslaan.

    Ons ry deur die verbleikte landskap. Dis myn- en mieliewêreld hierdie. Ons is op pad na ’n restaurant en kuierplek, die Grasdaklapa. Almal daar ken Vos. Later daag Rita en hulle jongste dogter ook op. Ons skop ons voete vas teen die houttoonbank en drink Smirnoff Spins, shooters en whisky. Daar word baie gepraat en baie gedrink. Ten spyte van die geselligheid voel ek ’n bietjie vreemd en uit my plek, ek bly die waarnemer.

    In hierdie geweste is die verlede nog springlewendig, dis Afrikanerkontrei van voor 1994 dié. Ek dink aan my eie vriendekring en ander Afrikaners wat ek ken en wonder hoe mense amper 20 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing nog op soveel verskillende wyses Afrikaner kan wees.

    Ek het vroeër Eugene se graaddrie-onderwyseres opgespoor. Sy onthou hom as ’n goedgemanierde en bogemiddelde leerling wat pouses vir sy juffrou grondboontjiebotter-en-piesang-toebroodjies aangebied het. Ek gesels ook met sy tante, Naomi van Etten, wat gereeld naweke by die De Kocks gaan kuier het. Uit haar en Vos se vertellings blyk dit dat Eugene ’n sensitiewe en liefdevolle seuntjie was. Wanneer tant Naomi kom kuier het, was dit vir die twee broers die grootste bederf om vroeg soggens by haar in die bed te gaan opkrul. Sy was vir hulle soos ’n ouer suster.

    Bo: Die De Kocks se huis op die Sundra-plotte aan die Oos-Rand.

    Onder: Eugene (links) op 10-jarige ouderdom saam met Vos.

    In die 1950’s was die lewe vir die gemiddelde Afrikanerseun terselfdertyd gekompliseerd en eenvoudig. Seuns is geleer om man te wees deur nie te huil nie en aktiwiteite soos jag te bemeester. Afrikanerkinders (en meestal ook Afrikanervroue) het ook geweet om nie gesag te bevraagteken nie: Die woord van die vader des huises, die dominee, die onderwyser en die regering was wet. God, die volk, patriargie en die Broederbond het in mekaar se sakke geleef, skryf Max du Preez. ¹

    Een opmerking van Vos staan vir my uit. My pa het net voordat hy oorlede is vir ons twee seuns die volgende gesê: ‘Die ou leeu is dood. Hulle gaan nou vir julle welpies kom. Hy het [daarmee] vir Gene gewaarsku.’

    Ons stop eers weer halfeen die nag by sy hek. Vos, weet jy wat? sê ek. Die dak van die geel huis is nou rooi geverf.

    Ek is daar weg met ’n kar vol foto’s en stories.

    Om Eugene beter te verstaan, moes ek eerstens ’n idee kry van waarvandaan hy kom. Ek besluit om terug te gaan in die tyd en ’n prentjie te probeer vorm van hom as kind. Vir inligting oor sy grootwordjare en vormende invloede wend ek my tot sy familie, maar ook tot sy eie beskrywing daarvan in ’n verslag wat hy gedurende sy strafsaak vir ’n kriminoloog geskryf het.

    Ek moes eintlik Josias Alexander de Kock gewees het, maar my pa het met die familietradisie gebreek. Die eersgebore seun van elke nuwe generasie De Kocks is veronderstel om dié naam te kry. Toe ek op 29 Januarie 1949 gebore is, het my pa egter besluit om my Eugene Alexander te noem, na die skrywer Eugene Marais. Pa was verskriklik lief vir Marais se werk.

    Lourens Vosloo de Kock het ’n suksesvolle loopbaan in die departement van justisie gehad. Hy was ’n staatsaanklaer op Springs gedurende my vroeë kinderjare toe ons op ’n plot buite die dorp gebly het. Later was hy landdros, streekhoflanddros in Suidwes-Afrika en president van streekhowe in Johannesburg.

    Ma se naam was Jean, maar almal het haar Hope genoem. Sy was baie kunssinnig en sy het by my ’n liefde vir musiek – opera en ligklassieke musiek – gekweek. My ouers se belangstellings was so uiteenlopend. My ma wou altyd oorsee gaan reis, maar ek kon Pa nooit oortuig om te gaan nie. Hy was konserwatief en het nie van nuwighede gehou nie. In latere jare het hulle wel die land vol getoer.

    Pa was Afrikaanssprekend en Ma Engelssprekend. Die kinders het my en my broer, Vossie, wat 18 maande jonger as ek is, soms op skool ² daaroor gespot … My ouers het ook verskillende politieke partye gesteun   – Pa het vir die Nasionale Party gestem en Ma vir die Verenigde Party. Pa was ook ’n senior lid van die Broederbond, maar hy het nooit daaroor gepraat nie. Ek was nog op skool toe hy by hulle aangesluit het.

    Drie van my ma se broers het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en almal het teruggekom. My oupa aan my ma se kant was ’n Britse soldaat wat teen die Boere geveg en reeds op 15-jarige ouderdom aangesluit het (hy het een jaar by sy ouderdom gelas om te kan kwalifiseer) en in die ou republieke teen die Afrikaners geveg het. Hy het egter ná die Tweede Vryheidsoorlog [die Anglo-Boereoorlog] in die land agtergebly en ’n Afrikanervrou uit die Potchefstroomse konsentrasiekamp getrou … My oupa aan my pa se kant was ’n hardwerkende, eerlike, reguit boer, en my ouma kom uit ’n baie verfynde Afrikanerfamilie.

    Bo: Die De Kock-gesin in hulle huis in Commissionerstraat in Boksburg. Eugene is tweede van links, sy ma, Hope, sit regs van hom en sy pa, Lourens, is in die voorgrond.

    Onder: Eugene en Vos buite dieselfde huis in Boksburg.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1