Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Luiperd in my bed
'n Luiperd in my bed
'n Luiperd in my bed
Ebook290 pages2 hours

'n Luiperd in my bed

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

"Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asemhaal in die koelte van 'n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir 'n modderbad..." Annelize Slabbert was 'n joernalis in Johannesburg en haar man, Gerard, 'n apteker. Doodgewone stedelinge. Toe word hulle moeg vir die lewe in die stad, die spitsverkeer en die gejaag, en verhuis sak en pak na Botswana. Hier, in die son en sand van die Sentraal-Kalahari, gaan hulle 'n luukse vierster-lodge bestuur. Min het hulle geweet wat wag. Tussen die luiperdwyfie in die slaapkamer, die dansende Russe en "wilde diere" in die swembad, sal hierdie boek jou laat lê van die lag ... en jou twee keer laat dink voor jy jou eie landelike idille aandurf.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 15, 2018
ISBN9780624082361
'n Luiperd in my bed
Author

Annelize Slabbert

ANNELIZE SLABBERT is 'n skrywer en voormalige joernalis by Huisgenoot, Beeld en Finansies & Tegniek. Sy is getroud met Gerard Slabbert, 'n apteker. Tot hul onlangse aftrede het hulle saam 'n vierster-lodge in die Sentraal-Kalahari, Botswana bestuur. By Storieboom, hul nuwe tuiste in KwaZulu-Natal, verskaf haar honde en tuin haar eindelose vreugde.

Related to 'n Luiperd in my bed

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for 'n Luiperd in my bed

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert

    Annelize Slabbert

    ’N LUIPERD

    rule.jpg

    IN MY BED

    5008.jpgSub.%27n_luiperd_in_my_bed.jpg

    Tafelberg

    Jirre, dasie ’n lantie so ver of woes geleë,

    sos dié sandland wat U nou vi my kom gee,

    want selfs in hierie dro annerlikheid

    groei die gemsbokkomkommer van u heerlikheid

    -Die Griekwapsalms deur Hans du Plessis

    Finale%20kaart.jpg

    1.

    Nog ’n plaas in Afrika

    ONS woon op ’n plaas in Afrika.

    Nou nie op ’n koffieplantasie à la Karen Blixen in Kenia nie, maar ’n wildplaas in die Witsand-Kalahari van Botswana. Op winter-Sondae sweef die hartseer note van Mozart se klarinetkonsert oor die vaal stoppels en houtskool-swarthaak terwyl gemsbokke by die pan water drink en ’n korhaan sy Afrika-roep laat opklink oor die veld. Someraande drink ons sjampanje by Totti Totti terwyl flaminke pienk oor die gladde pan huiwer. Snags tjank die jakkalse en brul die Kalahari-leeumannetjie terwyl hy die bome langs sy watergate merk. Ystervarke kom eet saam met ons aan óns pietersielie en basilie. Nonnetjiesuile woon in die balke van ons huis se dak.

    Op ons plaas – net bekend as die plaas – is geen drade vir telefone of kragvoorsiening nie. Geen teerpaaie nie. Geen ver­keersligte en spoedlokvalle nie. Net afsondering. En ruimte! En wildernis.

    Sou jy vroegoggend in die vaal sandpad tot verby die twee groot matjarras ry, sal jy ons op die stoep van ons groen sink­dakhuis kry. Gerard en ek, elkeen op ’n rottangstoel, beker koffie in die hand, met Rebecca die Duitse herdershond tus­sen ons. Bismark, die ander herdershond, verkies ’n uitsig op die fisante se pik-pik rondom die watergat – om hulle beter dop te hou. Jasmyn, die gemmerkat, oefen haar jagtersluip tussen die termiethoop en motopibossies. Na die ooste se kant kom lê die eerste rooi strale van die winterson oor die termiet­hoop en val deur die digte matjarrablare tot op die stoep.

    Nog ’n warm, droë middag lê voor.

    Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asem­haal in die koelte van ’n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir ’n modderbad.

    Met ’n oop boek vergete op die skoot, oë halftoe teen die bewende lig, sitlê ons dan op die verslete bank op ons wye stoep. Of ons gaan die stildonker voorhuis in, skuifvensters dig toe teen die warm lug daarbuite. Die enigste geselskap ’n irriterende vlieg wat uit die tonge van die gekko’s teen die mure gebly het.

    Skemer vind jy ons weer buite, tevrede met koue wyn in die een hand, gieter in die ander, besig om die sestal potte op die stoep met brak Kalahari-water te pamperlang – met die (misplaaste) hoop dat blou plumbago (syselbos) en pienk malvas enigsins ’n verskil sal maak aan die vaal sandvlakte. Winters word die koeler lug beurtelings al die kleure van die bougainvillea soos die son agter die grasduine wegsink.

    Êrens tussen sewe- en agtuur elke môre trek ons die deure van ons huis toe, versigtig om seker te maak Rebecca en Bismark is veilig in die huis of omheinde agterplaas. Al met die sandpad langs stap ons.

    Net minder as 1 km verder is die plek waar ons werk, die rede waarom ons hier kan bly, en die bron van ons inkomste, waarvan ons lewe. Op die plaas bedryf ons ’n lodge. Agt sandkleurige huisies, versteek tussen akasias en matjarras, kan sestien gaste van regoor die wêreld huisves. Elke huisie het sy eie stoep van waar gaste kan uitkyk op ’n groot watergat, in veral die wintermaande die saamkomplek van troppe wildebeeste, koedoes, gemsbokke en hartebeeste, met vlakvarke en kameelperde gereelde besoekers. Hierdie watergat is ook die drinkplek van die oostelike leeutrop wat tussen ons plaas en die buurplaas beweeg.

    Teen die tyd dat ek en Gerard soggens by die lodge se kombuis nog koffie gaan soek, het die dag se bedrywighede lank reeds begin. Die eerste koffiewater begin al vyfuur soggens op die gasstoof kook. Dis wanneer ons seun, Jacobus, en Nishka, sy verloofde, regmaak om die gaste vir ’n ligte ontbyt te ontvang voor hulle op ’n vroegoggend-wildrit vertrek. Terwyl die gaste graankos eet, fynkam een van die Boes­man­spoorsnyers solank die sandterrein rondom die lodge vir die spore van enige nagtelike besoekers sodat die spoor gevat kan word.

    Met die gaste weg op hul safari, is die groot dek voor die hoofgebou die plek waar ons die dag se werk bespreek. Nishka ryg die lys herstelwerk af wat Gerard en Braam, die Motswana- mede-aandeelhouer in die plaas, moet doen. Water­werke is elke oggend voorop. Waar het die wild gister weer die pyplyn beskadig in hul dorse soeke na lafenis? Waar het ’n kraan of toilet die stryd teen die kalk en sout in ons brakwater gewonne gegee? Waar het ’n gas onnoemlikes in toilette afgespoel wat ’n ongeurige gegrawery gaan afgee?

    Nishka, die sjef en bestuurder van kos en drank, moet plan maak met voorraad. Maun, ons naaste verskaffer van nie­bederfbare en vars voedsel, is 180 km ver op ’n slegte sandpad – ’n inkopietog duur ses uur heen en weer, uitgesonder die eindelose ure van sukkel om al die bestellings bymekaar te kry en die administratiewe rompslomp wat ’n eertydse Britse protektoraat en liefbebber van amptenary en vorms vereis.

    Sover moontlik word vars kos dus saam met gaste op klein vliegtuigies ingebring. In ’n wêreld waar die oorsprong van voedsel al hoe belangriker is, kan ’n dis op Nishka se tafel beter stories as die Verhale uit 1 001 nagte vertel: aarbeie uit Brittanje, groenbone uit Zambië, salm uit Skotland en wilds­vleis uit Botswana saam met marog uit die Kalahari.

    ’n Reis na Afrika is vir soveel mense wat hierheen kom nie net nog ’n vakansie nie. Dis die vervulling van ’n droom. Tussen hul eerste, tentatiewe soektog op webwerwe of in reis­brosjures tot hul eerste treë op die vliegveld se Kalahari-sand verloop soms jare. Die sprong van ’n woonstel in koue grys Zürich na die helder sonlig en onbegrensde ruimte van die Kalahari verg waagmoed en baie verbeelding. En die verant­woordelikheid om die droom sover moontlik waar te maak, om selfs nuwe horisonne vir besoekers oop te maak, lê vierkantig op die skouers van ons wat hier woon en werk.

    Ná ’n dag van safari’s in die son, stap saam met die Boes­mans, interaksie met leeus en die harde landskap, kos en wyn om die vuur, is die laaste indruk van Afrika voor slapenstyd die wye oop naglug en sterrehemel. Geen mensgemaakte geluid om die stilte te versteur nie. Rakops, die naaste dorpie, is 80 km hiervandaan. Tussen die plaas en Rakops se yl liggies is dit net die maan en sterre wat die veld verlig.

    Ja, ons woon op ’n plaas in Afrika. Met leeus op ons voor­stoep, luiperds in die bed (soms!). Duisende kilometers ver reis ons gaste hierheen om ons leefwêreld te ervaar. Óns leef hul droom.

    Kan iemand dan vir my sê waarom hierdie droom soms net nie genoeg is nie?

    Beet-en-kaas-koek

    BEET is een van die groente wat in Botswana gekweek kan word, al proe dit soms erg sout weens die brakwater. Beet het nuwe aansien as ’n ontwerpersgroente gekry, veral danksy die gewilde rooi fluweelkoek wat deur soveel sjiek koffie­winkels voorgesit word. Hierdie is ’n sout-weergawe en verskyn as voorgereg op ons spyskaart.

    Bestanddele

    (Genoeg vir 4 tot 6 mense)

    1 koppie beet, liggies gestoom en gerasper

    2 houers (230 g elk) roomkaas

    1 knoffelhuisie, fyngekap

    1 lemoen se sap en skil, gerasper

    sout en gemaalde swart­peper na smaak

    2 eiers, geklits

    ¼ koppie kruisement, gekap

    ¼ koppie pietersielie, gekap

    2 teelepels tiemie

    ¼ koppie fetakaas, gekrummel

    voorafbereide broskors­deeg

    Metode

    Voorverhit die oond tot 180 °C.

    Verpulp die beet, roomkaas, knoffel, lemoensap, sout en peper.

    Vou die geklitste eier, kruie, feta, en lemoenskil daarby in.

    Voer individuele tertbakkies met die broskorsdeeg uit en bak blind vir 10 tot 15 minute.

    Laat die doppies effe afkoel.

    Drup die roomkaasmengsel in die doppies en bak vir 30 tot 40 minute.

    Skakel die oond af en los die warm pan met tertjies nog 10 minute in die oond om heeltemal te stol voor dit uitgehaal word om af te koel.

    Hou in die yskas tot die tertjies voorgesit word.

    2.

    Die Droom van Lalapanzi

    ONS uitvlug na hierdie wildplaas was lank nie ons eerste poging om ’n idealistiese droom van ’n landelike idille te bewaarheid nie.

    Die eerste keer was in 1985, die jaar toe P.W. Botha die Rubicon nie wou oorsteek nie. Ek was ’n joernalis by Finan­sies & Tegniek, en die tydskrif se hoofkantoor was in Doorn­fontein, Johannesburg, neffens die destydse Ellispark. Gerard was ’n apteker in Randburg waar ons huis in ’n stukkie voor­stedelike Bosveld teen Boskruinkoppie gebou was. ’n Baie gemaklike, esteties bevredigende plek om te woon en ons twee kinders groot te maak. Vanwaar dan die alewige begeer­te na iets beters wat die mens na nuwe plekke laat hunker?

    Die skuld vir die wilde perd wat ons sonder enige rasiona­liteit in die winter van daardie woelige jaar opgesaal het, lê ek vierkantig voor die deur van ’n papaja en die voorblad van ’n Saterdagkoerant se eiendomsbylaag. Want as ek nie daardie middag vir ons ’n vrugteslaai aanmekaar wou slaan en die skille op die koerant bymekaargemaak het nie, sou ek nie die fraai A-raamhuisie met sy kliparms raakgesien het nie, omring deur ’n veld Namakwalandse madeliefies en Vlaamse papawers.

    Lalapanzi was ’n kleinhoewe van sowat 15 hektaar op die noordelike oewer van die Hennopsrivier naby Erasmia. Op die rivieroewer was wilgerbome uit ’n kinderstorieboek, knoetsig karaktervol, met takke wat diep neerbuig oor die helder babbelende rivierwater. ’n Hansie en Grietjie-huisie vir gaste was minder as vyf meter van die water. Eenvoudig prentjiemooi met beloftes van gul kuiers rondom die Aga in die buitekombuis van klip, ’n huis vol rose gepluk in die tuin, en die moontlikheid van ’n welige groente-oes. Dié stukkie hemel was alles waarvan ’n mens droom wanneer alle gesonde verstand jou verlaat het. Rustig, landelik, eenvoudig … en baie, baie ver van Doornfontein en alles wat ’n goedaangepaste stedeling elke dag nodig kry.

    Maar ons was verlief, verlief.

    Op die skoonheid van die omgewing, ja, maar veral op Die Droom. Die Droom was so ver van ons onderskeie verledes en agtergrond verwyder soos ’n mishuis verwyder is van Buckingham Paleis. Die Droom was ryk aan emosie en arm aan praktyk. In Die Droom sou ons twee kinders die nuwe skoolkwartaal as leerlinge van Hennopsrivier Laerskool begin, Katinka in die destydse Standerd 4 en Jacobus in Graad 2. Vervoer met die 2 km-grondpad tussen Lalapanzi en die skool was ’n onbenullige lastigheid wat in Die Droom deur ’n kombinasie van my en Gerard, bure (5 km verder op die slegste, klipperigste pad denkbaar) en Albert, ons nuwe tuinier, hanteer sou word.

    In Die Droom sou die plasie se heuwels in die lente groen bot met aangeplante weiding. Oor die sagte grassies sou vrolike Île-de-France-lammertjies dartel terwyl nog nuwe skaap­mammas hulle gereed maak om geboorte aan die een groepie meerlinge ná die ander te gee.

    In Die Droom is voorts ure lank gefantaseer oor kos à la die slow movement: Ons eie lêhoenders, slaghoenders, vars groente, vye van die boom af, heuning uit die nes. (Skaap­vleis het geen verskyning op die droomtafel gemaak nie, om begryplike redes.)

    Die woord gejaagdheid, die siekte spanning, die von­nis bekommernis sou in Die Droomlewe deur rustigheid, vervulling en tevredenheid vervang word. Daardie 60 km tussen Die Droom en Doornfontein sou vrugbaar gebruik word om die dag se stories te beplan of te dink aan die buitelyne van die Groot Roman wat vir seker in daardie kothuisie langs die water geskryf sou word. Naweke sou ons die veld invaar met reisdekens, ’n piekniekmandjie en Krum­mels, ons nuwe skaaphond en aangewese skaapherder, terwyl die skapies rustig teen die hange wei.

    Ons kinders sou soos plasies kaalvoet skoolgaan, vergeet van cool en handelsmerke en strawwe mededinging. Voort­aan sou hulle sorgeloos kind wees.

    Die realiteit was, helaas, baie anders.

    Neem die droom van ’n florerende skaaptelery op aangeplante weiding as voorbeeld. Intensiewe boerderye soos hier­die was in die jare tagtig ’n mode en daar was ’n boer buite Cullinan wat met die uitheemse Île-de-France-stoetery naam gemaak het. Gerard was nog nooit stadig om risiko’s te neem nie en die 15 hektaar-kleinhoewe was na sy oordeel perfek vir ’n lonende buitebelang.

    Maar ons het, soos gebore stadsjapies, nie met natuurkragte rekening gehou nie. Kort ná ons intrek op Lalapanzi in die winter van daardie jaar maak ons kennis met die verwoesting van ons eerste veldbrand. Brande speel ’n reuserol in die lewe van enige landbouer en ons sou nog telkemale die uitwerking van ’n vuurhoutjie in ’n dor wintergrasveld eerstehands beleef. Die grassaad vir die weiding was reeds in die skuur, neffens rolle plastiekpype en -spuite wat in die lente die besproeiingstelsel sou word.

    Die vuurtjie het vroegaand sy eerste vlammetjies laat flikker, waarskynlik om die een of ander verkluimde siel in sy gehuggie tussen een van die klipkoppies warm te hou. Teen middernag het verstikkende rookbolle ons wakker gemaak. Soos bure op plase maar doen, het ál wat ’n man, baas of wer­ker was uit die rookwolke verskyn om vuur te slaan.

    Met sonopkoms kon ons, droogogig van min slaap en die roet in die lug, ons stukkie grond, ongelowig van skok, onder­soek. Sover jy kon sien, was daar klippe. Pelindabaklip. Rots­banke klip. Klipkoppies. Klipleegtes. Kliptuine. G’n wonder die brand kon nie juis hond haaraf maak nie – daar was te min hare, ofte wel gras, om standhoudend te kan brand.

    Dis ’n bietjie van ’n terugslag, het Gerard filosofies opgemerk.

    Die gras sal mos weer groei, dan nie? was my onnosel vraag.

    Ja, maar met al die klip sal daar weinig weigras groei.

    ’n Begeesterde man laat hom egter nie sommer van stryk bring nie, veral waar dit oor onverstaanbare sake soos die land­bou en plase gaan. Dus is Albert se span deur Titus en William aangevul en week-in en week-uit het hulle die rugbrekende saaiwerk in die slootjies grond tussen die klipbanke gedoen. Daar moes ook plek vir die besproeiingstelsel gemaak word, maar my man neem sulke ingewikkelde ingenieurswerke baie ligtelik op. Dus is die fyn uitgewerkte planne van die ver­vaardiger ter syde gelê en het ’n spiksplinternuwe, vars uitgedinkte stelsel sy pad in en oor die berge en dale klippe gevind.

    Met lente in die lug en die vooruitsig van groen weivelde sover die oog kan sien om die draai, was dit tyd om die skapies te kies. Daarom bevind ons ons op ’n Saterdagoggend op ’n plaas buite Cullinan – ’n dorp wat ek net aan sy bekende diamant geken het – tussen ’n versameling mense wat jy nie gewoonlik in die sjiek koffieplek van Sandton waar ek kuier, sal vind nie. Daar is rye klein kampies, met Île-de-France-skapies van alle ouderdomme. Teen die kamphekkies is hul besonderhede aangebring, wat almal twee eienskappe gemeen het: onuitspreekbare stoetname en ellelange stoetgeskiedenisse.

    Geen pryse …

    Hierdie lammertjies tel ’n mens vir so R200 tot R300 stuk op, sê Gerard met die stem van ’n gesaghebbende op alle skaap- en stoeteryverwante sake. Met die omdraaislag in die rigting van die afslaerstent merk ek die kordate groen van ’n tjekboek in sy agtersak.

    Twee uur later stap ons bedeesd ons A-raamhuisie binne.

    Tja, sê Gerard terwyl hy die tjekboek versigtig langs die Landbouweekblad neersit, miskien moet ek eers ’n bietjie rond­kyk en -vra.

    In die uur dat ons stom na die afslaer geluister en die aanbiedings gehoor het, het nie een skaap, lam of ooi minder as R1 500 gehaal nie. ’n Honderdstuk van die pieperige, ingevoerde stoetskape rustig aan die wei op grasgroen velde onder skaduryke akasias sou vir eers ’n droom moes bly.

    Bier-en-roosmaryn-wildpotjie

    POTJIEKOS beteken vir verskillende kokke verskillende dinge. Hierdie een kan in ’n ysterpot op die vuur berei word of in jou stadskombuis. Dis een van daardie geregte waaroor die manne kwyl. Suid-Afrikaners vra dan ook dikwels die resep om dit met hul vriende om die kampvuur te geniet of ná ’n belangrike rugbywedstryd wanneer Bok-onder­steuners vertroosting soek. Wildsvleis word hier gebruik, maar stowebees is ook doodreg,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1