Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vurk in die pad
Vurk in die pad
Vurk in die pad
Ebook779 pages13 hours

Vurk in die pad

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

Hierdie memoir is, soos André Brink dit self stel, ’n reaksie op “’n behoefte … om nader te kyk na party gebeurtenisse in my lewe wat ek nog nie genoegsaam ondersoek het nie; baie dinge wat ek nog nie verstaan nie; baie wat my seergemaak of verras of vreugde veroorsaak het…”  Die memoir gee die leser ’n blik op die ryk en vol lewe van een van die grootste skrywers in Afrikaans. Brink se verstommende erudisie en belesenheid in verskeie tale, sy diepgaande gemeenskapsbetrokkenheid (wat dikwels gepaard gegaan het met persoonlike opofferings), sy sterk politieke oortuigings wat meermale tot aksie oorgegaan en tot teistering van owerheidsweë gelei het, is alles dinge wat die leser sal bybly, saam met komiese en deerniswekkende momente uit sy jeug en sy heel persoonlike lewe.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780798154178
Vurk in die pad
Author

André P. Brink

André P. Brink was een van die veelsydigste figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal en hy is met o.m. die Hertzog- en die WA Hofmeyr-prys bekroon. Brink is op 6 Februarie 2015 oorlede.

Read more from André P. Brink

Related to Vurk in die pad

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vurk in die pad

Rating: 3.7 out of 5 stars
3.5/5

10 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vurk in die pad - André P. Brink

    title.jpg

    André P Brink

    Vir my vrou, Karina, met liefde:

    What I have done is yours;

    what I have to do is yours;

    being part in all I have,

    devoted yours.

    – William Shakespeare

    When you come to a fork in the road, take it.

    – Yogi Berra

    Even a heretic must believe in something, if nothing more

    than the truth of his own doubt.

    – Barack Obama

    Vooraf

    goodie.jpg

    Gewoonlik redeneer mens dat elke keuse wat jy maak, impliseer dat ander uitgeskakel word: op ’n gegewe oomblik in die ontstaan van ’n skildery het die skilder byvoorbeeld die keuse om êrens sê maar rooi of groen of blou te gebruik. As hy besluit om dit rooi te maak, dan skakel sy keuse die moontlikheid van groen of blou uit. Een oplossing, wat dikwels deur Picasso geïllustreer word, sou wees om op daardie plek met nie net één skildery voort te gaan nie, maar ’n reeks te skilder – een met rooi, een met blou, een met groen – en dan die ontplooiing van elk van daardie opsies te volg totdat die volgende keusemoment aanbreek, en tot ’n nuwe reeks lei: byvoorbeeld een met ’n sirkel, ’n tweede met ’n vierkant, ’n derde met ’n driehoek; en opnuut volg hy dan elk van hierdie moontlikhede tot by die volgende vurk in sy pad. Maar selfs as dit sou lei tot, sê, ’n honderd-agt-en-twintig of tweehonderd-ses-en-vyftig skilderye, bly die uiteindelike keuse tog nog beperk. Hy kan onmoontlik elke keuse heelpad volg. Dit gaan immers nie om die volg van talle moontlikhede nie, maar om die konsep van ’n keuse heeltemal oop te laat: om jou te verbeel dat alle moontlikhede vir altyd bly saambestaan.

    In ’n onderhoud met die kunstenaar William Kentridge ten tyde van sy internasionale produksie van Mozart se Zauberflöte verduidelik die kunstenaar iets soortgelyks:

    Thought may follow one particular path, but there are all the other paths not taken, and all the other paths still being thought through, or not yet thought of, that language can latch on to at different stages as it goes.

    Hy praat van a highway of consciousness where you have a channel but many different lanes and different things moving in different lanes, overtaking, stopping, leaving the highway.

    Dit suggereer iets omtrent die tekstuur van hierdie memoir. Tydens die skryf daarvan die afgelope twee, drie jaar, het elke komponent met verloop van tyd ’n soort saamklontering rondom ’n bepaalde stel moontlikhede gevorm, waarvan elk as ’n soort pad of voetpaadjie beskou kan word. Op enige gegewe oomblik kan nuwe gedagtes afsplyt van die een wat ter sprake is, en my nooi om agterna te gaan; en mettertyd, besef ek, sal ek weer terugkom na dié pad – maar voorlopig kan die sypad, of nuwe moontlikhede wat onderweg deur enige nuwe woord opgeroep word, my verlei in ander rigtings. En selfs al sou dit plek-plek ’n bietjie verwilderend raak, dan bly die pad of die paaie steeds bestaan; en hulle bestaan danksy, of selfs ter wille van, al die vurke wat onderweg met nuwe uitdagings vorendag kom.

    Wat my vandag benieu, is dat mens nie eens tussen die twee modaliteite – die voetpad wat vurk, of die moontlikheid van eindelose tweespronge – hoef te kies nie. Een keuse hoef nie al die ander uit te skakel nie. Vir al wat ek weet, kan daardie ander net sowel as moontlikhede bly voortbestaan, selfs lank nadat die oorspronklike keuse gemaak is. Ek kan in Robert Frost se voetspore volg op The road less travelled, maar rondom en agter daardie paadjie en al die ander waarop al eeue lank gereis is, kan selfs nog meer bestaan. Niks word ooit regtig uitgeskakel nie. Net soos wat by die skryf van ’n sin of ’n storie elke woord wat nié gekies word nie bly skemer agter dié wat wel gekies is. Miskien is dit juis dié saambestaan van alle moontlikhede wat uiteindelik (as daar iets soos ’n uiteindelik bestaan) die tekstuur van ’n lewe bepaal.

    Dié tekstuur kan nog verder verryk word as mens dit verbind met die begrip ketter, in die oorspronklike betekenis van die woord heretikos. Soos die skryfster Monique Zerner-Chardavoine dit verduidelik:

    Heresy comes from the Greek word meaning choice: for heresy to exist, there should be an ideology, a faith, to which a community adheres, and inside this community there must also be people who distance themselves, no longer accepting the received truths, in order to choose for themselves.

    Só lyk ons vurk in die pad dan: die tradisionele óf – óf word vervang met die oneindig meer komplekse én – én. Dit beperk ons nie tot reguit of finale antwoorde nie. Dít of dát mag waar wees, maar tersélfdertyd is daar hope ander dinge wat waar mag wees. En elke keer as daar ’n vurk in die pad is: kom ons vat hom.

    Geweld op loer

    goodie.jpg

    As ek my oë toemaak en die woord dorp sê, dan is dit iets soos Peter Blum se dorpsbeeld wat by my opkom, miskien aangevul met Opperman se stasie en twee peperbome. En algaande kry dit meer besonderhede by. Die breë stofstrate en die sypaadjies vol duwweltjies. Die kerk met juis dáárdie toring, en met God is liefde teen die binnemuur agter die preekstoel, verrinneweer deur ’n vlek waar water lankal in die pleister ingesypel het: selfs dié liefde is nie meer wat dit eens was nie. Die klokgelui twee keer op Sondae, en ook Woensdagaande vir biduur, en al wat leef en beef in kisklere, nie soseer uit oortuiging nie as uit gewoonte en bygelowigheid, en uit vrees vir die skinderstories wat die hele distrik deur sal uitkring as iemand dit sou waag om weg te bly.

    Ná die kerkdiens, en nadat al die nuus en skandale van die dorp oor en oor herkou is, sou ’n ieder en ’n elk huis toe gaan vir die magtige middagmaal van braaiboud en frikkadelle, en nog wildsvleis ook in die winter, of hoender, miskien ’n tamatiebredie, en dan aartappels en soetpatats en geelrys met rosyne, en boontjies en ertjies en gestoofde pruimedante en perskes, en kwepers, en sousboontjies, pampoen met kaneelsuiker, en boonop skorsies, dalk rabarber, beet met suiker en asyn, gevolg deur blamaans en geel en groen en rooi jellie soos op ’n basaartafel, en ’n piesangskuim, miskien struif of asynpoeding, of die melkkosnagereg bekend as melktertse-suster, ’n naam wat in ons familie vervorm is tot mal-antie-se-suster, met of sonder groenvyekonfyt of kweperjellie of moskonfyt, dit alles deur die grootmense afgespoel met soetwyn, verkieslik muskadel of jerepiko – alles voorberei deur gesette swart vroue op Aga- of Doverstowe in kombuise so warm soos die oond van Nebukadnesar. Daarna, terwyl die grootmense lê en hyg en snork in die middaghitte om die oordaad uit te sweet, sal giggelende, vindingryke kinders onder dwang op beddens lê en stigtelike boeke of klandestiene comics lees; en die einste swart vroue sou afdek en swoeg om die skottelgoed in wasbakke te pak en op te was voordat hulle die oorskiet huis toe karwei vir hul eie gesinne, maar eers nadat die sappigste happies uitgekrap is vir hoenders of honde of katte of soms ’n vark in die agterplaas.

    In die onmiddellike omgewing van die kerk is daar twee of drie strate met winkels met breë stoepe: die apteek, ’n kruidenierswinkel of twee herkenbaar aan die groot advertensies vir Big Ben of C to C-sigarette, Lyle se gouestroop, Marmite, Black Cat-grondboontjiebotter (kortweg meer bekend as Katbotter), skoene, kakie-oorpakke. Die slagter en bakker, een of twee kafees, ’n begrafnisondernemer wat ook boeke en koerante verkoop en oor sy swart pak ’n vuil stofjas dra omdat hy ook as haarkapper moet diens doen, en dan ’n Pegasus-garage met ’n handpomp, die Standard Bank, en ’n prokureur of twee. Ook die hotel – Royal of Masonic of Commercial – met ’n Off-sales waar die ingange al lank vóór apartheid wit en swart behoorlik van mekaar geskei het. En natuurlik my pa se magistraatkantoor, rooibaksteen of sandsteen, skaars meer as ’n klipgooi ver van die polisiekantoor met sy blou lig en sy peperbome, of ’n rytjie windverwaaide palmbome, en ’n lang, lae tronk half weggesteek agter aalwyne of garingbome, of selfs ’n uitspattige bougainvillea of lantana oortrek met ’n laag stof.

    Die skool is gewoonlik effens eenkant, in ’n agterstraat of ’n buitewyk, met ’n rooi dak wat nie alte gereeld geverf is nie, dalk stuk-stuk siersteen, en mankolieke geute, omring deur ’n uitspansel van speelgrond bedek met gruis, en aparte rye kleinhuisies vir seuns en dogters. Aan die agterkant van elke hokkie is daar ’n luik wat snags oopgemaak word om die emmers te vervang. (Een aand ’n week doen Oom Venter, die voorloper van Oom Kootjie Emmer, se muilwa – later vervang deur ’n trekker met ’n sleepwa – die rondtes deur al die dorpstrate.) Deur net geduldig te sit en wag, kan ’n paar van die goddeloosste seunskinders speeltyd agter die dogters se kleinhuisies wegkruip om op die regte oomblik die luik op te lig en iemand op heterdaad betrap. Maar dit gee doodsake af as jy daar gevang word, want dan word jou gatvelle afgetrek; en agterna kan die belhamel nog ’n huisbesoek van die prinsipaal verwag, wat ongetwyfeld sal lei tot ’n tweede loesing deur sy eie pa.

    Die huise, die meeste van hulle groot kasarms (behalwe nou die mankolieke woonplekkies van die armblankes onderkant die spoorlyn), is gewoonlik omring deur tamaai tuine. As tuin nou die regte woord is vir ’n lap kaal veld met ’n paar halfhartige groentebeddings waarin verwese mielietjies, pampoene en patetiese blomme moedig teen die droogtes probeer staande bly: jakobregops, kanniedood-stinkafrikaners, dalk ’n rytjie floksies, selfs hier en daar ’n dahlia. Maar die meeste erwe is oorwoeker deur onkruid, moedeloos oorgelewer aan hoenders wat in die kolle rooigrond skrop of lui honde wat hulle ballas lê en lek. Hier en daar is ’n erf met ’n windpomp, gewoonlik met flappe wat makeer, wat die mees onaardse geluide maak as daar skielik in die nag ’n windvlaag opsteek. Maar die meeste van die inwoners verlaat hulle op watertenks. Wat alles goed en wel is in die paar maande wat op ’n reënbui volg. Maar daarna bly hulle in die son blaker totdat hulle mettertyd bes gee teen die roes. In die Vrystaat en Griekwaland-Wes was reën eintlik ongehoord. Ek onthou nog hoe my jongste sussie Marita skoon mal geword het toe sy die heel eerste keer reën sien. Sy moet toe omtrent drie jaar oud gewees het, en sy’t soos ’n tolletjie op die eetkamertafel begin dans en naderhand uitgehol buitentoe om in die plasse rond te rol totdat selfs haar gebruiklike stralekrans van wit hare oortrek was van rooi modder.

    Sulke gebeurtenisse, asook siektes in die familie, briewe wat in die loop van die week opgedaag het of gepos is, radionuus oor die vordering van die Oorlog en los en vas skinderbrokkies, word druk bespreek op die breë rooi voorstoepe waar die huismense voor of ná die aandete ’n bietjie lug skep ná ’n onhebbelike warm dag. Een van dié aande onthou ek nou nog, nie omdat dit enigsins uitsonderlik was nie, maar omdat dit so tipies was. Ons was daar bymekaar saam met ’n paar bure of vriende wat op straat verbygekom het en binnegenooi is of hulle sommer self genooi het, toe ’n opgeskote kaalvoetmeisiekind in die diepskemer in ’n onchristelik kort rokkie verbykom. Dit sou sy kon wees wat ’n week of wat vantevore op ’n straathoek aan die touspring was, stip dopgehou deur oom Koot, Sondagskoolsuperintendent wat Sondae as voorsinger van die gemeente diens gedoen het. Hy had die koddige gewoonte om ná elke lettergreep sy mond toe te maak om te keer dat sy valstande uitval; en dié aand het sy ou vrou, tant Saar, op die stoep uitgekom terwyl hy so sit en staar na die kind met die opwiprokkie wat met elke spring haar maer kaal boudjies aan die wêreld ontbloot. In ’n stem wat ’n ploegskaar kon laat omkrul, wou tant Saar net daar weet wat hy so sit en kyk. Waarop oom Koot baie boos in haar rigting teruggekap het:

    "Ek kyk g’n niks. Daai ding is soos die weerlig: jy kyk nie vir hom nie, maar jy sien hom."

    Op dié bepaalde aand is die meisietjie deur een van die volborstige tantes nader geroep: Wat is jou naam, kind?

    Nellie, Antie.

    Is jy nou tant Meisie se dogter?

    Ja, Antie.

    En hoe gaan dit met haar? Ek het haar nie gisteraand by die biduur gesien nie.

    Nee, sy was mos siek, Antie.

    Wat makeer sy?

    Dis haar bors, Antie.

    Nog altyd daai bromkatjieding wat sy gehad het?

    Ja, Antie. Maar dis darem nou beter, Antie.

    So sy’s weer op die been?

    Ja, Antie, maar sy sukkel nog met die hoofpyn, Antie.

    Sê vir haar ek sal vir haar môreoggend ’n paar Grempapoeiers oorstuur.

    Dis goed so, Antie. Maar daar’s nog haar keel ook, Antie.

    Daai vrou moet beter agter haarself kyk.

    Ja, Antie. En sy sê haar linkerskouer is ook nog seer.

    Sy moet Samboksalf probeer.

    Ja, Antie. En die liddorings op haar kleintoontjie pla ook nog.

    Opnuut geluide van meelye.

    En dan sê sy haar agtertande pyn ook nog van die sinkings.

    Dis die loon van die sonde.

    Ja, Antie. En haar linkerknieg is nog sleg geswel van die water, Antie. En sy dink haar regterheup is uit sy potjie uit, Antie.

    En so gaan dit voort, ’n ongelooflike katalogus van kwale en skete. Eers nadat die meisiekind nie meer klagtes oorhet om te opper nie en die tantes op die stoep se rate opgedroog het, sê almal oor en weer nag en met ’n laaste fladdering van die kort rokkie verdwyn die kind in die donkerskemer in.

    Die grootmense sit nog en herkou aan die inligting en vergelyk dit met hul eie ondervindings van rampe en teenspoed, toe die dogter weer by die voorhekkie opdoem, uitasem van hardloop.

    Askies, Antie, sê sy hygend, maar Ma sê ek moet kom sê haar rug tel haar ook op. Sy dink dis haar niere, Antie.

    Die gesprek kry weer soos water in ’n besproeiingsbedding sy loop, met kolke en ompaaie om al die skinderstories en skandale van die dag – wat die skoolhoof en die skoolsekretaresse ná skoolure in sy kantoor aanvang; watse besigheid oubaas Yanasch, die rykste boer in die distrik, nog in die hotel kan hê nadat die kroeg toegemaak het, wanneer die gordyne toegetrek word voor die venster van my musiekjuffrou, Miss Jordaan; en hoe dit dan nou kom dat Kytie Venter, die nagwadrywer se voor-op-die-wa veertienjarige dogter, ewe skielik weer ’n sussie bygekry het terwyl almal weet haar ma kla al die laaste twee jaar van warm gloede; hoe en deur wie dit gekom het dat verlede jaar se Sap-kandidaat in die verkiesing geteer-en-veer is; hoe daar oornag twee ongemerkte grafte op Gert Greyling se plaas verskyn het net nadat hy die vorige dag rusie gehad het met twee van sy werkers wat kom kla het dat hy hulle lone teruggehou het; en watter toeval dit is dat oom Hennerik Hanekom, die hoofouderling, verongeluk het net nadat hy die aand ure lank in skriflesing en gebed saam met die jong Lettie van Wyk deurgebring het juis terwyl haar man, die mekênniek by die Pegasus-garage, Bloemfontein toe is om parte vir sy Chev te gaan soek. Stukkies en brokkies van nuus en gerugte van nuus in die groter legkaart van dorp en distrik. Selfs as daar niks vanselfsprekends is wat hulle op die oppervlak verbind nie, is daar iewers op die agtergrond altyd iets vaagweg of openlik onheilspellends, iets gewelddadigs, iets onverklaarbaars. ’n Suggestie van sonde en gevaar waarsonder geen dorp kan oorlewe nie.

    En daarmee word nog ’n dag en nog ’n nag tot sy vadere versamel. Binne ’n paar uur sal die dorp se kragstasie die ligte afskakel en middernagtelike duisternis oorneem; sterre so groot soos tamaai wit blomme sal tot amper binne bereik neerdaal, so naby dat as jy jou kop teen die regte hoek draai, jy hulle na bewering kan hóór. In die huise sal olie- en paraffienlampe aangesteek word, slaapkamers sal oorweldig word deur die reuk van waskerse. In sulke nagte is dit nie moeilik om jou spoke en geeste en gedaantes voor te stel nie, en om jou ná donker in die kerkhof te begewe, soos party van ons seunskinders soms gedoen het as ons uitgedaag is of iets aan onsself moes bewys, dan moet jy besef jy waag nou jou lewe in die voorportaal van die hel.

    Dat dié nog ’n ander tyd is, gewaar mens ook in die winkels waar oop goiingsakke met meel en mielies, sousboontjies en suiker en droëvrugte in netjiese rye gepak staan, langs rolle binddraad en ogiesdraad. Kiste tee, glashouers met lekkergoed – joepjoepies en suurklontjies en taai toffies en repe drop en gevlegte borssuiker en sjokolade en die spesiale gunsteling wat wyd en syd en rassisties bekend staan as niekerbols. Dit blyk ook op Sondae, wanneer boere so ongemaklik opgestop soos wolbale in knap kisklere kerk toe kom op perdekarre en kapkarre en spaaiders of dekoratief geverfde muil- en donkiewaens.

    Die kerk. Party van dié dorpies het ook ’n sinagoge of ’n Anglikaanse of selfs ’n Rooms-Katolieke kerk; maar die hart van al die dorpsaktiwiteite is Nederduits-Gereformeerd, geregeer deur die onbetwiste drie-eenheid van dominee, koster en orrelis. (Die naaste wat ek ooit aan die magsetel gekom het – nadat ek finaal my ouers teleurgestel het deur nie vir predikant te gaan studeer nie – was om Dinsdagmiddae in die kerksaal die ou regop harmoniumpie vir die Kinderkrans te bespeel. Dit het ek met groot toewyding gedoen en in die proses die Hallelujaliedere so versier met uitweidings en tierlantyntjies dat party van hulle tot twee keer hul gewone lengte gerek het.) Dit was hier dat sonde gedefinieer is – en minstens ten dele sy oorsprong gehad het – en waar heelwat van my jeugdige besef van die bose ontstaan het. Nog meer as die stories van die broers Grimm, was dit die Bybel wat ons verbeelding aangegryp het met sy opstapeling van geweld en wreedheid, meestal opwindend deurspek met seks en gerugte van seks. Dit het begin met God se onregverdige verdrywing van Adam en Eva uit die Tuin van Eden net oor hulle gedoen het wat hy uit die staanspoor behoort te voorsien het. En daarna Kain wat die mamma-se-kindjie Abel oor die kop gemoer het. En al daardie gewelddadige seuns van God wat ingegaan het by die bekoorlike dogters van mense. En Lot wat aangebied het om sy eie dogters oor te lewer aan die gepeupel wat voor sy huis geskreeu het om die twee vreemdelinge wat daar tuisgaan by te kom en te naai (te beken, soos die Bybel dit ewe vroom verwoord). En ná die vernietiging van die stad, toe maak daardie einste dogters hulle pa so dronk dat hulle, weer in die terminologie van die Woord, by hom kon gaan om glo sy saad te bewaar. En God wat vir Abraham beveel om sy eie seun Isak keelaf te sny net om hom te beproef. En Josef se broers wat hom in ’n put gooi om ontslae te raak van sy kastige dromery. En dan die verkragting van Dina. En die bloeddorstige wraak van Simeon en Levi. En Moses wat beveel dat al die Midianitiese vroue uitgeroei moet word, behalwe die maagde wat opsy gehou word vir die luste van sy soldate. En Tamar wat haar as ’n hoer vermom sodat sy haar skoonpa kan verlei. En die godvresende Jefta wat sy eie dogter vermoor om ’n eed aan sy bloeddorstige god na te kom. En Ohóla en Ohóliba wat smag na die jong minnaars wat sinlik soos esels en onstuimig van drif was soos perde. Daarna die Nuwe Testament, met sy eie katalogus van gruwele. Selfs Jesus is verdag – in sy geval darem nie soseer oor geweld nie as oor meer subtiele vorme van wreedheid; een keer as sy ma en sy broers hom kom besoek (Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand uit oor sy dissipels en sê: Dáár is my moeder en my broers); een keer as sy ma hom by ’n troue vir wyn vra en hy haar bestraf: Vrou, wat het Ek met u te doen? Ek het al baie dominees met hoogheilige verduidelikings oor dié episodes hoor uitwei, maar meestal het dit na goedpratery geklink. Al het dit jare lank die besef help onderdruk, kon dit nie op die duur die indruk uit die weg ruim dat daar onder die oppervlak van die Bybelse woorde dieselfde bedreigende donkerte skuil wat ek in die vertroude klein dorpies van my jeug aangevoel het nie.

    Selfs goeie dade en liefdadigheid het staatgemaak op geweld. Ek het g’n bedenkings gehad oor die afkap van ’n hoender se kop nie en my verkneuter oor die rondfladder van afkophoenders in ons agterplaas voor ’n goeie Sondagmaal (hoewel dit meermale tot nagmerries gelei het en ek dit nooit gewaag het om die daad self te pleeg nie, selfs nie wanneer my pa my die mes of handbyltjie wou gee wat hy eiehandig met groot behae skerpgemaak het nie). Maar daar was iets morbieds omtrent die keelafsny van ’n skaap – die agteroorstrek van die nek om dit so styf as moontlik te span, totdat die oë wit omdop; dan die enkele flinke haal van die lang skerp lem, en die laaste gesmoorde blêr wat verander in ’n geroggel as die fontein helder bloed uit die sny spuit. Dit is gewoonlik teen Kerstyd deur my pa en ’n paar helpers gedoen, wanneer die ACVV in ons kombuis en agterplaas die kospakkies vir die armes en minderbevoorregtes voorberei het, meestal vergesel van kleurryke traktaatjies oor die genade van God en die helende krag van die offerande van die Lam. En daar het altyd ’n soort atavistiese wellus bly draal oor die dominee se woorde by die Nagmaal: Neem, eet, drink, dit is my liggaam en my bloed.

    Dit lyk vir my ál meer asof juis dit die sleutel is tot daardie dorpies van my jeug wat soos ’n stringetjie stowwerige krale ingeryg is langs die eindelose paaie van ons binneland. En die indruk is verhewig deur die gevoel van eensaamheid en afsonderlikheid wat elkeen van hulle in die eindelose hol ruimte van die ewigheid omring.

    ’n Honderd myl in een rigting, miskien tweehonderd in ’n ander, sou daar moontlik nog ’n dorp of selfs ’n stad lê, waarheen mens se ma miskien al om die drie of ses maande saam met ’n motor vol vriendinne ry vir ’n dag se inkopies, van waar sy sou terugkom met haar klein oranjebruin soetkysie propvol wonderbaarlikhede uit ’n ander wêreld. Behalwe Kersfees en verjaardae was dit die enigste geleentheid vir geskenke. Selfs al was mens se pa ’n magistraat, was daar nooit geld om kinders te bederf nie. Tot in die hoërskool het ek nooit meer as twee pennies per week aan sakgeld gekry nie; dit beteken dat toe ek eendag in die enigste kruidenierswinkel op die dorp ’n klein rooi speelgoedkarretjie teen die verbysterende prys van nege pennies gewaar het, ek met die winkelier, mnr. Levin, moes afspreek om dit meer as ’n maand lank vir my te bêre totdat ek die volle bedrag kon bekostig. Ek onthou nou nog die lang, opwindende, gevaarlike stap na die winkel, met my pennies in ’n bruin koevert in my hempsak toegespeld, en hoe ek kort-kort omgekyk het om seker te maak ek word nie deur ’n rowerbende agtervolg nie. Selfs die wete dat as ek wel aangeval word, my pa die booswigte tronk toe sou stuur, het my nie veel veiliger laat voel nie.

    Daar was nog ander gevare op die pad wat my kon oorval. Daar was Ria, die chronies glimlaggende boggelrugdogter van vriende van my ouers, wat daarvoor bekend was dat sy skielik in die stof kon neerval en begin wriemel en skop terwyl aaklige geluide uit haar skuimende mond kom, soos iets uit die Bybel. Of Agnes met die haaslip, wat deur die duiwel self gesplyt is uit straf vir die een of ander onnoembare sonde wat drie of vier geslagte gelede deur iemand in haar familie gepleeg is. Of die jong reus, Neels, wat ná die lang, pynlike dood van sy pa die gewoonte gehad het om elke Sondag sy arme ou vet ma voos te slaan. Of miesies Oberholzer wat in ’n skoenboks begrawe is toe sy as baba dood is, en toe op haar begrafnis gered is toe iemand ’n gekerm uit die boks hoor; en wat daarna ’n vrou van oor die sewe voet geword het. Of oubaas Rohloff, wat ’n Duitser was en daarom dwarsdeur die Oorlog onder huisarres gehou is, ’n petietserige bakbeen-mannetjie met ’n Einstein-boskasie en waterige ogies wat mens altyd deur baie dik, baie stowwerige brilglase aangegluur het. In ’n uitstalkas het hy ’n verstommende versameling tande van haaie en seekoeie en vlakvarke en ’n leeu aangehou. Teen die end van die oorlog was daar ook nog ’n storie dat hy in ’n verborge kissie die tande van sewe Jode gebêre het. Ek het op ’n keer probeer om hom af te pers om die versameling vir ’n sikspens aan my te verkoop; en toe hy weier, het ek ’n inbraak probeer reël om die tande te steel, maar dit is in die wiele gery deur sy dogter Christa wat my klavierles gegee het. Ek het eers van die plan afgesien nadat die oubaas, aan die hand van foto’s van Toscanini, probeer het om my te leer om die skool se slagorkes te dirigeer. Afgesien van al dié vrese en probleme, was ek ook nog bang dat ek my kon vasloop in Robert, die swart konstabel wie se gewoonte dit was om katte te eet. (Toe my ouers eenkeer, om redes wat vir my nou nog duister is, van ’n rondloperkat ontslae moes raak, het my pa hom vir Robert gegee; en dié het hom die volgende dag baie hartlik kom bedank vir die heerlike katvleis; maar ’n week daarna was die kat weer daar.) En dan was daar bowendien die kans dat ek voorgekeer kon word deur enige van die menigte spoke uit die wonderlike stories wat ou ooms met baarde of ou tantes met snorre tydens kuiers op plase oor naweke vertel het.

    Maar op die ou end het ek tog veilig by die winkel uitgekom en my karretjie gekoop; en daarna amper nooit weer daarmee gespeel nie.

    Om die waarheid te sê, ek het dit baie meer geniet om met Elbie se poppe te speel. Ek het self ook een gehad, ’n lappop genaamd Jannie, met ’n simpel gesig daarop geverf, vir wie ek eenkeer ’n das probeer brei het; maar omdat niemand my ooit gewys het hoe om ’n stuk breiwerk af te eindig nie, het ek toe maar aangehou tot die wol op is en die ding al by die voordeur begin uitkruip. Daarna het ek my tot Elbie se poppe beperk, nie net oor die das nie maar omdat haar poppe, anders as Jannie, almal vroulik was en omdat dit my baie meer plesier verskaf het om hulle uit te trek as vir hom. Ek het ook seker gemaak – mislike klein stront wat ek was – dat ek altyd die een kies waarvoor sy op die gegewe oomblik die liefste was.

    Daar was net een van haar poppe wat ek nie kon verdra nie. ’n Regte klein bedorwe brokkie met blou oë wat oop- en toegaan en ’n tuitbekke met ’n stupid grynslaggie. Elbie was versot op Toetsie. Maar Toetsie, met haar harde geverfde kop en arms en bene wat so skynheilig probeer veins het dat haar lyf sommer net opgestop is, het my g’n rus of duurte gegee nie. Selfs snags het sy my in my drome gepla. Ek het haar verpes. So hartstogtelik dat ek besluit het om haar dood te maak. Wat ek toe een middag gedoen het deur ’n ysterpen deur haar geverfde keel in te kap. Daarna het ek Toetsie in ’n vlak graf begrawe. Maar in plaas van my gemoedsrus te verseker, het ek die nag in ’n koue sweet wakker geword. Net godsdiens kon my red. Op die leë erf agter ons huis het ek ’n altaar gepak waarop ek van plan was om my heel kosbaarste besittings aan die Here te offer om vir my skuld te vergoed. Om die een of ander rede het ek gereken dat die altaar uit twaalf klippe moet bestaan, maar die enigste klippe wat ’n maergatjie soos ek kon hanteer, het ’n altaar van skaars ’n voet hoog opgelewer. Daarom het ek maar nog tien bygevoeg. Bo-op het ek my kosbare rooi karretjie neergesit. Maar op die laaste nippertjie, doodbang dat daar dalk regtig vuur uit die hemel kon kom, het ek dit weer afgehaal en ’n seepsteen met ’n interessante fatsoen in die plek daarvan gelos. Dit het ’n tydjie geduur om my daarvan te oortuig dat dié klip regtig, voor die Here, my kosbaarste besitting was (want vanselfsprekend sou niks minder as dit genade en guns in die oë van die Allerhoogste vind nie). Ek het gebid en gebid tot ek blou in die gesig is, en vas geglo dat God teen dié tyd volkome oortuig moet wees van my opregte bedoeling. Maar dit was soos die bleddie priesters van Baäl wat so vergeefs probeer het om reën uit hul heidense god te melk. Niemand daarbo het na my geluister nie. En toe my ma my uiteindelik vir aandete roep, moes ek maar aanvaar dat ek nie op die Here kon staatmaak nie. Nog ’n nag sonder slaap.

    Die volgende dag het ek maar skuld op die moord beken. Eers het ek dit op die Duiwel probeer afskuif, soos die Suid-Afrikaanse krieketkaptein Hansie Cronjé baie jare later ook probeer doen het, maar tevergeefs. Ek is toe darem nie in ’n vliegtuigongeluk uitgewis nie, maar my gat het nog dae daarna gebrand. Ek lewe ten minste nog, en word nie meer veel van God gepla nie.

    Daardie moord het plaasgevind in die konteks van allesoorheersende geweld. In my leeswerk oor baie jare in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, veral die 18de eeu, het die uiterste geweld wat uit wans uit die gewelddadige botsings tussen rassegroepe gekenmerk het, my nog altyd getref. Sulke botsings vind natuurlik in alle gemeenskappe plaas: maar in die Suid-Afrikaanse konteks was daar nog altyd, sonder uitsondering, ’n bykomende oorskot van geweld, ’n surplus aan geweld. Ek onthou hoe ’n vriend op universiteit my jare gelede vertel het van ’n rit wat hy destyds saam met ’n span polisie onderneem het om ’n klomp veediewe vas te trek wat moord en doodslag op hulle plaas gesaai het. Ná ’n nag en dag van spoorsnyery het hulle op ’n jong swartman afgekom wat op ’n plaaspad aanstryk met ’n bondel aan ’n kierie. Daar was op dees aarde niks wat hom aan die misdaad kon verbind nie. Maar hy was swart en hulle het op hom afgekom toe hul woede en frustrasie net mooi kookpunt bereik het; met dié het hulle by die bakkie uitgespring en wild en wakker begin skiet. Die jong man het hom buite weste geskrik en begin hardloop. ’n Seker bewys van skuld. Hy is in albei bene gewond en het neergeval. Hulle het tot vlak by hom gehardloop en toe sy ruggraat met ’n skoot verbrysel. Daarop het die supplement gevolg: die konstabels het op hom toegesak en hom eers fyn en flenters geskop en geslaan voordat sy verpulpte liggaam agter in die bakkie gesmyt is en hulle hom na die polisieselle geneem het. Daar het hy oornag in ’n sel bly lê, waar al die konstabels aan diens hom kort-kort weer kom bydam het. Eers die volgende môre is hy hospitaal toe geneem. Op ’n byna ongelooflike manier het hy oorleef. Maande later is hy hof toe geneem. My pa het hom onskuldig bevind.

    En dit alles loop eeue ver terug: wit geweld op swartmense, swart geweld op witmense. Asof iets in die blote geografiese opset van die land al ’n soort desperaatheid bestem het waarvoor ’n oormaat van geweld die enigste hanteerbare uitdrukking was. En die mense wat deesdae die land verlaat omdat dit kwansuis te gewelddadig geraak het, of buitelanders wat om dieselfde rede verkies om die land nie te besoek nie, het klaarblyklik hul perspektief kwytgeraak op die lang, lang geskiedenis van buitensporige geweld wat agter ons lê.

    In my dorpe was geweld nie noodwendig altyd buitensporig nie; baie daarvan was inderwaarheid gedemp, of bedek, bepaal tot die huislike, met beperkte pyn of uitwerking. Maar dit was altyd daar. En dit het juis kenmerkend geword van die alledaagse en die gewone. Die dominee met die bloesende, vlesige gesig wat Sondag ná Sondag sy goeie bedoelings en die liefde van God uitgestraal het oor sy gemeente, en wie se maer, aantreklike vroutjie eendag nadat ons na ’n ander dorp verhuis het, in ’n hartverskeurende lang brief by my ma ontboesem het oor hoe hy rondslaap onder die vroue van diakens en steunpilare van die gemeente, en hoe hy haar skop en slaan as sy hom daaroor durf konfronteer. Een keer het hy haar inderdaad met ’n Bybel gegooi en ’n harde hoek het ’n pers kneusplek op haar linkerwang gelaat. My maat Katkop se pa, die slagter, ’n massiewe man met boarms soos hamme, het gereeld sy hele gesin Saterdagaande ná Boekevat bymekaargemaak – vrou en vyf kinders, seuns en dogters – en hulle almal met ’n sambok deurgeloop. Die ma was meermale onbekwaam om die Maandag of Dinsdag haar plek agter die toonbank in te neem; Katkop self sou gereeld, met ’n eienaardige soort trots, sy rug vir ons by die skool kom wys: partykeer was dit tot so ’n pappery geslaan dat sy hemp daaraan vassit. En natuurlik was daar ook slae op skool – die meisiekinders op hul hande of bene (maar in ernstige gevalle ook op die boude), seuns natuurlik gebukkend. Tradisie het bepaal dat die slagoffers gedurende die eerste pouse ná so ’n loesing agter die kleinhuisies voor hul klasmaats moes paradeer en broek aftrek om die skade te vertoon. Vir enigiets minder as bloedhale is hulle uitgelag.

    En ek onthou Elise. Sy was ’n jaar ouer as ek, maar in dieselfde klas. Die sersant se dogter, ’n aantreklike blonde meisiekind met twee lang vlegsels en blou oë, en die gesig van ’n stoute engel. Sy’t my gehelp om met ’n seëlversameling te begin. Sy’t my ook ingewy in party van die ontdekkings wat sy deur haar pa se werk gedoen het. Sy het byvoorbeeld vooruit geweet wanneer seuns – party agtien of negentien, ander so jonk as veertien of selfs twaalf – veroordeel is tot rottanghoue. (My pa sou die vonnis opgelê het, maar hy het nooit daaroor gepraat nie.) Die seun sou na die polisiestasie op ’n hoek van ons tamaai erf gebring word. En daar na ’n sinkplaatskuur met ’n skilferige rooi dak gebring word. Daarbinne sou hy kaal uitgetrek word. Daar was ’n lang, smal tafel waarop hy op sy maag moes gaan lê, sy arms en bene vasgehou deur vier konstabels. Daar was ook ’n distriksgeneesheer teenwoordig. En natuurlik die man wat die houe moes toedien, gewoonlik die bonkigste van al die polisie.

    Ons kon natuurlik nie sien wat binne gebeur nie. Maar Elise het presies geweet wanneer om te hurk om na die houe en die geskreeu te luister. Vir haar was die hoogtepunt wanneer die deur oopgegooi word en al die konstabels bulderend van die lag saamdrom terwyl die kaal seun soos ’n afkophoender tussen hulle deur uitgestorm kom buitentoe en kruis en dwars oor die gruis van die agterplaas rondhol. Ek onthou nog hoe sy gelag het – al was daar, verbeel ek my nou, iets histeries in die lag, omdat lag die enigste manier was waarop sy dit kón hanteer – en hoe sy agterna weer elke aaklige besonderheidjie oor en oor sou bespreek: die bloeiende hale oor sy rug en sy bleek boude, die strepe pis en stront teen sy bene af, die patetiese gedobber van sy piel. Een keer was sy so opgewonde dat sy self haar rok opgelig het, haar oë onnatuurlik groot en koorsig, om my te wys hoe sy haar óók natgemaak het. Een keer was vir my genoeg. Daarna het ek altyd redes gesoek om die vertoning te vermy. Maar Elise het nooit een misgeloop nie, en agterna sou sy my kom soek om my weer met gloeiende wange en blink oë alles te vertel wat gebeur het.

    In daardie selfde agterplaas met sy grysblou gruis het ’n jong polisieman, Grobler, een Woensdagmiddag selfmoord gepleeg deur hom dood te skiet, maar hy het nie goed gemik nie en iets van ’n gemors daarvan gemaak, sodat dit ’n hele ruk geduur het voor hy dood is. Ek weet nie waarom die dokter nie dadelik ontbied is nie. Maar die lyk is uitgeneem na een van die kleinhuisies in die agterplaas waar dit neergelê is tot dit opgelaai kon word, en weer was dit Elise wat met die nuus by my aangehol gekom het. Maar al wat ons van ons uitkykpos kon sien, was net een witblou kaalvoet wat by die kleinhuisie se oop deur uitsteek, en ’n groot kring bloed wat op die gruis lê en swart word. Ek onthou nog sy vuil toonnaels. En hoe dit my laat besluit het om elke aand my voete deeglik te was voor ek gaan slaap, net ingeval ek in die nag doodgaan.

    Dit was Elise se roekeloosheid wat my meegevoer het. Wanneer sy en haar beste maat, die dominee se oudste dogter, Maritha, agtergekom het daar is kuiergaste by die pastorie, het hulle vinnig hulle klere uitgetrek en in die groot peperboom teen die tuinpaadjie op pad na die voorhek geklim en daar wydsbeen op ’n oorhangtak gaan sit om te wag tot die mense onder hulle verbykom, en dan op hul koppe gepiepie.

    Nie al die herinneringe uit daardie tyd was heeltemal so dramaties nie, al bly die meeste van hulle nog helder. Soos die middag toe die mankolieke muilkarretjie in die straat voor ons huis verbygekom het, volgepak met die baie lede van ’n bruin familie. Die drywer was vermoedelik die pa, ’n klein biltongmannetjie met ’n groot flaphoed skeef op sy kop, besig om vervaard te skree op die armsalige ou grys muiltjie voor die hooggelaaide kar, terwyl hy die arme ding wild en wakker slaan. Op ’n gegewe oomblik kon die muil dit nie meer hou nie. Hy het gaan staan en probeer om in sy harnas te gaan lê. Die pa het van die kar afgespring. Met sy groot sweep het hy die kermende, bewende dier voos geslaan. Ek onthou nog die stofwolkies wat met elke hou van die benerige rug af opgeslaan het. Met amper ongelooflike inspanning het die muil weer stadig aan die gang gekom, terwyl hy kerm soos ’n mens.

    Jy kan nie so maak nie! het ek van die sypad af gekerm, te bang om hard te skree, maar nie by magte om langer my angs en my blinde woede te beteuel nie. Ek sal vir my pa gaan sê!

    Ha! het die man teruggeskree. En weggeval met nog ’n reeks houe. Hy’t skoon dubbel gevou van die inspanning, en toe een voet op die steppie gesit om hom weer op die karretjie te help. Maar met dié dat hy oor sy skouer kyk om my vir oulaas honend aan te gluur, trap hy mis en slaan in ’n stofwolk in die straat neer, en die naaste wiel van die wa ry bo-oor hom. En ek het weggehol om my pa te gaan roep.

    Om my pa te gaan roep … Dit was altyd die laaste toevlug, iets waarop ek instinktief staatgemaak het. Hy was immers die magistraat. Hy was tweede in bevel, ná die Here God. Hy’t alles geweet van Reg en Verkeerd, van Goed en Kwaad. Vandat ek omtrent nege was, het ek gereeld deur ’n sydeur by die hofsaal ingeglip terwyl hy besig was om ’n saak te verhoor en my dan op die heel agterste bank tuisgemaak om na die verrigtinge te luister. Die misdade was gewoonlik maar peuterig. ’n Verwaarloosde swartman in flenterklere beskuldig van diefstal, of dronkenskap, of rusverstoring en bakleiery, of oortreding van die aandklokreël deur ná die lui van die kerkklok om nege-uur of wanneer-ook-al sonder ’n pas van sy baas op straat te wees. Meer uitsonderlik sou ’n witman dalk aangekla word dat hy te hardhandig met een van sy swart arbeiders gewerk het, of sy vrou geslaan het, of versuim het om papgeld vir ’n buite-egtelike kind te betaal. Ek sou ewe aandagtig na alles sit en luister, probeer om die getuienis vir en teen uit te sif, of probeer om sin te maak uit die tolk se weergawe van die gebeure. Gewoonlik was daar geen snelskrywer in die hof nie en moes my pa alles eiehandig neerskryf in sy klein, verstommende skoonskrif op foliovelle met ’n ál breër wordende kantlyn. Wanneer die laaste bladsy vol was, sou hy die velle netjies in gelid skuif en onmiddellik begin om sy uitspraak te lees. Net in uitsonderlike gevalle sou die hof vir ’n uur of twee of tot die volgende dag verdaag word. En elke keer sou ek my verstom aan die presiesheid waarmee hy al die getuienis saamvat en reëlreg afstuur op die kern van die saak wat tussen soveel uitweiding en omhaal verborge lê. Jare daarna het ek eenkeer ’n vriend wat advokaat geword het en af en toe ’n saak in my pa se hof verdedig het, na sy mening gevra, en hy het gesê: Jong, met ou Brink op die bank, het mens altyd geweet dat die waarheid al is wat tel, maak nie saak wat die wet sê nie. Hy steur hom nooit aan die letter van die wet nie. Maar hy’t ’n baie sekure aanvoeling vir wat waar is en wat leuens. Dit het my nogal trots laat voel. Met God in die hemel en my pa op die bank, was alles nog wel met die wêreld.

    Maar toe kom daardie Saterdagmiddag toe die vreemde swartman in ons agterplaas opdaag. Hy’t niks aan sy lyf gehad wat mens klere kon noem nie: dit was net ’n versameling flenters en toiings, en hy’t geslinger soos ’n dronk man. Maar hy was nie dronk nie. Hy was in pyn. Sy gesig het gelyk asof dit skoon uit fatsoen geslaan en deur ’n vleismeul gestoot is. Bloed het uit ’n sny aan sy voorkop gestroom, en sy oë was amper onsigbaar. Ek was besig om tennis teen die huis se agtermuur te oefen toe hy deur die hek kom. Hy’t na die agterdeur gestrompel, daar op die gruis inmekaar gesak en sy rug teen die muur probeer stut.

    Duiselig van skok het ek na hom toe gekom en gevra wat hy soek. ’n Lang ruk het hy net bly kreun en mompel. Toe hy uiteindelik deur sy dik geswelde lippe probeer praat, het ek met moeite uitgemaak dat hy met die baas wil praat. Die magistraat. Maar my pa was nie tuis nie. Dit was Saterdagmiddag en hy was soos gewoonlik op die tennisbaan.

    Dit het na eeue gevoel voor ek dit kon waag om te vra: Wat het gebeur? Was daar ’n ongeluk?

    Hy het sy kop geskud en onsamehangend gemompel. Einde ten laaste het hy dit reggekry om te verduidelik: sy baas het hom geslaan. Ek kon nie uitmaak waarom nie. En ek kon nie glo dat een mens iemand anders só kon slaan nie. Ek het by hom gaan hurk en probeer om met hom te praat, om meer wys te word, maar ek was te geskok om iets gesê te kry. Uiteindelik het ek maar net daar bly sit en in stilte bly wag dat my pa moet huis toe kom. Want hy sou tog ’n antwoord en ’n oplossing hê.

    Maar toe hy tuiskom, het hy reguit in sy tennisklere van die motorhuis af huis toe geloop, by die gewonde man verby, en padgegee binnetoe. Ek het hom agterna gestaar sonder om te begryp wat aan die gang is. Ná ’n rukkie het ek opgestaan en my agter hom aangehaas.

    Pappie moet kom help, het ek gestotter. Daar het ’n vreeslike ding gebeur.

    Dis Saterdag. het my pa gesê. Ek is moeg. Ek gaan eers stort.

    Maar daardie man – het ek aangehou. Hulle’t hom amper doodgemaak. Ek kon my stem voel breek. Asseblief, Pappie.

    Hy kan weer Maandag terugkom.

    Asseblief tog! Teen dié tyd het ek openlik gestaan en huil.

    Nou gee my dan net ten minste tyd om te stort.

    Ek het kopskuddend in die gang bly staan. Gewag tot hy uiteindelik uit die badkamer kom. Dit het gelyk asof hy eers sitkamer toe wou koers, waar my ma met die tee wag, maar ek het hom voorgekeer. Met ’n ergerlike sug het hy toegegee en agter my aangekom buitentoe.

    Weer het die man sy storie gemompel, dié keer nog meer onverstaanbaar as tevore.

    Nog voor hy kon klaar praat, het my pa hom in die rede geval: Jy moet polisie toe gaan. Ek kan niks vir jou doen nie. Dis nie my werk nie.

    Ek was klaar by die poelies, het die swartman deur die bloed in sy mond probeer sê. Hulle’t my ook geslaan. Dis hoekom ek nou hier is.

    Hulle is die enigste mense wat jou kan help, het my pa geantwoord. Ek moet nou loop.

    In ten minste twee van my boeke het ek al oor dié insident geskryf, in die hoop dat ek die herinnering sou kon besweer. Maar dit help nie. Dit bly nog altyd by my spook. Tot vandag toe sien ek daardie kop, daardie hande, daardie bebloede gesig voor my. En ek dink nie dis ’n oordrywing om te sê dat die wêreld van daardie dag af vir my ’n ander plek geword het nie. My pa ’n ander mens.

    Daar was ook ander kere toe geweld my byna oorweldig het. Dis nie nodig om daarin te bly wroet nie. Net nog een herinnering – dié keer nie oor my pa nie, maar oor ’n besonder vrolike, hartlike, gulle mens by wie se familie, ou vriende van my ouers, ek gedurende die eerste paar jaar van my universiteitsloopbaan ’n kamer gehuur het. Oom John was ’n boer en sakeman, een van die snaaksste mense wat ek ooit geken het. Met ’n hart van goud, het almal graag gesê. En selfs in hierdie episode sou hy self eerlik geglo het dat hy op ’n besonder menslike en toegeeflike manier optree.

    Dit het oor ’n jong swart seun van so sestien of sewentien gegaan. Oom John het hom van een van sy plase in die Noord-Kaap gebring om op Potchefstroom in sy huis te kom werk. Destyds was ’n baie ou feodale stelsel nog op plase in swang en grond is gewoonlik saam met die lewende hawe, arbeiders inkluis, gekoop en verkoop; terwyl die plaas aan jou behoort, kon jy vryelik beskik oor die lewe van enige man, vrou of kind op jou eiendom. Toe oom John gevolglik ’n ekstra paar hande vir sy huis op die dorp nodig kry, kon hy Adam die paar honderd myl soontoe bring sonder om vir ’n oomblik te oorweeg of dit die seun sou pas of nie. Soos dit moes kom, was Adam ’n tingerige knaap, erg geheg aan sy ma wat destyds baie siek was.

    Skaars ’n maand nadat hy verplant is na die klein buitekamertjie in die agterplaas van die groot huis op Potch, het Adam weggeloop. Hy is in die buitewyke van die dorp gevang en teruggebring. Hy wou net sy ma gaan sien, het hy verduidelik. Hy het ewe tegemoetkomend met ’n waarskuwing en ’n paar klappe om die ore daarvan afgekom en is verseker dat hy vir Kersfees kon plaas toe gaan. Oom John was regtig ’n menslike mens. Die probleem was dat dit toe skaars April was, en dit was nie seker of die seun se ma tot Kersfees sou hou nie.

    Maar daar is belangriker kwessies op die spel as die lewe of dood van ’n arbeider se ma op ’n afgeleë plaas.

    Die tweede keer toe Adam wegloop, het oom John dit nog steeds as iets van ’n grap beskou en hom nie te sleg deurgeloop nie. Ná drie dae was hy weer reg om in te val met die werk, sy opstandigheid oënskynlik effens ingetoom.

    Die derde keer was ernstig. Oom John het Adam na die polisiekantoor geneem om die saak te bespreek. Daar is hy effens onder hande geneem om dit aan hom tuis te bring dat daar maniere is om mens ordentlik te gedra. Die sersant aan diens het aan oom John voorgestel dat hulle die seun óf op hul eie beproefde manier onder hande kon neem om hom ’n les te leer, óf dat hy die kind kon saamneem huis toe om hom self ’n loesing te gee.

    Nee wat, het oom John gesê, hy wil nou nie hê die seun moet iets oorkom nie; eintlik was hy tog ’n goedgeaarde mannetjie. Die oom sou verkies om hom sommer self reg te sien, as die polisie hom kon verseker dat hy hulle toestemming het.

    Hulle het geen probleem gehad om toestemming te gee nie.

    Maar moenie dat die klein bliksem te lig daarvan afkom nie, het die sersant nog agterna gekorswel toe oom John aanstalte maak om te loop. Ook hy was ’n man met ’n sin vir humor.

    Met dié het oom John toe die volgende môre twee van sy bure oorgebring en Adam is na die kolehokkie toe geneem. Elk van die drie manne het ’n stuk tuinslang gehad. Met nog ’n paar ekstra lengtes vir die wis en die onwis. Selfs toe het oom John nog gewys hoe ’n bedagsame mens hy is. Om te verhoed dat die seun sy klere besmeer of verrinneweer, is hy kaal uitgetrek. En toe is die deur van die hokkie agter hulle toegetrek.

    Oom John se vrou en die dames wat sy vir tee oorgenooi het, het seker gemaak dat alle deure en vensters in die huis behoorlik toe was. Met dit en al kon dit nie die geluid van reëlmatige slae heeltemal uitsluit nie.

    Teen elfuur het ek geloop om liewer in die universiteitsbiblioteek te gaan werk.

    Toe ek kort ná twee terugkom, het die hoë klaaggeluid, nog steeds hoorbaar, gepaardgegaan met die dowwe, egalige smakgeluide uit die agterplaas. Ek het kortom gedraai en teruggegaan biblioteek toe.

    Teen vyfuur was hulle nog altyd besig om die seun te slaan. Selfs al kon mens teen daardie tyd nie meer sy gehuil hoor nie.

    Ek het op my bed gaan lê en my kop met altwee my kussings toegemaak.

    Kort voor aandetenstyd het die manne teruggekom, natgesweet en uitgeput. Ná hul uitmergelende dag het hulle behoefte aan lafenis gehad.

    Daardie nag het ek nie geslaap nie. Een bot sin het oor en oor deur my kop gemaal. Ek het op my bed gelê en my kop met twee kussings toegemaak. Asof my hele lewe, en die ganse geskiedenis van blanke beskawing in Suid-Afrika, in daardie paar woorde ingedruk kon word. Ek het toe al geweet dat Adam se stem, en die dowwe smakgeluide van daardie houe my die res van my lewe sou bybly. Dit sou my nooit weer met rus laat nie. Nooit ooit nie. Die simpele feit van geweld sou my nooit weer laat los nie. Dit was daar, en sou daar bly, waar ek ook al kom of gaan, wat ek ook al verder doen, vir ewig en altyd, amen.

    My eie dade van geweld was nie noemenswaardig nie. Tot my skande moet ek erken dat ek dit geniet het om voëls te skiet; maar meestal was hulle vir my te vinnig. Toe het ek begin om hulle te vang. My mees geslaagde wip was ’n hok, sowat ’n meter by ’n meter by ’n meter, toegemaak met ogies-draad, met ’n tregtervormige ingang waardeur voëls gelok deur fynmielies en broodkrummels kon inkom. Meestal het die hok leeg gebly. Maar een middag was daar nie minder nie as veertien voëltjies binne-in. Hulle het vervaard in die benoude ruimte rondgevlieg en hulle roekeloos teen die ogiesdraad aangesmyt. Ek het gewag tot my pa huis toe kom om by hom raad te vra. Draai hulle nekom, het hy lakoniek gesê. Ek het gretig my hand by die tregter ingesteek en daarin geslaag om een van die voëltjies beet te kry – ’n piepklein dingetjie met glansende groen vere en kraalogies met wit kringetjies rondom. Skielik het dit nie meer danig na pret gevoel nie. Maar ek het die koppie tussen duim en voorvinger beetgekry, my oë weggedraai, en begin woerwar asof ek ’n slinger beethet. Sonder sukses. Ek het weer probeer, al meer verwoed. Ná dertig of veertig swaaie het ek die voëltjie neergesit. Met ’n dowwe piepgeluidjie het hy dronkerig ’n paar treetjies diékant toe en dáárdie kant toe gegee en toe op ’n hopie bly sit. Maar sy oë was nog oop. Ek het opgegooi.

    Terug na my pa.

    Hoekom laat jy hulle nie net los nie? wou hy weet.

    Maar dit het my dae gekos om die hok te maak.

    Wel, jy’t hulle gevang, nou moet jy maar sien kom klaar.

    Dit was altyd sy benadering. (Toe ek jare later begin leer om motor te bestuur, het ek op ’n dag agteruit by die motorhuis probeer uitkom en in die deur vasgesit. Ek het hom probeer bel, maar hy’t net gesê: Jy het jou daar vasgery, nou moet jy self sien kom klaar. En as jy my kar skraap, is daar moeilikheid.)

    Ek het oorgeloop na die bure om hulle windbuks te leen. Een vir een het ek die oorblywende dertien voëltjies doodgeskiet. Dit was ’n gemors. Daar was g’n manier waarop hulle uit die hok kon kom nie: die doodvonnis was verseël. Kort voor lank was ek aan die huil. Dit het dertig, veertig skote gekos om almal af te maai, en die hele binnekant van die hok was naderhand oortrek van klein groen veertjies en rooi plasse en strepe bloed.

    My pa het my ingewy in die waardiger mannewêreld van die jag. Eers het hy my touwys gemaak met skyfskiet, waarmee ek nogal nie onbedrewe was nie. Mettertyd het ek gevorder tot die jagveld self. Ek kon bars van trots toe hy my die eerste keer saamgeneem het op een van die naweektogte waarop hy gereeld na plase in die distrik of elders genooi is. Meestal springbokke, soms blesbokke. Hy het ’n formidabele .303 gehad; ek moes regkom met ’n .22. Ek moet so dertien, veertien gewees het toe ek my eerste bok neergetrek het. Nogal ’n ordentlike skoot, op die knop van die linkerblad. Hy’t my goed geleer. Daar is ’n foto waarop ek met die slagoffer van my vroeë jagvaardigheid pronk en wat nogal meer van daardie jeugwêreld verraai as wat vir my vandag gemaklik is. Op die oppervlak: reine onskuld. Die gemaklike onskuld van ’n jong seun wat kan bars van trots in wat vermoedelik sy eerste langbroek is, wydsbeen oor ’n dooie springbok wat onrusbarend lewendig lyk. In ’n gebaar van ongeërgde baasskap hou hy dit aan die horings vas. Dis sý bok dié. Maar agter die kinderlike bekoring van die toneel skuil daar ’n baie reële en baie bloedige waarheid: iets moois wat uitgeroei moes word om ’n bloedlus te bevredig waarvan die seun hom nooit eens bewus was in sy gretigheid om deel te word van die wêreld en die tradisies van sy mense nie.

    Die doodskoot self was eintlik iets van ’n vloek: ek had nie die temperament van ’n suksesvolle jagter nie en wanneer daar ’n troppie bokke in die veld verskyn het, het ek gewoonlik sommer net kolf teen die skouer gegooi en laat waai. Meestal toe-oog. Ek is nie eens afgeskrik deur die gesig van ’n gewonde bok wat op drie bene weghardloop nie, met die vierde soos ’n woer-woer langs hom aan die swaai, totdat hy naderhand met ’n blêr van pyn inmekaarsak: dit was mos deel van die sport, deel van manwees. Eers baie jare later, terwyl ek besig was om ’n drama in destyds se Suidwes af te rig, en ’n paar van ons op Dirk Mudge se plaas gaan kampeer en jag het, het ek ’n bewuste keuse gemaak om op te hou jag. Op daardie laatmiddag was ons agter op ’n bakkie toe iemand ’n troppie gemsbokke tussen ’n lappie kameeldorings gewaar, so ’n honderd tree na links. Ek het baie sekuur aangelê. Toe ek die sneller trek, het ek geweet ek het hom. Maar die troppie het weggespaander en myne was nêrens. Daar was ’n hol kol op my maag. Mudge het ons baie spesifiek gewaarsku om niks te kwes nie. Teen donkeraand moes ons ophou soek. Douvoordag die volgende oggend het ’n paar Boesmanspoorsnyers die bok gekry, nie twintig tree van waar ek hom geskiet het nie. Toe eers het ek gehoor dat ná so ’n skoot in die hart die dier dikwels nog volspoed ’n ent hardloop voor hy in sy spore neersak. Teen die tyd dat die Boesmans die gemsbok opgespoor het, het die jakkalse en aasvoëls hom al bygekom. Van die bloederige karkas was net ’n klompie halfmane van ribbebene oor. Die bok se kop was betreklik ongeskonde, net die oë was uitgevreet. Die pragtige horings het in ’n heraldiese V teen die lug orent gestaan. Hulle het my dit as ’n trofee aangebied, maar ek wou dit nie hê nie. Ek was klaar met jag.

    Maar my mees intense betrokkenheid by geweld was hoofsaaklik in die verbeelding, en dit was meer skrikaanjaend as enigiets wat ek aan my lyf kon beleef. Dié beelde was afkomstig uit boeke, wat die gewoonte gehad het om uit te breek in drome wanneer ek dit die minste te wagte was. Soms was dit gebaseer op stories wat my pa my vertel het – van sterwende kinders in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog, of sake wat voor sy hof gekom het. Eenkeer het ’n paar vriende op besoek gekom en daar is ’n klompie forensiese foto’s rondgestuur uit ’n saak waarby hy betrokke was. Toe ek met die een of ander onskuldige verskoning in die sitkamer kom, is die foto’s haastig weggesteek en ek is nie toegelaat om te kyk nie. Maar ná skool die volgende dag, terwyl my pa nog op kantoor was, het ek afgekom op die stapeltjie foto’s waar iemand hulle op die ovaal eettafel vergeet het. Natuurlik het ek hulle blitsvinnig deurgekyk, nadat ek doodseker gemaak het daar is niemand naby nie. Ek het dadelik gewens dat ek dit nooit gedoen het nie. Die foto’s was baie kru en direk en gelukkig darem swart-en-wit: die lyke van ’n man en vrou wat op hul plaas oorval is en met pangas uitmekaar gekap is. Die man se skedel was verbrysel. Die vrou se lyk het ongemaklik oor ’n rusbank uitgestrek gelê, met net een skoen aan en met haar kop op die vloer; van kop tot toon was sy oortrek van diep kaphoue, swart van die bloed. Voor daardie dag het ek altyd gedink ek sou nog eendag in my pa se voetspore volg en ook magistraat word. Of dalk ’n advokaat. Maar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1