Dis ’n Maandagoggend in April. Ek sit saam met oom Gustav Nortjé (81) op die voorstoep van sy turkoois huis in die Baviaanskloof. Dis betrokke. Die wolke wíl, maar wil ook nie. In die voortuin karring ’n deurmekaar wind aan ’n oes koejawelboompie se takke.
Van die dakrand af hang ’n ploegskaar en deurgesnyde plastiekkoeldrankbottels vol vetplantjies aan oranje baaltou. In een hoek staan groot varings.
Oom Gustav lyk soos ’n boer: leerstewels, rugbybroekie, two-tone kortmouhemp met ’n selfoon en ’n pen in die bosak. Maar hy’s eintlik ’n winkelier. Wel, deesdae. Die turkoois huis grens aan sy winkel wat knap langs die enigste pad deur die Kloof staan.
’n Katjie kom uit die huis gedrentel, maar vlug dadelik oor die stoepmuurtjie toe sy my sien. “Ou Strepies! Wat is dit vanoggend met jou?” vra hy die stertpunt wat nog tussen die pienk periwinkle-blomme uitsteek. Dan draai hy terug na my: “Ek is nou die oudste wit mannetjie hier rond. Vra my maar enigiets oor die mense van die Kloof. Hulle het voor my grootgeraak, ek ken hulle almal by die naam.”
Maar ek wil graag sý stories hoor, die Baviaans deur een van sy laaste Nortjé’s se oë sien. Vroeër jare was hier sommer baie van hulle – onder andere die skrywer P.H. Nortjé.
“Ja, my oupagrootjie J.G. (Johannes Gerhardus) het hier ingekom in 1880 en kaart en transport van ’n gebied gekry wat later onder sy drie seuns verdeel sou word: Charlie het Grootplaas geërf, Richard het Grysbult gekry en my oupa Frank het op Sewefontein geboer.”
Hy beduie so alkant oor sy skouers, asof dié plase net hier agter die huis lê. Van Sewefontein het ek al gehoor. Dis daar waar die Baviaanskloof se bekende woud van besemtrosvye hemelhoog strek, hulle wortels al eeue lank dankbaar vir die fonteinwater wat standhoudend uitborrel. Sterk water is ’n kleinood in