Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Trompie Omnibus 1
Trompie Omnibus 1
Trompie Omnibus 1
Ebook486 pages8 hours

Trompie Omnibus 1

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie omnibus bevat die eerste drie boeke van die gewilde Trompie-reeks. In Trompie ontmoet ons die elfjarige sproetgesig Grootkaptein van die Boksombende. Hy en sy vriende Rooie, Blikkies en klein Dawie maak die lewe interessant (en soms taamlik moeilik!) vir die inwoners van hul tuisdorp, Kwaggaberg. Hul avontuur met die dominee se bobbejaan ruk handuit en Trompie se poging om vir sy suster Anna ’n kêrel te kry, loop lelik skeef. Trompie wil ook baie graag ’n hond hê en het sy oog op ’n basterbrak genaamd Boesman. In Trompie die stouterd trek Trompie vir die nuwe seun wat al die onderwysers se witbroodjie is, ’n lelike streep. Hy lees van ’n dorpie in Brittanje waar ’n klipgooiende spook amok maak en besluit net daar dis tyd om sy tuisdorp te laat regop sit. In Trompie die soet seun besluit Trompie hy is moeg daarvoor om altyd in almal se slegte boekies te wees. Die Boksombende se Grootkaptein kondig aan dat dit tyd geword het om goeie dade te doen, maar dis glad nie so maklik soos wat dit klink nie! Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!
LanguageAfrikaans
Release dateMay 15, 2013
ISBN9780798163941
Trompie Omnibus 1
Author

Topsy Smith

Topsy Smith se karakter Trompie was vir die jongmense van sy era ’n rolmodel. Smith is een van die mees geliefde en suksesvolle jeugboekskrywers in Afrikaans. Sy Trompie-reeks het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en dit het jongmense baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.

Read more from Topsy Smith

Related to Trompie Omnibus 1

Titles in the series (29)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Trompie Omnibus 1

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith

    9780798163941_cover.jpg

    Trompie

    Omnibus 1

    Trompie

    Trompie die stouterd

    Trompie die soet seun

    Topsy Smith

    Human & Rousseau

    Voorwoord

    Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle!

    As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: Hulle weet nie van Trompie nie …

    Trompie

    Dier%20poot.tif

    1

    Ontmoet Trompie en sy bende

    Dit is ’n warm somermiddag. In ’n voetpaadjie omtrent ’n kilometer buite die dorp loop ’n elfjarige skoolseun ingedagte en skop na graspolle. Vat so! sê hy elke keer as hy lostrek en een netjies raakskop. Die punt van sy regterskoen is al ingeduik. Sy kouse hang oor sy skoene en sy hemp peul by sy broek uit. Onder ’n pet wat windmakerig skeef op sy kop sit, steek ’n ongekamde boskasie uit.

    Naby ’n vervalle ou skuur val die seun skielik plat op sy maag in die gras. ’n Rukkie lê hy doodstil en dan kruip hy stadig vorentoe. Hy hou sy een hand voor hom uitgestrek met die wysvinger reguit en die duim in die lug op. Dit is sy rewolwer. Hy bekruip die klomp rowers in die fort. As hulle nie saam met hom wil kom nie, gaan hy hulle een vir een platskiet.

    Versigtig seil hy verder op sy maag. Elke slag loer hy oor die hoë gras. Hy glimlag by homself. Niemand kan so goed en stil soos hy seil nie. Hy sal die skurke verras en hulle vang. Hy sien al sy foto in al die koerante. Hy sien al hoe almal hom ’n held noem.

    Skielik hoor hy iemand net regs van hom. Hy loer deur die gras. ’n Seun van omtrent sy ouderdom stap ’n paar meter van hom af verby.

    Fiet-fiet! fluit die seun op die grond. Die ander een gaan staan. Hy draai om en sien die sproetgesig wat deur die gras na hom loer.

    Val plat!

    Die tweede seun val plat. Hy seil stadig tot by sy maat.

    Hallo, Trompie, fluister hy.

    Haai, Blikkies, groet die seun met die rewolwer.

    Is iets verkeerd?

    Rowers in ons fort.

    Hoeveel?

    Duisende!

    Soveel?

    Die twee lê roerloos. Dan fluister Blikkies: Wat’s jou plan, Trompie?

    Wie’s jou Trompie?

    Orraait dan, Kaptein.

    Trompie se sproetgesig vertrek soos wat hy ernstig nadink. As leier moet hy nie sy manskappe se bloed verniet vergiet nie. Blikkies lê langs hom aan ’n grashalmpie en kou. Hy kyk na Trompie se geplooide voorkop.

    Wat doen jy?

    Ek dink.

    O, en Blikkies kou verder.

    Ná ’n rukkie maak Trompie keel skoon. Dit is die teken dat Blikkies nou mooi moet luister. Hy wat Trompie is, gaan nou groot wyshede kwytraak. Blikkies kou ’n bietjie stadiger.

    Kyk, Blikkies, fluister Trompie ernstig terwyl hy nog nader aan sy maat skuif. Na diepe beraadslaging … Hy het hierdie frase in ’n boek gelees het en dadelik daarvan gehou. Na diepe beraadslaging … Ja-nee, hy hou sommer baie hiervan. Hy loer na Blikkies om te sien watter uitwerking die geleerde woorde op hom het. Maar Blikkies se kakebeen beweeg nog steeds ritmies op en af.

    Hoor jy my, Blikkies?

    Ja, Kaptein.

    Nou ja, soos ek sê, na diepe beraadslaging het ek besluit ons moet aanval. Jy van anderkant af en ek van dié kant af. En ons moet ’n wagwoord hê sodat ons mekaar nie skiet nie.

    Wat’s ’n wagwoord?

    ’n Ding wat jy sê en ek sê, wat sê ons is vriende.

    O.

    Ja.

    En wat’s die wagwoord?

    Akkedis.

    Hoekom?

    Omdat ek nou net een by jou sien verbyglip het.

    Blikkies hou op kou. Hy kyk om, maar sien nie ’n akkedis nie.

    En nou? Wat doen ons nou? vra hy.

    Nou val ons aan, sê Trompie. Begin kruip. Beweeg om die fort en moenie dat hulle jou sien nie.

    Blikkies kyk eers na die vervalle ou skuur en dan na die ompad wat hy sal moet vat as hy van agter af wil aanval. Dis vér.

    Hoekom gaan jý nie agterom nie? Dan wag ek hier.

    Praat jy teë? vra Trompie en maak sy stem so grof moontlik. Jy weet wat ek verlede week met Rooie gedoen het!

    Blikkies weet.

    Orraait dan, sê hy droogweg. Hy spoeg die grashalmpie met ’n boog uit en begin stadig en versigtig op sy maag wegseil.

    Trompie lê alleen in die lang gras. Hy weet nie hoekom sy bende deesdae so opstandig is nie. Net verlede week moes hy Rooie met ’n taai klap stilmaak. Selfs klein Dawie wat hom altyd blindelings gevolg het, begin teëpraat en dit lyk vir hom Blikkies wil-wil ook astrant word.

    Dit maak Trompie vies. Hy kan nie verstaan wat is dit met hulle nie. Almal weet tog hy is die sterkste en die beste. Elke keer wat hulle in die moeilikheid is, red hy hulle. Die feit dat hy hulle altyd daarin laat beland, maak nie saak nie … Hy kry hulle mos weer uit! En verder swem hy die beste en hardloop die vinnigste. En boonop klim hy die beste boom, gaps die meeste vrugte uit die Griekse oom Stavrinos se boord en spoeg verreweg die verste.

    Mismoedig skud Trompie sy kop. Nee, hy weet sowaar nie wat deesdae met Rooie, Blikkies en klein Dawie aangaan nie. Maar hy wat Trompie is, is die Boksombende se Grootkaptein en hy sal hulle regsien!

    Ja, hy sal dit vinnig doen. Sommer nou. Nou op die daad! Hy is in elk geval moeg vir hierdie rowerjaery en rondkruipery. Trompie spring op en hardloop vinnig na die vervalle skuur toe.

    Blikkies! skree hy.

    Akkedis! kom die antwoord van ’n bossie agter die gebou af.

    Akkedis se voet!

    Blikkies kom te voorskyn.

    Wat’s dit met jou? vra Blikkies. Ek was net reg om op hulle te begin skiet.

    Nee wat, ek is moeg vir elke dag se rowerspeletjie. Ek wil groot dinge praat.

    Die twee seuns gaan sit elkeen op ’n ou houtkissie in die skuur.

    Watse dinge? vra Blikkies toe hy gemaklik is en weer ’n grashalmpie in die kies het.

    Wag tot die ander kom, sê Trompie soos iemand wat belangrike geheime het om mee te deel.

    Hulle hoor veraf ’n gefluit, ’n hoë noot wat met ’n lae een afgewissel word. Trompie en Blikkies fluit op dieselfde manier terug. Ná ’n paar minute loer twee gesigte by die skuur in. Julle’s vroeg, sê Rooie, ’n sterkgeboude seun met rooi hare.

    Jis, julle ouens, sê die ander een in ’n piepstemmetjie. Dis klein Dawie, so genoem omdat hy net nege is, twee jaar jonger as die ander drie. Twee ondeunde ogies blink in sy wakker gesig.

    Haai, Rooie; haai, Dawie, sê Trompie en Blikkies.

    Die vier seuns sit op die kissies wat hulle hierheen gedra het toe hulle die bouvallige skuur ’n paar maande gelede ontdek het. Dis hul bymekaarkomplek – die Boksombende se fort.

    Trompie kyk na die drie om hom. Hulle wag dat hy moet sê wat hulle vanmiddag gaan speel. Slim klein Dawie is altyd bereid om enigiets te doen wat Trompie voorstel, Blikkies is alewig op skool in die moeilikheid omdat sy knieë klap wanneer hy opstaan en sy klasmaats hom natuurlik bly aanpor om dit te doen, en die vreeslose Rooie het al die prestasie om op een dag twee keer ’n draai in die hoof se kantoor te maak. Trompie voel ’n gloed van trotsheid. Hulle is sy vriende! Dit is sy manne dié!

    Hy maak keel skoon. Dit klink mos altyd indrukwekkend. Hy het gesien sy oom doen dit altyd wanneer hy politieke vergaderings toespreek. Hy staan stadig op: Manne, ek wil ernstige dinge gesels.

    Ses oë kyk hom aan. Blikkies se kieste beweeg stadiger. Trompie sit sy een arm oor sy bors en steek sy hand by sy hemp in. Dis mos hoe Napoleon in daardie geskiedenisboek staan.

    Wie het verlede week vir arme Dawie uit die dam getrek toe hy amper verdrink het?

    Jy, Kaptein, sê Dawie. Sy oë glinster en hy stoot sy bors uit.

    Jy, Kaptein, sê Blikkies terwyl hy die grashalmpie behendig van die een kies na die ander verskuif.

    Trompie kyk na Rooie. Blikkies en Dawie kyk ook na hom.

    En wat sê jy, Rooie? vra Trompie en lig hom op sy tone sodat hy effens langer lyk.

    Jy, Kaptein, maar ek het darem ook gehelp.

    Ja, maar wie’t eerste ingespring?

    Jy, Kaptein.

    Trompie wil nog oor baie dinge gesels, maar hy word moeg om so ongemaklik op sy tone te staan en sy arm heeltyd op sy bors te hou. Hy gaan weer sit.

    Ek wil julle ’n reguit vraag vra en ek soek ’n reguit antwoord. Is ek julle Kaptein of nie?

    Jy is!

    Jy is!

    Jy is, seker maar.

    Trompie vervies hom vir Rooie en dink vinnig hoe om hom op sy plek te sit, maar Dawie kom tussenbeide.

    Weet julle ouens wat? vra hy in sy skik.

    Wat? vra almal tegelyk.

    Daar’s ’n bobbejaan in Dominee se tuin!

    As Dawie ’n atoombom tussen hulle gelos het, sou hulle nie meer verbaas gewees het nie.

    ’n Bobbejaan? vra Trompie opgewonde. Hy het nou skoon van Rooie vergeet. Hier kom ’n avontuur. Hy sien al hoe loop hy met ’n bobbejaan op sy skouers soos Tarzan deur die strate. Almal sal hom bewonder.

    Wat … wat maak die ding daar? stamel Blikkies.

    Hy sit op ’n paal. Ek het my pa hoor sê Dominee het hom gisteraand van die Bosveld af gebring.

    Is hy mak? vra Trompie.

    Ek weet nie. Ek het ’n klippie oor die heining na hom gegooi en voor jy kon sê mes, was hy bo-op die paal!

    Die vier seuns kyk na mekaar. Hulle dink dieselfde ding.

    Ons moet hom gaan bekyk, sê Trompie.

    Soos een man staan hulle op. Al geselsende en laggende stap hulle deur die veld dorp toe. Môre is Saterdag en dan is daar nie skool nie. Die lug is blou, die son skyn heerlik en daar is ’n bobbejaan in die dominee se tuin. Hulle slaan sommer vanself oor na ’n drafstap.

    Dier%20poot.tif

    2

    Die dominee se bobbejaan

    Naby die pastorie loop die vier seuns effens stadiger. Dawie lei hulle na die tuin se agterkant toe. Daar is ’n opening in die heining. Die seuns buk en loer deur – en daar sit Kees. Hy spring-spring om die paal en hardloop so ver as wat die ketting waarmee hy aan die paal vas is hom toelaat.

    Trompie sê eerste iets. Sy stem klink vasberade: Hóm moet ons hê, ouens!

    Blikkies is al een wat beswaar maak. Wat gaan ons met die ding aanvang?

    Met hom speel.

    Maar …

    Ag, Blikkies, sê Trompie ongeduldig, niemand sal eens weet ons het die bobbejaan gevat nie. Ons gaan speel met hom in ons fort en dan bring ons hom weer terug.

    Die vier seuns kyk met verlangende oë na die bobbejaan wat al hoe vinniger om die paal hardloop.

    Wie gaan hom vang? wil Dawie weet.

    Trompie natuurlik, sê Rooie. Hy is mos ons Kaptein.

    Trompie sluk. Hy kyk weer deur die opening in die heining na die bobbejaan.

    Byt die ding? vra hy ’n bietjie bekommerd.

    "Dit moet jy maar self uitvind," sê Rooie.

    Trompie voel ongemaklik. So ’n ongedierte kan gevaarlik wees. Hy kyk na sy maats en sien hoe hulle hom aanstaar. Nee, hy sal moet gaan. Hy moet bewys hy is ’n ware Kaptein en hy is nie bang nie. Hy gee ’n sluk en sê: Hou wag, manne! Fluit as iemand kom.

    Die seuns loer op en af in die straat. Hulle sien niemand nie. Trompie trek sy asem diep in. Hy voel soos Daniël wat in die leeuhok gegooi word. Dan duik hy vinnig deur die opening.

    In die tuin loop Trompie stadig, half gebukkend en met sy hande voor hom uitgestrek na die bobbejaan toe. Hy maak paaigeluidjies en sê aanhoudend: Kom, Kesie … Mooi Kesie … Soet Kesie …

    Die bobbejaan hou Trompie agterdogtig dop. Dan skiet hy soos ’n weerligstraal teen die paal op en sit en beloer die verbaasde seun van bo af.

    Trompie kyk om na die opening in die heining. Drie gesigte loer vir hom.

    Ruk hom met die ketting af! skree Rooie hees.

    Trompie gryp die ketting en begin trek. Die bobbejaan klou vir lewe en dood aan die paal en maak onheilspellende geluide. Trompie wil los, maar die gedagte aan sy manskappe wat hom dophou, gee hom nuwe moed en krag. Hy gee ’n pluk … en daar tuimel Kees van die paal af! Hy skarrel sommer ’n rigting in, weg van die seun af. Trompie rem met sy een hand en met die ander een maak hy die ketting los van die paal. Hy trek die skreeuende bobbejaan nader na hom toe.

    Die bobbejaan skop nou só ’n onaardige lawaai op dat Trompie so vinnig moontlik uit die pastorie se tuin wil wegkom. Kees trap vas en klou aan al wat ’n boompie en bossie is, maar Trompie sleep hom heining toe. Mooi so, sê die seuns toe hulle Trompie deur die gat help. Almal kry die ketting saam beet en begin trek … en uiteindelik kom Kees deur die heining.

    Hy hardloop eers verward in die rondte en spring dan skielik op Trompie se skouer! En daar sit hy nou! Die verwilderde bobbejaan klou krampagtig aan die seun se skouer vas. Trompie is asvaal.

    Haal … haal die ding af! skree hy. Sy maats is te verskrik om iets te doen. Trompie kom sukkelend regop, maar die bobbejaan bly sit. Die seun kyk op in sy ogies. Kees byt nie; hy hou net styf vas. Trompie begin effens beter voel. Hy kyk na die ander.

    Hoe’s daai? sê hy, al bewe sy stem nog ’n bietjie.

    Hy ken sy pa, grinnik Rooie.

    Die vier vriende begin aanstap. Die bobbejaan sit ewe gemaklik op Trompie se skouer. Die seun word gerus. Hy streel Kees selfs met sy een hand. Trompie stoot sy bors uit en gee Tarzan se oorlogkreet. Almal bulder van die lag. Wag tot hulle by die fort kom, dan gaan hulle lekker met hul nuwe maat speel!

    Trompie en sy manne hou al met die agterstrate langs. Agter die kerksaal kom ’n groot hond na hulle toe aangedraf. Dawie tel ’n klip op. Voertsek! Weg is jy! skree hy en gooi na die hond wat net ’n entjie wegdraf en dan weer omdraai.

    Lyk my hy ruik Kees se kind, sê Blikkies. Die seuns loop vinniger. Dawie kyk oor sy skouer.

    Jissou! roep hy uit. Daar’s nou nie net een hond nie, maar vier!

    Die honde het onraad gemerk. Hulle storm blaffend op die seuns af. Dawie, Rooie en Blikkies bestook die honde met klippe, maar kry hulle nie weggejaag nie. ’n Groot bulhond spring teen Trompie op om Kees by te kom. Die bobbejaan begin histeries skreeu. Trompie skop na die hond, maar dit help niks. Skielik wip Kees van sy skouer af en daar trek hy in die pad af. Die honde sit hom agterna en die seuns hardloop agter hulle aan. Dis omtrent ’n gedoente. Kees se kind, die honde en die vier lede van die Boksombende kom by die kerksaal se hek en vlieg op dolle vaart daar in.

    In die saal is die dominee besig om ’n groepie dorpsvrouens oor fondsinsameling en die eerskomende basaar toe te spreek. Die dames luister aandagtig na Dominee se keurige taalgebruik. Niemand vermoed iets van die drama wat buite die kerksaal afspeel nie.

    Buite sleep die bobbejaan se ketting op die grond, maar hy is nog steeds voor. Die honde is kort op sy hakke en die vier hygende seuns vorm die agterhoede van die spulletjie wat óm en óm die kerksaal hardloop.

    Kees word moeg. Hy sien ’n deur wat effens oopstaan en woerts – in is hy! Dominee sê net: Dames, wat die basaar se opbrengs betref, moet ons natuurlik nie ’n wonderwerk verwag nie … toe die vlieënde gedaante met die slepende ketting die gang af nael, reguit verhoog toe. Die dorpstannies gil en spring op die krakende stoele. Dominee staan die storie oopmond en aanskou en toe skree hy: Gedoriewaar, dis mos my bobbejaan!

    Blaffend storm die honde by die saal in, gevolg deur die laggende seuns. Hier gaan hulle vir Kees voorkeer! Die verwilderde bobbejaan spring op die verhoog rond. Hy gil en skree, die honde blaf, die seuns juig. Dominee is doodsbleek en die tannies gil harder as al die ander geluide saam. Die lawaai is oorverdowend.

    Die bobbejaan pyl op die predikant af. Vang hom, Dominee! skree Trompie. Dominee probeer, maar sy hande gryp net die lug waar Kees so pas was. Die honde spring oor die vrouens se handsakke en hoedens om by die bobbejaan uit te kom. Kees word in ’n hoek vasgekeer. Hy wip verbysterd rond en dan storm hy op die seuns af. Hulle gryp vervaard na hom, maar hy systap hulle. Kees bars deur die kordon en storm op die histeriese tannies af. Die honde, die seuns en die dominee sit hom agterna.

    Die bobbejaan spring op die kollosale tant Grieta se skouer. Sy snak na asem, prewel Ag jittetjie, help tog, en sak met ’n plofgeluid op die plankvloer neer. Kees spartel, maar hy kan nie wegkom nie. Tant Grieta het op die ketting neergeslaan! Ons het hom! skree Trompie en Rooie wat eerste by is. Trompie gryp na die bobbejaan en Kees hap na hom. Die seun spring vinnig terug.

    Die ding is gevaarlik, sê hy bang. Hy swaai om na Dominee. Gryp hom! skree Trompie. Dis mos Dominee se bobbejaan!

    Dominee probeer die ketting onder tant Grieta uittrek terwyl van die vrouens haar lawe en Trompie en Rooie haar probeer wegstoot om die ketting los te kry. Dawie en Blikkies is besig om die honde met baie meer lawaai as wat nodig is uit die saal te verwilder.

    Ná ’n lang geswoeg is die bobbejaan uiteindelik gevang. Die orde is herstel. Dominee stap pastorie toe met Kees onder sy arm.

    Hy het vir die Boksombende gesê om hom te volg en Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kom sleepvoet agter hom aan.

    Ons is lelik in die moeilikheid, ouens, sê Blikkies bek-af. Die ander knik moedeloos, maar Trompie grinnik, sit sy hande om Dawie en Rooie se skouers en sê: Maar dit was darem groot sports ook, nè?

    Die seuns grinnik. Dit was omtrent ’n aardigheid om die tannies te hoor gil en op die stoele te sien spring toe die vlieënde gedaantes by die saal instorm. Hulle lag skielik hardop. Dominee kyk kwaai om. Die vier is dadelik tjoepstil.

    Ja-nee, sug Trompie, ons is diep in die sop; dis nou maar wors!

    In die pastorie se tuin staan die seuns en kyk hoe Dominee die bobbejaan aan die paal vasmaak. Trompie waag dit om vir ’n oomblik te wonder of hulle miskien weer eendag kan probeer om Kees in die hande te kry, maar hy besef dit sal nie gou wees nie. Nee, grootmense verstaan mos nie. Hier is hy en sy maats nou in die gemors en hulle het eintlik niks verkeerd gedoen nie. Hulle wou maar net met die bobbejaan gaan speel het! Hulle sou hom weer teruggebring het. Hulle bedoelings met Kees was eerlik en opreg. Maar grootmense verstaan mos nie sulke dinge nie!

    Dominee sê die seuns moet na sy studeerkamer toe kom. Druipstert volg hulle hom.

    Die predikant sit agter sy groot lessenaar. Die vier seuns staan voor hom. Hy voel glad nie gelukkig nie.

    Nou toe, wat het julle te sê? vra Dominee met ’n kwaai stem.

    Klein Dawie se oë is groot en sy stem klink ’n bietjie fyn: Ons … ons wou maar net saam met hom pret hê, Dominee.

    Die leraar kyk na Trompie.

    Dit was natuurlik jy wat die bobbejaan uit my tuin kom gaps het.

    Trompie laat sak sy kop en mompel: Ja, Dominee, maar onder die sterkste provo-… provokasie!

    Dominee glimlag. Wat bedoel jy daarmee?

    Ek bedoel, Dominee, ons wou regtig net graag met Kees gespeel het.

    Maar hoekom het julle hom dan by die kerksaal laat los? Die predikant se stem klink ’n bietjie vriendeliker.

    Dis die honde se skuld, sê Trompie blitsig. Hulle het ons aangeval!

    Dominee kyk voor hom uit. ’n Glimlag plooi sy mondhoeke. Hy dink aan die uitdrukking op die dames se gesigte toe die bobbejaan, die honde en die seuns die saal binnegestorm het. Dit was nogal iets om te aanskou. Die leraar kan nie help om te grinnik nie. Die seuns kyk vir hom, dan vir mekaar en begin giggel. Dominee lag hardop … die lede van die Boksombende ook. Maar dan sluk Dominee sy lag en kyk hulle weer streng aan. Die vier verstar.

    Julle kan gaan, sê hy en probeer sy stem kwaai hou. Ek sal julle hierdie keer oorsien, maar sorg dat dit nie weer gebeur nie. En maak seker julle is Sondag in die Sondagskool, anders is daar moeilikheid!

    Ja, Dominee, dankie, Dominee, mompel die seuns en is vinnig by die deur uit.

    Toe hulle laggend agter die pastorie se tuin verbystap, kan hulle die versoeking nie weerstaan om deur die gat in die heining te loer nie. Vier vuil gesigte bekyk die bobbejaan wat nou houtgerus op sy paal sit.

    Ou Kesie, ons was amper in groot moeilikheid, maar eendag is eendag gaan ons jou nog kom vaslê, sê Trompie. Dawie gooi ’n klip na die paal en die bobbejaan begin weer ’n keel opsit.

    ’n Paar minute later stap Trompie by sy ouers se huis in. Hy voel heel gelukkig. Dit was ’n lekker middag. Maar soos hy die voordeur agter hom toemaak en sy pet behendig deur die portaal laat trek om netjies op ’n stoel te lande te kom, merk hy onraad. Dis stil in die huis. Véraf hoor hy sy pa en ma se stemme. Hulle is in die studeerkamer en hy weet as hulle daar is, veral hierdie tyd van die dag wanneer sy ma gewoonlik in die kombuis is, praat hulle oor hom. Hy het weer iets aangevang! Maar wat? Trompie het nooit gedink sy kaskenades met die bobbejaan sal sy ouers die joos in maak nie. Dominee het hom mos al klaar voor stok gekry daarvoor! En hoe kan sy pa en ma nou al van die middag se dinge weet?

    Trompie!

    Ja, Pa.

    Traag loop Trompie studeerkamer toe. Hoekom kan die mensdom hom nie net met rus laat nie?

    Dag, Pa; dag, Ma.

    Die ouers kyk die seun wat hulle altyd soveel probleme gee kwaai aan.

    Wat het jy nou weer vanmiddag aangevang? vra Trompie se pa, die dorp se bankbestuurder.

    Ek? Niks, Pa; niks besonders nie. Sy ouers kyk na mekaar. Dan sê sy ma sag: Ek was vanmiddag in die kerksaal.

    Trompie kyk haar verbaas aan. Ma was ook daar? En ek het Ma nie eens gesien nie! Het Ma ook flou geval?

    Nee, ek het nie, maar jy het my in die skande gesteek deur soos ’n barbaar te skree terwyl jy agter daai bobbejaan aan hardloop. Mevrou Toerien ruik iets wat in die kombuis brand. Ek moet by die kospotte kom. Praat jy met hom, my man.

    Trompie slaak ’n sug van verligting. Dis nou darem een minder wat met hom gaan staan en skoor soek. Hy het nog nooit aspris kwaad gedoen nie, maar dit help nie – hy is altyd in die moeilikheid.

    Soos ’n martelaar staan hy voor sy pa.

    Ek het alles gehoor van jou kwajongstreke met die bobbejaan, sê meneer Toerien. Hoe durf julle klomp Dominee se bobbejaan gaan steel?

    Trompie wil verduidelik dat hulle die bobbejaan net wou geleen het, maar hy weet dit sal niks help nie. Grootmense verstaan mos nooit nie. Hy sal maar stilbly.

    Trompie, jy moet gestraf word hiervoor.

    Ja, Pa.

    Jy werk môre heeldag in die tuin!

    Maar Pa …

    Ja?

    Dis môre Saterdag – wat beteken dis vakansie – en nog ’n ding, ou Jafta jaag my altyd uit die tuin. Hy wil nooit hê ek moet hom help nie.

    Seker omdat jy altyd in die pad is en droogmaak.

    Is seker so, Pa, sê Trompie gedwee en kyk aandagtig na sy skoenpunt wat so ingeduik is van al die graspolle, klippe en blikke waarna hy gedurig loop en skop.

    Ek sal met Jafta praat. Ons twee sal wel vir jou iets te doene kry aan die onderpunt van die tuin.

    Trompie lyk verslae. Hy wil iets sê, maar meneer Toerien tel sy koerant op. Die saak is afgehandel. Trompie ken sy pa. Hy weet dit sal nie help om verder te praat nie. Hy stap stadig deur toe.

    Tot siens, Pa, sê hy sag by die deur en kyk hoopvol terug.

    Tot siens, Trompie.

    En Pa …

    Ja?

    Eendag sal Pa nog jammer wees Pa het my so sleg behandel … Trompie maak hom haastig uit die voete.

    Dié aand lê die Boksombende se Kaptein op sy bed en dink vir die soveelste maal aan hoe onregverdigheid die lewe is. Sy familie verstaan en waardeer hom nie. Dit is die probleem. Sy ma raas gedurig met hom omdat hy kamtig nie na sy klere kyk nie en altyd slordig is. Hy snork verontwaardig in sy kussing. Mens sal sweer hy is ’n babatjie! En sy pa gee hom net altyd werk. Kastig om hom uit die moeilikheid te hou. Asof hy in die strate rondloop en nonsens soek! Hy sal dit mos nooit doen nie!

    Dan is daar nog sy ousus, Anna – sy is nes sy pa en ma. Pik altyd op hom. Doen dit! Doen dat! Dit hou heeltyd so aan. Die afgelope tyd is sy weer hoog die dinges in. Sy praat nie ’n woord met hom nie, maar dis ook maar goed. Dan kan sy hom ten minste nie aanhoudend rondstuur nie. En hoekom is sy nou eintlik kwaad? Trompie skud sy kop vererg. Omdat hy een van haar kêrels by die hek ingewag en met hom onderhandel het! Dis al wat hy gedoen het en nou wil sy iets oorkom. Dit was bloot ’n transaksie. Hy het maar net vir die vent gesê om vir hom geld te gee in ruil vir ’n goeie woordjie by sy suster. Dis al. Kan sy nie verstaan hy het geld nodig nie? Hy skuld Rooie nou al vir twee weke ’n paar rand en die ou begin moeilik word! Is dit só moeilik om te verstaan?

    Trompie gee nog ’n snork en die bed kraak soos hy omdraai. Maar toemaar, eendag sal hy hulle wys! Hy wat Trompie is, sal sy pa en sy ma en sy suster, Anna, nog wys! Hy gaan wegloop. Hy gaan ’n seerower word! Dis wat hy gaan doen! En eendag sal hy terugkom met die wêreld se skatte in ’n groot sak. Dan sal hy maak of hy hulle nie eens ken nie. Wel, miskien sal hy darem vir sy ma so ’n paar juwele gee. Maar sy pa en Anna – hulle kry niks! Môre is Saterdag, ’n heerlike dag om by die dam in die kloof te gaan speel – en hy moet in die tuin werk. Maar toemaar, hy sal ’n plan maak.

    Trompie se asemhaling word al hoe reëlmatiger. Hy geniet die oomblikke net voor die slaap hom geheel en al oorval. Hy glimlag. Dit was darem groot pret daar in die kerksaal vanmiddag … En môre … Hy sal ’n plan maak … Hy sal ’n plan maak …

    Dier%20poot.tif

    3

    Trompie en die woer-woer

    Vroeg die Saterdag is Trompie al uit die vere. Hy stap na sy ouers se slaapkamer toe. By die deur roep hy: Pa?

    Ja, Trompie? kom sy pa se stem vakerig.

    Ek sal Pa se skoene skoonmaak as Pa wil.

    Nee toemaar, Trompie, ek sal dit netnou doen.

    In die slaapkamer is sy ouers verbaas.

    Wat het oor sy lewer geloop? vra meneer Toerien vir sy vrou. Sy begin lag.

    Jy het gisteraand gesê hy moet vandag vir Jafta in die tuin help. Nou probeer Trompie in jou goeie boekies kom, want hy gaan jou netnou vra om hom maar liewer af te gee.

    Meneer Toerien lag heerlik.

    Maar ek gaan hom nie daarmee laat wegkom nie. Vandag help hy vir Jafta. Dis klaar.

    Mevrou Toerien kyk na haar man en sê sag: Ag wat, dis Saterdag. Laat hy saam met sy maats in die kloof gaan swem.

    Sodat hulle nóg kattekwaad kan aanvang! Het jy van Dominee se bobbejaan vergeet?

    Die twee kyk na mekaar. Albei dink aan die toneel in die kerksaal: die bobbejaan wat op die vrouens afstorm met die blaffende honde en gillende seuns kort op sy hakke. Hulle glimlag en dan bars hulle weer uit van die lag.

    Trompie drentel in die tuin rond. Hy hoor sy ouers se gelag. Wat is so snaaks? As hulle net ’n greintjie omgee vir hulle seun, hulle eie vlees en bloed, sal hulle nie lag nie, maar vir hom jammer voel. Hulle behoort te weet hoe bitter seer dit hom maak dat hy so onregverdig behandel word. Dis onmenslik! Hy sê die laaste sin hardop, mik na een van sy ma se rooi pronkdahlias en trek los! Sy ingeduikte skoenpunt tref die dahlia netjies en die blom trek deur die lug.

    Die seun glimlag. ’n Kolskoot, soos altyd. Hy sweer Rooie kan nie só skop nie. Nee, daar is niemand in die dorp wat soos hy kan skop nie. Aan die onderpunt van die tuin sien hy ou Jafta aangesukkel kom. Hy tel die blom vinnig op en gooi dit oor die heining. Hy wil nie vandag weer in die moeilikheid beland nie. Hy’t niks verkeerd gedoen nie – net mooi gemik, losgetrek en daar vlieg die blom toe. Maar grootmense sal dit nie verstaan nie. Dis beter dat hy die ding weggegooi het.

    Trompie sit moedeloos op die visdam se muurtjie. Hy moet dink. ’n Plan maak. Hy wil nie vandag in die tuin werk nie. Blikkies, Dawie en Rooie gaan swem. Hulle kom hom net ná ontbyt haal. Wat gaan hy vir hulle sê? Of miskien is hulle ook in die moeilikheid oor die bobbejaanstorie. Miskien moet hulle ook by die huis bly. Dit sal ten minste regverdig wees, dink Trompie. As hy nie kan gaan swem nie, kan hulle ook nie. Dis baie beter. En buitendien, as hy nie gaan nie en hulle gaan, sal Rooie hom mos verbeel hy is die Boksombende se Grootkaptein.

    Terwyl hierdie gedagte deur Trompie se kop flits, kyk hy aandagtig na ’n groot geel vis wat lui teen die kant van die visdam beweeg. Dis die vette wat hy nou die dag amper gevang het, toe Jafta vir sy pa gaan vertel het! Sowaar, dis daai einste een! Trompie loer vlugtig rond. Daar’s niemand in die tuin nie. Vissie, vandag hét ek jou, fluister hy. Hy leun op sy tone oor die walletjie, sy oë stokstyf in sy kop soos hy die niksvermoedende vis dophou. Hy bring sy hand al nader aan die water se oppervlak. Hy gryp! Dis mis. Hy gryp weer, sommer met altwee hande, en karplaks! val hy oor die walletjie en in die water.

    Jissou, sê hy verbaas toe hy papnat oor die muurtjie terugklim, so ’n ding is darem vinnig.

    Soos ’n nat hond staan hy homself en afskud. Nou’s ek weer in die gemors. Ma gaan die horries kry, dink hy terwyl hy sy hemp se punte opfrommel om dit te probeer droogkry.

    Wat vang jy aan, Trompie? hoor hy ’n meisiestem oor die heining. Hy kyk op. Dis Katrien wat net langs hulle bly.

    Wat dink jy? mompel Trompie. Ek swem vir my gesondheid.

    Hoekom? Is jy dan siek? vra sy. Die sproetgesig Trompie met sy ongekamde boskasie is een van haar groot helde. Sy wil graag by die Boksombende aansluit, maar dis glo teen hul reëls om meisies toe te laat. Die klomp hou net van haar as hulle haar nodig het om iets te doen waarmee sy beter as hulle is.

    Trompie trek sy skoene en kouse uit en sit hulle in die sonnetjie neer. Hy staan nader.

    Jy vra of ek siek is, sê hy en probeer lyk soos iemand wat nou net uit die doderyk terugkeer. Kan jy nie sien ek is nie?

    Katrien kyk aandagtig na die seun. Hy vat-vat en frommel nog steeds aan sy klere om dit droog te kry.

    Jy lyk nie baie siek nie, sê sy uiteindelik.

    Ga, snork Trompie minagtend, "ek lyk miskien nie baie siek nie! Maar hoe weet jy hoe voel ek – diep binne-in my?"

    Katrien se oë word groot.

    Hoe – hoe voel jy?

    Trompie staan effens nader, skud sy kop stadig en sê weemoedig: Soos iemand wat nie meer lank gaan lewe nie. Maar moenie dink ek kla nie, hoor! Hy kom regop, stoot sy bors uit en probeer om sy stem te laat tril: Ek dra my smarte soos ’n man!

    Katrien sit haar hand op syne. Hy skud dit af.

    Ek soek nie simpatie nie, snou hy haar toe en voeg dan bedees by: Dankie, Katrien, maar ek dra my las soos Napoleon!

    Soos Napoleon?

    Ja, hy het dieselfde dodelike siekte gehad.

    Wat se siekte is dit?

    Trompie dink vinnig. Hy weet nie of Napoleon ooit aan enige siekte gely het nie. Daar staan nie so iets in daardie geskiedenisboek nie.

    Jy bedoel jy weet nie? sê hy met ’n verbaasde uitdrukking.

    Nee.

    Rêrig nie?

    Rêrig nie!

    Trompie aarsel effens. Dan gryp hy sy sy vas en begin kreun.

    Wat makeer, Trompie? wil Katrien bekommerd weet.

    Dis dieselfde siekte waaraan Napoleon gely het. Dis … dis … bromkatjies … Dis wat dit is!

    Nou is daar trane in Katrien se oë.

    Hoe lank … hoe lank sal jy nog lewe, Trompie?

    Hy skud sy skouers mismoedig. Wie weet? Miskien ’n uur of twee … Miskien, as ek gelukkig is, ’n dag …

    Impulsief sit Katrien haar handjie weer op syne.

    "Trompie, onthou jy daai hout speelding wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1