Koggelmanders is skugter diere. Gewoonlik sal een jou net ’n paar sekondes gun om sy opstote af te neem voordat hy wegskarrel. Maar nie vandag nie. Vanoggend bly sit dié ene op ’n hoekerige rots in die vroeë somerson. Hy’s so swart soos die nag en stil soos ’n standbeeld. Koddige dingetjie, en hy lyk soos iets uit die oertyd.
Later hoor ons dis ’n Cordylus niger, oftewel swartskurwejantjie. Dis maar die eerste van vele ontdekkings wat ons in die komende week sou beleef. Maar die outjie het ons reeds met nuwe oë na die Noordelike Sederberg laat kyk. Dis die stiller, minder bekende deel van die Sederberg oos van die Pakhuispas... Kom ry saam!
Die betowerende Sevilla-rotskunsroete
Mnr. Swartskurwejantjie maak ’n mens lus om soos ratse koggelmanders die ruwe rotslandskap in te vaar.
Die 5 km lange Sevilla-rotskunsroete op die Traveller’s Rest-gasteplaas strek langs die Brandewynrivier uit waar wind en reën die klip oor eeue heen tot allerlei knokkels vervorm. Die wande is oortrek met veelkleurige korsmos wat stadig maar seker die landskap wegvreet.
’n Korsmos bestaan uit ’n swam en ’n alg. Die swam vervaardig ’n flou suur wat die rotsmateriaal oplos, en tydens dié proses word voedingstowwe vrygestel wat die alg in kos vir albei omskakel.
In sy bekende A Short History of Nearly Everything skryf die befaamde reisiger en niefiksieskrywer Bill Bryson: “If I were told that I had to spend decades being a furry growth on a rock in the woods, I believe I would lose the will to go on. Lichens don’t. Like virtually all living things, they will suffer any hardship, endure any insult, for a moment’s additional existence.”
As ’n mens nou wel ’n korsmos móét wees, sou die Agter-Pakhuis ideale blyplek wees. Dis eenvoudig hemel op aarde! In elke rotsboggel is holtes uitgekalwe waarin een of ander vorm van lewe floreer. Hier sit ’n paddatjie; daar staan ’n klossie pers blommetjies; vetplante in elke vorm beur uit die rots; en kyk hoe lekker sit daardie dassie en slaap!
Duisende jare voordat hierdie distrik die Agter-Pakhuis gedoop is, was dit die San se loopveld. Hulle het hier geskuil, gejag, water uit die bolope van die Brandewynrivier geskep en kuns beoefen.