Daar is darem net niks soos ’n padreis deur die platteland om jou die hartklop van ’n land te laat voel nie.
Dit het ek weer en wéér besef terwyl ek 15 maande lank oor drie vastelande geswerf het. Ek en my pas afgetrede Fransman het ons huis, ons kar en sommer ’n klomp ander besittings verkoop om ’n “grys brugjaar” te bekostig. Footloose and fancy-free het ons gereis, in treine en busse en ’n verskeidenheid van gehuurde karre, dieper en dieper na die hart van elke land wat ons verken het.
Dit is veral die Noord-Amerikaanse en Suid-Afrikaanse platteland wat ons aangegryp het. In Europa is dit moeiliker om onbevolkte landskappe te vind. As daar nie nóú mense woon nie, is daar gewoonlik oorblyfsels van geboue wat