Teen skemer sypel die son se skakerings stadig weg in die donkerblou naghemel. Dié tyd van die dag lyk Nieu-Bethesda byna bonatuurlik – ’n spookagtige verskynsel van beskawing in ’n andersins onbegrensde landskap.
Ek kruie die dorpie net ná sononder binne, en sien deur die huise se vensters hoe vriende en gesinne in die warm gloed van kaggels kuier. Maar hier buite is dit pikdonker. Nieu-Bethesda het nie straatligte nie. Om die waarheid te sê was dit een van die laaste dorpe in Suid-Afrika wat elektrisiteit gekry het. Voor 1995 het slegs die handjievol mense met kragopwekkers elektriese toebehore gehad.
Nieu-Bethesda het – soos baie plattelandse dorpies – danksy die NG Kerk ontstaan wat in 1875 op die plaas Uitkyk gebou is sodat die omgewing se mense nie meer vir kerkdienste die lang tog Graaff-Reinet toe hoef aan te pak nie. Die oorspronklike kerkgebou staan steeds in die middel van die dorp – ’n baken van volharding.
’n Mens moet durf hê om in dié afgeleë kolletjie van die land ’n lewe te maak. Dit het al gebeur dat die dorp so byna-byna leegloop van permanente inwoners, maar dan sorg die kuns en skeppingsgees van die mense wat in dié vallei woon, telkens weer vir nuwe lewe op die dorpie.
Van al die kunstenaars wat al ooit Nieu-Bethesda hulle tuiste kom maak het, is Helen Martins waarskynlik die beroemdste. Die gevierde skrywer Athol Fugard het haar sonderlinge styl en bydrae tot die kunswêreld meesterlik in sy toneelstuk The Road to Mecca vasgevang. Sedert dié stuk die eerste keer in 1984 op die planke gebring is, het Helen Martins die nasie se verbeelding aangegryp en haar woonhuis vol standbeelde – op sigself ’n kunswerk en alom bekend as die Uilhuis – het ná haar dood ’n museum geword en is sedertdien Nieu-Bethesda se grootste trekpleister vir toeriste.
Ek parkeer voor die Bushman Heritage Museum. Die kompleks bestaan uit ’n restaurant, kunsateljee en verskeie verblyfopsies, onder meer ’n boktoring – my blyplek vir die volgende paar nagte.
Martin Lackay wys vir my my kamer en