KORTVERHAAL
Dit was ‘n week nadat Peet sy kitaar, sy klere en sy posters gevat en geloop het. Ek het geweet dit moes gebeur. Ons kon nie só aangaan nie. Maar tog het die stilte van die sitkamer, die leë slaapkamer, die alleen-eet, my gevang.
Ek het daardie Saterdagoggend wakker geskrik, sommer my verflenterde denims en my “Geniet Kaapstad”-Themp aangepluk, my hare met ‘n rek getem, die karsleutels gegryp en die woonstel uit gevlug. Sommer net op die snelweg gery die stad uit en die wêreld in.
In my kar gee ek my oor aan hardstampmusiek, sing toonloos saam en neem my voor om aan niks te dink nie; niks te voel nie.
Ek ry Sir Lowryspas op en binne enkele minute omhul die dennewoude in die deinende landskap my, die appelboorde, hier en daar wingerde, en plaaswinkels langs die pad. Ek laat sak my venster; die wind klap my. Waar ry ek heen? Maak dit saak?
Ná ‘n uurdink ek. Ek was nog nooit daar nie, kan netsowel gaan kyk waaroor die bohaai gaan.