JEANNE wikkel haar tone wat op die koffietafel rus en bekyk die skelrooi geverfde toonnaels. Passion rouge. Passie? Sy wens die kleur kan sy soos ’n verfkwas gryp en haar lyf en kop inkleur, dan voel sy dalk beter. Ongelukkig weet sy dit werk nie in die lewe so nie.
Sy voel dieselfde as gister, en eergister en al die ander dae. Dit voel asof haar gemoed ’n swart gat is wat alles insluk.
Die seebries swiep haar blonde hare voor haar oë. Voor haar is die see blouselblou en skuimerig. Die wind waai skuimkop branders strand toe. Hier sit sy elke oggend en hou die lewe dop van die stoep af. Die branders swel en breek op die strand. Hoe is dit moontlik dat die natuur ’n mens se gemoed so duidelik kan eggo? Vol bravade en belofte totdat dit op die strand breek en wegsyfer tot skuim. Niks.
Drie honderd en sestig dae. Sy is vyf dae verby haar doelwit, maar sy kon haarself nog nie so ver kry om dit