Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Trompie die atleet (#24)
Trompie die atleet (#24)
Trompie die atleet (#24)
Ebook127 pages2 hours

Trompie die atleet (#24)

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Trompie raak siek net voor ’n belangrike atletiekwedstryd. Hy word verplig om mee te ding teen ’n nuwe seun, Hanno Breedt, wat nie net op die atletiekveld vir hom kompetisie is nie
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780798154079
Trompie die atleet (#24)
Author

Topsy Smith

Topsy Smith se karakter Trompie was vir die jongmense van sy era ’n rolmodel. Smith is een van die mees geliefde en suksesvolle jeugboekskrywers in Afrikaans. Sy Trompie-reeks het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en dit het jongmense baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.

Read more from Topsy Smith

Related to Trompie die atleet (#24)

Titles in the series (29)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Trompie die atleet (#24)

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Trompie die atleet (#24) - Topsy Smith

    Die Trompie-reeks

    1. Trompie

    2. Trompie die stouterd

    3. Trompie die soet seun

    4. Trompie die hoërskoolseun

    5. Trompie die dromer

    6. Trompie die speurder

    7. Trompie die kragman

    8. Trompie die hartedief

    9. Trompie die held

    10. Trompie die mooi seun

    11. Trompie die leier

    12. Trompie die rugbyreus

    13. Trompie die vegter

    14. Trompie die krieketspeler

    15. Trompie die filmster

    16. Trompie die sakeman

    17. Trompie die kaptein

    18. Trompie die waaghals

    19. Trompie die sportman

    20. Trompie die hanswors

    21. Trompie die reisiger

    22. Trompie die kaptein

    23. Trompie die alleenloper

    24. Trompie die atleet

    Inhoud

    Hoofstuk 1 – Trompie is siek

    Hoofstuk 2 – Trompie maak sy geld meer

    Hoofstuk 3 – ’n Duur speletjie

    Hoofstuk 4 – Die nuwe atleet

    Hoofstuk 5 – Die oefenprogram

    Hoofstuk 6 – Die atletiekbyeenkoms

    Hoofstuk 7 – Trompie en Hanno

    missing image file

    1

    Trompie is siek

    Trompie is siek – nogal regtig siek, nie sommer net skoolsiek nie.

    Hy het in die kloof se dam gaan swem en op die een of ander onverklaarbare manier verkoue gekry. Wel, dit is volgens hom onverklaarbaar, want hy het al hoeveel duisende kere in sy lewe in die dam geswem en nog nooit vantevore verkoue gekry nie.

    Maar dié keer het hy. En die verkoue was so erg dat hy in die bed moes bly, anders kon hy dalk brongitis kry.

    Gelukkig is Trompie nou baie beter en die dokter dink hy sal binnekort kan opstaan. Hy is amper weer perdfris.

    Dit is baie vervelig om so in die bed te moet bly. Op die oomblik lê en skiet hy met ’n kettie na ’n lepel op sy spieëlkas, maar dit verveel hom ook.

    Die moeilikheid is, mompel Trompie by homself, ek skiet te deksels goed.

    Hy gebruik klein klippies wat op die tafel langs sy bed lê as sy koeëls. Ná elke skoot hoor hy net Trieng! soos die klippie die lepel tref. Dan val die lepel van die kas af en plof op die mat neer. Nou moet Trompie dit weer gaan optel en terug op die kas sit sodat hy dit nog ’n slag kan afklits.

    Dit begin hom regtig baie verveel. Hy moet aanhoudend uit sy bed spring om die lepel te gaan optel.

    Nou lê en skiet Trompie maar na die wit asters in die tuin naby sy oop venster. Dit is vir hom mooi om te sien hoe die wit blomblare ná elke kolskoot grasieus af grond toe fladder.

    Maar later het hy ook genoeg hiervan gehad. Hy sit sy kettie met ’n sug in die tafel langs sy bed se laai. Hy skiet natuurlik heeltemal te akkuraat, dit is die hele moeilikheid.

    Trompie lê en staar na die plafon. Hy kan nie onthou wanneer laas – indien ooit – hy so verveeld was nie. Hy wens dit is al tyd dat sy vriende, Rooie, Blikkies en Dawie, van die skool af moet kom. Hulle gaan eet elke middag net vinnig by hul huise, dan kom hulle hierheen om vir hom al die nuus te vertel.

    Trompie lê en dink nou aan sy vriende. Hulle is al maats vandat hulle saam in graad vier hier in Kwaggaberg se laerskool was.

    Hulle vier is altyd bymekaar en is die lede van die beroemde (party mense sê berugte!) Boksombende. Trompie is natuurlik die Grootkaptein.

    Daar kom ’n glimlag op sy gesig terwyl hy aan sy vriende lê en dink. Hulle is en bly die beste ouens in die hele wêreld. Ja-nee, dis nou maar wors. Trompie tel sy hand op om ’n vlieg wat voor hom op die kombers sit, te probeer vang. Die ding is te vinnig vir hom en Trompie lê en dink nou weer aan sy vriende.

    Rooie is ’n sterkgeboude kêrel met rooi hare. Sy pa is die dorp se skoenmaker. Dit is eienaardig, lê Trompie glimlaggend en dink, al is Rooie se pa ’n skoenmaker, kan die ou nie skoene aan sy voete verdra nie. Op hoërskool moet hy natuurlik skoene dra, maar sodra die skool uit is, pluk Rooie die goed van sy voete af. Dan bind hy die veters aan mekaar vas en dra die skoene om sy nek.

    Blikkies is lank, skraal en besadig. Hy het sy bynaam gekry omdat sy kniekoppe soos leë blikkies teen mekaar klap wanneer hy opstaan – dit was veral op laerskool so. Blikkies is die een wat altyd eers besware opper wanneer Trompie die een of ander kattekwaad wil aanvang. Maar later, wanneer Blikkies voel hy het sy plig nagekom om die Boksombende op die gevare te wys, speel hy heelhartig saam en geniet dit net soveel soos die ander drie.

    Blikkies se kakebene beweeg altyd. Hy hou daarvan om te kou. Wanneer sy geldelike posisie nie te benard is nie, kou hy kougom. Wanneer geld maar skraps is, en dit is gewoonlik die geval met die vier lede van die Boksombende, kou hy ’n grashalmpie.

    Dawie is die slimkop onder die vier. Trompie het hom eendag gered toe hy eenkeer amper in die kloof se dam verdrink het. Dawie het dit nooit vergeet nie en hy is een van Trompie se vurigste ondersteuners wat hom deur dik en dun volg.

    Trompie glimlag nou by die gedagte aan hoe hy hom, soos hy sê, amper vrekgeskrik het toe hy Dawie van die damwal af stamp en die ou se kop kom sowaar nie weer op nie. Trompie het dadelik ingeduik en hom uit die water gepluk. Dit was so amper of Dawie was oorlede Dawie.

    Maar alles het op die ou end goed afgeloop. Dawie was so dankbaar dat Trompie sy lewe gered het dat hy nooit probeer uitvind het wie hom van die wal af gestamp het nie.

    Trompie kyk op sy horlosie. Dit is nog ’n uur voor die skool uitkom en seker twee uur voor hy sy vriende gaan sien. Hy verveel hom dood hier in die kamer. Hy sug en tel die tydskrif op wat op die vloer langs sy bed lê. Hy sal maar lees tot sy ma sy kos bring. Hy wens sy kom nou gou. Hy is mos honger.

    Trompie lees ’n artikel oor straalvliegtuie met groot aandag. Dís wat hy eendag wil word – ’n vlieënier. Hy wil sommer die een rekord na die ander laat spat, en elke dag ’n paar keer deur die klankgrens bars.

    Die tydskrif lê nou op Trompie se knieë. Hy lees nie meer nie. Daar speel ’n tevrede glimlag om sy mondhoeke. Hy sien homself nou as ’n wêreldberoemde toetsvlieënier.

    Trompie leef hom heerlik in ’n fantasiewêreld van sy eie in. Eendag sal hy, Trompie Toerien die beroemde vlieënier, ’n vlieënde piering in die hemelruim teëkom. Dan sal hy sê (en Trompie sê dit nou onwillekeurig ook hardop hier in sy bed): Ou boetie, vandag het ek jou! Die mense wil mos almal weet wat jy eintlik is. Vandag gaan ek uitvind!

    Hy sien hoe hy die turbo-enjin vasberade oopdraai en deur die wolke klief, reg op die monsteragtige piering se stert. Die piering probeer allerhande maneuvers uithaal, maar die ding het natuurlik nie ’n kat se kans om Trompie Toerien – die wêreld se baasvlieënier – af te skud nie.

    Trompie hou sy duim in die lug voor hom. Hy is gereed om die knoppie te druk wat die laserstraal sal afvuur sodra die vlieënde piering onder skoot kom – en dan gaan die vlieënde piering met wie ook al van watter planeet of wêreld ook al, af aarde toe neerstort.

    Trompie wil die denkbeeldige knoppie in die lug voor hom net druk toe die kamerdeur oopgaan en sy ma inkom.

    Wat’s dit met jou? vra sy glimlaggend.

    Trompie word na die werklikheid toe teruggeruk.

    Ha-... hallo, Ma, sê hy en laat sak sy duim met ’n verleë laggie tot op die kombers.

    Wat doen jy? vra mevrou Toerien.

    Niks eintlik nie, Ma. Trompie kyk na sy hand op die kombers voor hom asof hy ook verbaas is dat dit in die lug voor hom was met sy duim so gereed om die knoppie te druk. Hy kan mos nie vir haar vertel hy het ’n vlieënde piering amper in vlamme neergeskiet nie.

    Mevrou Toerien glimlag en sit die skinkbord met Trompie se kos op die tafel langs hom neer. Hy het ’n geweldige verbeelding, en sy weet hy lewe baie keer in sy eie fantasiewêreld. Sy wonder net wat hy hierdie keer weer was.

    Ma weet, sê Trompie, wat intussen smaaklik begin eet het, wanneer ek eendag groot en klaar met skool is, gaan ek ’n vlieënier word.

    O so, dink mevrou Toerien, dan is dit wat hy dié keer was. ’n Vlieënier.

    Ek wed Ma ek gaan die beste vlieënier in die hele wêreld wees.

    Mevrou Toerien glimlag maar net.

    Nou vertel Tompie haar van die artikel oor vliegtuie wat hy gelees het. Hy praat van stralers en al die moderne vliegtuie wat gereeld deur die klankgrens bars.

    En eendag is eendag, Ma, sê Trompie en vat ’n groot hap brood, dan gaan ’n vlieënier die punt bereik waarvandaan ’n mens nie kan terugkom nie.

    Sy ma vra fronsend wat dit presies beteken.

    Trompie weet ook nie so mooi nie, maar soos hy die ding verstaan, gaan die vliegtuig deur meer as een klankgrens en nugter weet watter ander grense ook nog bars – en dan nooit weer terugkom nie.

    Waarheen gaan die vliegtuig dan? Mevrou Toerien se voorkop is geplooi. Sy verstaan dit glad nie.

    Trompie verstaan dit ook nie, en dit word nie in die artikel verduidelik nie. Maar hy vermoed, soos hy nou kastig alwetend verduidelik nes iemand wat alles van sulke dinge af weet,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1