PROFESSOR Petrus Poggenpoel is ’n wafferse wysgeer in sy eie oë. En darem ook in die oë van al die instansies wat hom nooi vir praatjies oor natuurbewaring en klimaatsverandering en “Red die Renoster”. Waar elke woord wat hy sê ingedrink word asof hy die heilige graal van kennis en insig voor brekfis kafgedraf het. Ek weet goed ek behoort nie so bitterbek te wees oor die pa van my kinders nie, maar ek probeer die duiwel gee wat hom toekom. Elke jota en tittel.
Ek, wat weet hoe hy lyk voor hy soggens sy tande geborsel en sy Einstein-hare getem het, is minder beïndruk met sy slimmigheid. Ek moes net te dikwels in my lewe daarna luister. Selfs noudat hy met skeergoed en akoestiese kitaar en genoeg elektroniese speelgoed om ’n winkel te begin by die voordeur uit is, peper hy my nog graag met sy meerdere kennis. Nie net op sy gebied nie, hy het sommer