Dit lyk asof die see nie van Hondeklipbaai hou nie. Sy stuur haar grootste en grysste golwe om teen dié plekkie se rotse vas te spoel. Asof sy dit wil terugdwing, sommer diep Namakwaland in. Jy kan hoor hoe sy deur die wit skuim sis: “Hou jou voete uit my water uit.”
Op die vaal sandbultjie aan die rand van die dorp is ’n begraafplaas waar jy kan gaan kyk hoeveel lewens sy al ingesluk het. Net stene met name het sy laat agterbly. Lang lyste. Soms vyf met dieselfde van. Pa, seuns, ooms saam in die koue, donker, soutpoel afgetrek.
“Hierdie manne het verdrink toe hulle boot omgeslaan het in ’n onstuimige see by Hondeklipbaai,” vertel ’n steen.
Ja-nee, dié stuk Weskus gaan nie op toerismebrosjures as “oulik” en “fraai” beskryf word nie. Ongeag uit watter rigting jy kom, gaan jy ten minste 90 km se stof-, sand- of sinkplaatpad weswaarts van Garies of Kamieskroon af moet ry.
Hierlangs sak die son in die see. ’n See wat vat. Sy het die geraamtes van skepe wat om Hondeklipbaai lê, al amper opgeëet. Sy het die krewe en diamante ook ingesluk.
“Die see het heel geverander,” sê tannie Myrtle Lewis op haar stoepie teen die sanderige Foxterrierstraat. Sy kyk na waar die grafstene tussen die taai seebossies en skulpe staan. Net ’n paar honderd meter van haar huis af.
“Kyk, sy was nog altyd ’n wilde mêrrie hierlangs. Maar sy het oor die jare ons al hoe meer gebyt en geskop.”
Tannie Myrtle en haar man, Louis, het baie jare in dié huis gewoon. Wye uitsigte oor die see. Die golwe se gestamp teen Spitfire-rots altyd in hulle ore. Louis is ’n paar jaar gelede oorlede, maar tannie Myrtle hou sy stories lewendig.
“Mense het hom mister Lewis genoem. Hy was