Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Trompie die held (#9)
Trompie die held (#9)
Trompie die held (#9)
Ebook138 pages1 hour

Trompie die held (#9)

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Trompie en Rooie sien nie kans vir ’n aardrykskundetoets nie en besluit om die klas te bank. Dit lei egter tot twee baie seer sitvlakke! Ons held lees in ’n tydskrif wat die kenmerke is van ’n mens wat ’n skitterende sukses in die lewe is. Hy voel hy beantwoord aan al die vereistes, behalwe miskien dat hy effens meer beleef teenoor ander mense kan wees. Nou ontgeld sy arme familie en vriende dit – hy is só vriendelik en bedagsaam dat almal wens die ou Trompie wil eerder weer terugkom. Rooie daag die Boksombende se Grootkaptein uit om ná donker vir ’n uur alleen in die spookhuis op die bult buite Kwaggaberg te bly en Trompie loop meer as net ’n spook daar raak. ’n Wêreldberoemde toneelgeselskap kom voer ’n drama in die dorp se kerksaal op en Trompie besluit dis tyd dat hy en sy manskappe aan ’n bietjie kuns en kultuur blootgestel word – hy kry natuurlik soos gewoonlik baie meer as wat hy te wagte was!
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780798154628
Trompie die held (#9)
Author

Topsy Smith

Topsy Smith se karakter Trompie was vir die jongmense van sy era ’n rolmodel. Smith is een van die mees geliefde en suksesvolle jeugboekskrywers in Afrikaans. Sy Trompie-reeks het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en dit het jongmense baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.

Read more from Topsy Smith

Related to Trompie die held (#9)

Titles in the series (29)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Trompie die held (#9)

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Trompie die held (#9) - Topsy Smith

    Die Trompie-reeks

    1. Trompie

    2. Trompie die stouterd

    3. Trompie die soet seun

    4. Trompie die hoërskoolseun

    5. Trompie die dromer

    6. Trompie die speurder

    7. Trompie die kragman

    8. Trompie die hartedief

    9. Trompie die held

    10. Trompie die mooi seun

    11. Trompie die prefek

    12. Trompie die rugbyreus

    13. Trompie die vegter

    14. Trompie die krieketspeler

    15. Trompie die filmster

    16. Trompie die sakeman

    17. Trompie die sportman

    18. Trompie die waaghals

    19. Trompie die rebel

    20. Trompie die hanswors

    21. Trompie die reisiger

    22. Trompie die kaptein

    23. Trompie die alleenloper

    24. Trompie die atleet

    Inhoud

    Hoofstuk 1 – Hier’s ons weer

    Hoofstuk 2 – Trompie en Rooie loop deur

    Hoofstuk 3 – Trompie die hoflike seun

    Hoofstuk 4 – Die spookhuis op die bult

    Hoofstuk 5 – Oorlede Trompie

    Hoofstuk 6 – Dawie se geld

    Hoofstuk 7 – Die fluitjie

    Hoofstuk 8 – Trompie die akteur

    Trompie die held.tif

    1

    Hier’s ons weer

    Die veertienjarige Trompie Toerien loop ingedagte na graspolle en skop. Sy hande is diep in sy sakke, sy pet sit windmakerig skeef op sy kop en sy hare hang deurmekaar oor sy voorkop. Sy hemp hang agter by sy broek uit en sy kouse lê op sy skoene.

    Hy is bekommerd. Daar is ’n frons op sy ondeunde sproetgesig.

    Ja-nee, sug hy, die lewe is maar moeilik. Dan sê hy weer: Vat so! en trek los en skop die soveelste graspol netjies raak.

    Hy staan en kyk na sy skoene. Die regterkantse een se punt is ingeduik van al die graspolle, klippe en blikke wat hy so gedurig loop en skop. Die linkerskoen se punt lyk heeltemal mooi. Hy besluit dit sal beter lyk as albei die skoenpunte ingeduik is. In die toekoms gaan hy links skop.

    Trompie sien ’n konfytblik voor hom op die sypaadjie. Hy kom versigtig nader en loop met so ’n halwe sirkel sodat hy die blik met sy linkervoet kan bykom. Hy skop, maar dit is net skrams raak. Die blik trek maar net ’n entjie. As hy nou met sy regtervoet geskop het, sou die ding sommer met ’n boog deur die lug getrek het.

    Skielik stap Trompie vinniger. Hy het nie tyd om so te loop en speel nie. Hy is in die moeilikheid, groot moeilikheid. Hy soek hulp.

    Hy is op pad na Rooie toe om te sien of sy maat hom kan help, maar hy twyfel. Trompie dink Rooie is in dieselfde verknorsing as hy. Maar as hulle in dieselfde bootjie is, kan hulle twee ten minste saam sit en gesels en hul lot betreur en uitvaar teen skole, onderwysers en die onregverdigheid van hierdie ou tranedal.

    Voor die huis waar Katrien woon – net langs die Toeriens – gaan staan Trompie stil. Hy wonder of sy hom sal help. Maar Katrien is deesdae baie kil teenoor hom.

    Hy dink hy weet hoekom. Die ander meisies in die klas groet hom ook skaars. Die Afrikaanse onderwyser het hulle nou die dag in die mondelinge klas laat debatteer oor die onderwerp: Wie is die grootste aanwins vir ons skool – die meisies of die seuns?

    Trompie dink nou weer aan hoe ’n belaglike affêre dit was, want ten spyte van die feit dat hy as hoofspreker vir die seuns opgetree het, en hom skitterend van sy taak gekwyt het – so meen hy altans – het die meisies met drie stemme gewen toe dit uiteindelik by die stemmery kom. Maar mens kon dit mos verwag het. Daar is vyftien seuns in die klas en agtien meisies. Die seuns het nie ’n kans gehad om te wen nie.

    En hoekom is die meisies nou almal vir hom die joos in? Net omdat hy sy sê gesê het! Hy het die klas daarop gewys dat die vrou uit die man se rib gemaak is. Hy het dit as sy mening uitgespreek dat die samelewing as geheel én die skool in die besonder sal baat by die afwesigheid van iets soos ’n meisiemens.

    Trompie het gedink aan ’n sekere aand wat hy ’n meisie na ’n skoolfunksie geneem het en toe sê hy: Meisies kos geld. As ’n ou geld het, is jy gewild by hulle en as jy nie geld het nie is jy niks in hul oë nie. Maar selfs die gewilde ouens hou nie lank nie, want hul geld word binne ’n paar dae alles opgebruik.

    Hy het ook vir die meisies Adam se salige geluk in die paradys beskryf toe hy op sy eentjie daar rondgeloop en na die mooi blomme en die mooi vrugte en die mooi natuur en al die mooi goeters gekyk het. Maar toe word Eva uit Adam se rib gemaak. En toe kom die moeilikheid. En die bedrieëry.

    Trompie meen hy het skitterend gepraat, maar die meisies loop nou wye draaie om hom en groet hom skaars. Hy weet darem Katrien het altyd ’n sagte plekkie in haar hart vir hom en sy sal hom waarskynlik help, veral as hy haar ’n bietjie vlei. Hy ken mos vroumense.

    Trompie sit sy pet nog skewer op sy kop en dan maak hy die hekkie oop en stap by die tuin in.

    Katrien sit op ’n bankie onder ’n boom en leer. Trompie sien haar en stap oor die grasperk na haar. Op die laaste oomblik bedwing hy ’n oorweldigende begeerte om ’n groot blom netjies met sy skoenpunt af te klits.

    Hallo, Katrientjie, sê hy vriendelik en glimlag breed.

    Hallo, sê sy kil en voeg ysig by, Adam.

    Hoekom sê jy so? Trompie glimlag nie meer so breed nie.

    Wel, jy het mos nou die dag gesê jy wil so graag weer lewe soos Adam – vóór Eva op die toneel verskyn het.

    Ag, Katrientjie, sê Trompie vroom, dit was mos maar net praatjies daai. Jy weet mos ek het dit nie bedoel nie...

    Ja-nee, noudat jy iets wil hê, het jy dit skielik nie bedoel nie. Dis tipies van julle mansmense!

    Hoe weet jy ek wil iets hê? Trompie glimlag glad nie meer nie. Sy gesigspiere is moeg. Hulle is nie gewoond aan soveel oefening nie.

    "Ou Bles gee môre vir ons ’n mondelinge sosiale wetenskappetoets. Hy het gesê hy trek die een wat nie ’n vraag kan beantwoord nie, se velle van sy lyf af. En jy, Adam, het seker nie een enkele nota om te leer nie, want jy sit mos altyd en gekskeer in plaas van oplet en aantekeninge maak. So nou kom vra jy hulp by ’n meisie – ’n Eva, ’n bedrieër – een van die geslag wat, soos jy gesê het, al die moeilikheid in die wêreld gebring het.

    Trompie staar haar verbaas aan.

    Wel, ek gaan nie vir jou my sosiale wetenskappenotas leen nie, en klaar! So nou weet jy.

    Jissie, Katrientjie, jy’s darem vandag in ’n verkeerde bui, nè?

    Nee, ek is nie. Ek wil net nie lastig geval word nie. Veral nie deur seuns soos jy wat so min van meisies dink nie.

    Trompie kyk aandagtig na haar. Noudat sy haar hare afgesny is, lyk sy wel effens beter, maar hy glo nogtans nie Katrien hoef haar veel te bekommer dat seuns haar ooit lastig sal val nie. Hy vergeet dat hy haar ’n paar maande gelede na die Sondagskoolpiekniek toe gevat het en toe nogal heel trots was dat sy saam met hom daar is.

    Katrien het die spyker op die kop geslaan oor haar notas. Trompie wil dit bitter graag in die hande kry, anders gaan Ou Bles inderdaad môre sy velle van sy lyf af trek!

    Jy is verkeerd as jy sê ek het niks notas nie, sê hy met ’n onskuldige uitdrukking op sy gesig vir Katrien. Ek het ’n hele paar. My probleem is net – dis nie heeltemal volledig nie. Dis maar al.

    Hy vertel haar nie dat daar vir elke bladsy waarop hy geskryf het, vier skoon bladsye in sy notaboek is nie. Nee, sy notas kan hom nie veel help nie. En van die paar aantekeninge wat hy wel het, kan hy skaars kop of stert uitmaak.

    Ek wil jou boek net vir ’n uur of so leen, Katrientjie...

    Nee, ek gaan netnou self begin leer.

    Trompie kyk na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die verknorsing waarin hy nou weer verkeer.

    Is jy nie bang om hier te wees nie? vra sy skielik.

    Bang? Hoekom?

    Jy kan dalk verlei word, sê sy smalend. Jy’s mos nou in ’n tuin – ’n paradys – en hier’s ’n Eva...

    Trompie antwoord liewer nie hierop nie, maar hy dink daaraan dat Eva seker net so sarkasties soos Katrien was en dis natuurlik hoekom Adam so vinnig uit die paradys padgegee het.

    Die arme Trompie lyk so bek-af en pateties dat Katrien hom jammer kry. Sy kan verder nie glo dat hy haar nie soos gewoonlik bitsig terugantwoord nie. Dit is duidelik dat hy baie bekommerd is oor môre se mondelinge toets.

    Ek sê jou wat...

    Ja, Katrientjie? Trompie se ondeunde oë skitter en hy vryf sy vuil hande voor hom.

    Jy kan my notaboek vanaand kom haal...

    Maar ek kan nie vanaand leer nie.

    Hoekom nie?

    Dis vanaand boksaand en ek is die bokskaptein, so ek móét daar wees. Leen jou notas net vir ’n uur of twee vir my... Asseblief...

    Nee, ek het jou mos gesê ek gaan nou self leer. As jy die boek vanaand wil hê, kan jy dit kom haal, maar jy kry dit nie nou nie. Katrien vou haar arms beslis.

    Trompie kyk peinsend na haar. Hy weet selfs ’n vleiery sal nou nie meer help nie. Sy het besluit en klaar.

    Dan onthou Trompie daar is nog een ander ding wat hy kan probeer. Hy wikkel sy neus op en af en mompel: Dankie. Ek weet nou wie my vriende is en wie nie.

    Maar dit het ook geen uitwerking op Katrien nie. Sy sit en leer.

    Mismoedig stap Trompie weg. Toe hy by die pronkblomme kom, probeer hy hom nie eens inhou nie. Hy trek los. ’n Blom trek grasieus deur die lug. Trompie loer vinnig oor sy skouer en stap dan haastig weg. Hy wonder of Katrien se ma nie miskien op die stoep sit nie.

    Al skoppende en met sy hande diep in sy broeksakke stap Trompie in die straat af op soek na notas. As hy nie wil hê Ou Bles moet sy velle aftrek nie, beter hy nou vinnig hulp kry êrens.

    By die huis van Kwaggaberg se skoenmaker stap Trompie deur die tuin na Rooie se buitekamer agter op die werf. Hy kyk deur die venster om te sien of sy maat leer.

    Trompie glimlag. Rooie is in dieselfde bootjie as hy. Dit is duidelik dat hy ook nie notas het nie. Hy sit op sy bed met sy rug teen die muur en sy kaal voete op die tafel voor die bed. Hy wikkel sy tone en hou hulle aandagtig dop. Rooie probeer hard om sy groottoon te roer sonder dat die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1