Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sink
Sink
Sink
Ebook264 pages3 hours

Sink

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Rachel, ’n huiswerker van Mosambiek, se dogter sterf tragies onder die sorg van haar Suid-Afrikaanse werkgewers, Michelle en Chris Jordaan. Sy word gekonfronteer met ’n onmoontlike keuse: bedank sy en keer terug na die armoede van haar geboorteland, of bly sy werk vir die mense wat verantwoordelik is vir die dood van haar kind, sodat sy haar woonplek en haar visum kan hou, en haar familie in Inhassoro in ondersteun? Haar situasie raak selfs moeiliker wanneer sy uitvind die Jordaans verwag hul eerste kind. Sink verken hoe drie mense van uiteenlopende agtergronde vrede kan maak met die ergste van verlies.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 1, 2017
ISBN9780624081357
Sink
Author

Brett Michael Innes

Brett Michael Innes het drie jaar as filmmaker gewerk saam met verskeie organisasies reg oor die wêreld, van Sierra Leone tot in Mongolië. Sy eerste roman, ​The Story of Racheltjie de Beer, ​het 'n plaaslike topverkoper geword, en sy tweede roman, ​Rachel Weeping​, is omskep in die trefferfilm ​Sink​, waarvoor hy self ook die regie behartig het.

Related to Sink

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sink

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sink - Brett Michael Innes

    Brett Michael Innes

    S I N K

    Vertaal deur Elna van der Merwe

    TAFELBERG

    ’n Gekerm word op Rama gehoor,

    ’n gehuil vol hartseer:

    Ragel treur oor haar kinders,

    sy wil haar nie laat troos nie,

    want haar kinders is weg.

    Jeremia 31:15

    Proloog

    Dis dalk die laaste keer dat ek hier sit.

    Net om dit te dink, is vir Rachel al byna te veel. Sy maak haar kop stil, want nou moet sy vir oulaas al die kleure en reuke en die gevoel van die strand om haar inneem. Sy kyk na die seegroen water waar die vissermanne die wind in hulle seile laat bol om hulle dau’s terug te stuur land toe. Dit lyk na nog ’n dag waarop hulle met niks terugkom nie. Die middagson weerkaats op die wit sand en dié blink lig laat lyk dit of alles om haar splinternuut is.

    Daar’s net ’n paar strandbrakke en kinders in die rondte, want die dorpie se mense is in hulle grashutte waar hulle vir die hitte probeer wegkruip of wag dat die vis eendag weer byt. ’n Paar seemeeue hang oor die water en ’n ent langs die strand af sien sy ’n vrou wat kokosneute bymekaarmaak wat in die nag afgeval het.

    Rachel het in haar ag-en-twintig jaar op aarde hierdie strand platgestap. Sy ken dit soos die palm van haar hand en het gesien hoe dit verander. Eers was dit net ’n klein ou vissersdorpie wat veilig beskut is deur die Bazaruto-eilande, maar toe word dit die vakansiebestemming Inhassoro. Toe kom die toeriste met al hulle geld en dinge verander vir die mense. Maar in Februarie en Maart van 2000 tref die sikloon Leon-Eline hulle land naby Beira en kom daar ’n seisoen van vloede, hongersnood en armoede. Hulle swaarkry word eers deur die res van die wêreld raakgesien toe Sofia Pedro in ’n boom bokant die vloedwater kraam.

    Dit was tien jaar gelede toe Rachel agtien was en die jare daarna was ’n tyd van swaarkry vir haar mense. Die vakansieoorde het later weer op hul voete gekom, maar die gewone mense is nie so gelukkig nie.

    Met toe oë luister Rachel na die bekende geluide om haar: die diep dreuning van die branders wat breek, dan die kabbelinkies teen die strand in ’n ritme wat diep uit die hart van die see kom. Bo die lied van die golwe hoor sy die vissermanne na mekaar roep, halwe woorde waai na haar toe.

    Haar pa was een van hulle tot hy sy been seergemaak het; daarna het hy werk gekry as netregmaker, daardie selfde nette wat hy tevore vroeg soggens ver oor die donker see uitgegooi het.

    Die sikloon het die see leeggesuig. Eers was visvang die manier waarop die dorpie se mense oorleef het, maar nou het dit gemaak dat hulle nie vooruitkom nie. Want nou sit hulle steeds heeldag op die see in hulle dau’s en dan kom hulle dag vir dag met leë nette terug. Dis die hoop wat hulle aan die gang gehou het, maar daardie hoop is ’n gif.

    Rachel trek haar asem diep in. Die skerp soutreuk van die see en die paar visse wat wel gebyt het, meng met die geur van varsgebakte pão wat op die lug aangedryf kom. Toe sy twaalf was, het sy saam met haar ma en die ander vroue by die mark gesit waar hulle die heerlike vars broodrolletjies verkoop. Haar ma het altyd vir haar die eerste pão van die dag gegee en hoe lekker was dit nie om die warm broodjie oop te breek en te sien hoe die stoom in die lug optrek nie! Nou is dit net die rykes wat pão kan bekostig en daar is nie meer verniet brood vir die kinders wat heeloggend in die mark hand bygesit het nie.

    Sy lek haar lippe af, maar daar is niks anders te proe as die sout seelug nie. Sy sit die laaste skyfie van die nartjie wat sy besig is om te eet in haar mond. Sy byt dit oop en voel die soetskerp ontploffing van die sap in haar mond. Anderdag was dit ’n alledaagsheid, nou is so ’n vrug iets spesiaals. Haar ma het dit vir haar gegee as haar laaste ontbyt op Inhassoro.

    Met haar oë steeds toe voel Rachel die klam hitte van die son, maar ook die koel seewind op haar natgeswete gesig. Sy grawe met haar tone in die sand, deur die kors wat die oggendson uitgebak het tot by die klam laag dieper af, voel-voel na die water wat die gety agtergelaat het.

    Sy sit haar hand op haar maag en voel hoe warm en ferm die vel onder haar hemp is. Dit sal nog ’n paar weke wees voor ’n mens enigiets kan sien, maar sy weet reeds binne-in haar is dit anders. Sy kan voel sy is nie meer alleen in haar vel nie, dat iemand daar binne aan die groei is wat apart en onafhanklik van haar is. Die besef maak haar bang, maar inspireer haar ook. Dit is haar gedagtes en haar drome vol.

    Dit is oor dié mensie dat sy Inhassoro verlaat, sodat die siel wat haar liggaam tydelik gebruik, ’n kans in die lewe sal hê of ten minste dan ’n beter een as wat haar toebedeel is. Sy laat haar familie, haar huis en haar strand vir dié lewetjie agter en gaan na ’n plek toe waar sy nog nooit was nie.

    Dit is egter nie net om haar ongebore kind se onthalwe dat sy wil weggaan nie. Haar ouers is nou oud en kan nie meer die pot aan die kook hou nie. Sy het in Inhassoro werk gesoek, maar daar is niks wat die moeite werd is nie. Sy is ’n paar maal met die bus Maputo toe en het weke lank daar ook gesoek. Sy het elke keer voor dooiemansdeur omgedraai of die betaling was net soveel as wat sy hier in die vismark kan verdien.

    Mosambiek het niks gehad om haar te bied nie en sy sou ’n plan moes maak voor haar kind gebore word. Geen mens sal ’n swanger vrou in diens neem nie, dus weet sy sy moet nou spring voor haar maag begin wys.

    Toe Rachel haar oë oopmaak, sien sy by haar voete ’n kauri-skulp, sy bruin spikkelporselein half toe onder die wit strandsand. Sy het al duisende van dié skulpe in haar lewe gesien en hulle teruggegooi in die see of juweliersware daarvan gemaak, maar om die een of ander rede laat dié een haar weer kyk. Miskien is dit al die emosies waarvan haar hart vandag so vol is, of dalk die begeerte om aan iets vas te hou wat huis beteken, iets wat nie sal verander nie – sy leun vorentoe en tel dit op.

    Sy stof die sandkorrels af en bekyk dit. Dit lê glad in haar hand, warm van die son en omtrent so groot soos ’n kleinerige pruim. Sy draai die eiervormige skulp om. In sy plat wit onderkant is ’n spleet met stomp tandjies. Sy hou die skulp voor haar mond en blaas jare se sand uit. Iets wat eens ’n lewende ding onder die waters van die oseaan was, is nou hier in die holte van haar hand.

    Rachel sit die kauri-skulp in haar sak en kyk een laaste maal uit oor die see voor sy omdraai en strandlangs na haar ouers se hut begin stap. Haar sak is gepak. Al wat nog oor is om te doen, is groet en bushalte toe gaan.

    Sy is op die punt om Mosambiek te verlaat. Sy is op pad Johannesburg toe.

    Hoofstuk 1

    6 April 2014

    Rachel, ek weet dis ’n gesprek wat ons almal probeer vermy, maar ons sal móét praat.

    Rachel kyk oor die twaalfsitplek-houttafel na Chris en Michelle Jordaan. Die lig van die ontwerperslamp val skerp op die blink gepoetste oppervlak wat haar van die twee skei. Sy kyk hoe die stoom uit die drie bekers tee stadig boontoe krul. Die gasverwarmer in die hoek van die vertrek gloei rooi, maar kry dit nie reg om die koue heeltemal te verjaag nie. Wanneer die seisoen eers begin draai, kry die koue altyd ’n manier om die huis binne te sypel. Onder die tafel vou dit om Rachel se kaal enkels.

    Dis nou vier weke, sê Chris. Die baardstoppels is donker op sy gesig – nie van in die mode wees nie, meer van afskeep. Ons moet besluit wat die volgende stap vorentoe vir ons almal gaan wees.

    Hulle praat altyd Engels met mekaar, want Rachel verstaan nie veel van die Jordaans se huistaal nie, net hier en daar ’n paar groetwoorde en ander losses wat sy deur die jare raakgehoor het.

    Sy wag dat hy voortgaan, sien hoe hy sukkel om te sê wat hy wil sê. Michelle sit stil langs hom en staar na die tafel sodat sy nie vir Rachel hoef te kyk nie. Haar blonde hare wat gewoonlik perfek versorg is, is vasgebind in ’n slordige poniestert met donker wortels wat duidelik wys onder die salonblondheid. Chris se bruin hare het ligter geword in die byna ses jaar dat Rachel al vir hulle werk en by die hoeke van sy oë kan sy permanente kreukels sien wat veroorsaak is deur die glimlag wat gewoonlik so deel van hom is.

    Kyk, Rachel, sê Chris toe hy weer woorde kry, dit is vir ons baie lekker dat jy hier werk, maar ons sal verstaan as jy wil aanbeweeg.

    Sy bly swyg. Sy probeer hoor wat dit is wat Chris vir haar sê. Hy is ’n goeie man, dit weet sy, maar nou moet hy ’n probleem oplos en sy lojaliteit sal by Michelle wees. Dié het aan ’n groefie in die tafel begin krap.

    Toe Rachel ’n paar jaar tevore vir Michelle haar dertigste verjaardag help reël, het sy besef hulle is ewe oud, maar dié ooreenkoms het vir haar net onderstreep hoe baie hulle van mekaar verskil.

    As dit die geval is, gaan Chris voort, sal ons jou vergoed ver bo wat die wet –

    Ek sal bly.

    Haar woorde stuit hom in die middel van sy sin en laat Michelle vir die eerste keer opkyk van die tafel.

    Is jy seker? vra Chris. Wil jy nie eers ’n bietjie daaroor dink nie?

    Ek sal bly.

    In ’n sagte stem bevestig Rachel haar besluit op ’n manier wat die Jordaans geen ruimte laat om dit verder te bevraagteken nie. Sy is self verras oor hoe beheers sy is. Sy sien hoe Chris vinnig na Michelle kyk. Duidelik was nie een van hulle voorbereid op ’n onmiddellike antwoord nie en beslis nie op dié een nie.

    Chris neem sy vrou se hand en die groefie in die tafelblad eis weer al Michelle se aandag op.

    Wel, as dit is wat jy wil doen, sê hy, dan moet ons jou vra om Maandag – môre – weer in te val. Soos jy kan sien, het die huis ’n ernstige skoonmaak nodig.

    Hy is reg, dit is vuil. Rachel het dit gesien die oomblik toe sy instap, dat die Jordaans haar afwesigheid gevoel het. Die swart-en-wit teëls in die voorportaal is vuil, die opwasbak in die kombuis loop oor van vuil skottelgoed en as sy badkamer toe loop, sal daar vir seker ’n wasgoedmandjie oorvol van die afgelope weke se vuil klere wees.

    Goed. Môre is reg.

    Is jy seker, Rachel? vra Chris met ’n ligte frons.

    Rachel kyk na hom en knik haar kop om hom te probeer oortuig sy is. As húlle haar glo, sal sy dit seker mettertyd self regkry. Sy kyk nie weg toe hy stip na haar staar om te sien of daar enigiets is wat haar antwoord weerspreek nie.

    Sy trek nie ’n spier nie.

    Toe kyk hy weg en voer die gesprek in Michelle se rigting om dit te laat lyk asof sy deel is van die volgende besluit, terwyl hy in werklikheid besig is om dit te neem terwyl hy praat.

    Wel, dan sal ons vir jou ’n verhoging gee, want dit is in elk geval nou tyd daarvoor. Ons kan kyk of ons jou kamer ’n bietjie kan laat regmaak, miskien ’n nuwe stofie …

    Hy probeer hard om sy ongemak met die situasie te onderdruk. Rachel voel die gal in haar keel opstoot terwyl sy luister hoe hy al die gawes opnoem wat hulle aanbied as vergoeding.

    Dankie. Sy sien ’n skrefie van ’n glimlag terugkeer na Chris se oë; hy is seker verlig dat hulle darem ’n soort oplossing kry. Rachel staar na hom; sy wil nie terugglimlag nie, maar sy wil ook nie lelik wees met hom nie. Net soos sy, is hy ’n slagoffer en sy kan haar nie so ver kry om sleg van hom te dink nie.

    Is daar enigiets wat jy wil weet of wat jy graag vir ons wil vra?

    Kan jy dalk môre my maand se geld vir my gee?

    Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.

    Rachel knik en al drie bly sit in stilte, nie seker wat om te doen noudat alles wat gesê moes word uit die pad is nie. Sy kyk af na die tafel wat sy op Dinsdae en Vrydae poets. Na ’n paar minute besef sy die Jordaans wag dat sy die gesprek afsluit.

    As dit al is, wil ek graag nou na my kamer toe gaan.

    Ja. Wel. Dis dan nou dit, sê Chris. En toe skielik in Afrikaans: Dankie.

    Rachel knik weer, dié keer in reaksie op die dankie. Toe sy opstaan, skraap die houtstoel oor die vloer en meer uit gewoonte as goeie bedoelings begin sy die drie bekers bymekaarmaak om dit kombuis toe te neem. Michelle spring op, wys sy moenie en steek haar hand uit voor Rachel haar beker ook kan optel.

    Ek sal dit doen.

    Rachel sit haar beker weer neer op die tafel. Sy trek haar hemp reg, kyk nog ’n slag na Chris en draai om. Agter haar is daar stilte.

    Michelle staan en kyk hoe Rachel by die deur uitstap. Sy hoor die moeë flap-flap van haar pantoffels in die donker gang af verdwyn in die rigting van die voordeur. Haar gedagtes is ’n maalkolk wat al maller tol. Sy hoor hoe die deur oopgaan en dan weer toe, daarna die gekletter van die veiligheidshek.

    Sy is veronderstel om te loop. Sy is veronderstel om die geld te vat en te lóóp.

    Dof beweeg sy met die drie bekers deur die spogkombuis tot by die opwasplek. Wat op aarde besiel Rachel om te bly? Sy gooi die lou tee in die wasbak uit waar dit soos ’n bruin waterval oor die stapel vuil skottelgoed loop. Sy draai om. Deur die oop deur sien sy Chris sit steeds bewegingloos by die tafel in die sitkamer.

    En hoe is ons veronderstel om só te leef?

    Ons kan haar nie in die pad steek nie.

    Hoekom nie? Moenie vir my sê wat ons nou doen, is ’n oplossing nie.

    Natuurlik is dit nie, Michelle, maar daar is nie ’n kans dat ons haar kan vra om te loop nie.

    Michelle gluur haar man aan hoewel sy goed weet hy’s reg, maar sy is gefrustreer deur die uitkoms van die aand se gesprek. Sy hou hom dop terwyl hy dinge sit en uitwerk, dan terugkeer van die afgrond waarheen sy gedagtes hom geneem het en na haar opkyk. Hy blaas sy asem uit.

    Ons sal eenvoudig ’n manier moet kry om dit te laat werk, Michelle. Om die een of ander rede dink sy dis beter om by ons te bly as om weg te gaan, so ons sal net moet aangaan.

    Sprakeloos draai Michelle terug na die wasbak. Hoe Chris die situasie kan vereenvoudig tot iets wat hulle daagliks net sal moet uitwerk, gaan haar verstand te bowe. Hy maak asof dit ’n verhoging in hulle elektrisiteitsrekening of ’n nuwe soort waspoeier is waaraan hulle gewoond moet raak.

    Sy kyk af na die spul skottelgoed voor haar – borde, bakke en koppies wat oor die weke opgestapel het toe sy haar nie so ver kon kry om op te was nie. Dis nie dat huiswerk benede haar is nie; sy was tog op hoërskool ’n kelnerin in ’n pizzaplek en het op haar dag erger as dít gesien. Maar elke keer wanneer sy wou opwas, was dit asof al haar energie om die een of ander rede verdamp en met elke nuwe bord of beker op die stapel het dit net erger geword.

    ’n Swaar hart lei tot swaar hande, wil dit lyk.

    Toe sy wegdraai van die oorlopende wasbak, sien sy Chris sit nie meer by die tafel nie. Sy spits haar ore; rugbywedstrydgeluide verklap hy kyk TV. Sy skakel die ketel aan, maak die kas voor haar oop en haal die laaste twee skoon bekers uit. Kitsch goed wat net Chris sou koop en wat sy net gebruik as hulle alleen is. Op die pers een staan Drama Queen en op die gele The Man, The Legend. Sy sit ’n teesakkie in elk.

    Nog tee? roep sy. Haar stem trek verby die vier gastekamers met hul duifgrys skakerings van duur Weylandts-dekor, haar tuiskantoor, die gastebadkamer met sy Duitse stortkop wat Chris byna ’n oorval laat kry het, tot by die TV-kamer. Die huis is in die sewentigerjare gebou toe plafonne hoog en vertrekke ruim was, heel anders as die nuwe geboue wat deesdae in Johannesburg se noordelike voorstede opspring.

    Dit is die eerste eiendom wat sy en Chris saam gekoop het, en om te sê dit het opknapwerk nodig gehad – soos die advertensie gelui het – is om dit hopeloos te sagkens te stel. Hulle het die bekende raad gevolg om die swak huis in die goeie straat te koop, maar met Chris wat ’n argitek van beroep is, was dit vir hom eerder ’n opwindende projek as ’n probleem. Op die dag wat die sleutels van Vyfde Laan 76 in Parkhurst aan hulle oorhandig is, het ’n jaar van breek-en-bou aangebreek wat Michelle sou verkies om te vergeet.

    Die verbleikte matte is uitgeruk en vervang met groot granietteëls, die ou skuifraamvensters moes plek maak vir geïsoleerde dubbelglasruite, die mure is wit geverf en die skeidsmuur tussen die kombuis en leefvertrek is afgebreek. Elke vertrek is onder Michelle se wakende oog deur ’n topontwerper versier en die vermenging van meubels en kuns, alles in ’n palet van grys, room en beige, is aangevul deur teksture van hout en wol. Die kombuis was die ergste en op die ou end het hulle die hele spul uitgeruk en laat oorbou. Hulle het marmer-werkoppervlakke, ’n Smeg-gasstoof, ingeboude kaste, ’n hoekspens, ontbythoekie, dubbeldeur-yskas (ook die begeerlike Smeg), wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser en, in die hoek, ’n Italiaanse espressomasjien goed genoeg vir ’n restaurant laat insit.

    Die lewe is te kort vir kitskoffie.

    Michelle staan by die ketel en wag dat Chris antwoord, maar die sportgeluide is al wat sy hoor. Sy trek haar asem in om weer te roep en besluit toe daarteen. Sy sit een teesakkie terug in die houer en pak die Drama Queen-beker terug in die kas. Terwyl sy luister hoe die water begin kook, staar sy na die patrone in die marmer. Sy was steeds nie gelukkig met die spesifieke skakering van naaswit nie, maar toe sy die dag by die kombuis instap en sien die kombuisblaaie is klaar geïnstalleer, het sy besluit om stil te bly. Só het die werkoppervlakke vir haar ’n aanmaning geword dat as sy iets reg gedoen wil hê, of dit huisopknapping of die lewe in die algemeen is, sy dit nie aan Chris kan oorlaat nie. Hy was daar die dag toe die kombuisblaaie gelê is en toe sy later vir hom uitwys dat dit nie dieselfde wit is as die monster waarop hulle besluit het nie, het hy daardie tipiese glimlaggie van hom gegee en gesê niemand sal die verskil agterkom nie.

    En nou is hy dit weer aan die doen. Neem besluite namens haar en sê dan dit sal nie so sleg wees nie. Maar dit is nie nou ’n marmerwerkblad nie; dit is nie ’n skakering van naaswit waarby sy net kan verbykyk en maak of dit nie daar is nie. Wat dit erger maak, is dat anders as met die kombuisblaaie, dit nie Chris se fout is nie. Sy is die een wat blameer moet word vir die situasie waarin hulle vasgevang is en hoe graag sy ook al daarby wil verbykyk en maak asof dit nooit gebeur het nie, weet sy as Rachel vir hulle aanhou werk, gaan dit onmoontlik wees.

    Michelle draai om toe sy ’n gekrap aan die deur hoor. Dit is Hugo, hulle optelhondjie van onsekere herkoms, wat uitgelaat wil word. Sy buk af om die hond se kop te krap voor sy hom laat uitgaan. Toe hy klaar is met sy besigheid, draf

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1