Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Trompie die rebel (#17)
Trompie die rebel (#17)
Trompie die rebel (#17)
Ebook131 pages1 hour

Trompie die rebel (#17)

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Trompie bring ’n brulpadda skool toe en sake ruk hand-uit wanneer ’n nuwe onderwyseres skoon flou val van skok. Gelukkig vir die sproetgesig is die skoolhoof nie op die oomblik in Kwaggaberg nie. Die Boksombende se Grootkaptein is jaloers wanneer Katrien, die meisie wat langs hom bly, ’n brief van ’n geheime bewonderaar in hul klas kry. Dit is nie lank voor Trompie uitvind wie so beenaf op haar is nie en dan gaan hy uit sy pad om die lewe vir dié kêrel moeilik te maak. Ons held besluit hy moet ’n nuwe blaadjie omslaan en ’n beter mens word. Sy bendelede is nie juis beïndruk met hierdie nuwe gier nie, maar Trompie doen sy bes om sy medemens te help. Hy hoor by ’n vriend wat in die koshuis is dat die kinders nie naastenby genoeg kos daar kry nie en ontferm hom dadelik oor hulle. Die daaropvolgende eetstaking wat Trompie reël, het verreikende gevolge!
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780798154109
Trompie die rebel (#17)
Author

Topsy Smith

Topsy Smith se karakter Trompie was vir die jongmense van sy era ’n rolmodel. Smith is een van die mees geliefde en suksesvolle jeugboekskrywers in Afrikaans. Sy Trompie-reeks het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en dit het jongmense baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.

Read more from Topsy Smith

Related to Trompie die rebel (#17)

Titles in the series (29)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Trompie die rebel (#17)

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Trompie die rebel (#17) - Topsy Smith

    Die Trompie-reeks

    1. Trompie

    2. Trompie die stouterd

    3. Trompie die soet seun

    4. Trompie die hoërskoolseun

    5. Trompie die dromer

    6. Trompie die speurder

    7. Trompie die kragman

    8. Trompie die hartedief

    9. Trompie die held

    10. Trompie die mooi seun

    11. Trompie die leier

    12. Trompie die rugbyreus

    13. Trompie die vegter

    14. Trompie die krieketspeler

    15. Trompie die filmster

    16. Trompie die sakeman

    17. Trompie die rebel

    18. Trompie die waaghals

    19. Trompie die sportman

    20. Trompie die hanswors

    21. Trompie die reisiger

    22. Trompie die kaptein

    23. Trompie die alleenloper

    24. Trompie die atleet

    Inhoud

    Hoofstuk 1 – Trompie en die brulpadda

    Hoofstuk 2 – Alles loop verkeerd

    Hoofstuk 3 – Die goorste goor dag

    Hoofstuk 4 – ’n Nuwe blaadjie

    Hoofstuk 5 – Moleste met Ben ou Pen

    Hoofstuk 6 – Trompie maak ’n plan

    Hoofstuk 7 – Die eetstakers

    frog.tif

    1

    Trompie en die brulpadda

    Die vyftienjarige Trompie gee ’n paar lang gape en strek homself uit. Hy draai sy kop en kyk na sy horlosie op die tafeltjie langs die bed. Hy sal moet opskud, anders is hy sowaar laat.

    Hy weet sommer nóú al vandag gaan nie ’n lekker dag by die skool wees nie. Die periodes op die rooster is almal van die soort waar ’n ou hard moet werk as jy nie in die moeilikheid wil beland nie. Daar is wiskunde (waarvan Trompie niks weet nie), natuurwetenskappe (waarvan hy nog minder weet), en Engels. En boonop volg die een goor vak nog direk op die ander. Hy sug swaar. Ja-nee, daar is nie eens tyd om ’n bietjie asem te skep nie.

    Engels is deesdae ook een van Trompie se moeilike vakke. Hy het altyd gedink hy is baie goed daarin en het gereeld gespog en gesê: Ek gooi dit soos ’n Engelsman. Maar noudat hulle ’n nuwe onderwyseres het, lyk dit glad nie meer so nie. Sy punte vir sy Engelse opstelle is maar swak.

    Hy gaan vandag weer in die moeilikheid wees by die nuwe juffrou, want hy het nie sy huiswerk oor Engelse grammatika gedoen nie. Hy weet sommer Ou Kareltjie – die leerders noem haar só, want haar van is Carelse – gaan sommer baie kwaad wees. Hy was eintlik van plan om dit gistermiddag te doen, maar toe het hy en sy vriende gaan swem. Hy het die huiswerk tot die aand uitgestel, maar was toe te moeg van die hele middag se swem en baljaar in die kloof se dam, en het toe maar gaan slaap.

    Trompie was vas van plan om die huiswerk vanoggend vroeg te doen. Hy het die wekker gestel sodat hy vyfuur kon opstaan. Dit het hard en skril gelui, maar hy het nie opgestaan nie. Hy het net sy hand vakerig uitgesteek en die knoppie gedruk om die wekker stil te maak. Toe het hy met ’n salige sug omgedraai en weer heerlik verder geslaap.

    Maar nou sug Trompie allesbehalwe salig. Hy sug swaar, want die lewe is moeilik. Sommer met die intrapslag by die skool is dit vanoggend wiskunde (waarvan hy niks verstaan nie), dan natuurwetenskappe (waarvan hy nog minder verstaan) en dan Engels – en hy het mos nie sy Engelse huiswerk gedoen nie.

    Daar is darem één ligstraaltjie. Die hoof is vir ’n paar dae weg na ’n konferensie toe. Ou Kareltjie sal hom nie kantoor toe kan stuur nie, maar ’n mens weet nooit watter ander soort strafmetodes sy op universiteit geleer het nie. Sy kom mos nou vars daarvandaan, en dit is haar eerste pos as onderwyseres. Dis seker hoekom sy dink sy’s die enigste mens wat kan Engels praat en ons ander weet niks daarvan af nie, brom hy by homself.

    Trompie voel gegrief. Hy het by die ander onderwyseres altyd goeie punte vir sy Engelse opstelle gekry, maar by juffrou Carelse vaar hy beroerd. Sy sê – en Trompie trek sy sproetgesig vies by hierdie gedagte – hy skryf nie grammatikaal korrek nie en doen die taal ’n onreg aan. Hy weet nie eens wat de joos dit beteken nie.

    Hy draai sy kop en loer weer na sy horlosie op die tafeltjie. Hy sal nou regtig moet opskud, anders is hy vandag laat en dan is hy daaroor óók nog in die moeilikheid.

    Miskien kan hy maak of hy siek is. Miskien glo sy ouers dit en laat hom dan by die huis bly. Nee, besluit hy en kom regop in sy bed, hulle sal nooit die storie sluk nie. Hy het dit al te veel kere in die verlede probeer.

    Hy sien so op teen vandag. Só baie dinge kan verkeerd loop. Hy wens dit was liewer ’n Donderdag. Donderdae is vir hom lekker. Dan is daar ’n lewensoriëntering- en ’n sangperiode.

    In party van die lewensoriënteringsklasse gaan hulle saal toe en doen allerhande liggaamsoefeninge op matte en ander apparate. Trompie is ’n waaghals, en hy hou daarvan om toertjies uit te haal. Hy is die enigste seun in sy klas wat twee keer oor die apparaat wat hulle ’n perd noem, bollemakiesie kan slaan.

    Hy hou ook baie van die sangklasse. Hy kan glad nie sing nie, maar wat maak dit saak? Dit voel soos vakansie om nie in die klas te sit en swoeg met wiskundeprobleme en sulke soort goed nie. Jy staan maar net gemaklik agter teen die muur, en elke keer wanneer die sangjuffrou na jou kyk, maak jy jou mond oop en gaap-gaap soos ’n vis op droë grond. Dan lyk dit vir haar of jy vir ’n vale saamsing.

    Maar dit is nie vandag Donderdag nie. Dis Dinsdag. En sommer met die intrapslag is dit wiskunde, en dan natuurwetenskappe, en dan Engels.

    Hy kyk weer op sy horlosie. Hy sal nou sowaar moet opstaan. Hy besluit om tot by drie te tel en dan te beweeg. Hy tel – een, twee, drie – en dan loer hy eers gou weer na sy horlosie. Hy kan nog ’n bietjie langer lê.

    Hy sal tot by tien tel en dan opspring, dink hy. Dan besluit hy om eers tot by tien te tel voor hy die eintlike amptelike tien aftel. Eers die inleidende tien, dan die eintlike tien – en dan sal hy vinnig opspring.

    Maar voor hy weer kan begin tel, kyk hy eers gou weer op sy horlosie en dan vlieg hy uit die bed! Daar is nie tyd om eers een keer tot by tien te tel nie – om nie eens te praat van die tweede amptelike tien nie. Hy is laat!

    Nou gaan dit soos blits. Trompie trek binne ’n rekordtyd aan.

    In die badkamer borsel hy sy tande en stryk terselfdertyd sommer met sy vingers deur sy hare om sy boskasie te kam.

    Hy sluk sy ontbyt vinnig af en met ’n Totsiens, Ma! Totsiens, Pa! storm hy by die huis uit.

    Hy hardloop met die tuinpaadjie af motorhuis toe waar hy sy fiets bêre. Soos gewoonlik lê sy kouse op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy pet sit windmakerig skeef op sy kop, en hy skop in die hardloop – ook soos gewoonlik – na klippe.

    Naby die motorhuis steek Trompie skielik vas. Hy het iets gehoor. Hy draai sy kop effens skeef om beter te kan luister. Daar is ’n geritsel in die blombedding langs die paadjie.

    Ek wonder of dit ’n slang is, sê hy onwillekeurig hardop vir homself. Sy hele sproetgesig trek op ’n plooi soos hy wonder. Hy hoor die geritsel weer. Hy buk en steek sy hande versigtig tussen die blomme in en trek hulle van mekaar af weg sodat hy kan sien. Hy is gereed om vinnig om te spring en te laat spaander as dit miskien ’n slang sou wees.

    Trompie buig twee plantstingels van mekaar af weg en dan glimlag hy. Daar op die grond voor hom sit ’n yslike brulpadda. Sy blink ogies loer vir hom, en sy witterige bors hyg op en af.

    Trompie frons en kyk diep ingedagte na die padda. Hy het al weer skoon vergeet hy moet opskud as hy nie laat by die skool wil aankom nie. Hy wonder wat hy met die padda moet doen. Sal hy die ding maar net hier tussen sy ma se blomme los?

    Dit is amper asof die padda ook diep ingedagte na Trompie kyk, asof hy ook wonder wat die seun met hom gaan doen.

    Só ’n yslike brulpadda sal mos groot konsternasie in ’n klas kan veroorsaak, dink hy. Dit sal vet pret wees, veral as die brulpadda in Ou Kareltjie se klas beland. Hy glimlag by hierdie gedagte.

    Die nuwe juffrou is nog onervare (al dink sy ook sy is die enigste een in die wêreld wat ordentlik Engels kan praat) en sy sal haar boeglam skrik. Miskien sal die konsternasie in die klas so erg wees, dat sy skoon van die huiswerk vergeet!

    Trompie is nou skielik hoog in sy skik. Dit lyk mos of die dag glad nie so erg gaan wees soos hy eers gedink het nie.

    Wag, Padda, wag vir my! sê hy en hardloop motorhuis toe. Daar staan ’n klomp skoenbokse in die een hoek opgestapel. Hy gryp een en hardloop weer buitentoe.

    Hy gaan sit op sy hurke in die paadjie en maak met ’n skerp klip gate in die skoenboks. Hy wil nie hê die padda moet versmoor nie. Die konsternasie in die klas sal nie so groot wees as dit ’n dooie padda is nie. Die ding moet rondspring, en as hy terselfdertyd ook hard kan brul, sal dit soveel te beter wees.

    Hy wonder hoe ’n mens ’n padda sover kan kry om brulgeluide te maak as hy nie wil nie. Maar dan besluit hy die padda sal genoeg konsternasie veroorsaak as hy daar op die juffrou se tafel rondspring terwyl hy en sy vriende oor mekaar val soos hulle kamtig probeer om die ding te vang.

    Ja-nee, daar is ’n groot moontlikheid dat die jong juffrou, wat haar verbeel sy weet absoluut alles van Engels af, só groot sal skrik, dat sy glad nie eens met die les sal kan aangaan nie. Of al gaan sy ook aan, sal sy heel moontlik skoon van die huiswerk vergeet.

    Trompie glimlag selfvoldaan en skuif die blomstingels weer opsy. Die padda sit nog presies op dieselfde plek en loer agterdogtig na die seun.

    Hy hou die skoenboks voor die padda. Die oop kant is na voor en die sykant is op die grond.

    Toe nou, Padda, sê hy, gee net een sprongetjie – en ek het jou.

    Maar die padda weier. Sy blink ogies kyk agterdogtig na

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1