Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde
Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde
Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde
Ebook198 pages1 hour

Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Gretha maak ’n groot fout wanneer sy haar stiefsussie se sprokiesboek uit wraak vernietig. Want nou bevind sy en haar beste vriend, Hannes, hulle in die koninkryk van Fantastorië, waar ongekende gevare wag. Saam met die iesegrimmige kabouter Kabous moet hulle die sprokieswêreld deursoek vir vyf unieke legkaartstukke, sodat die Towerspieël hulle dalk sal toelaat om terug te keer huis toe . . .
'n Kies-jou-eie-avontuur-storie propvol avontuur en naelbyt-aksie!
LanguageAfrikaans
Release dateApr 9, 2021
ISBN9780798181792
Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde
Author

De Wet Hugo

De Wet Hugo is 'n laerskoolonderwyser en werk al die afgelope sewe jaar by 'n Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië. Kleinmond is sy Suid-Afrikaanse tuiste. Hy het reeds bydraes gepubliseer in Rympies vir Pikkies en Peuters, Liedjies vir Pikkies en Peuters, Skrik op die lyf, Rympies vir Kleintjies en Kleuters en Skool is 'n riller.

Related to Kies-jou-avontuur 2

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kies-jou-avontuur 2

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    N naelbyt storie vol opwinding. N lieflike storie vir oud en jonk. As leser kan jy nie die boek neersit nie.

Book preview

Kies-jou-avontuur 2 - De Wet Hugo

1

Pyn skiet oor Gretha se kopvel en sy skrik wakker. Haar stiefsuster, Sybil, staan langs haar bed en sy is duidelik woedend.

Hoe kon jy, Gretha? sis Sybil en pluk weer geniepsig aan Gretha se oranjerooi krulhare.

Ek weet nie waarvan jy praat nie! gil Gretha. Met ’n vinnige beweging stamp sy haar stiefsuster weg en spring op.

Sybil land met ’n kreun op haar rug op die matjie langs die bed en sis: Dít gaan jy berou, dogtertjie.

Dogtertjie? Gretha se mond val oop. Uhm, ekskuus, tannie Sybil, maar jy onthou seker jy het eers verlede week vyftien geword? Dis net twee jaar ouer as ek. As jy ’n dogtertjie wil sien, gaan kyk in die spieël.

Sybil lyk of sy vuur kan spoeg. Sonder om haar oë van Gretha af te haal, steek sy haar hand uit en tel ’n groot, dik boek van Gretha se lessenaar af op.

Gretha weet natuurlik waaroor die bohaai gaan. Dis omdat sy vroeër die middag Sybil se ou sprokiesboek sonder toestemming uit haar kamer gaan haal het. Maar om dinge te vererger, het sy ingedagte haar warm koffiebeker op die boek neergesit. En toe los dit ’n vaal ring op die voorblad …

Maar Sybil oorreageer regtig. Dis ’n simpel ou kinderboek. Sy lees die ding tog sekerlik nie meer saans voor sy gaan slaap nie!

Vandat Gretha hier kom woon het, was Sybil nog altyd baie aangenaam en soos ’n ouer vriendin vir haar. Glad nie ’n stereotipiese stiefsuster nie. En toe Gretha vroeër na ’n kinderboek gesoek het om inspirasie vir haar kunsprojek te kry, was Sybil nog by haar netbaloefening. Sy het geweet dis verkeerd, maar sy kon nie wag tot Sybil terug is nie.

Oukei, fine! Ek’s jammer, Sybil! sê Gretha en kry onmiddellik spyt dat sy nie meer opreg klink nie.

Toe Sybil niks sê nie en haar net aangluur, vou Gretha haar arms voor haar bors en pers haar lippe saam. Sy kyk stip na haar stiefsuster sonder om ’n woord te sê. Sybil laat haar beslis nie intimideer nie. Sy staar net so lank en hard terug dat dit vir Gretha voel of sy haar in klip gaan verander.

Gretha wens haar ouers het nooit geskei nie. En nou het haar ma boonop die simpel werk in die Midde-Ooste aanvaar. As sy eerder werk as verpleegster by ’n plaaslike hospitaal gekry het, sou Gretha nie nodig gehad het om soos ’n Generasie Z-Aspoestertjie in hierdie nagmerrie te leef nie.

Asof sy haar gedagtes kan lees, sê Sybil: By the way, terwyl jy gelê en snork het, het ek jou dagboek ontdek.

Gretha vries.

Ek dink dis nogal pateties dat jy aan jouself as ’n Aspoestertjie dink. Om ’n Aspoestertjie te wees, moet jy ’n lelike stiefsuster hê wat op jou jaloers is en ’n stiefma wat jou mishandel. Sybil skud haar kop en lyk werklik teleur­gesteld. En dis beslis nie jou omstandighede nie. Ek en my ma gaan uit ons pad om jou deel van die gesin te laat voel. Maar as daar sulke gemors in jou kop broei, moet ek jou dalk wys hoe stiefsusters kan wees.

Gretha voel haar wange warm word. Nie net omdat Sybil die waarheid praat nie, maar ook omdat haar stiefsuster nou weet hoe sy haarself soms bejammer oor haar ouers se huwelik wat op die rotse geloop het.

’n Dagboek is privaat! skree sy.

My slaapkamer is ook privaat, sê Sybil. Sy lig die boek op. En dít is my waardevolste besitting. So jy moes van beter geweet het as om daarmee te speel.

Gretha kan haarself nie keer nie. Is jy op vyftien nie ’n bietjie oud vir sprokies nie? Hoe lame!

Sybil draai haar kop skuins. As dit so lame is, hoekom is dit in jou kamer?

Ek het daardeur geblaai om idees vir my kunsprojek te soek! skree Gretha. En nou gaan jy soos flippen Stepzilla aan!

Sybil se mond trek styf. Hou jou vuil verfhande van my goed af.

Gretha kyk af na haar hande en sien droë verf onder haar naels.

My ouma het hierdie boek vir my gegee voor sy oorlede is. Dit het baie sentimentele waarde. Sybil gee ’n tree nader aan Gretha. Ek gee nie om wat jy daarvan dink nie. Gaan speel maar in jou sogenaamde art studio met jou verfkwaste en vetkryte soos ’n dogtertjie wat haar verbeel sy’s ’n kunstenaar. En los die boeke eerder vir ons wat die verstand het om dit te waardeer. Sybil vlieg om.

Gretha is dronkgeslaan. Almal, veral haar beste vriend, Hannes, wat langsaan woon, het haar nog altyd laat glo sy’s ’n wonderlike kunstenaar. En nou laat Sybil dit klink of sy geen talent het nie.

Sybil steek in die deur vas. Gretha, moenie jou frustrasie op my uithaal omdat jou ma jou weggegooi het en oorsee rondjakker nie. Ons is nie die villains in jou storie nie. Ons gee actually om vir jou.

Sybil se woorde tref Gretha soos ’n pyl in die hart. Sy voel lus om haar stiefsuster te lyf te gaan. Sybil weet nie waarvan sy praat nie. Haar ma het haar nie weggegooi nie!

Gretha sak op haar bed neer. Sybil weet presies wat haar die seerste kan maak. Dit is alles in haar dagboek geskryf. En toe steek Sybil haar met die skerpste naald.

Woede begin soos ’n donker wolk in haar bors saampak. Sybil het te ver gegaan. Sy gaan haar terugkry!

As jy dink Gretha moet met Hannes, haar vriend van langs­aan, gaan praat oor wat so pas gebeur het, gaan na 2.

As jy dink Gretha moet oorgaan tot aksie en wraak neem op Sybil, gaan na 4.

As jy dink Gretha moet rustig in haar kunsateljee agter die huis gaan werk sodat sy aan ’n plan vir wraak kan dink, gaan na 6.

2

Gretha stap by die trappe af. Sy kan nie onthou wanneer laas sy só kwaad was nie. Sy kan nie wag om vir Hannes te sien nie. Hy sal haar beslis kan help dink aan ’n goeie ma­nier om haar op haar stiefsuster te wreek! Hulle sal Sybil duur laat betaal.

Toe Gretha verby haar pa se studeerkamer stap, stop sy. Al is sy glad nie ’n klikbek-klakous nie, kry sy skielik die begeerte om hom alles te vertel. Sy deur is egter toe, so sy druk haar oor daarteen om te hoor of hy op die telefoon is.

Soek jy na jou pa? vra ’n stem agter haar.

Gretha skrik en vlieg om. Dis tannie Beatrix, haar pa se nuwe vrou met wie hy ’n jaar gelede getrou het. Sy’s natuurlik ook Sybil se ma, so ten spyte van die feit dat sy altyd gaaf is en nou weer soos gewoonlik glimlag, is Gretha nie baie lus om met haar te praat nie.

Ja, Tannie, antwoord sy, ek luister net of hy hier binne is.

Tannie Beatrix knik asof sy verstaan. Hy moes vroeër inderhaas hospitaal toe gaan vir ’n noodgeval. Maar hy behoort netnou terug te wees. Sy huiwer, maar vra dan versigtig: Kan ék jou dalk met iets help?

Nee dankie, Tannie, sê Gretha te gou en te hard.

Tannie Beatrix se mondhoeke lig. Goed.

Gretha weet nie hoekom nie, maar sy kan die tannie nie in die oë kyk nie.

Hannes is hier, sê sy. Hy wag in die kombuis.

Nou maar hoekom sê Tannie nie so nie? roep Gretha uit en probeer verby haar stiefma druk, maar sy voel onmiddellik soos ’n luis. Sy stop en kyk op. Jammer, Tannie. Ek het dit nie so bedoel nie.

Tannie Beatrix skud haar kop. Dis niks, my kind, sê sy. Kan ek vir julle twee iets maak om te drink?

Dit voel vir Gretha of die wêreld om haar gaan stilstaan. Sy wil van frustrasie skree, want tannie Beatrix is altyd so gaaf met haar, té gaaf, en dis mos nie normaal nie. Stiefma’s is veronderstel om hekse te wees! Is dit dan nie wat sy kleintyd in storieboeke gelees het nie?

En elke keer as hierdie gawe stiefma haar soos ’n eie dogter behandel, voel dit vir Gretha of sy haar eie ma in die rug steek. En dit vreet haar van binne af op!

Gretha kan haarself egter nie keer nie. Sy verlang so baie na haar ma en tannie Beatrix probeer duidelik om daar te wees vir haar. Ja, dankie, Tannie. Koffie sal lekker wees. Han­nes is verslaaf daaraan, sê sy glimlaggend.

Toe hulle in die kombuis kom, sit Hannes op een van die hoë stoele by die graniettoonbank. Ek was verveeld, toe besluit ek maar om jou te kom irriteer, terg hy en flits sy spier­wit tande in tannie Beatrix se rigting.

Jy’s my gunsteling-irritasie, lag Gretha en gaan sit langs Hannes terwyl tannie Beatrix vir hulle koffie maak.

Oukei, Ma. Ek’s op pad! hoor Gretha vir Sybil vanaf die voordeur roep. Ja, ek weet. Ek mag nie later as tienuur terug wees nie! Voor haar ma iets kan sê, klap die voordeur toe.

Ek het baie om jou te vertel, vorm Gretha die woorde met haar lippe en Hannes knik belangstellend.

Gretha se pa verskyn in die kombuisdeur. Sjoe, daardie tienerwarrelwind het my nou amper onderstebo gewaai, sê hy laggend. Waarheen is sy so haastig op pad?

Gretha kan nie help om lekker te kry nie. Miskien is Sybil in die moeilikheid.

Tannie Beatrix skud haar kop. Tieners! Ek weet eerlikwaar nie. Ek gee op. Sy rol haar oë.

Gretha glimlag. Al wat sy nou moet doen, is om terloops te laat val hoe ongeskik Sybil vroeër met haar was, dan sal sy definitief vanaand na groot moeilikheid terugkeer. Maar haar

Enjoying the preview?
Page 1 of 1