Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange
'n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange
'n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange
Ebook484 pages6 hours

'n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Naspers is een van 'n handjievol maatskappye uit Afrika wat binne een eeu gegroei het tot 'n globale mededinger met rekordaandelepryse - en dit boonop op die gebied van tegnologie. Dié versameling essays, geskryf deur groot geeste in die Suid-Afrikaanse mediawêreld, gaan oor die boustene van die grootste mediamaatskappy op die kontinent. Dit is 'n onderneming wat tendense vroeg identifiseer, dit aanpas vir die markte waarin hy bedrywig is en dit benut tot groot voordeel van die maatskappy, sy aandeelhouers en sy werknemers.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 15, 2015
ISBN9780624069843
'n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange
Author

Lizette Rabe

Lizette Rabe het as tipiese "praktisyn-as-professor" haar joernalistieke loopbaan verruil vir een in die akademie. Ná twintig jaar in die joernalistiek is sy in 2001 aangestel as professor en departementshoof van Stellenbosch Universiteit se nagraadse Departement Joernalistiek. Sy het haar doktorsgraad in 1994 verwerf. Sy is outeur, medeouteur of samesteller van verskeie boeke, onder meer "Rykie: 'n lewe met woorde" (Tafelberg, 2011). Haar navorsingsbelangstellings is veral die mediageskiedenis en kultuurgeskiedenis. Sy was raadslid van SANEF en het opgetree as sameroeper en lid van verskeie joernalistieke beoordelaarspanele, onder meer vir Media24 en Vodacom. Rabe is 'n stigterslid van die Salzburg Global Seminar Academy, ontvanger van die Rektor se toekenning vir uitmuntende onderrig, en is in 2013 aangewys as een van die US se top 25 navorsers oor alle fakulteite.

Related to 'n Konstante Revolusie

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Konstante Revolusie

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Konstante Revolusie - Lizette Rabe

    ’n Konstante revolusie:

    NASPERS, MEDIA24

    en oorgange

    saamgestel deur Lizette Rabe

    Tafelberg

    VOORWOORD

    ESMARÉ WEIDEMAN

    Uitvoerende Hoof: Media24

    ’n Honderd jaar van Naspers vertel jy nie in een boek nie. Daarvoor is die geskiedenis net te groot, te kleurryk. Want hierdie is nie ’n versekeringsmaatskappy of ’n koeldrankvervaardiger nie. Dis Naspers.

    ’n Maatskappytjie wat op 12 Mei 1915 gestig is om Afrikanerbelange te bevorder, het ’n internet-reus geword wat in meer as 130 lande gróót sake doen. Deesdae beskryf Wikipedia hom as ’n globale platform met belange in internetdienste, veral e-handel, sowel as betaal-TV en drukmedia. Right up there met die Amazons van die wêreld.

    En hoe trots is ons nie.

    Soos Bun Booyens, die spitsvondige redakteur van Die Burger – die koerant waarvan ons ook sy eeufees vanjaar vier – dit stel: Almal wat desjare aandele teen R21 gekoop en vinnig weer verkoop het, moet hulself sekerlik nou skop.

    Maar hierdie boek gaan nie oor die wêreldreus wat die afgelope twintig jaar bokspring van bedryf tot bedryf en oor kontinente heen nie. Daardie storie sal op ’n ander plek vertel word. Hierdie versameling essays, geskryf deur groot geeste in die mediawêreld en die Suid-Afrikaanse samelewing, gaan oor die fondamente en boustene van Naspers: die joernalistiek. Sedert 2000 onder die wapperende vaandel van Media24.

    En soos dit goeie joernaliste en kommentators betaam, skyn die lig vreesloos op ons geskiedenis. Daar is baie waaroor jy jou kop in skaamte laat hang, maar net so baie om op trots te wees. Dis ’n evolusie oor tien dekades tot waar drukkersink en digitale uitmuntendheid vandag ewe gemaklik naas mekaar staan. Maar, meer emotief, en nader aan die huis, is dit ’n storie oor die transformasie van ras en geslag, die afgooi van politieke en sosiale jukke, sodat ons vandag met trots kan sê gelykheid en vryheid van spraak vorm waarlik die hoekstene van ons maatskappy. Soveel so dat redakteurs soos Ferial Haffajee en Thandi Gweba-Mthethwa vandag breëbors sê: Hierdie is my huis.

    In ’n geskiedenis van honderd jaar was daar voortreflike leiers, en hierdie bundel is deurspek met hul stories. Maar daar was nog meer onbesonge helde en heldinne – trokdrywers en nagsubs, bodes en bestuurders, fotograwe en kunstenaars, bladopmakers en bemarkers. En soos ’n goue draad deur die geskiedenis: daardie rare spesie – die joernalis. Die DNS van Media24.

    Naspers, en Media24, het nie net oor sy honderd jaar die geskiedenis van Suid-Afrika opgeteken nie, maar dit ook beïnvloed. Dikwels het ons geheul, ja. Maar net so dikwels stem dikgemaak, bevraagteken, die vergrootglas laat skyn op ongeregtigheid in al sy fasette. Zo doe ons voort.

    Ons is deel van die storie van hierdie wonderlike land. Vratte en al.

    INLEIDING

    LIZETTE RABE

    Universiteit Stellenbosch

    Ons strek oor die aardbol en ek is baie trots dat ons van ons oorsprong in Afrika kon opskiet tot ’n gerekende en leidende speler in ons sektor wêreldwyd. Min Suid-Afrikaanse besighede het daardie oorgang suksesvol gedoen.¹

    Dit was die woorde van Naspers se voorsitter Ton Vosloo met die maatskappy se 100ste jaarvergadering in Augustus 2014.

    Min Suid-Afrikaanse maatskappye kon uit die bodem van Afrika groei en oor een eeu ’n globale mededinger word – en dit op die gebied van tegnologie. As mediamaatskappy is daar geen van sy eertydse fel mededingers wat hoegenaamd met hom kan meeding nie – in die Afrikaanse of die eertydse sterk Engelse mediasektor.

    Hoe het Naspers dit gedoen?

    Die eenvoudige antwoord is dat Naspers etlike revolusies oorleef het – en selfs help aanstig het – en elke keer finansieel en struktureel met meer soepelheid op sy voete geland het om die volgende uitdaging tegemoet te snel.

    Die maatskappy het verskeie omwentelinge beleef en deurleef, hetsy tegnologies, polities of kultureel. Terwyl die woord entrepreneuries die afgelope twee dekades amper sinoniem met Naspers geword het, was dit ’n wesenskenmerk van sy ontstaan. Hy kon revolusies van allerlei aard oorleef omdat hy inherent self revolusionêr was en homself etlike kere herskep het – selfs al was dit soms uiterlik dalk nie so sigbaar nie. Maar terwyl die maatskappy van sy ontstaan entrepreneuries was – waagmoedig, risiko-nemend, dinamies – was hy paradoksaal terselfdertyd uiters konserwatief, ook wat finansiële bestuur betref.

    Dié paradoks saam met voortreflike leierskap oor tien dekades, is die antwoord waarom Naspers ’n eeu ná sy ontstaan ’n globale speler is.

    De Nationale Koerant- en Drukpersmaatschappij Beperkt se oprichters-vergadering, in Nederlands, was op 18 Desember 1914. Hy is op 12 Mei 1915 geregistreer as De Nationale Pers Beperkt – die korter naam reeds ’n aanduiding van ’n inherente pragmatisme. Afrikaans het spoedig Nederlands vervang, en as Nasionale Pers is hy uiteindelik in 1998 as Naspers geregistreer, soos wat die maatskappy later genoem is. In sy eeufeesjaar tel hy onder die top mediategnologiemaatskappye wêreldwyd, met bedrywighede in 133 lande.

    Sy doel een honderd jaar gelede was om onapologeties ’n propageet vir Afrika- nernasionalisme te wees. Die eerste produk – mondstuk vir die politieke stroming waaruit hy ontstaan het – was sy dagblad, De Burger, van 1922 Die Burger. In 1916 reeds is sy eerste tydskrif, De Huisgenoot, later Die Huisgenoot en nog later slegs Huisgenoot, gestig, gevolg deur vele ander Afrikaanse publikasies oor die hele spektrum van dagblad tot boek.

    Sy eerste Engelse boek is reeds in 1919 gepubliseer, Langenhoven se Republicans and Sinners¸ ’n Afrikanernasionalistiese propagandastuk. Ook sy eerste Engelse koerant, The South African Nation van 1924, moes Afrikanernasionalisme onder Engelse landgenote bevorder. Dié twee projekte was ideologies gedrewe. Sy eerste publikasie in ’n swart taal, reeds in 1922, was ’n skoolhandboek vir die landbou, ’n sakegedrewe projek: die skoolboekmark was reeds as inkomstebron geïdentifiseer.

    Dié diens-imperatief gepaar met die wins-imperatief het Naspers van sy ontstaan gekenmerk. Dit was so van sy eerste organiese groei met die koop van Volksblad in 1918, sonder enige kapitaal in die bank, en daarmee saam sy beleid van innovering – revolusies – op alle terreine.

    As struktuur het die groep reeds in 1950 strategies ontbondel in verskillende afdelings. Sy eerste groot tegnologiese omwenteling was die revolusionêr-moderne diepdrukfabriek vir tydskrifte in die 1960’s: ’n groot belegging, maar deel van Naspers se posisionering onderweg na ’n kommersieel eerder as ideologies gedrewe maatskappy. Dit was ook ’n stimulus vir ’n oor grense heen-strategie, onder meer met die stig van Fairlady in 1965. Dié eerste kommersiële Engelse publikasie was danksy Sarie se sukses in die vrouetydskrifmark en in antwoord op adverteerders se behoefte aan ’n gehalteproduk, in volkleur – ’n nuutjie vir die tyd – vir ’n onontginde, welvarende Engelse mark.

    Naspers se nuwe rolperse het sy status in die mark bevestig as maatskappy wat innoverend en professioneel dink én doen.

    Ook in 1965, op Naspers se halfeeumerk, het hy oor die Vaalrivier beweeg met die stig van die Sondagblad Die Beeld. Dit was die begin van ’n vars nuwe benadering tot Afrikanerpolitiek, en het meegehelp om die pad te begin oopmaak vir wat uiteindelik ’n demokratiese Suid-Afrika sou word.

    In 1985 het Naspers die sprong na die volgende ontwikkeling in die evolusie van die media gemaak: die videosfeer van die elektroniese media met die stig van M-Net in 1985. Dit het gelei tot sterker finansiële spierkrag sodat hy reg aan die begin van die digisfeer geleenthede binne die disruptiewe digitale ekonomie en midde-in ’n allesomvattende tegno-sosiale revolusie kon ontgin.

    Oor die dekades het interne sosiaal-kulturele revolusies óók verandering gebring. Daar was die vroue-revolusie, soos ook in die groter samelewing: elke nuwe generasie vroulike werknemers het met groter fiksheid aan die glasplafon bly kap sodat geen diskriminasie hulle later van geleenthede kon ontneem nie – nog voor die nuwe Grondwet met sy gelykheid vir almal.

    En daar was die kleurplafon wat deurbreek is met die aanstel van die eerste joernalis van kleur in 1971 – ’n mylpaal wat nie te vroeg kon kom nie, want hoekom het juis Naspers nie veel vroeër mede-Afrikaanssprekendes bondgenote gemaak nie?

    Maar een van die grootste omwentelinge was dalk die finale afwerp van ’n sekere patriargale gesagstruktuur met die WVK-revolusie toe jonger joernaliste teen die maatskappybesluit in voorleggings aan die WVK gemaak het.

    En dan was daar menige ander revolusies – tussen Afrikaner en Afrikaner, tussen Afrikaners en Engelsprekendes, maar veral tussen Afrikaner en Afrikaan.

    ’n Revolusie waarin sy filiaal Media24 op die oomblik vasgevang is, is dié in die interregnum tussen druk en digitaal. Hoe gaan gehalte joernalistiek – die oop gesprek – oorleef te midde van onseker en onbeproefde nuwe modelle?

    Inderdaad het die maatskappy reeds omwentelinge van velerlei aard beleef. Ná een honderd jaar kan ’n mens terugkyk en sê Naspers se eerste adres, waarna altyd met soveel sentiment verwys is, het ironies genoeg in hom ’n revolusie ingebou gehad: Keeromstraat het uiteindelik tot ’n totale ommekeer gelei.

    Hierdie publikasie, gefokus op Suid-Afrika, bied ’n oorsig van ’n handvol revolusies, van wigte en teenwigte, van insigte en oorsigte, van bates en laste van ’n maatskappy, en hoe hy op vol toere omwentelinge van allerlei aard oorleef het en voortwoeker in ’n nuwe era te midde van ’n tegno-sosiaal-kulturele revolusie van ongekende skaal.²

    Bedankings

    Benewens dank aan die onderskeie medewerkers vir hul entoesiasme vir die projek en uiteindelike bydraes, ook dank en erkenning aan die twee lesers wat met leesverslae en hul ervaring as woordmense gehelp het met die verfyning en finalisering van kopie: Ton Vosloo wat met sy insig en oorsig oor die groter prentjie en ’n loopbaan van meer as vyftig jaar perspektief kon bied, en Hannes van Zyl, oud-uitgewer.

    POLITIEK-EKONOMIESE KOERSVERANDERINGE OOR DIE AFGELOPE EEU

    SAMPIE TERREBLANCHE

    Gedurende die afgelope honderd jaar – dus ongeveer gelyklopend met die eerste eeu van Naspers se bestaan – was daar twee ingrypende veranderinge in die politieke en ekonomiese stelsel en grondwet met ’n gepaardgaande nuwe magskonstellasie en ideologiese oriëntasie.

    Suid-Afrika het dus twee powershifts beleef, soos in die woorde van Alvin Toffler, wat onderskei tussen ’n power shift – twee woorde – en powershift – een woord.³

    Met power shift verwys hy na ’n regering- of ’n beleidsverandering binne die raamwerk of struktuur van ’n politiek-ekonomiese stelsel. ’n Powershift, daarenteen, is ’n deep level change in the nature of power…[that] transforms power. In so ’n powershift word die politiek-ekonomiese stelsel en/of die grondwetlike bestel omvattend en ingrypend verander en ’n nuwe magskonstellasie en ideologiese oriëntasie geskep.

    Suid-Afrika se eerste powershift, wat van 1909 tot 1913 geïnstitusionaliseer is, het ’n politiek-ekonomiese stelsel tot stand gebring wat as ’n stelsel van wit politieke oorheersing en rasse-kapitalisme beskryf kan word. Dit is geïnstitusionaliseer deur ’n elite-ooreenkoms tussen die drie grootste magsblokke in Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog: die Britse imperiale regering, die Engels-geörienteerde goudmynbedryf en die hoofsaaklik Afrikaner-geörienteerde landbou. Omdat byna alle swart mense van hierdie elite-oreenkoms uitgesluit was, kan dit as ’n (wit) elite-sameswering beskryf word. Die eerste politiek-ekonomiese stelsel tussen 1909-’13, en die sewe inherente beleidsveranderinge wat daarop gevolg het tot 1994, word eerstens beskryf.

    Die tweede powershift of konfigurering van ’n tweede politiek-ekonomiese stelsel in Suid-Afrika het van 1990 tot 1994 plaasgevind. Hierdie tweede stelsel is geskep deur ’n elite-sameswering tussen die drie grootste magsblokke ná die bevrydingsstryd tydens die onderhandelinge in Suid-Afrika: die Amerikaans-geleide neoliberale globale empire, die wit beheerde kapitalistiese (of korporatiewe) sektor, en die swart elite wat deur die ANC beheer is.

    In ’n land waarin 80% van die bevolking swart is en die verkiesingstelsel buitengewoon politieke mag aan die die proporsioneel-verkose Nasionale Uitvoerende Raad van die ANC verleen, kan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel streng gesproke nie as ’n demokratiese politieke stelsel beskryf word nie, maar eerder as ’n politiek-ekonomiese stelsel wat op ’n proporsioneel-verkose meerderheidsregering gebaseer is.

    De Tocqueville sou hierdie politieke stelsel as die tirannie van die meerderheid beskryf het. Eers wanneer ’n proporsioneel-verkose regering tydens ’n algemene verkiesing effektief tot verantwoordelikheid geroep word vir die wanregering waaraan hy skuldig is, kan die nuwe politieke stelsel as ’n demokratiese stelsel beskryf word.

    Ek sal dus tweedens die skep van die tweede politiek-ekonomiese stelsel tussen 1990 tot 1994 beskryf, asook die beleidsveranderings wat in 1995, 1999 en in 2009 gevolg het.

    DIE EERSTE POLITIEK-EKONOMIESE STELSEL

    1909 – 1913: Die institusionalisering

    Die Anglo-Boereoorlog kan beskryf word as die grootste ramp wat Suid-Afrika nog getref het. Dit het tot grootskaalse verarming onder sowel Afrikaners as swartes gelei. Die hoofsaaklik Britse myne het in die dekade ná die oorlog steeds ’n tekort aan goedkoop en gedweë swart arbeid ondervind. Tydens die samesprekings sedert 1906 tussen die goudmyne en Afrikanerboere is ’n alliansie tussen goud en mielies gesluit. Dit is deur die Nasionale Konvensie goedgekeur en deur die Britse parlement bekragtig in die Suid-Afrika-Wet van 1909.

    Gedurende die onderhandelinge was dit duidelik sowel die goudmyne as die mielieboere het ’n behoefte aan goedkoop swart arbeid, en dat die mynbedryf besef het dit sou onmoontlik wees om stabiliteit onder die groot swart bevolking op die Hoëveld te handhaaf sonder die hulp van die Boerekommando’s. Gevolglik is die swartes, met enkele uitsonderings, uitgesluit van politieke mag en is ’n rassistiese ideologie aanvaar. Terselfdertyd is die ekonomiese stelsel geskoei op die patroon van die Britse laissez-faire kapitalisme en rassisme.

    In 1913 is die Wet op Grondbesit aanvaar waarvolgens slegs 8,2% van Suid-Afrika se oppervlakte as naturellegebiede geproklameer is. Die bedoeling was om swart mans te dwing om as trekarbeiders op die myne en as pasdraende werkers op mielieplase te laat werk teen lone laer as onderhoudslone.

    1920 – 1924: Die eerste era

    In die eerste tien jaar ná Uniewording is die legitimiteit en die voortbestaan van die eerste politiek-ekonomiese stelsel deur verskeie gebeurtenisse bedreig. Eerstens deur die opkoms van swart nasionalisme toe die ANC op 8 Januarie 1912 gestig is, tweedens deur die opkoms van Afrikanernasionalisme toe die Nasionale Party op 7 Januarie 1914 gestig is, en derdens die Rebellie in 1914 as protes teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog.

    In 1920 het die Weste ’n ná-oorlogse depressie ondervind en het die prys van goud skerp gedaal. Om goudmyne winsgewend te hou, het die Kamer van Mynwese die Kleurslagboomwet van 1911 geïgnoreer en die getal swartes wat ondergronds onder gesag van ’n wit voorman moes werk, van nege tot vyftien verhoog. Dit het gelei tot die Randse Opstand of Rebellie van 1922, toe 10 000 wit mynwerkers byna drie maande lank gestaak het. Hulle het onder ’n Rooi Vlag met die slagspreuk Werkers van die wêreld verenig vir ’n blanke Suid-Afrika gemarsjeer. Selfs die (wit) Kommunistiese Party het daaraan deelgeneem.

    In die noodtoestand wat gevolg het, is 20 000 troepe gemoboliseer, artillerie en tenks ontplooi en ook aan die Lugmag opdrag gegee om stakers wat op strategiese plekke saamgedrom was, te bombardeer. Sowat 200 is dood in die mynoorlog.

    Ná die staking het die Kamer van Mynwese ingestem dat die verhouding tussen swart en wit mynwerkers weer 9 tot 1 sal wees. Dit is tot in die 1970’s gehandhaaf. Terwyl die swart mynwerkers se lone in die goudmynbedryf in 1930 8,8% van wit mynwerkers s’n was, het dit gedaal tot slegs 4,8% van wit lone in 1971, terwyl die goudprys in hierdie tydperk gereeld gestyg het.

    Die opstand het gelei tot ’n Pakt tussen die NP en die Arbeiderparty. Die Pakt se oorwinning in die 1924-verkiesing was ’n groot terugslag vir die goudmynbedryf, vir die groot Afrikanerboere (die sogenaamde Bloedsappe) en vir Generaal Smuts se Suid-Afrikaanse Party (SAP). Terselfdertyd het die Paktregering die magsposisie van die wit werkersklas en die wit kleinburgery aanmerklik versterk teenoor die swart bevolking.

    Vroeg in 1924 is die Industriële Versoeningswet op die Wetboek geplaas en die Pakt-regering het in 1926 die Wysigingswet van Myne en Werke aanvaar. Albei wette het die regte van wit werkers erken terwyl die kleurslagboomwette die uitbuiting van swartes verder in wetgewing vasgelê het.

    1932 – 1934: Die tweede era

    Die New Yorkse aandelebeurs het op 29 Oktober 1929 in duie gestort. Die Groot Depressie daarna het Amerikaners se inkomste van 1927 tot 1933 byna gehalveer. Suid-Afrika se volksinkome het met meer as 30% gedaal, en veral die landbou en swart mense het groot armoede gely. Op 21 September 1931 het Brittanje die goudstandaard laat vaar en die Pond Sterling skerp gedevalueer.

    Die Hertzog-regering het geglo Suid-Afrika, as goudproduserende land, moet sy vertroue in goud bewys deur op die goudstandaard te bly – ’n reuse-flater, want Suid-Afrika se geldeenheid was toe oorgewaardeer. Spekulante het ’n groot hoeveelheid geld uit die land laat vloei.

    Op 27 Desember 1932 is aangekondig dat Suid-Afrika die goudstandaard laat vaar en is die geldeenheid tot die vlak van Sterling gedevalueer. Dit het die prys van goud van R8,50 per fyn ons na R12 laat styg – ’n premium, of goudbonanza, van 35%.

    ’n Heftige debat het ontstaan oor wie dié bonanza moes kry. Op 31 Desember 1932 het Die Burger gepleit dat goudmyne nie ’n deel daarvan moes kry nie, maar dat dit gebruik moes word om diegene wat deur die Groot Depressie benadeel is, te kompenseer.

    Vroeg in Januarie het die koerant voorgestel die hele bonanza moet belas word om die staatskas te versterk.⁹ Die Kamer van Mynwese het toe aan opposisieleier Smuts laat weet dat hy die voorgenome belasting moet teenstaan en, indien nodig, ’n koalisie-regering met Hertzog moet vorm.¹⁰

    Met die parlementsopening op 24 Januarie 1933 het Smuts in ’n versoenende toespraak gesê Suid-Afrika het ’n regering van nasionale eenheid nodig om die ernstige ekonomiese probleme op te los. Hierna het Hertzog en Smuts oor koalisie en die verdeling van die bonanza beraad.

    Aanvanklik was DF Malan en Die Burger nie ten gunste van ’n koalisie met Smuts nie, en ook nie ten gunste van ’n verdeling van die bonanza nie,¹¹ maar teen die einde van Maart het Malan en Die Burger saamgestem met die ooreenkoms wat tussen Hertzog en Smuts bereik is.

    In die Hertzog-Smuts-onderhandelinge het elkeen ’n geheime agenda gehad. Hertzog wou Smuts oortuig om hom te ondersteun in wetgewing wat die swart stemreg in die Kaapprovinsie van die gesamentlike lys sou neem; Smuts wou Hertzog oortuig om nie die totale bonanza weg te belas nie.

    Smuts het ingestem dat hy en ander Sappe die afskaffing van swart stemreg sou steun, en Hertzog het ingestem tot die 50/50 beginsel waarvolgens 50% van die bonanza belas sou word.¹²

    In 1936 is die Suid-Afrika-Wet met ’n twee-derde meerderheid gewysig om swart mense van die gesamentlike kieserslys te verwyder. Deur die wysigingswet te steun, het Smuts onder die druk van die mynmaatskappye geswig ten koste van sy eie morele beginsels (hoewel die naturelle-reservate in 1936 vergroot is tot 13%).

    Die 50/50-ooreenkoms het daartoe gelei dat die staatsinkomste sterk toegeneem het, sodat die regering aansienlik meer op infrastruktuur-ontwikkeling kon bestee. Die ooreenkoms was ook baie voordelig vir die goudmyne: hul inkomste het ná belasting van R21,4 miljoen in 1933 tot R33,2 miljoen in 1934 gestyg.¹³ Dit het die woede van die Malan-ondersteuners ontlok wat gemeen het die 50/50-ooreenkoms het die goudmyne te veel bevoordeel.¹⁴

    Hertzog en Smuts het in Desember 1934 hul partye laat saamsmelt en die Verenigde Party (of Smelter Party) gestig. Dit het die sogenaamde Malaniete laat wegbreek, wat die Gesuiwerde Nasionale Party gestig het.

    In die sestien jaar wat die Malaniete in opposisie was, het hulle ’n stroewe rassebeleid geformuleer en hulle vir die opheffing van die armblanke-probleem onder Afrikaners beywer. Die Carnegie-kommissie het in 1932 bevind dat een derde (of meer as 300 000) van Afrikaners sorgwekkend arm was.

    1938 – 1940: Die derde era

    In 1938 het twee belangrike gebeurtenisse plaasgevind. In die algemene verkiesing op 18 Mei het die Smelters 111 van die 150 setels gewen en die Gesuiwerdes slegs 27. Bittere vyandigheid het in Afrikanerkringe tussen die Smelters en die Gesuiwerdes geheers. Die tweede was die eeufeesherdenking van die Groot Trek.

    Maar toe die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitgebreek het, het die VP se koukus op 4 September Hertzog se neutraliteitsvoorstel verwerp en het die parlement met ’n meerderheid van dertien stemme besluit om oorlog teen Duitsland te verklaar. Dit het veroorsaak dat Hertzog as eerste minister bedank het en Smuts hom opgevolg het – en dit het tot die ontsmelting van die smelting gelei.

    Op 16 Desember 1939 het Hertzog en Malan mekaar op Monumentkoppie in Pretoria ontmoet en het die Hertzogiete en Malaniete verenig as Herstigte Nasionale Party ([H]NP). Gedurende die herstigtingskongres in die Vrystaat in 1940 kon die twee groepe egter nie eenstemmigheid bereik oor taalsake nie. Hertzog is in 1941 oorlede en deur Havenga as leier van die toe nuutgestigte Afrikanerparty (AP) opgevolg.

    In die oorlog moes Suid-Afrika industriële produkte, voorheen van Brittanje ingevoer, self produseer. Dit het ’n Suid-Afrikaanse nywerheidsrevolusie gestimuleer waarin die Engelse establishment die leiding geneem het. Die getal swartes in stedelike gebiede het van 17,3% in 1936 tot 27,2% in 1951 gestyg.¹⁵ Die verswarting van die stede in die veertigs was ’n belangrike oorsaak van Smuts se nederlaag in 1948.

    1948 – 1952: Die vierde era

    Die verkiesingoorwinning van die (H)NP in koalisie met die AP in Mei 1948 was vir die VP ’n geweldige skok. In die verkiesing van 1943 het Smuts en sy vennote 105 setels verower tenoor die NP se 43 – ’n meerderheid van 62. In die verkiesing van 1948 het die NP/AP-koalisie 79 setels verower teenoor Smuts en sy vennote se 73 – ’n meerderheid van ses vir die NP/AP.

    Ná die NP-oorwinning van 1948 het hy in ’n vierledige agenda die belange van die Afrikanervolk bevorder. Die eerste was die (rassistiese) beginsel van Afrikaner Christelike Nasionalisme as leitmotiv van sy beleid; tweedens moes die ekonomie herstruktureer word sodat Afrikaners bevry kon word van buitelandse kapitalisme met ’n nuwe stelsel van Afrikanervolkskapitalisme; derdens moes ’n beleid van apartheid geïmplementeer word om die naturelleprobleem op te los sodat die suiwerheid van die Afrikanervolk verseker kon word en om konflik inherent aan ’n situasie van rasse-integrasie te ontlont; en vierdens, ’n opheffingsbeleid vir Afrikanerarmblankes om die onreg van die Britte en die Engelse establishment teen die Afrikanervolk uit die weg te ruim.

    Dié vierledige agenda van die NP in 1948 was net so ambisieus en net so onbereikbaar soos die ANC se National Democratic Revolution in 1994. Die NP het hopeloos misluk om sy meesterplan uit te voer. Die buitelandse stelsel van vryemarkkapitalisme is byna onmiddellik aanvaar en toenadering tussen Engelse en Afrikaner-besighede het geleidelik plaasgevind. ’n Veelvoud van diskriminerende en uitbuitende apartheidmaatreëls is op die wetboek geplaas sodat wittes en swartes in hul leef-, werk- en sosiale lewens heeltemal apart van mekaar gehou kon word. Die instromingsbeheerwet van 1952 het goedkoop gedwonge en gekontroleerde swart arbeid (trekarbeid) aan die opkomende Afrikaner-entrepreneursklas beskikbaar gestel. Hierdie wet het die vernederende dompas-stelsel vir sowel swart mans as swart vroue geskep en was net so uitbuitend soos die Wet op Grondbesit van 1913.

    In 1950 het die NP ’n omvattende opheffingsprogram vir al die Afrikanergroepe geloods. Terwyl die Afrikaners se aandeel in die ekonomie buite die owerheid- en landbousektor in 1948 nog kleiner as 10% was, het die NP-regering ’n veelvoud van maatreëls ingestel om die aandeel van die Afrikanerestablishment in die ekonomie kragdadig te stimuleer en die armblanke-probleem op te los.¹⁶

    Met Strijdom se opvolging van Malan in 1954 het hy die Senaat op ’n moreel bedenklike wyse vergroot en in 1956 met ’n tweederde meerderheid op ’n gesamentlike sitting die bruin mense in Kaapland van hul stemreg ontneem.

    1959 – 1964: Die vyfde era

    Wit Suid-Afrikaners het in Oktober 1960 met ’n meerderheid van 75 000 ten gunste van republiekwording gestem en Suid-Afrika het op 31 Mei 1961 ’n republiek buite die Statebond geword.

    Verwoerd het toe reeds in 1959 aangekondig dat die apartheidsbeleid met die beleid van afsonderlike ontwikkeling vervang gaan word. Dit is deur hom voorgehou as ’n beleid van interne dekolonisasie wat ooreenstem met die dekolonisasiebeleid wat die Europese lande vanaf 1957 in Afrika toegepas het. Dit was noodsaaklik dat swart mense na die tuislande moes terugvloei. Die dompas-stelsel moes met dogmatiese suiwerheid en onwrikbare doeltreffendheid toegepas word. In die 1960’s en 1970’s is addisionele beheerrade geskep sodat dit doeltreffender toegepas kon word en om (wit) grensnywerhede in die nabyheid van die tuislande te ontwikkel.¹⁷ Die dompas-stelsel het gelei tot die Sharpeville-protes van 21 Maart 1960 toe 69 swart mense deur die polisie doodgeskiet is. Op 16 Desember 1961 is Umkhonto we Sizwe (MK) deur die ANC gestig om met geweld teen apartheid te reageer. In 1963 is die ANC se leierskorp by Rivonia in hegtenis geneem, en in 1964 is agt skuldig bevind aan sabotasie en tot lewenslange tronkstraf op Robbeneiland gevonnis.

    In die nege jaar van 1964 tot 1973 het Suid-Afrika ’n relatief vreedsame tyd beleef sonder ernstige swart opstand. Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die gedugte en outoritêre veiligheidspolisiemag wat premier John Vorster in dié tyd opgebou het.

    Gedurende die 1960’s en die 1970’s is onafhanklikheid aan verskeie Bantoestans toegeken. Onafhanklikwording het met die bou van owerheidsgeboue, huise en universiteite in die tuislande gepaardgegaan. Behalwe die omkoopgeld wat aan gedienstige tuislandleiers betaal is, was korrupsie aan die orde van die dag in die Bantoestans en in die grensnywerhede.

    In dié tyd het die swartbewussyn-beweging onder Steve Biko ondergronds ontwikkel. Sy swartbewussyn is sterk beïnvloed deur die Afro-Amerikaners se burgerregte-beweging. Die Soweto-onrus van 1976 was ’n indirekte gevolg van dié beweging.

    ’n Hoë ekonomiese groeikoers van byna 5% is in die vyftiger- en sestigerjare behaal, met heelwat direkte buitelandse beleggings wat van die groot nywerheidslande na Suid-Afrika gevloei het. Danksy die groeikoers – én danksy die patronisering van Afrikaners deur die NP-regering – was die armblankevraagstuk teen 1973 opgelos en het die Afrikaner-korporatiewe sektor so vinnig gegroei dat Afrikaners hul embourgeoisement in die sewentigerjare bereik het, met die per capita-inkomste van wittes én swartes wat van 1946 tot 1980 groter geword het.¹⁸

    1973 – 1976: Die sesde era

    Die stagflasie wat in 1973 in die Westerse wêreld begin het, het in Suid-Afrika – te midde van die bevrydingstryd – tot in 1994 voortgeduur.¹⁹ Die staking van swart werkers in Durban in 1973 het die eerste fase van massa-aksie verteenwoordig, wat bygedra het tot ’n ingesteldheid van opstand teen die apartheidsbestel. Die staking het weke lank aangehou en was die begin van ’n groeiende alliansie tussen swart werkers, revolusionêre bewegings en die verbode ondergrondse bevrydingsbeweging.

    Ná die staatsgreep in 1974 in Lissabon het die Portugese kolonies in Afrika – Angola en Mosambiek – in 1975 onafhanklik geword en onmiddellik satellietstate van die Sowjetunie geword. Hiermee het die cordon sanitaire noord van Suid-Afrika verkrummel en is die wit regime in Suid-Afrika blootgestel aan Afrika se uhuru en die kommunistiese penetrasie in die kontinent.

    Vir Amerika was die Sowjet-uitbreiding in Afrika problematies, en die CIA het met ’n proxy-oorlog teen SWAPO en die Kubaanse soldate in Angola en Frelimo in Mosambiek begin wat geëskaleer het tot twee onverkwiklike grensoorloë waaraan die Suid-Afrikaanse Weermag teen groot fiskale koste én groot lewensverlies deelgeneem het.

    Op 16 Junie 1976 het die kinderkruistog in Soweto begin. Hoewel die NP-regering se onderwys- en taalbeleid die direkte oorsaak van die opstand was, het die opkoms van swartbewussyn die ideologiese atmosfeer voorberei. Die kinderkruistog het dwarsoor die land versprei en tot botsings tussen leerders/studente en die polisie gelei. Voor die einde van 1976 het duisende jong swartes die land verlaat om in verskeie lande as MK-soldate opgelei te word.

    In die sewentigs was dit vir die NP duidelik dat die stryd teen apartheid nie net deur binnelandse bevrydingsorganisasies gevoer word nie, maar dat ’n Totale Aanslag hoofsaaklik deur Moskou georganiseer, georkestreer en gefinansier word. Die NP-regering moes daarop antwoord met ’n Totale Strategie.

    In 1978 is die mag en geloofwaardigheid van die NP tot in sy fondamente geskud deur die Inligtingskandaal waarby Vorster en minister Connie Mulder betrokke was. Dit het gelei tot die bedanking van Vorster as premier in 1978 en as staatspresident in 1979. Ná dié skandaal het die NP-regering al sy twyfelagtige staatsuitgawes via die Departement van Verdediging gekanaliseer wie se boeke – volgens die Britse tradisie – nie deur die Ouditeur-Generaal geoudit word nie.

    Die selfregverdigende ideologie van die NP was nou nie meer apartheid of afsonderlike ontwikkeling nie, maar die Totale Strategie vs die Totale Aanslag. Dit het tot ’n al hoe groter militalisering en sekuritarisering van Suid-Afrika te midde van stagflasie en groeiende werkloosheid gelei.

    Ná die Soweto-onluste, en te midde van kruipende armoede, het die apartheidsregering sy besteding op swart onderwys en op verdediging skerp verhoog. Gevolglik kon die NP nie besteding op die landbousektor so hoog hou soos wat van 1948 tot 1978 die geval was nie – wat tot groot ontevredenheid onder die mielieboere gelei het. Baie het weggebreek en in 1982 die Konserwatiewe Party onder Andries Treurnicht gestig.

    1983 – 1986: Die laaste era

    Die reg om vakbonde te stig en lidmate te werf, is in 1979 aan stedelike swartes toegestaan. Die Industriële Versoeningswet het egter bepaal dat tuislandburgers en trekarbeiders nie lid van geregistreerde swart vakbonde mag word nie. Vanaf 1979 is verskeie militante vakbonde gestig wat dié wet uitgedaag het. Die aantal stakings en die werksdae wat deur stakings verlore gegaan het, het van 1980 skerp toegeneem. Dit was duidelik dat dit onrealisties was om vakbondregte aan swartes te gee in ’n politieke vakuum en om te dink dat swartes nie hul vakbondregte vir politieke magsuitoefening sou gebruik nie.

    In 1983 is die United Democratic Front (UDF) gestig met Desmond Tutu en Allan Boesak as leiers. Die UDF was ’n sambreel-organisasie vir honderde burgerlike organisasies wat hulle met die Bevrydingstryd vereenselwig het. In 1985 is die Congress of South African Trade Unions (COSATU) gestig, wat ten diepste betrokke geraak het by die magspel in die land.²⁰

    Dit was vir die apartheidsregering ’n groot terugslag toe die Amerikaanse Kongres die Comprehensive Anti-apartheid Act, wat Reagan vroeg in 1986 geveto het, bekragtig het, en daarmee Reagan se veto ongeldig verklaar het. Op 11 en 12 Oktober het Reagan en Gorbatsjof vergader, met die uiteinde ’n verstandhouding tussen die twee dat al die groot lande saam na vrede vir al die brandpunte in die wêreld sou soek. Brittanje se Thatcher sou strategies die nodige druk op Suid-Afrika uitoefen.

    Dit is ’n magtige ironie dat die eerste Suid-Afrikaanse politiek-ekonomiese stelsel in die weke en dae vóór FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 weer eens gereduseer is tot dié van ’n Britse kolonie. De Klerk het Mandela op 11 Februarie 1990 vrygelaat op direkte bevele uit Londen, en gedurende die onderhandelinge van 1991 tot 1994 het Suid-Afrika ’n post-koloniale satelliet van die Amerikaans-geleide neoliberale kapitalistiese empire geword.

    DIE TWEEDE STELSEL

    1990 – 1994: Die institusionalisering van die tweede stelsel

    Die bevrydingstryd en die tydperk van stagflasie en kruipende armoede wat van 1973 tot 1994 in Suid-Afrika geheers het, was die tweede

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1