REIS
Grense is eienaardige goed, oor die eeue heen het mense dit lukraak geskep om die belange van die groep binne die grens te beskerm en natuurlik om ander uit te hou.
Kyk jy na ’n kaart van Afrika, sien jy telkens die mees dwaas van alle landsgrense: Lang, reguit lyne wat in die 1880’s deur Europese leiers getrek is sonder om stam, taal of die natuur in ag te neem.
Genadiglik kan die mens party foute van die verlede regstel, en dis hoe oorgrensparke en -bewaringsgebiede tot stand kom.
Lande vat hande om wildernisgebiede wat deur hulle grense geskei word as ’n eenheid te bestuur tot voordeel van die natuur én die plaaslike gemeenskappe.
In Suid-Afrika is die Kgalagadi- en/Ai/Ai-Richtersveld-oorgrenspark supersterre van dié inisiatief, maar daar is nóg 10 sulke bewaringsgebiede op die subkontinent. Van die Mayombewoud- in die Kongolese kus tot die Niassa-Selous-oorgrensbewaringsgebied tussen Mosambiek en Tanzanië.
Die Lebombo-oorgrensbewaringsgebied (10 029 km²) is dalk een van die kleinstes, maar wat natuurskoon, biodiversiteit, blyplekke en doendinge betref, is hy dinamiet! Om van diere (op land, in die lug en in die water) nie eens te praat nie.
En by die meeste van die grensposte verloop dinge seepglad. Hier’s ’n reisplan waarmee jy die streek kan leer ken nes die diere wat eens hierdeur migreer het.
DAG 1
Mbombela na Phophonyane
Ek reis saam met Nicholas Tucker van Boundless Southern Africa. Hierdie organisasie is ’n inisiatief van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat toerisme en beleggings in die oorgrensbewaringsgebiede van Suider-Afrika aanmoedig, en Nick wil graag sien hoe van die gemeenskapsprojekte waarby hulle betrokke is, ná die Covid-19-pandemie vaar.
Emile van den Heetkamp, ’n gids van Underberg in KwaZulu-Natal, reis saam. Emile is ’n fixer, een van daardie mense met ’n uitgebreide kennis van die natuur en ’n kontaklys so lank soos die nek van ’n kameelperd.
Van Mbombela af mik ons suidwaarts op die R40 na Barberton. Net buite