RUNDU, NAMIBIË
Die gehuurde 4x4 is voor dagbreek in bedrukte stilte klaar gepak. Ons is haastig, woordeloos weg uit die kamp, die afgelope paar dae se leef daar geblik en gestoor vir ’n latere uitpak.
Die rit terug deur die Caprivi is somber, ons gedagtes reeds ver vooruit op die eentonige reguit stuk pad wat lynreg deur my verlede sny.
Destyds was dit ’n verblindende wit sandpad, uitgekap teen die voortdurende, weerskantige inkruiping van digte bos, maar nou geteer, die bosgasie tot op ’n veilige afstand teruggestoot.
Die digte bos was destyds ’n lokvalhemel. Jy was senutergend bewus daarvan, oë vasgenael op die pad vir grondversteurings, op die stroke langsaan vir beweging. Die spanning is vererger deur ’n irriterende elektrisiteit tussen vel en katoen, droë lippe en ’n energietappende dors wat die ongemak van die rit verhoog het.
Ek probeer dit nou weer ervaar, die sensasie