Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Flenters
Flenters
Flenters
Ebook166 pages2 hours

Flenters

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ons leef in ’n stukkende, gebroke wêreld. Maar selfs in hierdie wêreld is daar oral flentertjies vreugde, liefde, hoop en selfs geloof. Die sleutel is om te weet hoe om betrokke te raak en hoe om ’n helpende hand uit te steek
Lina du Plessis is een van daardie juweelmense wie se vingerafdrukke lewenslank op jou hart rondlê. Van 2006 af is Lina betrokke by twee pleegsorghuise in Pretoria. Van 2009 tot onlangs woon sy as pleegouer in een van die huise.
Flenters is ’n versameling van Lina se belewenisse en verhale wat sy bymekaar gemaak het in die tyd wat sy by die versorging van weeskinders betrokke was. Hierdie kort sketse oor weeskinders en die vreugdes van pleegsorg word met humor en deernis vertel. Dit vertel vanuit verskillende hoeke aangrypende verhale van God se goedheid. Hierdie boek open nuwe vensters op God se genade wat die leser sprakeloos sal laat en hulle sal aanspoor om God op nuwe maniere aktief te begin dien.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 1, 2014
ISBN9780796317858
Flenters
Author

Paulina Carolina du Plessis

Lina du Plessis bied werkwinkels by kerke en Bybelskole aan oor die beplanning en bestuur van Koninkrykprojekte en bedieninge. Lina adviseer en bied opleiding aan vir mense wat ondersteuningsentrums vir weeskinders wil begin. Sy is ook die stigter van die Tsoga Foundation wat vyf ondersteuningsentrums vir weeskinders en hul personeel ondersteun en bestuur.

Related to Flenters

Related ebooks

Related articles

Reviews for Flenters

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Flenters - Paulina Carolina du Plessis

    Voorwoord

    Lina du Plessis is een van daardie juweelmense wie se vingerafdrukke lewenslank op jou hart bly. Sy is ’n merkwaardige dame: vol grasie, waardigheid, omgee, empatie, ontferming, blydskap … Jy noem daardie kosbare deugde, en Lina het dit. Haar lewe is ’n lewende simfonie van God se spesiale goedheid. In die jare dat ek Lina nou al ken, skitter haar liefde veral vir eenkantmense. Elke keer wanneer ek haar raakloop by ’n Bybelskool- of kuiergeleentheid volg daar ’n kuierkamer vol nuwe verhale oor die afvlerkvoëltjies oor wie sy haar ontferm. Wat ’n juweel in die koninkryk! Sy praat, leef en doen die Here se soort lewe dag ná dag.

    Een van die merkwaardige dinge wat week ná week op my radar­skerm aanwesig is, is Lina se skryfkuns. Sy het ’n spesiale gawe om met ’n pen te kommunikeer; daarom is sy die afgelope paar jaar reeds ’n getroue medewerker van ekerk, ons groot webwerf/internetkerk en virtuele kuierplek vir derduisende mense wêreldwyd. Hier het Lina vir haar ’n fenomenale staanplek los geskryf. Nie net verstaan sy die moeisame roetes van skryf nie, sy begryp veral ook die roetes na mense se hart. Dis waarom sy so ’n geliefde en gewaardeerde medewerker van ekerk is.

    Nadat Lina onlangs ’n belangrike stuk nagraadse studie afgehandel het (wat baie wyer as Suid-Afrika se grense erkenning gekry het), het sy haar hand aan die skryf van ’n boek gewaag. Jy het die eindproduk hier in jou hand. Dit vertel vanuit baie hoeke die aangrypende verhale van God se goedheid om by flentermense te kom kuier en vir hulle goed te wees. Hierdie boek bied nuwe insigte oor God wat jou sprake­loos gaan laat en wat jou gaan aanspoor om ons hemelse Vader op nuwe maniere te dien.

    Stephan Joubert

    Engele baklei ook

    Toe ons kinders was, het ons elke Desember die Kersverhaal opgevoer. Dit was groot pret en terselfdertyd ’n baie ernstige saak.

    So besluit ek eendag om ’n regte Kerskonsert te hou by die Roomse skool vir bruin dogters waar ek onderwys gegee het. Dit was ’n buitelugkonsert, let wel. Die skool is op terrasse gebou en die konsertsaal was op die terras waar die netbalbaan is. Die onderste terras was backstage, waar die engele aangetrek het. Maria, Josef, die herders en die wyse manne (en Jesus!) het ná elke toneel agter die motors wat langs die verhoog parkeer was van kostuum verwissel. Die wardrobe het bestaan uit handdoekhooftooisels en lakens vir klere. Daar was nie ’n begroting vir die projek nie; ons moes kreatief dink!

    Die saal was gepak. Ouers, kinders en nonne – priester inkluis – het met groot afwagting na die verhoog gekyk. Dié het bestaan uit ’n paar hooibale en ’n groot blink ster wat aan die skewe, geroeste doelpaal geskitter het.

    Net voor die konsert begin, hardloop ek af om te kyk of die sowat vyftig engele gereed is om hul verskyning te maak. Tot my skok en verbasing was ’n klompie van die engele in ’n hewige geveg betrokke. Met woorde wat ek nie kan herhaal nie, het hulle mekaar geskel dat die spoeg spat. Hulle het mekaar letterlik aan die hare beetgehad.

    Die rede vir die geveg? Van die kinders het vir een van die engele, ’n meisie met ’n baie ligte gelaatskleur, gesê sy is ’n boer. Onthou, dit was 1986. Die arme kind se tinsel-stralekransie het skuins oor haar gesig gehang en haar engelgewaad was byna aan flarde geskeur soos sy terugbaklei het. Liewe genade! Wat gaan met julle aan? Dis ’n Kerskonsert ter herdenking van Jesus se koms en als, probeer ek by die politiek verby die vrede herstel. Die konsert moes begin.

    Hulle het so gegil, ek dink nie hulle het my gehoor nie. Ek het dit sterk oorweeg om die aartsengel Migael in te roep om te kom help, maar net Gabriël was daar … Dit gaan mos oor Jesus se geboorte.

    ’n Rukkie later stap die vegtende groepie engele, nog redelik dikbek, met hul brandende kerse deur die gehoor na die verhoog se kant toe. Party lyk darem soos engeltjies. Maar op pad na die verhoog toe kom ’n lastige wind op en waai feitlik al die kerse dood. Ag nee! Wat gaan nou nog verkeerd loop? Die hele scene van lig wat die donker uitdryf, was daarmee heen.

    Gelukkig hou ’n paar van die engele kop. Toe hulle in ’n halfmaan voor die staltoneel staan, begin hulle mekaar se kerse aansteek terwyl Boney M se Joy to the World die someraand en ons harte vol maak. Die gehoor was doodstil; dit was aangrypend. Die Lig van die wêreld het gekom om aangegee te word en om te bly, ook vir vegtende engele wat daardie aand verby die landspolitiek vir Jesus gesien het.

    Dit neem my terug na die begin. Terug na Genesis 1:2-4 waar daar staan: Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: ‘Laat daar Lig wees. Skielik was daar oral lig.’

    Wees lig, al baklei jy soms jou stralekransie skeef op jou kop.

    Afrika is nie vir sissies nie!

    Ek hoor so dikwels tydens konsultasiesessies en in werksessies wat ek aanbied dat mense se droom vir hul bediening is om in Afrika (en dan sommer die hele Afrika) te werk. Ek het ook so gesê … totdat ek in Junie 2006 in die village Migowi sowat negentig kilometer van Blantyre in Malawi tydens ’n konferensie letterlik en figuurlik grond toe gebring is.

    Die eerste dag nadat ek daar aangekom het, besoek ons ’n weeshuis, kleuterskool en ’n gemeente in die township Bangwe in Blantyre. Die toestand van die skooltjie en die weeshuis was haglik. Dit was baie, baie vuil, maar ek het al geleer dat kos ’n groter prioriteit as Handy Andy is. Dié middag het ons saam met ’n voorbiddergroep die Here geloof en prys op die ritme van ’n trommetjie wat van beesvel gemaak is. Wat ’n belewenis! Daardie aand eet ons ’n feesmaal bestaande uit vreemde, soutlose pap, die een of ander groen blaargroente en ’n klein bietjie vleis. Ons sit om ’n koffietafeltjie saam met pastoor Patric, sy vrou, Blessing, hul baba, Favour, en twee gemeentelede in hul baie, baie klein huisie wat propvol Jesus-liefde en vreugde is. Ek het nog nooit soveel vreugde en blydskap in mense beleef nie.

    Ná ete escort (soos hulle sê) die hele groep (babas en al) ons deur die donker township na die taxi-staanplek. Ons stap al laggende en geselsende deur gate en slote in die donker Afrika-nag. Ons enigste lig is ons selfone. Ek kyk op na die sterre terwyl ons vir die taxi wag en sien die Suiderkruis. Dis God se sterre wat Hy by die naam ken (vgl Ps 147:4, 1983-vertaling). Die volgende oomblik word ons letterlik by ’n taxi ingedwing. Nou verstaan ek die spreekwoord wat sê daar is altyd plek vir nog een, want sodra ons stilhou, klim nog een in, en nog een, en nog een.

    ’n Rukkie later, ná ’n woeste rit, word ons letterlik in die middestad van Blantyre op die sypaadjie uitgeboender, want ’n mens klim nie uit nie, jy foeter uit. Wat ’n ervaring! Here, dankie dat ek nie elke dag in ’n taxi hoef te ry nie. Dankie vir ’n motor.

    ’n Uur later stap ons in ’n ander township tussen rye padstalletjies, verlig deur flikkerende kersvlamme en klein vuurtjies. Almal probeer vir oulaas iets aan die verbygangers verkoop wat op pad huis toe is. Die gesigte van kinders, vroue en mans is dofweg sigbaar in die naglig. Ek verkyk my so aan die mense dat ek kort-kort struikel op die ongelyk pad.

    ’n Rukkie later lê ek uitgeput in ’n sagte bed met ’n potblou muskietnet wat soos ’n tent oor my gespan is. Die dag se rook, stof, vreemde geure en vrolike stemme flits deur my gedagtes. Dis Afrika, dink ek, en Afrika is nie vir sissies nie!

    Dankie, Jesus, dat U ons so bederf deur ons soms ’n bietjie terug aarde toe te bring.

    My petrol tank is dead

    Vroeg die oggend stop ’n blou stasiewa voor die deur om ons te kom oplaai vir die konferensie in ’n village iewers in die Malawi-bosse. Dit is ongeveer negentig kilometer of ’n rit van vier uur van Blantyre af. Ek is nie goed met somme nie, maar dit het vir my ’n bietjie onrealisties geklink. Ek sou egter later verstaan – baie goed verstaan.

    Daar heers groot opgewondenheid in die motor; ons gaan konferensie toe! Thank you, Jesus! roep iemand kort-kort vrolik uit. Tom, die motorbestuurder, was gou die motor en laai ons bagasie in. (Hy het elke oggend die motor gewas; dis seker hoekom dit so geroes is.) Ek moet voor sit, want ek is belangrik, besluit hulle. So vertrek die ses van ons in Tom se blou stasiewa Migowi toe. Die motor val letterlik uitmekaar en ek bid saggies … Here?! Ons ry teen ’n slakkepas om en soms deur elke slaggat in die pad (die pad is letterlik een groot slaggat met ’n bietjie teer of grond hier en daar) en die motor skuur-skuur oor stukke rots waar daar eens op ’n tyd teer was.

    Skaars twee kilometer van die huis af vrek die motor sommerso in die ry. Niemand is ontsteld nie. Die bestuurder klim rustig uit, maak die enjinkap oop, karring daar met iets en met ’n ligte stootjie deur ’n paar vriendelike verbygangers is ons weer op pad. Hy sê so ewe met ’n breë glimlag vir my: Die motor is nog goed, die enigste probleem is dat dit nie ’n aansitter het nie. Dit verklaar die feit dat ons elke keer teen ’n afdraand stilhou. Hy het die kuns om die motor so aan die gang te kry absoluut bemeester.

    Later besef ek eintlik niks in die motor werk meer nie … net die radio waarvan die lugdraad aan die binnekant van die voorruit opkronkel, en die toeter. Ons maak beurte om ons vensters op en af te draai met ’n handvatsel wat die rondte doen.

    Die stofpad kom lê laag op laag op my vel. Die groepie sing praise- en worship-liedjies en ons eet Malawi-koekies. Iewers langs die pad draai ons af en hou voor ’n winkeltjie stil om petrol in te gooi en koeldrank te koop. Coke en Fanta. Pastoor McMore loof die Here vir die persoon wat Coke uitgedink het. Dit is opvallend hoe spontaan hulle is in hul verhouding met die Here. Wees in alles dankbaar, het Paulus mos gesê (1 Tess 5:18, 1953-hersiening). Hulle weet hoe om te rejoice!

    Ek kyk rond, maar sien nie ’n petrolpomp nie. Die bestuurder maak die enjinkap oop en gaan haal ’n kan petrol uit die kattebak. Wat nou? wonder ek. Uit nuuskierigheid klim ek uit en gaan staan langs Tom. Die volgende oomblik gooi hy die petrol oor in ’n plastiekkan wat in die hoek van die enjin staangemaak is. My hart gaan staan amper. Tom glimlag breed en sê laggend: My petrol tank is dead. Die motor het toe nie so iets nie!

    Ons klim in en ry verder. Is daar nie ’n goeie rede waarom die petroltenk van ’n motor ver van die enjin af is nie? wonder ek in ongeloof. Sê nou net daar spat ’n vonk van die vonkproppe af na die petrolkan se kant toe … Here, bid ek, asseblief, hou net u hand oor hierdie motor. Dit sal net mooi niks help om daaroor te stres nie, besef ek, ons is al halfpad met die vyfliterplastiekkan in die enjin, en as die ergste gebeur … Wel, dan sal daar net een harde slag wees en die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1