Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die aandvuur se kole
Die aandvuur se kole
Die aandvuur se kole
Ebook124 pages1 hour

Die aandvuur se kole

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die sketse in hierdie bundel is Heiveldstories en sluit aan by Tussen die waboomrante wat in 1988 by Haum-Literêr verskyn het. Dis nog ’n bydrae tot die voorgeskiedenis van Agter-Pakhuis sowel as Clanwilliam se mense in die jare toe die dorp nog Jan Disselsvlei geheet het.
Hierdie bundel bevat geen roemryke gebeurtenisse of heldedade wat op feeste en monumente aanspraak maak nie, maar is uitsluitlik gebaseer op herinnerings van mense wat desjare op hulle eie harde maar beskeie manier vir hulle ’n lap aarde getemper het en ’n bestaan daar uitgebeitel het.

LanguageAfrikaans
Release dateFeb 2, 2017
ISBN9781370657506
Die aandvuur se kole

Related to Die aandvuur se kole

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die aandvuur se kole

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die aandvuur se kole - Annemarie Pieterse

    Die sketse in hierdie bundel is Heiveldstories en sluit aan by Tussen die waboomrante wat in 1988 by Haum-Literêr verskyn het. Dis nog ’n bydrae tot die voorgeskiedenis van Agter-Pakhuis sowel as Clanwilliam se mense in die jare toe die dorp nog Jan Disselsvlei geheet het.

    Hierdie bundel bevat geen roemryke gebeurtenisse of heldedade wat op feeste en monumente aanspraak maak nie, maar is uitsluitlik gebaseer op herinnerings van mense wat desjare op hulle eie harde maar beskeie manier vir hulle ’n lap aarde getemper het en ’n bestaan daar uitgebeitel het.

    Die Heiveld, oftewel Agter-Pakhuis, is selfs in hierdie tegnologiese era nog in groot onbekendheid versink. Oor sy kleurryke voortyd is daar nooit boeke geskryf of in nuusblaaie inligting verskaf nie. Daarom wil ek verder van die Heiveldmense vertel, soos hulle indertyd geleef het. Want in hulle eenvoud het hulle ook ’n verdienstelike bydrae gelewer tot die kulturele erfenis van ons voorvaders.

    My dank en waardering gaan hiermee postuum aan mnr. M.J.J. Botha wat my grootste bron van inligting was, maar wat tydens my navorsing en samestelling van hierdie manuskrip ontslaap het. Hy was ’n seun van die Heiveld se aandvure.

    My opregte dank gaan ook aan al die Heiveldmense wat hulle ervarings en kindertyd-herinnerings aan my vertel het, sowel as mnr. H.G. van Zyl van die NG Kerkargief in Kaapstad vir sy hulp met my naslaanwerk in kerklike geskrifte. Spesiale erkenning aan mnr. P.R. Nel van Malmesbury vir sy bemoediging.

    ’n Stukkie pioniersland

    Wie ken almal die Heiveld? Daardie lap aarde anderkant Clanwilliam met Pakhuisberg se wabome, sy sandsteenrotse en besemrietplate. Anderkant bergaf verby Botterkloofpas tot by Nieuwoudtville lê die Heiveld met sy kareebos-ruigtes en voorbarige harpuise wanneer hulle pronkend in die blom staan.

    ’n Oog wat nog nie op hierdie stukkie pioniersland neergesit is nie, dié se hart ken dan mos glad nie die waarom van hoekom nie al eerder tussen die biesiepolle en katsterte kom uitspan nie. Want eenmaal se uitspan loop op niks anders uit as baiemaal se terugkom. Die aangrypendheid van hierdie onbekende streek wat so weggesteek tussen Pakhuisberg en Nieuwoudtville lê, het mos ’n stilletjies manier om soos klipblom op ’n mens te groei. Hier het selfs die nederige ganna en die ongerekende litjiesbos ’n anderste bekoring as op ’n ander plek. Seker omdat die Heiveld grootliks nog soos ’n maagd is in sy ongereptheid. So totaal ongeskonde van menslike opportunisme.

    Hierdie Heiveld-paradys ontdek ’n mens eers wanneer jy vir die heel eerste keer ’n reis deur die wêreld van die Agter-Pakhuismense onderneem. ’n Reis wat agterna met paaiemente voor jou kom staan. Want keer op keer sal jy teruggaan na daardie flentertjie rietbosaarde waar natuurskoon en volksgeskiedenis hande vat en die gees met nuwe vergesigte en ongekende einders deurweef, beklee en behoorlik vasvat.

    Op party plekke val ’n bietjie ongerief wel na jou kant toe wanneer jou ryding in die tweespoor sandpad dreig om vas te val terwyl die Heiveldson oor die suikerkanne se toppe op jou neerblaker. Maar dit gebeur nie aldag nie en ook net omdat ons stedelinge so gruwelik bederf is met teerpaaie. Ons ken mos nie die truuk van die sandpad nie. Maar daardie bietjie sandpad-oponthoud is net ’n klein bietjie moeite, gereken teen die verryking des gees wat hierdie pioniersland bied. Geen geld kan so ’n ervaring oor ’n toonbank koop nie. Maar in die Heiveld kry jy dit verniet.

    Op ’n ander dag, wanneer welkome reën oor die skurwe rantjiesveld uitsak, ervaar jy die dankbaarheid van mens en dier oor dié hemelse verkwikking. Want water wat van bowe kom is in hierdie wêreld nie ’n kraan wat enige tyd van die dag of die nag net kan oopgedraai word nie. Nee, vir die Heiveld is reën een van die grootste en kosbaarste genadegawes.

    Dreun jy dan verder met die sandpad Nieuwoudtville se koers in, verby Doornbosch en die steil Botterkloofpas uit, dan is jy klaar nie net meer bevange-nuuskierig oor wat anderkant die bult lê nie. Dan is jy reeds betower. Want hiervandaan strek die Heiveldse fynbos soos ’n skurwejantjiekombers voor jou oë uit.

    Vér na agter soos jy gekom het, lê die kartelrûe van die Sederberge potblou in die verte. En vorentoe wink die harpuisbosse met hulle goudgeel blomvreugde. Soos adellikes tussen die besemriete. En adellik ís hulle ook. Want hulle is die goud wat die Heiveld verguld.

    So met die eerste asem van die lente slaan die gousblomme kol-kol diep oranje en wit oor die rante en vygiebosklowe uit. En dáár tussen die katstertoorgroeide klipskeure waar onverwagse sandkolle met die reëntyd ingespoel het, peil die rooi en swart dirkies soos swaarde hemelwaarts. Dis ’n skouspel wat die hart aangryp.

    Die vinnige tempo en gepaardgaande stres van die hedendaagse lewe dwing die mens om sy ontspanning in die natuur te gaan soek. Dis 'n heilsaamheid wat in geen medisynebottel gekry word nie. En kom die verhale van na-aan-die-aarde-mense ook nog by, is dit ’n bonus wat nie die hart wil los nie. Veral hulle byname! Dit word ’n erfenis vir die nageslag.

    Weggesteek van die gebaande weë lê hierdie mosaïekruigtes van rietbos en vaal karee nog net soos ’n Meesterhand hulle geskep het, wagtend om ontdek en waardeer te word. Met sy ysterklip klowe wat lyk soos biltonge wat die skurfte het, is die Heiveld ’n natuurliefhebber se aardse paradys. Maar helaas! Hy’s so onbekend as kan kom. Miskien is dit aan die een kant ’n goeie ding dat nie alles in die lewe gelyktydig geken moet wees nie. Want wat bly daar dan oor om verder ontdek te word? Daar moet mos van tyd tot tyd vernuwing wees. Dis die sout van die lewe.

    Maar vir diegene wat die veldmooi liefhet, en reeds al die wind deur die Heiveldbiesies hoor neurie het, is dit veel meer as net nuuskierigheid wat sy soekende gees terugdryf. Terug na die katbosruigtes en suikerkanrante. Dis ook ’n soeke na die vrede van ’n stukkie weggesteekte pioniersland agter Pakhuisberg se breë rug. Daardie bewys lê in die askolle en die dooie kole van sy vorige besoek se aandvuurtjie.

    Die Heiveld se hanslammers

    Dis juis in hierdie einste Heiveld waar bloujare terug ’n klompie pioniers hulle tentpenne loop inslaan het. En van pure afsondering kompleet soos hanslammers loop raak het in hierdie half vergete en ongerekende lap aarde. Daardie jare was vandag se Clanwilliam nog op papier as Jan Disselsvlei bekend. Die dorp was destyds só vernoem na ’n plantkundige, ene Jan Dissel, wat in daardie kontrei met ’n studie van die plantegroei besig was.

    Ewenwel, die Heiveld se pionier-hanslammers was nie hans omdat hulle nie deur hulle ewenaastes ongereken was nie. Hulle was maar net hans omdat hulle so afgeleë en verstoke tussen die uitgestrekte ruigtes gewoon het. Weliswaar soos hanslammers wat eenkant grootgemaak is.

    Maar een ding wat nie twee was nie, was dat daardie hanslammers glad nie gering geskat moes word nie. As dit kom by hoe hulle ’n bestaan vir hulleself losgewerk het in die sandgatste plek te bedinke, dan haal jy jou hoed vir hulle af. Want lewe het hulle gelewe sonder om vir iemand ’n duit te vra. En uit elkeen se sandgatgrondjie wat hulle bewerk het, is hulle kinders gevoed en geklee. Want wat hulle in daardie sand geplant het, het opgekom en gegroei. Solank daar net ’n watertjie was vir natlei.

    Oom Herklaas Gonsie van Jan Disselsvlei sê mos vergange: As die Heiveldaarde nie so dik was nie, sou die plantgoed se wortels lankal aan die onderkant met ’n hamer omgeklink moes word!

    Dieselfde oom Herklaas hou toe ook vol dat ’n Heivelder nie in sy kooi lê tot die son in sy verlede skyn nie. Nee ag, hy’s vroegmôre uit die velle. Dan plant hy en hy saai, oes sy rooibostee landerytjies en vat sy veetjies veld toe. Weeklaag hoor jy hom nie. Want hy’t geweet dat dieselfde Meester wat die son laat skyn ook die water van bo op Sy eie tyd sal stuur.

    Sou hierdie helde-vertroue en kontreiliefde miskien die rede gewees het waarom C. Louis Leipoldt

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1