OM DIE draai, oor die laaste bult en daar lê Duinebaai se goue strand en akwamaryn sterretjies-see uitgestrek voor haar. Mooier as wat sy kon onthou.
Sonja sluk aan die knop in haar keel. Dis asof die werklikheid van Ouma Miems se dood nóú eers werklik by haar insink. Die kusdorpie lê knus genestel teen die duine. Regs van die hoofstraat, veilig omring deur ’n halfmaan van natuurlike rotsformasies, lê die vissershawe. Sy wil-wil glimlag. Asof ’n mens dié nou straatjie ’n hoofstraat kan noem. Dis steeds die enigste geteerde straat op die dorp. Vreemd hoe dit voel asof tyd hier gaan stilstaan het.
Sy stop by die strandwinkel om brood en eiers te koop. Die son skyn helder, maar binne is dit halfskemer. Ou Josef het seker nog nie genoeg geld kon wegsit om ’n kragopwekker aan te skaf vir die alewige beurtkrag nie. Die feit dat sy winkel steeds