Van waar ek op my rug in ’n sementdam iewers in die Zuurberg dryf, sien ek ’n slurp bo my hang. Gelukkig is dit nie ’n olifant wat bo my wieg nie, maar die mooi nessie van ’n brilwewer – een van menige wat ek en my reismaat, Eloise Costandius, die laaste ruk gesien het. Om die waarheid te sê met dié dat dit die afgelope paar dae kort-kort reën, was dit vir lank die enigste “slurp” wat ons in Addo gewaar het, want die diere hoef nie uit te kom watergate toe nie. En waarskynlik die laaste ene. Dis ons laaste aand in Addo, en ek kan nie dink dat daar in hierdie bergagtige Kabouga-deel van die park olifante loop nie.
In die óú dae was hier grootvoete toe die Iqua, Damasqua en Gonaqua nog met hulle vee hier langs die Sondags-, Kabougas- en Witrivier rondgetrek het. Miskien selfs nog toe Xhosa-stamme hier krale gehad het, die hoofmanne Cungwa en Habana en hulle mense. Dis geil veld dié, hier moet sommer gróót wildtroppe geloop het.
Maar sedert die 1700’s het jagters inbeweeg en voor die voet doodgeskiet. Intussen is plase uitgemerk en die oorblywende olifante was net ’n las vir die boere. Ene maj. P.J. Pretorius is in 1919 aangestel om hulle van kant te maak en het in ’n jaar 114 olifante geskiet en ook twee kalfies gevang en aan