Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713
Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713
Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713
Ebook475 pages7 hours

Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713

Rating: 1 out of 5 stars

1/5

()

Read preview

About this ebook

Dit is 1713. VOC-admiraal Johannes van Steelant bring sy ryklik belaaide retoervloot terug na Nederland uit Batavia. Saam op die vlagskip, sy vyf jong kinders. Hulle word een-een siek – die gevreesde kinderpokke. Op 12 Februarie gaan die gesin aan land in Tafelbaai. Enkele maande later is sowat die helfte van die Kaapse bevolking dood aan pokke.
In Retoervloot bring VOC-kenner Dan Sleigh dié gegewe, en die verbysterende werkinge van die VOC-retoervlootstelsel, lewend voor die oog. 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJan 27, 2022
ISBN9780624092599
Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713
Author

Dan Sleigh

Dan Sleigh is in 1938 op die plaas Geelbeksfontein aan die Weskus gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit by die Vloot aan. Hy behaal in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die US. In 2001 wen hy die Sanlam/Insig/Tafelberg-romanwedstryd vir Eilande, wat ook etlike ander pryse ontvang. 1795 is volgens hom sy laaste roman.

Read more from Dan Sleigh

Related to Retoervloot

Related ebooks

Related articles

Reviews for Retoervloot

Rating: 1 out of 5 stars
1/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Retoervloot - Dan Sleigh

    INLEIDING

    Die geluk tref selde ’n geskiedkundige om ’n belangrike en interessante historiese manuskrip te vind wat nog nie tevore ondersoek is nie. ’n Voorbeeld van so ’n dokument is die persoonlike joernaal van die admiraal van die VOC-retoervloot wat in 1713 die verwoestende epidemie van kinderpokke Kaap toe gebring het. Die dokument is getitel Dagelijksc Aantekeningh van mij Joannes van Steelant vertreckende van Batavia uijt India na een verblijv en s’E. Comp:s gepresteerde dienst van 34 Jaren 2 maanden en 29 dagen, zo in de qualiteit van adsistent als tot die van Gouverneur en Directeur ter Custe Cormandel, mitsgaders Raad Extraordinaris van Nederlands India en althans Admiraal den retour vloot en Commissaris aan Cabo de Goede Hoop nevens mijn Lieve kinderen Petronella Elisabeth, Joannes, Simon, Anthonia en Pieter van Steelant per ’t schip Sandenburg. God verleen ons behoude reijse naar’t vaderlant.¹

    Ek het in 2011 ’n artikel oor die verwoestende pokke-epidemie in ’n Kaapse tydskrif gepubliseer en die joernaal in 2018 toevallig in ’n katalogus van die Universiteit van die Witwatersrand se biblio­teek raakgesien. Eindelik kon finaal vasgestel word op watter skip die pokke Kaap toe gekom het.

    Die joernaal van 352 bladsye, in maklik leesbare handskrif, Gotiese styl, begin op die dag van Van Steelant se vertrek uit Batavia en eindig nadat hy aan Here Sewentien, die VOC se oppergesag, in Middelburg, Zeeland verslag gedoen en ’n gegraveerde goue medalje aan ’n goue ketting van hulle ontvang het. In die joernaal se kantlyn is uittreksels ten opsigte van daaglikse koers, peilings, windrigtings, ensovoort, uit die vlagskip se dekjoernaal gekopieer, soos die wagoffisiere dit bedags en snags aangeteken het. Die skrywer se styl is lewendig, sy beskrywings helder, kleurvol en nie sonder humor nie. Die teks is ongeredigeer en die hand­skrif so egalig dat die joernaal waarskynlik ’n netjiese weergawe van die oorspronklike is; dit is duidelik nie op see geskryf nie.

    Die historiese manuskrip was ’n skenking aan die Universiteit van die Witwatersrand deur die Wes-Transvaalse boer en niepraktiserende advokaat, John Gaspard Gubbins (1877-1935), ’n bibliofiel met ’n belangstelling in Africana. Hoe dit in sy besit gekom het, is onbekend. Gubbins het sy private versameling aan die universiteit geskenk; die skenking is The Gubbins Library genoem. Ongeveer die helfte daarvan is in Desember 1931 deur ’n brand verwoes. Die biblioteek het die betrokke joernaal op 27 Junie 1939 uit sy nalatenskap ontvang en die nommer G 6688 daaraan toegeken. Gubbins was ook die geestelike vader en eerste direkteur van die Africana Museum in Johannesburg.²

    Van Steelant se joernaal is ’n welkome nuwe bron van inligting oor die eerste pokke-epidemie, ’n ramp in die Kaapse geskiedenis wat die dood van sowat 50% van die burger- en slawebevolking en amper die totale uitwissing van die Wes-Kaapse Koina veroorsaak het.³ Daarbenewens dra die joernaal by tot eerstehandse kennis en begrip van die tyd en werksaamhede van die Generale Vereenichde Geoctroijeerde Oost-Indische Compagnie (VOC), die magtige internasio­nale handelsonderneming wat deur sy werk­nemers de Edele Compagnie en de Loffelijcke Compagnie genoem is, wat die stad Kaapstad gebou en die eerste Europese kolonie aan die Kaap gestig het. Bowenal gee dit insig in die werking en organisasie van sy beroemde retoervlote.

    Hoewel daar vele skilderye van retoervlote bestaan, op die reede van Batavia sowel as op die oop see, is dit merkwaardig dat net een skildery van ’n VOC-retoervloot in Tafelbaai bekend is, benewens twee sketse, een van Van Hoorn se vloot (1710) en een van die vloot wat in Maart 1773 daarvandaan Nederland toe vertrek het.⁴ Skilderye van groepe uitvarende skepe in Tafelbaai, amper leeg en hoog in die water, is volop.

    Retoervlote het die kosbare handelsware van hul Oosterse bronne na die markte in Nederland vervoer en was die bolwerk en skootanker van die VOC se seevarende handelsryk, wat sou ineenstort sonder sy retoervlote, soos OF Mentzel in die 18de eeu geskryf het.⁵ Elke retoervloot was ’n demonstrasie van waagmoed, mag, ondernemingsgees en energie. Die geldwaarde van sulke vlote was byna onbegryplik. Samuel Pepys, sekretaris van die Britse admiraliteit, het in 1665 die waarde van admiraal Pieter de Bitter se vloot beskryf as "the greatest treasure that ever was together in the world".⁶

    Retoervlote het meer as kosbare vrag vervoer; mense is van een land na ’n ander gedra, soms teen hul sin. Saam met hulle is hul taal, godsdiens, kleredrag, dieet en ander aspekte van hul kultuur en, soos in die geval van Van Steelant se vloot, soms dodelike aansteeklike siektes, na ’n nuwe landstreek verplant. ’n Voorbeeld van volks- en kultuurverplasing is dié deel van die Kaapse bevolking wat as slawe, bandiete of politieke gevangenes uit die Ooste verban is; vele het hier as eenvoudige arbeiders of vissers geleef, terwyl ander se talente en kennis hulle tot posisies van aansien en leierskap buite hul gemeenskap laat styg het.

    Die bemannings en passasiers van ’n retoervloot was reisende emigrante en met elke jaarlikse vloot het die Kaapse bevolking ’n nuwe toevoeging van verskillende Oosterse kulture en tale bygekry; selfs admiraal Van Steelant en Johanna van Riebeeck uit die hoogste Batawiese sosiale stand, het Oosterse woorde en uitdrukkings in hul Nederlandse geskrifte gebruik.

    In hierdie teks, in navolging van Here Sewentien se voorbeeld, word ’n retoervloot nie volgens die jaar van sy vertrek uit Asië gedateer nie, maar volgens die jaar van sy besoek aan die Kaap en tuiskoms in Nederland. Die besoek van ’n retoervloot was die hoogtepunt van die Kaapse jaar; in die schepentijd was daar amper ’n maand lank (dikwels langer) twee- tot drieduisend besoekers in die dorpie. Hulle was die orang lama of volleerdes, tuisvarendes wat oorleef het en suksesvolles met geld in die beurs, wat in die strate, die kerk, die Kompanjiestuin, in losieshuise en taphuise met hul Oosterse syklere te sien was. Gedurende die paar weke van die schepentijd kon Kapenaars op ’n kontantinkomste staatmaak, Indiese ware bekom en Oosterse nuus oor nuwe verowerings, bevorderings of sterftes van familie en kennisse verneem.

    Interessantheidshalwe word Van Steelant se ervaring van die Kaapse maritieme-diensstasie in hierdie teks afgewissel en vergelyk met dié van ’n tydgenootlike retoervloot, naamlik dié van admiraal Joan van Hoorn (1710), ’n afgetrede goewerneur-generaal; toevallig was Sandenburg beide keer die vlagskip. Van Hoorn se vrou, Johanna van Riebeeck, het ’n interessante reisjoernaal nagelaat. Sy was ’n dogter van die regerende goewerneur-generaal, die Kaapsgebore Abraham van Riebeeck; sy eerste brief aan haar is afgelewer terwyl Van Hoorn se vloot nog in Straat Soenda was.

    Merkwaardige wedervaringe van ander retoervlote, soos dié van die moedige admiraal De Bitter in 1665, word vir ’n vollediger beeld van die destydse Europese politiek, lande, stede, skepe en hul mense ook in dié teks genoem. ’n Ander ou bekende in die seevaart, naamlik skeurbuik (scorbut), word skaars gemeld, omdat retoervlote uit ’n gebied gekom het wat nie deur die Klein Ystyd geteister is nie.

    Die maritieme argeoloog Peter Marsden skryf in The Wreck of the Amsterdam (p. 243) dié treffende woorde, dat die VOC-skip Amsterdam waaroor hy jare lank intensief navorsing gedoen het, vir hom die vergestalting geword het van die ondernemingsgees wat Nederland destyds ’n wêreldleier in die seehandel gemaak het.

    Retoervlote vergestalt meer; hulle was ’n unieke ekonomiese verskynsel, ’n antwoord op die Klein Ystyd se behoeftes en beperkings. Elke vloot was ’n lewende eenheid wat aksie en reaksie aangetrek en uitgelok het so ver as wat hy gegaan het, ’n reisende uitdaging aan handelsmededingers, nasionale vyande en internasionale rowers. Daar was volop energie en krag in so ’n vloot, ook grootskaalse beplanning, inspanning, toewyding, tegniese kundigheid, militêre mag, maritieme vaardighede, en argitek­toniese skoonheid (17de-eeuse Oos-Indiëvaarders is meermale met Middel­eeuse katedrale vergelyk). Terselfdertyd moes hy ’n maande lange stryd voer teen afstande, siektes en elemente van die natuur. So ’n vloot, bestaande uit ’n aantal dwarsgetuigde vragskepe, tot die luike met Oosterse handelsware gelaai, was sowel die produk van as ’n bydraer tot Nederland se beroemde Goue Eeu. Die nalatenskap is internasionaal.

    Die onmiddellike en langtermyngevolg van die VOC se teenwoordigheid in Suidelike Afrika was – nie in volgorde van belang nie – die vestiging van ’n militêre teenwoordigheid en Europese kultuur aan die Kaap, die sukses van retoervlote en opbloei van Nederland as leier in handel en seevaart, die skep van ’n nuwe Kaapse volksgroep deur die invoer van bandiete en slawe uit die Indiese Oseaan-gebied, en die diaspora van Wes Kaapse Koina.

    Onder die VOC-regering in Suidelike Afrika word ’n eeu en ’n half lank private ekonomiese ontwikkeling verbied, hoër onderwys gestuit en politieke ontwikkeling verhinder. Toe plaaslike gevoelens onder die invloed van die Amerikaanse Vryheidsoorlog, die Franse Rewolusie en die Patriotte-opstande in Nederland sterk republikeins en anti-VOC was, het fiskaal-independent Van Lynden nog die Politieke Raad oortuig dat die Kaap slegs van en slegs vir die VOC was – beheer oor die gesag en handel was ononderhandelbaar – en het hoë kommissarisse Nederburgh en Frijkenius besluit dat die Kaapse Burgerraad, wat al langer as ’n eeu bestaan het, nie die Kaapse burgery verteenwoordig nie. Die beskouing was dat die burgers belasting en militêre diens aan die VOC verskuldig is, maar sonder burgerregte.

    Die wêreldstad Kaapstad is die produk en teken van die VOC se uitdagende, energieke en langdurige aanwesigheid. Hulle het die stad gestig; hul retoerskepe was die VOC se skakel tussen wêrelde in die Atlantiese en Indiese Oseane, en ook die Kaap se skakel met Nederland en met Indië, soos die VOC se oorsese talassokrasie indertyd genoem is. Die Kaap het die skepe nodig gehad en was totaal van hul besoeke afhanklik. Sonder hulle het Kaapstad geen funksie of bestaansrede gehad nie.

    HOOFSTUK EEN

    SOOS DIE OERKNAL

    Om ’n indruk van die agtergrond en omstandighede te kry waaronder admiraal Van Steelant se retoervloot in 1713 gevaar het, word die ontstaan en groei van die Vereenichde Geoctroijeerde Oost-Indische Compagnie (VOC) tot in daardie stadium in breë trekke geskets.

    Ná die eerste suksesvolle seereis tussen Europa en Asië deur ’n Portugese vlootjie van net drie skepe onder Vasco da Gama in 1498 (voltooi met die hulp van ’n vooraanstaande Arabiese loods) en die winsgewende speseryehandel wat daaruit gevloei het, het die Portugese hulle as handelaars en verspreiders van die Christendom in die Ooste gevestig. Europese handelaars het na Lissabon gestroom om peper en ander Oosterse speserye te koop. Europeërs, in die greep van die Klein Ystyd (baie lae noordelike temperature tussen ongeveer 1550 en 1850), kon onder meer nie genoeg veevoer produseer om hul vee gedurende die buitengewoon lang winters te voer nie; ’n groot deel van ’n kudde moes tydens die herfsfeeste geslag word, net vroulike diere en hul kalwers of lammers is gespaar en binnenshuis gevoer. Oosterse speserye het nie alleen met die preservering van die vleis gehelp nie, maar ook die smaak van gekontamineerde vleis verbeter.

    Portugal in die Ooste

    In die Ooste het gewapende Portugese skepe met administrateurs en soldate die handel in speserye en ander kosbare goedere met geweld van gevestigde Arabiese en Indiese handelaars afgeneem. Die eiland Goa aan Indië se weskus het die setel van Portugal se Oosterse ryk geword; Goa is in 1509 deur Alfonso de Albuquerque verower en het 450 jaar lank ’n Portugese kolonie gebly. Die stad Malakka is in 1511 verower; dit het as basis gedien vir verdere aanvalle op Oosterse eilande. In 1512 was die Portugese in Banda en Ternate gevestig, in 1514 in Kanton, in 1516 in Timor. In 1523 het hulle ’n fort in Ternate gebou.

    Oosterse nasies het eers afsonderlik en later gesamentlik probeer om die Portugese uit die Indiese Oseaan en Suid-Chinese See te verdryf. In 1537 het Amboina, Banda, Java en Makassar hul oorlogsvlote vir dié doel verenig, maar is deur die Portugese admiraal Diego Azevedo in die groot seeslag by die Molukke verslaan. Teen 1620 het die Portugese die tradisionele Indiese en Arabiese handelaars uit die Indiese Oseaan verdryf.

    In 1542 was die eerste Portugese in Japan en in 1545 het die Jesuïet Francisco Xavier sy sendingwerk in Malakka begin. Hy is nadoods deur die Katolieke Kerk tot beskermheilige van die hele Ooste verklaar; sy liggaam is voorlopig in die Portugese kerk op die heuwel in die stad Malakka begrawe, waar ook Maria de la Quellerie, vrou van Jan van Riebeeck, in 1664 begrawe is.

    Ná die vereniging van Portugal en Spanje onder een kroon (en met Spanje steeds die erfvyand) is Nederlandse skepe toegang tot Lissabon – en die kosbare Oosterse speserye – verbied. Nege Nederlandse handelaars het daarom in Maart 1594 in Amsterdam vergader om ’n maatskappy te vorm wat Portugal sou omseil en direk na die Ooste sou gaan om in speserye en ander Oosterse goedere handel te dryf. Die nuwe maatskappy was die Compagnie van Verre Lande; hulle wou daardie jaar reeds twee vlote uitrus en Ooste toe stuur. Van die eerste vloot van vier skepe met ’n bemanning van 249, het in Augustus 1597 net drie skepe en 89 man teruggekeer, maar die lading peper uit Bantam het meer as die koste van die poging gedek. Dit het ander handelaars bemoedig om soortgelyke maatskappye te vorm. Daar was byvoorbeeld die Rotterdamse Compagnie, Verenigde Zeeuwse Compagnie, Noordsche Compagnie, Magelhaense Compagnie, Nieuwe Brabantsche Compagnie en verskeie ander, wat gesamentlik as die voor-compagnieën bekend gestaan het. Sulke maatskappye is vir die duur van ’n enkele reis gestig, en met die wins is weer ’n volgende maatskappy opgerig. In 1598 het vyf van dié klein maatskappye 22 skepe Ooste toe gestuur, waarvan net 14 teruggekeer het. In 1601 het altesaam 14 Nederlandse vlote bestaande uit 65 skepe Ooste toe gevaar.

    Die VOC kom tot stand

    Die voor-compagnieën het met mekaar meegeding en waar hulle kon mekaar die loef probeer afsteek. Dit het duidelik geword dat hul wedywering aankooppryse in die Ooste verhoog en verkooppryse tuis laat daal; op die duur het hul werksaamhede die Nederlandse ekonomie benadeel. Langdurige onderhandelings, gelei deur die staatsman Johan van Oldenbarneveld en handelaars soos De Boucheron en Le Maire, met die aanmoediging van prins Mouritz, het gelei tot die stigting van ’n enkele, monopolistiese maatskappy op 20 Maart 1602 in Den Haag. Dit is die Vereenichde Nederlandsche Generaele Geoctroijeerde Oost-Indische Compagnie genoem. Die wêreldberoemde handelsmerk, bestaande uit die drie letters VOC in ’n eenvoudige, treffende monogram verenig, dateer uit 1603; Here Sewentien het op hul vergadering van 28 Februarie 1603 besluit: "Is gearresteert dat bij dese Centralen Vereenichde Compagnie sal werden geviert’t merck als het in ’t margine. Ende dat daer onder de letter van welke respective caemer sal werden gestelt."¹

    Die stigting van die VOC het, soos die Oerknal, geweldige skeppende en vernietigende kragte vrygestel wat tot vandag voortduur en tasbaar en ontasbaar op vele terreine ervaar word. Sy begin in die Ooste was gewelddadig en destruktief. Terwyl handel internasionaal gedryf is, is duisende mense gedood en volke in die proses ontwortel, soos in 1623 tydens goewerneur-generaal JP Coen se regering op die Banda-eilande gebeur het. Onder die VOC se bestuur het wetenskaplike kennis toegeneem; terselfdertyd is mense­rasse vermeng, het nuwe nasies ontwikkel en is kultuur­aspekte soos godsdiens en taal oor vastelande en oseane versprei en het hulle mekaar wedersyds beïnvloed.

    Die doel van die destydse stigting was om Nederland se ambisies en pogings ten opsigte van die Oosterse handel te konsentreer en te reguleer. Dié doel is bereik deur op groot skaal langafstandhandel te dryf, met langtermynvisie, ’n indrukwekkende gedesentraliseerde administrasie, streng dissipline op alle terreine en die gewilligheid om kapitaal in die maatskappy te belê.

    Die oktrooi is deur die State-Generaal aan die VOC toegeken; dit het onder meer aan die Kompanjie magte verleen wat gewoonlik aan ’n soewereine staat behoort, soos die reg om ’n leërmag aan te hou, forte te bou, oorlog te verklaar, vrede te sluit, die staat se vlag te gebruik, alliansies met vreemde regerings en potentate aan te gaan, geld te munt en in die naam van die State-Generaal goewerneurs en regters aan te stel.

    Die Kompanjie sou nie op so ’n skaal kon floreer het sonder die staat se steun en samewerking nie. Pieter van Dam, die Kompanjie se bekwame sekretaris, wat die pos van 1652 af tot sy dood in 1706 beklee het, het opgemerk dat die Kompanjie of sy aandeelhouers nie om dié oktrooi gevra het nie; die State-Generaal het dit verskaf in belang van die welsyn van die land en die voordeel van sy inwoners. Die uitreiking daarvan was dus eerstens in staatsbelang, hoewel die Kompanjie ƒ25 000 vir dié voorreg moes betaal.²

    Tegnies is die Kompanjie ouer as die Nederlandse staat. Die VOC bestaan van 1602 en die Nederlandse Republiek van 1648 af; die twee entiteite het gelukkig en voordelig oorvleuel en bygedra tot Nederland se sogenaamde Goue Eeu. Die VOC was die staat se grootste skeepseienaar, belastingbetaler en werkverskaffer. Vir Kamer Amsterdam alleen het sowat 1 300 mense in ongeveer 170 verskillende poste in die stad gewerk. Oorsee was daar gemiddeld 25 000 amptenare en 12 000 soldate en matrose in die Kompanjie se diens.³

    Die VOC was ook die wêreld se eerste multinasionale maatskappy, die eerste om ’n korporatiewe handelsmerk te gebruik en die eerste om aandele uit te reik – nie aandeelsertifikate nie, maar betalingsbewyse wat verhandel is asof hulle aandele was. Gedurende die byna twee eeue van sy werksaamhede (1602-1795) het die VOC 4 785 skepe Ooste toe gestuur, terwyl sy grootste mededinger, die Engelse East India Company, maar 2 690 skepe gestuur het. In dieselfde tydperk het VOC-skepe twee en ’n half miljoen ton Oosterse goedere Europa toe vervoer, terwyl Engelse skepe ’n halfmiljoen ton tuis gebring het. Die Kompanjie het ongeveer ’n miljoen Europeërs Ooste toe vervoer, terwyl ander Europese nasies tesaam 880 000 Europeërs Asië toe geneem het. Die VOC se hoogtepunt het naasteby saamgeval met goewerneur-generaal Joan Maetsuycker se 25 jaar lange regering (1653-1678).

    Meester Pieter van Dam, sekretaris van die VOC, is in 1693 deur die direkteure beveel om die Kompanjie se geskiedenis op te teken, met die gebruik van oorspronklike dokumente. Omdat dit nie aan die publiek beskikbaar sou wees nie, was geen weg­latings of verdoeseling nodig nie. Die werk, Beschrijvinge van de Oostindische Compagnie, is in 1701 voltooi en eers in 1927 gepubliseer. Van Dam was ’n lid van al die geheime kommissies wat deur Here Sewentien aangestel is; sy opvolger was Everard Scott, met wie in Van Steelant se joernaal kennis gemaak word.

    HOOFSTUK TWEE

    DIE STAD BATAVIA

    Die eerste VOC-vloot het in 1603 die tog uit Nederland na die Ooste aangepak. Steven van der Haghen was die vlootvoog of admiraal; sy opdrag was om die Portugese waar moontlik uit die Oos-Indiese eilande te verdryf en handelsverdrae met die inboorlinge te sluit. Hy het groot oorwinnings teen die Portugese op die spesery-eilande Amboina en Tidore behaal, maar die bydrae van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie se vlote tot die ondergang van die Portugese in die Ooste moet nie buite rekening gelaat word nie. Here Sewentien, die VOC se oppergesag, het teen 1609 die behoefte gevoel aan ’n handelsentrum met permanente kantore, pakhuise en skeepswerf in die Ooste, wat ook as ’n versamelpunt of rendezvous vir hul skepe kon dien, soortgelyk aan dié van Portugal by Goa aan die Indiese kus. Pieter Both is as eerste goewerneur-generaal gestuur om die admiraal van die jaarlikse handelsvloot as oppergesaghebber te vervang en ’n vaste sentrum vir die VOC se gebruik te stig. Die State-Generaal het sy aanstelling op 27 November 1609 bekragtig, waarmee die grondslag van VOC-regering in die Ooste gelê is. Daarna het die VOC, met die staat se steun, sy militêre krag op see en land in die Ooste losgelaat.¹

    Die VOC se goewerneurs-generaal

    1610-1614: Pieter Both

    1614-1615: Gerard Reynst

    1615-1619: Laurens Reael

    1619-1623: Jan Pieterszoon Coen

    1623-1627: Pieter de Carpentier

    1627-1629: Jan Pieterszoon Coen

    1629-1632: Jacques Specx

    1632-1636: Hendrik Brouwer

    1636-1645: Antonie van Diemen

    1645-1650: Cornelis van der Lijn

    1650-1653: Carel Reyniersz

    1653-1678: Joan Maetsuycker

    1678-1681: Rijckloff van Goens

    1681-1684: Cornelis Speelman

    1684-1691: Johannes Camphuijs

    1691-1704: Willem van Outhoorn

    1704-1709: Joan van Hoorn

    1709-1713: Abraham van Riebeeck

    1713-1718: Christoffel van Swoll

    1718-1725: Hendrik Zwaardecroon

    1725-1729: Mattheus de Haan

    1729-1732: Diederik Durven

    1732-1735: Dirck van Cloon

    1735-1737: Abraham Patras

    1737-1741: Adriaan Valckenier

    1741-1743: Johannes Thedens

    1743-1750: Gustav Willem, baron van Imhoff

    1750-1761: Jacob Mossel

    1761-1775: Petrus van der Parra

    1775-1777: Jeremias van Riemsdijk

    1777-1780: Reinier de Klerk

    1780-1796: Willem Arnold Alting

    Aanstellings in die VOC se hoër oorsese poste het soms deur die voordeel van verwantskap geskied, maar verskeie administrateurs het op eie meriete die hoogste range gehaal. Goewerneur-generaal Antonie van Diemen, ’n ongerehabiliteerde bankroetier, het byvoorbeeld as ’n soldaat onder ’n vals naam in Batavia begin, en sowel Jacob Mossel as Reinier de Klerk het as gewone matrose in die Ooste gekom.

    Van 1613 af was die VOC se Oosterse rendezvous op Bantam-­eiland; van 1619 af was stad Batavia die logistieke en admini­s­tratiewe hoofsentrum. Jan Pieterszoon Coen, wat twee termyne as goewerneur-generaal van die Oosterse domein gedien het, het op 29 Mei 1619 ’n besetting van Javane en Engelse onder Sir Thomas Dale in die hawestad Jakarta by die mond van die Chiliwungrivier op Java aangeval en verslaan. Die verowering van Jakarta is jaarliks op die Sondag naaste aan 29 Mei met ’n dank- en biddag herdenk.²

    ’n Nuwe stad verrys

    Coen het die stad verwoes en daarna ’n nuwe stad volgens ’n reghoekige Nederlandse patroon op die plek aangelê, met ’n groot viersydige kasteel, ’n stadhuis (in 1626 voltooi), ’n Gereformeerde kerk, ’n aantal ruim pakhuise en gewelhuise langs gragte genaamd Tijgersgracht, Olifantsgracht, Leeuwinnegracht, Kerkgracht en Amsterdamsegracht. Kerkdienste is oorspronklik in die saal van die goewerneur-generaal se woning gehou. Dit het lank geneem om die Gereformeerde kerk te voltooi; die nodige boumateriaal is uit verskillende lande in die Ooste, maar ook uit Nederland, ingevoer. Onder die kerk se vloer is die oorlede goewerneurs-generaal en ander vooraanstaandes wat nie gerepatrieer het nie begrawe.

    Coen wou die nuwe stad Nieu-Hoorn noem, na sy geboortestad in Nederland, maar Here Sewentien het aangedring op Batavia, die naam waarmee die Romeine na Nederland verwys het, na aanleiding van die Keltiese stam wat hulle op die vlakte by die monding van die Ryn aangetref het. Die ou naam Jakarta is in 1621 amptelik met Batavia vervang. Die stad se vesting was Kasteel Batavia, waarvan die vier bastions veelseggend Diamant, Robijn, Saffier en Parel genoem is. Die Kasteel het ’n raadsaal vir die Hoë Raad van Indië en kantore vir die amptenare van justisie, finansies, handel, administrasie en die militêre bevat.

    Sommige senior amptenare het in die Kasteel gebly; Adriaan Valckenier (1737-1741) was die laaste goewerneur-generaal wat in die Kasteel gewoon het. Daarna is ’n ruim landgoed in die koeler en gesonder hoogland agter die stad verkies. Goewerneurs-­generaal was geregtig op 15 persoonlike bediendes in uniform, naamlik ’n hofmeester, stalmeester, stalkneg, koetsier, kok, klere­maker, twee lyfwagte (lijf schutten), ’n erewag van ses hellebaardiers en ’n trompetter.

    Ongetroude onderkoopmans, boekhouers en klerke (assistenten) het hul woonkwartier in ’n algemene kaserne in die Kasteel gehad en ook hul maaltye by die gemeene schaftafel geniet; hul slaapplek was op die slaapsolder. Die Artikelbrief (Articulbrief) het stil, sedige gedrag voorgeskryf.³ Binne die stad was alle amptenare verplig om gewapen op straat te verskyn, maar Javane mag "nimmer en nergens ’n kris (een seer schadelijk en dangereus geweer") gedra het nie. In 1656 is Javane uit die stad verban en ’n woon­gebied daarbuite toegewys.⁴

    Op die hoogtepunt van die VOC se mag was daar ’n garnisoen van 1 200 soldate in die stad.

    Coen het Chinese na die stad gelok om as arbeiders, vissers, tuiniers en lasdraers te werk; hy het hulle as hardwerkend en as goedkoop arbeid beskou.

    Die stad se inwoners was hoofsaaklik VOC-dienaars van alle sosiale vlakke. Getroude Europese vroue was in die minderheid; dit was algemene praktyk vir Europese mans om vroue van Indo-Portugese afkoms in konkubinaat (bysit) te neem; selfs goewerneurs-generaal soos Van Imhoff en Speelman het kinders by bysitte gehad. Sulke kinders is halfbloed of mesties genoem. Daar was ook Europese mans wat die VOC se diens verlaat het, en as vryburgers bekend was. Ander groepe was byvoorbeeld Mardykers [Maleis: merdeka – vryheid], dit is vrye inlanders soos ’n vrygelate Christen-slaaf en sy afstammelinge, en Parnakanen (persone op Java gebore van ’n Chinese vader en inlandse moeder). Ongeveer die jaar 1700 was daar 70 000 inwoners in die stad; teen die einde van die 19de eeu het die getal verdubbel, van wie ongeveer 6 000 van Europese oorsprong was.

    Die energieke Coen was ontevrede met Here Sewentien se weiering om ’n openlike vyand van Engeland in die Ooste te maak, anders as wat die geval met Portugal was. "Dispereert niet, ontsiet uwe vijanden niet, daer en is ter werelt niet dat ons can hinderen noch deren …" het hy Here Sewentien op 29 September 1618 aangemoedig; sy woorde Nil Desperandum het Batavia se leuse geword. Die amptelike stadswapen, deur Coen self in 1620 ontwerp, was ’n blou swaard wat ’n groenbruin lourierkrans opwaarts deursteek op ’n oranje skild, maar in die praktyk is dit gewoonlik geskilder as ’n silwer swaard en groen krans op ’n rooi skild; die simboliese betekenis daarvan is dat mag tot sukses lei.

    Buite Kasteel Batavia is pakhuise gebou vir die groot verskeidenheid handelsware wat vanaf die verspreide Asiatiese handels­poste per skip na die sentrale punt of rendezvous vervoer is. ’n Uitgegraafde kiel het die stad met die reede voor die mond van die Chiliwungrivier (ook Grote Rivier genoem) verbind; gelaaide ligters en sampans kon daarlangs vaar, tussen die skepe op die reede en die Waterpoort. Die sperboom oor die rivier is tussen seweuur saans en vyfuur soggens gesluit.⁷ Tydens lang droogtes was die vlak van die Chiliwung laag, en was dit moeilik om vrag met ligters van die skepe af na die pakhuise in die stad te bring; dan is waens gebruik, deur groot getalle slawe getrek.

    Die hooge regering of Hoë Raad van Indië het Here Sewentien in die Ooste verteenwoordig. Die eerste goewerneur-generaal en Hoë Raad is in 1609 aangestel, met ’n uitgebreide Instructie wat hul pligte voorskryf.⁸ Oorspronklik het die Raad uit vyf lede bestaan, wat die goewerneur-generaal as voorsitter ingesluit het. In 1617 is dit tot nege vermeerder toe die goewerneurs van Ternate, Amboina en die Coromandel-kus lede geword het. In 1626 is dit weer verander, na agt ordinaris-raden en twee extraordinaris-­raden. Die finale verandering was in 1650, toe die getal op ses ordinaris- en twee extraordinaris-raadslede vasgestel is. Die goewerneur-generaal was in rang en status slegs aan Here Sewentien ondergeskik, maar kon nie besluite neem sonder die raadslede se samewerking nie.

    Here Sewentien het van die raad ’n jaarlikse verslag oor die stand van sake en spesifiek die Oosterse handel en politiek verwag; dié brief is die Generale Missive genoem en is in duplikaat of triplikaat op verskillende skepe van die jaarlikse retoervloot Nederland toe vervoer. Die Hoë Raad het ook die jaarlikse Generaele Eijsch van benodighede saamgestel, met inligting wat van al die handelsposte versamel is, vir die direkteure se aandag. Dié jaarlikse lys van verlangde Europese goedere, soos kontant, klere, medisyne, skryfbehoeftes, wapens en ammunisie, boumateriaal, skeepsonderdele, voedsel, drank, ensovoort, is ook met die retoervloot aan Here Sewentien gestuur.

    Die Raad van Indië is bedien deur ’n sekretariaat (pennisten) wat uit ’n groot aantal boekhouers en klerke bestaan het. Die raad het oor sy eie drukkery beskik; ’n drukpers is in 1668 in die Kasteel geïnstalleer vir die druk van amptelike stukke soos die raad se Resolusies en Placcaaten van Casteel Batavia, vir verspreiding na al die afgeleë handelstasies.⁹ Die politieke leiding en bestuur was gegrond op ’n mengsel van plaaslike regeringsplakkate, die Batawiese statute en Hollandse gewoontereg. Die Raad van Justisie het die Nederlandse regstelsel, soos gebruik in die hof van Holland, gevolg.

    Die Hoë Raad het beheer uitgeoefen oor al die Asiatiese handelsposte met hul talle buiteposte, wat versprei was van Mocha in Arabië (waar koffie ingekoop is) in die Nabye-Ooste tot by De­shima in Japan in die Verre-Ooste (waar onder meer porselein en staaf­koper ingeskeep is). Die Kaap de Goede Hoop het in 1652 ’n deel van hierdie uitgebreide talassokrasie geword.

    Hoewel die Hoë Raad die Here Sewentien verteenwoordig en hul opdragte so goed moontlik uitgevoer het, was dit nie in die praktyk altyd maklik of moontlik nie. "De Heeren in’t vaderland besluyten de zaaken zoals zij daer goetvinden, maar wij doen het hier, zoals wy het verstaen en best oordelen," is ’n beskouing uit 1714 (sic) wat aan goewerneur-generaal Van Riebeeck toegeskryf word.¹⁰

    Die Van Riebeecks

    Goewerneur-generaal Abraham van Riebeeck, wat ten tyde van die 1713-retoervloot se vertrek aan die hoof van die Indiese regering was, is in Oktober 1653 aan die Kaap gebore. Hy was die derde seun van kommandeur Jan van Riebeeck, die stigter van die VOC se maritieme-diensstasie in Tafelbaai, en Maria de la Quellerie. Die seun het die naam van sy grootvader, die Hugenoot Abraham de la Quellerie, gekry. In Maart 1660 is Abraham op die ouderdom van ses jaar met sy ouer broer Lambertus op die skip Paerl (skipper Douwe Auckes) in die retoervloot van admiraal Pieter Sterthemius vir hul opvoeding Nederland toe gestuur. Hulle het hul ouers nooit weer gesien nie. Abraham het in 1676 aan die Universiteit van Leiden as doktor in die regte gepromoveer en het daarna by Kamer Enkhuijsen as onderkoopman in die Kompanjie se diens getree. Hy het in 1677 in Batavia aangekom, minder as ’n maand ná die dood van sy vader, Jan, wat toe sekretaris van die Raad van Indië was.

    Abraham van Riebeeck het onder meer ook die pos van sekretaris van die Raad van Indië beklee, voordat hy in 1709 die goewerneur-generaal van Nederlands-Indië geword het. Gedurende sy regeringstyd is die eerste koffie uit Java na Europa uitgevoer. Hy was met Elisabeth van Oosten getroud; hul dogter Johanna was getroud met sy voorganger, die pas afgetrede goewerneur-generaal Joan van Hoorn.¹¹

    Die Kompanjie het ook die eilande in die baai van Batavia benut. Op Onrust (dié naam herinner aan die suidwestelike hoek van Texel in Wes-Friesland) was van 1618 af ’n fort met vyf bastions; aan die noordekant was die mure van klip gebou, maar aan die suidekant was dit met palissades omhein. Dié fort was met 75 kanonne bewapen. Op Onrust is die Kompanjie se skepe herstel en ook kleiner skepe gebou. Drie skepe kon op ’n keer op die sleephelling gekalfaat word. Die gekenterde skepe se vrag is in pakhuise op die eiland geberg. Daar was ook twee windmeule vir houtsaery, ’n lynbaan of touslanery, ’n smidswinkel en ’n kanongietery. ’n Uitgebreide reglement is op 16 Junie 1667 vir Onrust opgestel, wat sake soos die gedrag van matrose wie se skepe daar vertimmer word, die skoonhou van die reede en timmerwerwe, en die bywoon van die oggendgebed bepaal het.¹² In 1718 het meer as 300 skeepstimmerlui daar gewerk. ’n Groot aantal vakmanne soos smede en touslaners, met bandiete as arbeiders, was onder ’n baastimmerman se bevel. ’n Opperkoopman was in bevel van die eiland se boekhouers en klerke.

    Op Edam was ’n lynbaan waar bandietearbeid gebruik is en op Purmerend was ’n hospitaal vir melaatses. Op Kuiper was pakhuise waarin die skepe wat op Onrust herstel moes word se kruit, wapens, proviand en ander toebehore bewaar is. Dié eiland is bewaak deur groot honde wat snags los rondgeloop het. Op die strand was, volgens Johan Büttner se verslag van sy eie reis in 1718, ’n standbeeld van skipper Barend Fockesz, wat binne ses maande van Amsterdam na Batavia en weer terug na Amsterdam geseil het.¹³ Dié bewering kan nie bevestig word nie. Geeneen van Fockesz se reise was buitengewoon vinnig nie. In die herfsmaande van die 17de eeu se laaste dekades was hy as Kamer Amsterdam se loods op die seeroete agterom Skotland bedrywig, waar hy VOC-retoerskepe ingewag en oor die Noordsee na hul tuis­hawens gelei het.¹⁴ Die loodse en hul belangrike diens word later in die teks bespreek.

    HOOFSTUK DRIE

    DIE OOSTERSE HANDEL

    Die Kompanjie het nie net Oosterse ware Europa toe uitgevoer nie, maar self met verskillende Oosterse lande handel gedryf. Fort Galle in die suidwestelike hoek van Ceylon (nou Sri Lanka) was van 1640 af ’n belangrike uitvoerhawe waarvandaan die Ceylonse vrag soos tee,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1