Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die troebel tyd
Die troebel tyd
Die troebel tyd
Ebook233 pages4 hours

Die troebel tyd

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Magrieta Prinsloo, dierkundige, se kop haak uit op die verkeerde antidepressant. Sy raak vervreem van haar kollegas, beledig haar departementshoof, en haar illustere akademiese loopbaan kom tot ’n einde. Sy aanvaar ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderrig, met die enigmatiese Markus Potsdam as hoof van die Kaapse tak. Daar word van haar verwag om te reis om met medewerkers te skakel, o.m. na die Oos-Kaap. Op hierdie reise kom sy heelwat teë – sowel medewerkers as walvisse – wat haar lewe in ’n beduidende ander koers stuur. Wanneer Markus Potsdam boonop op ’n oggend verdwyn, raak haar lewe nog verder gekompliseer. In Die troebel tyd bewys Winterbach weer haar merkwaardige vernuf as romansier, met ’n eiesoortige, snydende humor en ’n buitengewone insig in die menslike psige. Die roman is as wenner aangewys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2018
LanguageAfrikaans
Release dateOct 8, 2018
ISBN9780798177672
Die troebel tyd
Author

Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach is ’n veelbekroonde skrywer. Sy het al meermale die Hertzogprys, die M-Net-prys en die UJ-prys ontvang. Winterbach se romans het al in Nederland, Frankryk en Amerika verskyn. Sy woon op Stellenbosch en is ook ’n beeldende kunstenaar.

Read more from Ingrid Winterbach

Related to Die troebel tyd

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die troebel tyd

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die troebel tyd - Ingrid Winterbach

    Ingrid

    Winterbach

    Die troebel tyd

    Human & Rousseau

    Vir Brink en Liesbeth

    En vir Tertia Minnie

    Een

    Magrieta Prinsloo, dogter van die biologieonderwyser, lank, ferm kuite en boude, donker hare, regteroog wat neig om effens na buite te dwaal wanneer sy oorvermoeid is, doktor in die soölogie, hoof van ’n laboratorium met twaalf mense onder haar, kom in vroeg Januarie, ná ’n aanloop van etlike maande, geleidelik tot stilstand. ’n Donkerte, ’n dodelike torpor, neem geleidelik van haar besit. Die Japannese tantra, die Tibettaanse kuns, begin haar interesseer – die illustrasies van die terrible deities fassineer haar, met hulle angswekkende grynslagte, hulle drie oë, hulle veelvuldige arms, hulle linkervoet op die verbryselde skedel van die oorwonnenes, die krone en halsbande van skedels, die tromme van menslike vel, die halfskedels met bloed gevul. Hoe donkerder die beelde, hoe beter, hoe meer kan sy daarmee identifiseer. Op aanbeveling van ’n kollega gaan sien sy ’n psigiater. Hy sit haar op ’n middel wat nie die gewenste uitwerking op haar gemoed het nie. (Psigiatrie is ’n kuns, nie ’n wetenskap nie, verontskuldig hy hom later.)

    Van die een dag op die ander word sy uit haar dodelike torpor gelig. Sy kon ewe goed elektrokonvulsiewe terapie ondergaan het, so groot is die verandering. Sy kan snags haar hare sien orent staan – ’n gevolg van die elektriese lading van haar ooraktiewe sinapse. Ongeveer sestien weke lank is sy in ligtelaaie. Sy stort woedende trane – ná sewe droogogige maande. Sy is soos Chinnamasta, wat haar eie nek afkap om die dele van haar verdeelde self te voed. Sy is soos die godin Kali, wat gemeenskap met die lyk van Sjiva het, ’n swaard in een van haar vier hande, in die ander ’n lans, ’n halfskedel in die laaste twee. Haar een voet op die kop van ’n tier. Haar haarlose poes gepenetreer deur die dooie Sjiva se stywe wit piel.

    Niemand moet haar aanvat nie. Daar styg ’n energie op vanaf haar kont tot haar kroon. Dit dreig om haar te verswelg. In plaas van apaties bedruk, soos die voorafgaande maande, is sy woedend bedruk. Hekties, virulent bedruk. Sy beledig haar departementshoof (hy is volgens haar ’n stiksienige outokraat en ’n middelmatige wetenskaplike); sy sê die departement waaraan sy verbonde is in die openbaar sleg; sy beskuldig die assistente onder haar in die laboratorium van nalatigheid, dooierigheid en algemene onnoselheid; sy vervreem haar vriende van haar deur haar uitgesproke kritiek op alles wat hulle sê en doen.

    Sy gly soos ’n paling uit die omhelsing van Willem, haar man. Ek wil jou graag liefhê, sê sy, maar ek kan nie meer nie. Van my beste voornemens kom daar niks. Ek verlang na die geborgenheid van jou arms, maar sodra jy my omhels, voel ek versmoor, en kan ek nie asem kry nie. Toe sy dit herhaaldelik sê, op verskillende maniere, oor ’n tydperk van ’n hele paar weke, sê hy, as dit is hoe jy voel, dan moet ons daaraan begin dink dat ons paaie voorlopig skei. Nou ja, dink sy, as dit moet, dan moet dit seker.

    Die skedel is haar banier, die dood se oppermag haar wapenskild. Sy droom van vuur, van kronkelende slange, van tierende storms, van mense van wie die vel afgetrek is.

    Sy stap snags alleen deur die strate, sy stap bedags op haar eie diep in die wingerd, sy dink, laat één, laat net één enkele siel dit wáág om aan haar te raak. Sy sal hulle onthoof en hulle liggaam in stukke kap.

    Met elke sesweeklikse besoek aan die psigiater sê hy, kom ons gee die middel nóg ses weke kans om behoorlik in te skop. Maar toe sy oplaas haar werk bedank en heelwat skepe agter haar verbrand het, stort sy in ’n miserabele hoop by hom ineen. So kan ek nie aanhou nie, roep sy uit, ek brand, ek verbrand, ek brand uit! Hy klik simpatiek, maak aantekeninge op sy tablet, en skryf ’n nuwe middel voor.

    Hierdie nuwe middel laat haar bedaar en temper haar. Maar steeds ervaar sy nie die gevoelens van genoegdoening en diep innerlike vrede waarop sy in die eerste instansie gehoop het nie. Geen verligting nie, geen samekoms van die manlike en vroulike element in ’n kosmiese eenheid nie. Allermins. Sy is getugtig, in die bek geruk, skepties, en werkloos – en dit ná ’n soliede akademiese loopbaan.

    Sy gaan sit twee weke lank in ’n vriendin se vakansiehuis by die see. Toe staan sy op, reageer op ’n advertensie in die koerant, en doen aansoek om ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderrig.

    *

    In die middel van Mei was sy haar hare, wend lipstiffie en maskara aan, dra hoëhakskoene en ’n pencil-skirtjie, maar sy kon net sowel in plakkies met ongewaste hare gegaan het, want tydens die onderhoud kyk Markus Potsdam, die direkteur van die Kaapse tak van die Buro, nouliks op van sy rekenaar. Die Buro bied afstandonderrig vir studente. Hulle moet reeds gegradueer wees om te kwalifiseer vir die kursus. Dit kan as ’n soort oorbruggingskursus gesien word tussen ’n voor- en nagraadse opleiding. Hierdie Kaapse tak van die Buro is pas onlangs gevestig en nog nie heeltemal goed op dreef nie – daar is uiteraard nog vestigingsprobleme wat aangespreek moet word, sê Potsdam. Hy werk aan die haakplekke. Sy moet nuwe medewerkers werf, met bestaande medewerkers skakel. Dit beteken dat sy soms sal moet reis. Soms op kort kennisgewing. In die Oos- en die Wes-Kaap, en soms na die hoofkantoor in Gauteng. Het sy beswaar teen ongereelde ure? Nee. Hy sien sy’s goed gekwalifiseer. Kan sy bondig haar gebied van kundigheid saamvat? Sy’t gewerk op die evolusionêre ontwikkeling van die filum Annelida uit die Ordovisium; op die erdwurm, om presies te wees. Die erdwurm, sê hy, en kyk vlugtig op. Ja, sê sy. Waarom die Ordovisium? Dis die bloeityd van die ongewerweldes. Hy knik kortliks. Formeel geklee in ’n langmouhemp en das. Die hemp span effens oor sy skouers. Kort donker baard, donker hare, donker wenkbroue en oë. (So anders as Willem in voorkoms.) Sy skat hom laat veertigs, ongeveer haar eie leeftyd, dalk ’n bietjie jonger as sy. Hy maak nie maklik oogkontak nie en toe hulle oë ’n keer ontmoet, is sy blik pynlik verleë. Waarom dink sy sy is geskik vir die betrekking? Sy’s goed met mense, sy’t baie kontakte in die akademiese wêreld, sy kan inligting vinnig verwerk, sy’t ’n breë belangstellingsveld (sy’s nie net kundig oor wurms nie; sy’s ingelig oor kuns, sy lees poësie). Waarom het sy haar – hy kyk weer vlugtig na haar CV voor hom – suksesvolle akademiese loopbaan opgesê? Sy was lus vir ’n verandering (verswyg die fiasko van die afgelope vier maande). Hy laat dit gelukkig daar. Hoe goed is haar wiskunde? Goed genoeg, sê sy, maar dit hang af – sou sy byvoorbeeld multi-variabele analise moet kan doen? Hy kyk weer vinnig op, takseer die opmerking, en neem kennis van die ironie. Ja, byvoorbeeld, sê hy. (Sy is dankbaar dat dit lyk of hy ten minste ontvanklik is vir ironie.) Berekenings, vooruitskattings? sê hy. Nie ’n probleem nie, sê sy. Wanneer kan sy begin? vra hy. Die volgende dag, sê sy.

    *

    Magrieta se kantoor is kleiner as Potsdam s’n. Hulle albei het vensters wat uitkyk op Stellenboschberg op ’n afstand. Die sekretaresse, mevrou Beetge, se kantoor is langs Potsdam s’n. Al drie kantore is bereikbaar deur ’n klein ontvangsarea. Mevrou Beetge het twee rooi kolle op haar wange. Haar hare is ’n universele donker rooibruin skakering gekleur en strooiagtig van tekstuur. Haar wenkbroue word beklemtoon deur twee effens onreëlmatig ingetekende strepies. Sy het ’n permanent verbaasde uitdrukking; Magrieta is nie seker of die vrou haar van die een dag tot die volgende herken nie. Maar sy laat waai agter die rekenaar en haar liasseersisteem is onberispelik.

    Wanneer Magrieta soggens opdaag, is Potsdam reeds in sy kantoor. Haar eerste opdrag is om te skakel met agent Dommisse, ’n medewerker wat verantwoordelik is vir hulle ekonomie-komponent. Agent? Het sy reg gehoor? Potsdam sê dit sonder om te blik of te bloos. Bestuur hy hierdie buro soos ’n spioenasie-eenheid? Vir al wat sy weet, is sy nou ’n geheime agent. (’n Welkome afwisseling ná haar akademiese loopbaan.)

    Magrieta en Willem raak geleidelik weer versoen. Hy is bereid om haar terug te neem ná haar manies-destruktiewe periode, toe sy vir hom gesê het dat sy haar van hom afsluit in sy omhelsing en dat sy in haarself nie meer die vermoë vind om hom lief te hê nie. Hy is diep gekwets deur haar abrupte verwerping van hom die voorafgaande weke. Hy is geskok, sê hy, dat sy bereid was om ’n vertrouensverhouding van vyftien jaar net so oorboord te gooi. Hy weet nie of hy haar ooit weer heeltemal sal kan vertrou nie. Dit oortuig hom nie heeltemal dat sy as verweer die verkeerde antidepressant die skuld gee nie.

    Willem is ’n nugter, sober man, hy dra nie sy hart op sy mou nie. Sy emosies loop diep, so goed as ondergronds. Hy reageer heftig op haar verwerping deur hom van haar af te sluit. Dit is ’n lang tyd stram tussen hulle. Sy moet met die grootste geduld, takt en liefdevolle omsigtigheid sy weerstand oorwin en sy vertroue wen.

    Twee

    In Junie stuur Markus Potsdam Magrieta Prinsloo na die Oos-Kaap om daar ’n nuwe medewerker te werf en met ’n bestaande medewerker te skakel (hy verwys na hulle onderskeidelik as agente Oliver en Green). Voorts is daar ’n ander medewerker, ’n meisie by wie Magrieta moet uitvind of sy nog die mas opkom, dit lyk of sy sukkel.

    Magrieta sien op teen die reis, sy is nie seker of haar nuwe antidepressant werk nie. In die Baai wag ’n man en vrou haar in toe sy aankom. Die man hou ’n rekenaartablet omhoog met haar naam daarop. Die vrou dra ’n grysblou jas van ’n goedkoop stof. By haar regtermondhoek het sy ’n onooglike letsel. Dit lyk soos ’n stuk geskeurde materiaal wat slordig toegewerk is sodat die lap op een plek vreemd plooi. Magrieta sit agter, die man en vrou sit voor. In haar regteroor, sien sy, het die vrou ’n wattepluisie. ’n Oorinfeksie of permanent beskadigde oordrom, raai sy.

    In Albany-Wes word sy by ’n gastehuis in die dorp afgelaai. Die eienares, ’n bekommerde jong vrou, bied tee en beskuit aan. Sy waarsku Magrieta dat sy nie water uit die kraan moet drink nie, en dat die watervoorraad soms onverwags afgesny raak. Dis koud. Die wind waai. Teen halfses die aand is dit buite so nat en blou dat die wêreld soos ’n enorme akwarium lyk. Sy ontvang ’n whatsapp: Alles is pandemonium. Niemand weet wie in die bed is met wie nie. Xander is skynbaar terug uit Pretoria, minus sy geheue en sy sanity. Maar steeds bruikbaar as ’n figurehead. Sy het nie die geringste idee van wie dit kom nie.

    Dis ’n koue nag vol wind en reën. Magrieta spoedlees ’n roman wat sy op die boekrakkie in haar kamer aantref. Dit speel in Tokio af. Sy slaan Endgame van Samuel Beckett oop soos mense die Bybel oopslaan vir ’n rigtinggewende teksvers. Haar oog val op die volgende woorde: I say to myself the earth is extinguished, though I never saw it lit.

    Ondanks ’n goeie nagrus voel sy die volgende oggend nie goed nie. Sy ontmoet agent Oliver soos afgespreek by ’n coffee shop in die dorp. Sy naam is Jerry Oliver, hy is ’n paleoklimatoloog. Hy is reeds daar toe sy inkom, besig om iets op sy Kindle te lees. Hy is in ’n rolstoel. Markus Potsdam het dit nie genoem nie. Sy het ’n keer ’n roman gelees waarin ’n terreurgroep almal in rolstoele is. Baie gewelddadige groep. Politieke agenda. Sy gaan sit; skud agent Oliver se hand – koel en droog. Ylerige grys hare, snor en netjies getrimde grys baardjie. Hooded oë. Hy bestel wortelkoek en tee. Sy bestel koffie. Sy moet hom werf as medewerker. Hy sal onder meer vir ’n module oor klimaat verantwoordelik wees.

    Wat lees hy? Hy lees Heidegger. (Al wat sy van Heidegger weet, is dat hy Nazi-simpatieë gehad het.) ’n Rolstoelterroris met ’n klap weg van die filosofie, dink sy. Sy probeer nie laat blyk dat sy onkant gevang is nie. Nie net daardeur dat agent Oliver in ’n rolstoel is nie, maar ook omdat sy verwag het dat hy dadelik gaan wegval met ’n uiteensetting van sy spesialisgebied – hoe ’n ondersoek na die klimaat van die Kambriese ontploffing lig kan werp op toekomstige klimatologiese verwikkelings op aarde. (Sy’s goed vertroud met die trieks van akademici – steek dadelik hulle kleim af en verdedig dit tot hulle laaste asem.)

    Sy moet die gesprek aan die gang hou. Agent Oliver fokus op sy wortelkoek en tee. Effens vyandige uitstraling, as sy dit nie mis het nie. Hoe is die koek? Nie sleg nie. Binne die vertrek is die lig gedemp. Buite is die lug grys. In haar hart en kop is alles ook grys, dink sy. Dalk die nuwe pil. Die grysheid daal uit die hemel neer en sypel die coffee shop geleidelik binne. Dit gaan lê op alles: op agent Oliver, op die ander kliënte, op al die uitgestalde eetware op die rakke, op die tydskrifte, die dag se koerante, die mure, die plakkate van verskillende soorte kase teen die mure, op die vloer, die plafon. Die gewig van die insypelende grysheid dreig om haar longe plat te druk. Sy neem aan Markus Potsdam was al met hom in verbinding, sê sy. Hy knik. En hoe voel hy oor moontlike medewerking? vra sy.

    Agent Oliver dep sy mond met sy servet, vou dit op, sit dit versigtig neer en sê: Met alle respek, juffrou, sê jy vir Markus Potsdam, hy kan sy Buro in sy gat steek. Magrieta is ’n paar oomblikke heeltemal uit die veld geslaan. Hoekom het jy dan ingestem om my hoegenaamd te ontmoet? vra sy. Om persoonlik die boodskap oor te dra, sê hy. En nou, as jy my sal verskoon, en hy tel sy Kindle op.

    Magrieta staan op, haar bene effens bewerig. Sy gaan sit weer. Wat het jy teen Markus Potsdam? vra sy. Vra hom as jy hom weer sien, sê die man. Jy’t my tyd gemors, sê sy. Hy haal sy skouers op. Sy staan weer op, groet hom nie, en verlaat die coffee shop vinnig. Toe sy buite kom, kyk sy links en regs, en kies ’n roete. Af met die straat, regs op by ’n systraat tot in die hoofstraat, verby King Pie, Checkers, ’n bank, apteek, verby straatverkopers wat horlosies, pette en allerlei ander ware verkoop, bedelaars, vroue met babas op hulle rûe voor die poskantoor.

    Tot in die onderdorp hardloop sy, regs van die katedraal verby, voor die sypelende grysheid uit wat dreig om haar in te haal. Haar asem jaag. Daar is iets gewelddadigs in die atmosfeer aan die broei. Die wind begin in rukkerige vlae waai. Die lug is ’n verraderlike pienkgrys, met swaelgeel ondertone. Hierdie deel van die dorp is veel besiger as die bodorp; sy’s op pad na die klein Woolworths-tak om daar ’n reiniger of iets te koop – enigiets. Reiniger, ’n jas, ’n trui, enigiets. Sy haas haar verby winkels soos Edgars en Foschini (met ’n versameling knalrooi, koningsblou en mosterdgeel sintetiese truie in die vertoonvenster), PEP en Jet. Mense, oorwegend swart, drom plek-plek saam op die sypaadjie en stuit haar gang. ’n Vrou sit by iets soos ’n omgekeerde skottelploeg waarop sy wors en uie gaarmaak, die worse soos onbesneë penisse. By ’n deuringang wat lei na ’n trap hou ’n man ’n plakkaat vas met foto’s van goue tande en tande met goue insetsels. Die man lyk nie Suid-Afrikaans nie – Nigeries? (Alle swart verdagtes is altyd Nigeries.) ’n Morose tiener met enorme dye skuur by Magrieta verby. ’n Man wil ’n selfoon aan haar verkoop.

    Toe sy gille agter haar hoor, draai sy om, net betyds om saam met ander uit die pad te spring van ’n man in ’n rolstoel wat tierend op hulle afgepyl kom. Magrieta en ’n vrou in ’n mus met faux fur-oorflappe beland byna in mekaar se arms. So ver as wat die man met die sypaadjie afbeweeg, spring mense opsy, skree op die man en vloek hom uit in Xhosa. Hy steur hom nie daaraan nie en verdwyn om die hoek. ’n Oomblik lank het Magrieta gedink dis agent Oliver wat haar verbete agtervolg het, maar besef dit was ’n veel jonger man, met wange pienk van die koue.

    Sy gaan terug na die gastehuis en slaap. Sy het ’n afspraak halfvier die middag met agent Green. Sy wag vir hom by ’n coffee shop – ’n ander een as die een waar sy die oggend vir agent Oliver ontmoet het. Ná ’n uur het hy nog nie opgedaag nie, en sy kan hom nie op sy selfoon bereik nie. Die wind waai steeds sterker. Magrieta waai behoorlik deur die dorp – jaspante en serp wapperend in die wind. Vyfuur waai sy by die gastehuis in. Die windsterkte neem toe. Dit begin hard reën. Die wind waai weldra so sterk dat dit lyk asof die bome horisontaal gebuig word. Dit reën onophoudelik. Sy wag vir agent Green om met haar in aanraking te kom. Halfsewe klop die eienares sag aan Magrieta se deur. Hulle het Thaise kos voorberei, wil sy dalk saam eet? Sy is dankbaar vir die uitnodiging.

    Ná ete lees sy ’n paar gedigte in ’n klein William Blake-versamelbundeltjie wat sy op die boekrakkie in haar kamer vind. Sy lees onder meer die gedig oor die siek roos. Sy en haar gewese man het na Benjamin Britten se toonsetting daarvan geluister. Sy dink dis ’n gepaste gedig vir die stormagtige nag buite. Sy het per slot van sake ’n spesiale band met die wurm, of dit nou die hart van die roos metafories binnedring of te not. Die wurm bly steeds haar ding, al het sy dit tydelik probeer afsweer.

    Die wind waai steeds

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1