Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Shéri: Nes ek is
Shéri: Nes ek is
Shéri: Nes ek is
Ebook295 pages3 hours

Shéri: Nes ek is

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Shéri Brynard is gebore met Downsindroom. Dokters het haar ma maar min moed gegee, maar vandag, 35 jaar later, is Shéri 'n lewendige jong vrou met 'n menigte avonture op haar kerfstok. Sy het vir Oprah ontmoet, hand geskud met die president en by internasionale konferensies opgetree. Shéri was ook te sien in Binnelanders. Hier vertel sy openhartig van die harsteer en die vreugdes van haar merkwaardige lewe. Haar ma, Susette, deel ook háár kant van die storie as ouer. Hierdie boek vertel die verhaal van 'n buitengewone vrou wat danksy harde werk, wilskrag, deursettingsvermoë - en 'n diepe afhanklikheid van God - haar lewe voluit leef.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 18, 2017
ISBN9780796320315
Shéri: Nes ek is
Author

Shéri Brynard

Shéri is an international ambassador for all people with Down syndrome. Apart from more than 400 public appearances in South Africa, she is often invited to speak at international gatherings. She was the keynote speaker at the 2015 International Down Syndrome Conference in Chennai, India, and addressed the Oxford Education Symposium in London in 2014 as well as the International Conference on International Down Syndrome Day at the headquarters of the United Nations in New York in 2013, amongst others.

Related to Shéri

Related ebooks

Related articles

Reviews for Shéri

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Shéri - Shéri Brynard

    Shéri

    Nes ek is

    Shéri Brynard en Susette Brynard

    soos vertel aan Colleen Naudé

    Lux Verbi

    Ek dra hierdie boek op aan twee mense wat my só baie gehelp het, maar wat nie meer daar is om my lewe te deel nie:

    My pa, Jerry Brynard, wat my dadelik aanvaar en liefgehad het. Hy het my geterg en met my gespeel en hy was so trots op my, nes ek is. Ek mis hom elke dag van my lewe, maar veral wanneer wonderlike goed met my gebeur. Ek wens ek kon my eerste boek vir hom gee, geteken natuurlik!

    My ouma, Sarie Horak, wat gebid het dat my ma ’n regte hemelkindjie, wat liefde en geluk uitstraal, sal hê. Sy het later geglo sy het daardeur vir mý gebid, nes ek is. Sy het my met geduld geleer, my erg bederf, en ek het geweet dat sy enigiets vir my sal doen. Sy het vir my gebid ook. Daardie gebede is nog elke dag by my. Ek sal altyd vir my ouma lief wees.

    Ek dank my Hemelse Vader vir dié twee wonderlike mense.

    Shéri Brynard

    Oktober 2017

    Die skryf van die boek was ’n sprong in die duisternis. Dit was Maretha Maartens se voorstel, ná ure se geduldige gesprekke met my en Shéri met wyse insig sorgvuldig gemotiveer is, wat daartoe gelei het dat Lux Verbi die idee van so ’n boek aanvaar het. Daarsonder sou die boek nie die lig gesien het nie.

    Sy het ook gesê dat die Here die skryf van hierdie boek in die hande van die regte persoon sal plaas – en Hy het.

    Maretha, dankie vir jou aanvoerwerk vir die projek, en dat jy ons boonop deurgaans van opregte nederigheid en liefde vir jou Skepper en jou naaste geleer het, sonder om woorde te gebruik.

    Susette Brynard

    Oktober 2017

    Voorwoord

    S héri – Nes ek is is die verstommende verhaal van ’n merkwaardige jong vrou van Bloemfontein. Maar dit is ook die verhaal van ’n formidabele span: Shéri Brynard en haar ma, Susette.

    Shéri het Trisomie-21-Downsindroom, wat beteken dat elke sel in haar lyf een ekstra chromosoom het: 47 in plaas van 46. Dit is die volledige vorm van die sindroom. Bloedtoetse kort ná haar geboorte het elke sprankie hoop verwyder dat dit dalk die mosaïek-tipe Downsindroom kon wees, die soort waar net sommige selle aangetas is. Desondanks het Shéri se ouers geweier dat Downsindroom haar ’n betekenisvolle lewe ontneem. En sy het al die kanse wat hulle haar gebied het, aangegryp.

    Dit het gelei tot groter hoogtes as wat enigeen met Downsindroom nóg in Suid-Afrika bereik het en daarvoor is sy hier en ook internasionaal vereer. Elke mylpaal op haar pad van 35 jaar is die gevolg van baie harde werk, ’n ysere wil, deursettingsvermoë, en ’n diep afhanklikheid van, vertroue op en geloof in God, soms in baie moeilike, hartseer omstandighede. Dit is ook die gevolg van haar ouers se vasberadenheid om haar só groot te maak dat sy binne die normale gemeenskap haar plek kan vol staan en haar volle potensiaal kan bereik.

    En nou het sy haar lewensverhaal geskryf, aangevul deur onderhoude met haar. Ondanks Shéri se bewese prestasies kan mense met vooropgestelde idees oor Downsindroom waarskynlik steeds skepties wees of dit inderdaad haar eie werk is. Ek het die dele wat Shéri geskryf het, geredigeer net soos dié van enigiemand anders wat ’n eie verhaal vertel. Om meer te doen was onnodig in die geval van hierdie jong vrou met ’n diploma in Educare, wat wêreldwyd as motiveringspreker optree. In die proses het ek wel daarna gestreef om haar stem behoue te laat bly; net soos ek daarna gestreef het om Susette se stem in Deel 2 te behou.

    Shéri – Nes ek is is ’n inspirerende verhaal wat mense se persepsies oor Downsindoom gaan uitdaag.

    Colleen Naudé

    Oktober 2017

    Deel 1

    My lewe met Downsindroom

    Aanhouer wen

    Wie is nou eintlik die ergste perfeksionis in ons huis? het ek al vir my ma gevra. Pappa! sê sy dan.

    My pa se super-perfeksionisme was in sy liasseerkabinet te sien toe ons die begrafnis- en ander polisse ná sy dood daaruit moes haal. My ma het so gehuil dat sy byna niks kon sien nie, maar toe sy die laai ooptrek, het alles daar gelê, asof my pa geweet het iets vreesliks gaan by die Augrabies-waterval gebeur en dat selfs my ma wat alles raaksien, in haar hartseer bo-oor goed sou kyk.

    Ek is érg gesteld op roetine en ek floreer as daar orde is.

    By my ma sien ’n mens die strewe na orde aan al die albums en lêers wat sy op datum hou. En in haar kantoor by die universiteit. Sy hou van skóón gordyne en geraamde foto’s. Sy hou nie daarvan wanneer die wind in die droogte die gordyne vol stof waai nie. Elke ding het sy plek in haar lewe en kantoor, selfs my kussing en kombers vir die tye wanneer ek iets soos griep onder lede het en dan sommer agter of voor haar lessenaar op die mat lê terwyl sy klas gee of vraestelle nasien.

    Wanneer ek nou na my ouma Sarie op foto’s kyk, sien ek haar ingesteldheid om altyd netjies te wees. Toe sy nie meer jonk was nie, was haar grys hare so netjies gewave soos dié van die vroue in die skilderye van die ou meesters in oorsese museums. Ons dogters het graag foto’s van Ouma geneem. Of haar tussen ons laat sit vir nog ’n foto.

    Foto’s vertel van oomblikke, sê my ma. Ons ouma Sarie-foto’s vertel van al ons mooi oomblikke. Ek onthou my ouma se sagtheid, haar skoon geur. Ek het gewoonlik gesorg dat ek styf teen haar sit. Maar my ouma het dikwels ná so ’n fotosessie suurstof gaan gebruik. Sy het dertig jaar lank emfiseem gehad. In die tien jaar voor haar dood het sy pal suurstof gebruik.

    My ouma het haar siekte met waardigheid gedra. Sy het nooit gekla nie.

    So was my ouma Sarie. Altyd vol moed, al kan ’n mens op die foto’s wat kort voor haar dood geneem is, sien hoe bleek sy is en hoe min lug daar waarskynlik in haar longe is.

    Selfs tóé het my ouma altyd gevra: Lyk my hare netjies? En: Ag, kyk die vlekke op my hande!

    Ek dink ek het eenders oor my pa en ouma Sarie gedink. Ander mense gaan dood en word begrawe. Nie my pa of ouma Sarie nie. Hulle, het ek gedink, sal nooit doodgaan nie.

    Baie mense én mense met Downsindroom hou van roetine en orde, dan voel nuwe plekke en dinge vir hulle nie so erg vreemd nie. Mense hou van beloftes wat gehou word, dit is ordelik en laat mens veilig voel. Maar ek soek méér as orde.

    In ons huis was my pa die middelvinger, want hy was lank en (partykeer) skraal en as handsome as can be. Eintlik het hy nog aantrekliker geword toe hy in sy veertigs was, want hy het sy snorretjie afgeskeer en ’n baie classy bril gekry. In ons gesin van vyf was Pappa dus die middelvinger, Mamma die wysvinger, Zettie die fyn pinkie, Marisa die langerige vinger tussen die pinkie en die middelvinger en ek die duim wat nooit grond onder die duimnael wou hê nie.

    Ek hou daarvan as my naels netjies versorg is en ek probeer altyd goed lyk.

    By die skool vee ek krummels van die kinders se monde af. En ek vee hulle neuse ook af, as hulle dit nie self kan doen nie, maar die meeste kan darem.

    Ek is eintlik baie soos my ma. Sy leer my nog elke dag om alles wat rondlê, op te tel en te bêre. Nou leer ek dit vir die kinders by die skool. Maar partykeer maak ek of ek nie my eie deurmekaar kamer sien nie.

    Party kinders noem my sommer Shéri, maar baie van hulle praat met my soos wat hulle met mnr Hugo, die skoolhoof, of met juffrou Lindie en die ander onderwysers praat. Baie kinders kan nie praat nie, hulle maak net geluide of hou aan my arm vas en kyk tot binne-in my hart, verby my oë.

    Ek ken mnr Dawie Hugo, ons skoolhoof by Lettie Fouché, al jare en jare lank. Dit was hý wat toestemming gegee het dat my pa-hulle my by Martie du Plessis kon inskryf. Ek was eers in die skool vir intellektueel gestremde kinders waar ek nou werk.

    Toe mnr Hugo hier skoolhoof geword het, was dit soos ’n inspuiting vir die skool. Toe ek nog in die babaklas hier was, het ek die juffrouens oor en oor dieselfde goed hoor sê, sodat ons dit moes leer, maar party kinders het nooit van een tot tien leer tel of ’n mes en vurk reg leer vashou nie.

    Daar was kinders wat by ’n muur gaan sit en hulle koppe daarteen gestamp het. Die juffrouens en klashulpe het hulle daar weggeneem, dan gaan hulle terug en doen dit weer. Ek het dit gaan uittoets en dit was nogal lekker. Toe ek dit ná skool by die huis begin doen, het my ma later met my begin raas. Ek het dit stilletjies by ander mure gaan doen en my ma het ander planne begin maak.

    Toe trek my ma my aan soos ’n prinses en maak vir my bokstertjie-hare en vat my na Martie du Plessis toe, waar kinders ’n normale IK moet hê en net ander uitdagings soos disleksie of iets wat met hulle liggame verkeerd is, moet leer hanteer. Ons kind, het sy in die kantoor gepleit, kort meer stimulering. Ons sal ons deel doen. Asseblief …

    Die antwoord was nee. Die gewone kurrikulum is bo die vuurmaakplek van kinders met Downsindroom. Die leerlinge aan hierdie skool is nie intellektueel gestremd nie; hulle het slegs spesiale behoeftes. ’n Kind soos ek, moes my ma hoor, sou die skool ’n slegte naam gee.

    My ma het haar nie laat afskrik nie. Shéri het spesiale behoeftes, het sy gesê. Waar sy nou is, kan daar nie in haar behoeftes voorsien word nie. Die woord opgee bestaan nie in my ma se kop of woordeskat nie.

    Op ’n dag, ná baie gebede in ons huis, het die skoolhoof my ma sowaar weer oor my gebel. Sy het my weer soontoe gevat en niks aan my hare of skoene of rokkie gedoen nie. Ek het Downsindromerig gelyk. Sy het vir mnr Hugo, wat toe die onderhoof daar was, gesê sy sal probeer sorg dat ek doen wat normale kinders doen.

    Ons multidissiplinêre span het ingewillig om haar te toets, het die skoolhoof gesê.

    My ma wou weet of sy moes bly, dan sal sy verlof by die werk insit.

    Nee wat, het mnr Hugo met ’n groot glimlag gesê. Shéri gaan drie dae lank op haar eie by die juffrouens, die arbeidsterapeut, fisioterapeut, ons skoolsielkundige en die maatjies van haar ouderdom kuier. Julle kan haar net kom aflaai. Moenie vergeet om vir haar iets lekkers vir pouse in te pak nie.

    Hulle het vir my ma gesê hulle gaan IK- en kognitiewe toetse doen. En kyk of ek emosioneel regkom.

    Ek kon nie genoeg van die toetse kry nie. Daar was legkaarte en blokkies om te pak, allerhande goed om te tel, vormpies om uit te ken: driehoeke, vierkante, sirkels. Ek moes inkleur en sinne voltooi. Niemand het enigiets oor en oor bly sê nie.

    Die kinders in daardie skool het gewérk. Ek het klasgroepe hoor sing en kinders in rye van die een klaskamer na die ander sien loop en ry. Ek het getel en geteken en gepraat en die tyd het heeltemal te vinnig verbygegaan.

    Daardie skool was mý soort plek. Pouse was wonderlik. Die juffrouens het my by maatjies laat sit. En ja, ek hét gekyk wat hulle in hulle kosblikke het. Daar was grondboontjiebotter- en kaastoebroodjies, drinkjoghurt, hoenderboudjies, boksies vrugtesap, pakkies tjips, pienk en groen fizzers, selfs gaskoeldrank. Daar was ’n toebroodjie, ’n vrug en ’n vrugtesappie in my kosblik. Geen lekkers of tjips nie.

    My ma was elke dag bekommerd of ek my nie dalk swak gedra het nie.

    Toe al die toetse verby en my uitslae verwerk was, het my ma en pa die nuus gekry dat ek as leerling van Martie du Plessis aanvaar is, as deel van die kleutergroep.

    Julle dogtertjie het gewerk asof haar lewe daarvan afhang, het een van die juffrouens glo vir my pa-hulle gesê. Sy het haarself hier ingewerk!

    Eintlik het ek dit net geniet. Ek het eers later begin verstaan dat ek oral en altyd sou moes werk asof my lewe daarvan afhang. Dat ek eintlik net een uit elke tien keer kan sê: Ag, dis maklik!

    Wanneer ek kinders nou as onderwysassistent met skryf en lees help, weet en verstaan ek dat niks vir hulle maklik voel nie. Maar ons hou aan. Ek moet, en hulle moet. Want as ’n mens stadig is, moet jy alles insit. Jy moet aanhou en aanhou, totdat mense glo jy het ook ’n plek waar jy iets vir ander mense beteken. Jy moet harder werk as ander, en jy mag nie moed verloor nie.

    Wanneer die kinders leer hoe om ’n potlood reg vas te hou, sien ek hoe hard hulle moet werk, hoe hulle ook maar partykeer moed verloor. Maar ons mag nie tevrede raak met tweede beste of amper reg nie. Ons moet aanhou, totdat hulle dit regkry.

    Dit is wat my ma van my verwag het, sodat ek in Martie du Plessis kon skoolgaan. Sy het my soms help aantrek vir skool, want ek kon so draai. Die bussie het my so teen kwart oor ses kom oplaai, dan was my pa nog lekker in die bed. Ek moet soet wees, netjies en regop by my klas instap, my juffrou groet en my tekenprente mooi klaarmaak, het my ma gesê.

    My ma het ’n lang rits reëls gemaak. Ek mag nooit vir ander kinders lekkers of koekies vra nie en beslis nooit enigiets uit iemand anders se kosblik haal nie. Al was ek hóé lus daarvoor, al het niemand gekyk nie, al het my mond gewater. Ek moes pouse my eie toebroodjies en vrugte eet.

    My wit sandaaltjies mag nooit êrens bly lê het nie; ek moes mense in die oë kyk en vir my onderwyseres luister vandat ek by die klaskamerdeur inkom totdat ek weer daar uitgaan.

    By die huis, aan ons eie etenstafel, moes ek leer kyk of iemand anders aan tafel iets nodig het: sout, suiker, melk, slaai. Gewone, opgevoede kinders is bedagsaam en gedissiplineerd, het my ma en my pa gesê.

    Ek was mal oor my juffrou en my klasmaatjies: die seuntjie met die bril wat soos my pa se verkyker gelyk het, die seuntjie wat nie kon stilsit nie, die maatjie wat amper blind was, die dogtertjies wat so mooi aangetrek het. Daar was vier maatjies in rolstoele. Een van hulle het altyd rooi skoentjies aangehad. My juffrou Hester het vrolik gepraat, in Suid-Sotho ook.

    Daar was boeke oor motors en diere en Otto die hondjie in my klas, ’n groot pop wie se hare ons kon kam, ’n werkbank met hamers en ander gereedskap, ’n speel-strykplank en pophuis. Buite was daar brûe van buitebande waar ’n mens een-een oor riviere vol krokodille kon loop. Of sommer net in ’n ry kon loop, want die krokodille was speel-speel.

    My juffrou het gesê sy is so trots op my toe ek die eerste kleuter-straatmyl in die wêreld op 11 April 1986 voltooi het. Ek was vier jaar oud. Sy het gevra hoe ek dit reggekry het, want ’n straatmyl is ver. Ek het vir haar gesê ek het net aangehou, dis al. En ek het my nuwe wit tekkies aangehad.

    Dit is die Here se storie en ek is daarin

    Ek was 31 jaar oud toe ek begin dink het dat ek my lewensverhaal moet skryf. Daar het so baie in my lewe gebeur.

    Ek onthou die dag toe groot seuns wat saam in die skoolbus gery het, vir my gevra het of ek ooit vinnig kan hardloop. Natuurlik wou ek hulle oortuig dat ek nes hulle kan hardloop. Toe die bus stilhou, het ek uitgeklim en huis toe gehardloop. Ek het my knieë flenters geval. Ek wou nie omkyk nie; ek het te veel gehuil. Ek dink ek het die seuns hoor lag en lag.

    Omtrent ’n jaar later wou ek die 400 meter vir die Rooispan van ons skool hardloop. Ek het laaste gekom, maar die juffrou het oor die luidspreker gesê: Al die Rooispanmaatjies moet nou eers saam met Shéri gaan klaarmaak. En almal het die laaste rondte saam kom hardloop. Die seuns ook.

    Maar toe ek 31 jaar oud was, het ek ook gedink hoe ek vir Oprah ontmoet het. Dit was in 2011 toe prof Jonathan Jansen, destyds rektor van die Universiteit van die Vrystaat, my as eregas genooi het om Oprah Winfrey te ontmoet toe sy ’n eredoktorsgraad van die universiteit gekry het.

    En hoe dit vir my was om as onderwysassistent opgelei te word.

    Toe ek 31 jaar oud was, het ek gedink ek moet by my geboorte begin en alles wat met my gebeur het, neerskryf. Want dit is ’n storie. Dit is die Here se storie en ek is daarin.

    Ek het my ma se dagboeke geleen en oor my geboorte gaan lees. Ek het albums gekyk en my ma uitgevra.

    So het my lewe begin:

    Toe my ma gehoor het sy is swanger, was sy vreeslik bly. Sy was altyd bang sy sou nie ’n kind kry nie, miskien omdat sy so graag een wou hê. Sy was toe 24 jaar oud.

    Die swangerskap het goed verloop. Die opvallendste van die laaste deel was dat ek so min beweeg het. Blykbaar is dit een van die tekens van Downsindroom.

    Tydens haar swangerskap het iemand van die Departement Genetika aan die Universiteit van die Vrystaat met my ma se biologie-leerders by Oranje Meisieskool kom praat. Die dosent het vir hulle verduidelik hoe dit gebeur dat kindertjies soms met afwykings gebore word.

    Toe my ma later vir die dosent sê sy is swanger, het sy gesê dat sy so ’n praatjie nooit voor ’n swanger vrou sou gee nie. My ma het net gelag en gesê dit sal haar nie oorkom nie, en indien dit wel gebeur, sal sy dit dan hanteer. Sy gaan nie onnodig bang wees daarvoor nie.

    Nog iets in my ma se dagboek was vir my besonder interessant. In Duitsland het dokters agtergekom dat die meeste vroue met Downsindroom-babas erg verkoue was toe hulle swanger geword het. My ma het teruggedink, en sy kon onthou, sy wás vreeslik verkoue in die tyd toe sy swanger geraak het. Sy het nie eens gaan werk nie, iets wat sy nie sommer maklik doen nie.

    Van ongeveer die vierde maand het sy gereeld ginekoloog toe gegaan. Hy het elke keer ’n sonar geneem en nooit enige fout gesien nie. Die koppies van babas met Downsindroom is kleiner as normale kinders s’n, maar my kop se omtrek was so dat ek net sowel ’n normale kind met

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1