Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Onderwêreld
Onderwêreld
Onderwêreld
Ebook273 pages5 hours

Onderwêreld

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Onderwêreld is die Silwer wenner in die 2007 Sanlam-prys vir Jeuglektuur in die kategorie vir Afrikaans.Greg Owen is hoofseun by die privaat seunskool, Lawson Kollege, waar Eckardt, ‘n buitestander, in matriek by hulle aansluit. Reeds met die inisiasie van nuwelinge vorm ‘n band tussen hulle. Eckardt is ‘n bedrewe rekenaar hacker en lei Greg in die geheime van die onderwêreld in wat hom onwillekeurig in ‘n gevaarlike avontuur intrek. Met Ekhardt se skielike en geheimsinnige verdwyning begin Greg alles wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het bevraagteken.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624052319
Onderwêreld
Author

Fanie Viljoen

Fanie Viljoen is op 2 Januarie 1970 in Welkom gebore. Hy matrikuleer in 1987 aan die Hoërskool Goudveld in Welkom. Daarna volg twee jaar diensplig in Kimberley, Oshivello en Lohatlha. In 1990 begin hy voltyds by Sanlam werk. Hy skryf in dié tyd in vir ’n deeltydse kursus in grafiese ontwerp en behaal die N6-sertifikaat in 1995 aan die Welkom Kollege. In 2002 volg ’n BA-graad in Sielkunde en Sosiologie aan Unisa. Fanie se eerste jeugboek Breinbliksem is in 2005 bekroon met goud in die Sanlamprys vir jeuglektuur en dit het ook die MER-prys vir jeuglektuur ontvang. Sy kinderboek, Geraamte in die klas, ontvang in 2007 die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke én ’n ATKV-Woordveertjie. Sy tweede jeugboek, Onderwêreld, word in 2008 met die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) bekroon. Sy ander bekende boeke is Miserella (2007), die Klits Kronkel-reeks (2007, 2008) en Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood (2008). Fanie woon in Bloemfontein en hy skilder en skryf voltyds.

Read more from Fanie Viljoen

Related to Onderwêreld

Related ebooks

Related articles

Reviews for Onderwêreld

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

8 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Onderwêreld - Fanie Viljoen

    Sluimerende grys selle, Polyfilla en ringtones

    Die skril gelui van die selfoon bars by my ore in en ontplof binne-in my benewelde brein. Hier kom die sirkus! sou my ma, Rina, nou laggend gesê het as sy die polyphonic ringtone hoor. En dan sou sy dalk skuldig voel omdat sy haarself toegelaat het om te lag.

    Ek druk die kussing oor my kop. Dit doof die klank effens uit. Ek wil nog slaap, verdomp. Maar die gelui dring deur die kussing en kom haal my daar uit. Met toe oë gryp ek na die selfoon op die bedkassie. My duim mik na die reject call-knoppie, maar voordat ek dit kan druk, sien ek die naam op die skerm: Nicole.

    Die naam swem deur die sluimerende grys selle in my kop – en dit tref my. Nicole! My girl. As ek dooddruk, sal sy my hel gee. My duim beweeg vinnig oor na die antwoordknoppie.

    Hei, sexy! Wat vat jy so lank om te antwoord? Net om haar stem te hoor, bring Nicole se beeld voor my op. Lang blonde hare wat sy agter haar ore indruk. Fyn neus. Mooi lippe en blou oë wat so mooi kan flirt en terg.

    Nicksie … Sorry, girl. Ek …

    Slaap jy dan nog, Greg?

    Of course, ja. Ek slaap altyd totdat Ekk-0 … uh, ek bedoel Eckardt my kom wakker maak. Hy draf nog. Sal seker nou hier wees.

    Eckardt? Hoe gaan dit met hom? Die vraag laat my ongemaklik regop sit in my bed. Ek het dit nog nooit vir Nicole gesê nie, maar ek like dit nie as sy uitvra oor Eckardt nie. Oukei, miskien is ek net simpel, maar as Nicole vra oor Eckardt, gaan iets aan die kriewel binne-in my maag. Dis alles daardie aand by Jeffrey’s se skuld. Los tog nou eers vir Eckardt, sê ek vinnig. Hoe lyk dinge in Jozi? Ek val weer terug op die koel kussing, trek die beddegoed oor my onderlyf.

    Ek mis jou, Greg, sê Nicole, op daardie sagte, soel manier waarop sy soms kan praat. Ek trek my bene op na my bolyf en draai op my sy. Gisteraand – ek het van jou gedroom.

    O, ja? Wat?

    Nuuskierig!

    Komaan, was dit iets naughty? terg ek. Hoop ek eintlik.

    Mmm, fluister sy.

    Ek het dit geweet! Vertel, toe.

    Nicole lag. Ek het gedroom my pa-hulle hou hierdie party by die huis. Jou pa-hulle was ook daar. Groot storie. Party planners, caterers, die works. Ek en jy tease mekaar die hele aand. Jy vat aan my as jy dink niemand kyk nie. En toe dit te veel word, glip ek en jy weg. Swembad toe. Alleen. Ligte af.

    Ek maak my oë toe, probeer my die scene indink. Ja?

    Ons trek uit. Ek vir jou. Jy vir my. Duik in die water in. Jy soen my. Oopmond. Jy druk jou onderlyf teenaan myne …

    Ek kreun.

    Toe sit iemand die swembadligte aan. En die hele spul mense wat my ma-hulle genooi het, staan op die rand van die swembad en kyk vir ons!

    Oh, come on! roep ek en begrawe my kop in die kussing. Is jy ernstig?

    My pa was bleek geskrik. En my ma – dit was so snaaks – my ma sê: ‘Nicole, moet Mamma vir jou ’n kondoom bring, my kind?’

    Ek lag. Dis tipies Nicole se ma. Is sy nog so bekommerd dat jy haar ouma gaan maak?

    Jy weet mos! Ek sweer sy voer my al van graadsewe af voorbehoedpille. Seker die huishulp aangesê om dit fyn te maak en in my skool-lunch te verdoesel. Vandat ek op hoërskool is, is sy nie skaam om my die pille te gee nie.

    Vir jou vel, Nicksie, terg ek.

    Sê sy!

    Ons lag lekker. Dan val daar ’n stilte. Iewers in die agtergrond hoor ek ’n deur. Haar ma roep na haar. Ek ko-o-om! antwoord Nicole haar. Toe terug op die sel. Sag. Bekommerd. Greg, as … as iets gebeur en … jy weet … sal jy?

    Ongemak. Ek weet wat sy wil vra. Binne-in my broei daar ook ’n vraag. Ek probeer dit wegdink, maar Jeffreysbaai maak dit moeilik om te vergeet.

    Hoe sal ek weet dat dit mý kind is?

    Sy is daar in Johannesburg en ek hier in ’n godverlate skool in die Drakensberge. Na Jeffreysbaai se dinge … hoe weet ek wat sy in Jozi aanvang? Wat vertel sy my nie? Ek is mos nie stupid nie. Ek weet hoe dinge werk: Een ou, een meisie, honderde kilometers tussenin, en maande wat jy mekaar nie sien nie. MXit, SMS’e, emails en selfoonoproepe maak nie op daarvoor nie.

    Greg? vra Nicole ná ’n ruk. Sy wag nog vir ’n antwoord, weet ek.

    ’Tuurlik, Nicole, jy weet mos ek sal jou nie drop nie, sê ek, maar daardie effense huiwering in my stem laat my wonder hoe oortuigend ek klink. Maar ons hoef mos nie te worry nie. Ons gebruik mos goed.

    Ja, seker.

    Is daar … iets?

    Nee! Greg, is jy nou simpel?

    O, ek het net gewonder. Verligting! Vrek, jy het my nou amper laat worry daar, girl.

    Ons sien mekaar ook so min. Anyway, dis net plante wat sulke dinge met windbestuiwing regkry! Sy lag senuweeagtig. Skielik is daar weer ’n stilte tussen ons. Ek frommel die laken in my vuis.

    Love you, Greg. Altyd, sê Nicole ná ’n ruk. Sag. Afgetrokke.

    Selfde, sê ek. ’n Woord sonder veel betekenis, maar een waarmee jy stiltes kan volmaak. Iets om te sê as daar niks meer is om terug te sê nie. Polyfilla.

    Buite is dit al lig. Ek vat die selfoon weg van my oor om te sien hoe laat dit is. Magtig! roep ek. Dis dan al kwart oor sewe! Nicole, ek moet nou gaan. Sorry, ons praat weer. Baai!

    Ek spring uit die bed dat die beddegoed doer trek, gryp my badkamersakkie en handdoek. Toe ruk ek die koshuiskamer se deur oop. In die gang loop ek my byna kis teen iemand. Thomas-Jean. TJ in kort.

    Jy’s bietjie laat, bru, sê hy.

    Ek weet. Dis Eckardt, die goorgat – hy’t my nie kom wakker maak nie. Kan nie nou praat nie. Sien jou later, TJ!

    Almal wat ek in die gang teëkom, is al aangetrek: swart broeke, baadjies. Wit hemde, geel dasse. Die skoolwapen met die fakkel op die baadjies se sakke. Bo die wapen is die skool se naam: Lawson Kollege, en onder die wapen die skool se leuse: Lux hominum vita.

    Ek stamp my pad oop deur die bondelende klomp seuns wat op pad is na die eetsaal.

    Hei, buddy, lekker verslaap, roep een.

    Is jy nie aan diens by die graadagts nie? vra een van die VRL’s.

    Dit ook nog. Ek het vergeet. Ek hoop maar net hulle het nie die plek vanoggend afgebreek nie. En dat almal uit die bed is.

    Nog ’n paar ouens terg, ander wil groet, gesels, vra oor rugby of iets. Maar ek mompel net onhoorbare verskonings. Die verdomde Eckardt, vloek ek weer sag. Ná ’n vinnige stort, skeer en tandeborsel, gaan trek ek aan. Toe sit ek af met die koshuisgang, systap ’n skoonmaker wat my verbaas agternakyk. Eckardt se kamer is net ’n kort entjie van myne af. Ek klop vinnig, pluk die deur oop voor hy kan antwoord. Ruk tot stilstand. Die bed is opgemaak, maar dit lyk of iemand daarop gesit het. Venster oop. Een van die gordyne het opgewaai en hang nou oor die lessenaar waarop Eckardt se laptop staan.

    Waar de hel is hy dan? Eetsaal toe? Die maklikste is om te bel en uit te vind. Ek ruk my selfoon uit my baadjiesak, glip deur die nommers. Eckardt. Bel.

    Oomblikke later klink die bekende ringtone op in die kamer self. Dis ’n ou tune van die Stereo MC’s. Connected. My lyf word skielik koud. Die geluid is dof, asof dit binne-in iets toegemaak is. Die geluid kom van êrens langs my. Dit kom uit Eckardt se kas. Stadig stap ek nader, die handvatsel is koud onder my vingers toe ek die kasdeur oopswaai.

    Daar, op die netjies opgevoude klere, lê Eckardt se selfoon. Op die skerm flits die naam: G-4ce.

    Log File: Die dag voor die laaste skooljaar begin

    Die Sterkfonteindam raak agter ons weg. Ons steek die grens oor van die Vrystaat na KwaZulu-Natal, af-af met die Oliviershoekpas, verby Little Switzerland. Daar is ’n legende wat sê dat ’n Boere-pa en sy seun ’n draak hier gesien het; hoog teen die pieke van die berg tussen die wolke. Dis waar die naam vandaan kom. Drakensberg. Maar dit word ook uKhahlamba genoem, want nog ’n legende sê dít is die donderende geluid wat Zulu-krygsmanne se spiese maak as hulle dit op hul koeivelskilde slaan en die eggo’s van die berghange terugkeer.

    Terug op Heilige Grond, dink ek daardie dag toe ek en my ma by Lawson Kollege se skoolhekke inry. Dit is maande voor die dag dat ek Eckardt se selfoon in sy kas kry. Dit is die dag, vroeg in Januarie, toe ek vir Eckardt die eerste keer ontmoet het.

    My laaste skooljaar het aangebreek. Jy dink dit kom nooit nie. Maar dan, op ’n dag, is dit daar en jy besef dit was eintlik bitter gou.

    Wat is jou planne vir die pylvak? kom my pa se vraag van die vorige aand weer by my op terwyl ek daar in die 4 x 4 langs my ma sit. Pa se streng oë het my vasgepen.

    Pylvak?

    Donder, tog, Greg, jy is in die beste skool in die land en jy weet nie wat ‘pylvak’ is nie?

    Ek weet, dis net … Ek het my rug reguit getrek. My eintlik vererg.

    Jy het nie planne vir die jaar nie.

    Sal dieselfde wees as verlede jaar. Pa weet tog.

    Dis nie goed genoeg nie, het hy die woorde deur sy lippe geforseer. Verlede jaar is verby. Wat doen jy dié jaar?

    Ek is hoofseun en –

    En wat? Ek het hom nie geantwoord nie. As ek vanjaar by Turret Media dieselfde doen as verlede jaar, haal my mededingers my in en kan ek volgende jaar deure toemaak.

    Turret Media. My pa se magtige mediamasjien. Sy lewe draai om die plek, en hy reken myne moet ook.

    Ek het geknik. Ek sal daaroor gaan dink.

    Jy moes al lankal. Ek het beter verwag van jou, praat hy met my asof ek een van die direkteure van Turret is. Ruggraat! Kry een! Nie soos …

    Dis toe dat my ma opgestaan en geloop het. Pa het ophou torring. Die atmosfeer in die sitkamer was skielik gelaai. Ons het almal geweet wat hy wou sê.

    Dit was gisteraand.

    Gelukkig is my pa nie nou hier nie. Dis net ek en my ma in die kar. Ek maak my sitplekgordel los en leun met my kop teen die venster langs my om by die venster uit te kyk. Weerskante van die geteerde pad is ’n laning bome wat met hulle lae takke oor ons reik. Groen grasperke, netjies gesny, soos krieketvelde. Plek-plek is daar tuine met rooi, oranje en geel blomme. Verder weg is die skool se sportterrein, die moderne skoolgeboue en nog verder, die koshuise. Almal vernoem na die een of ander man wat ’n voorloper was in sy tyd: Pierre Curie, Albert Einstein, Leonardo da Vinci, Ludwig van Beethoven en Greg Owen. Oukei, ek lieg oor die laaste een. Die ander koshuis is vernoem na Le Corbusier, die Franse argitek wat geboue gesien het as masjiene waarin mense leef.

    En as agtergrond vir die enorme skoolterrein lê die pieke van die Drakensberg: Cathedral Peak, Mnweni Needles, Devil’s Tooth, Amphitheatre en nog ’n spul ander. Nicole spot soms met my dat ek in die Drakensberg-seunskoor is, maar die Drakies se skool is ’n hele ent suid-oos van hier af.

    Lawson is ’n skool vir die super-rykes se seuns. ’n Prestige-kollege wat omtrent twaalf jaar gelede opgerig is deur ’n ou ballie met die naam Thomas Lawson. (Sy kleinkind, TJ, is ook vanjaar in Matriek.) Oupa Lawson het sweerlik meer geld as verstand of redenasievermoë gehad. Ek meen, vir wat sal jy ’n seunskool hier in die middel van verdwaal-se-gat kom bou? Maar, so vertel die skoolhoof, doktor Alec Pienaar, altyd: Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde … (ja, wragtig, dit was Thomas se eie woorde) . . . teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word. Wat hy nie gesê het nie is dat die sakeleiers van die toekoms hulle empires sal moet bou met die geld wat hulle pappies in die verlede geërf, verdien of gesteel het. Reuke van korrupsie wat altyd maar vlak lê onder ’n paar van hierdie sakeleiers se Italiaanse snyerspakke. Maar ons praat nie daaroor nie, nes ons nie oor geld praat nie. As jy geld het, hou jy jou bek.

    So, dis waar ek nou is. Lawson Kollege. En die plek is relatief nuut as jy dit vergelyk met ander skole van sy soort: Grey Kollege van Bloemfontein, Afrikaans Hoër Seunskool van Pretoria, Paarl Boys High. Gevolglik het die skool nie ’n vreeslike geskiedenis om op te steun nie. Sekerlik ’n hartseer feit as dit kom by die opstel van prospektusse en sulke goed. ’n Ryke geskiedenis regverdig mos klasverskille. Maar ten spyte hiervan is daar ’n waglys langer as die N1 tussen die Kaap en Pretoria om in die skool te kom. Maar as jy jou pampoenbril afhaal en realisties na hierdie waglys kyk, sou jy besef dat die meerderheid name daarop nie naastenby kwalifiseer vir die ongeskrewe kriteria wat gestel word nie. Dit maak die lysie aansienlik korter, maar nietemin ’n keerwal om ongewenste elemente uit te hou, soos my pa sal sê.

    My oog vang vir ’n oomblik die bord met die aanwysings langs die pad. Kantore en skoolgeboue, reguit vorentoe. Swembad, skiet- en tennisbaan, rugby-, krieket-, sokker- en hokkievelde links. Koshuise en perdestalle, regs. Ek grinnik elke keer as ek dit sien: koshuise en perdestalle regs.

    My ma volg die pad na die koshuise. Daar staan reeds ’n klomp motors, blink in die oggendson. En ek lieg nou nie – driekwart van hulle is splinternuut asof hulle vanoggend van die motorhandelaar se vloer afgetrek is. Nuwe jaar, nuwe wiele.

    Oral is daar beweging. Seuns wat tasse uit motors haal en by die trappe opdra na die koshuise – nuut geverf ná die vakansie. Ouers staan rond met hulle designer-sonbrille en deel stywe-stil glimlagge met mekaar. Net enkeles waag dit om te gesels. En elke jaar is dit dieselfde onderwerpe: Lawson se kanse om vanjaar weer as topskool te eindig in Suid-Afrika, atletiekrekords wat behoort te spat op die nasionale atletiekkampioenskappe, bla-bla-bla.

    Ek haal my sonbril af voordat ek die motor se kattebak oopmaak. Ek hoor hoe my ma iemand groet en hulle ’n oomblik lank gesels. Rina, jy lyk goed, sê die ander vrou. Ek luister nie verder nie, slinger net my laptop se band oor my skouer en kry die tasse beet, een in elke hand.

    Tonight, VRL meeting, sê die onderhoofseun, Kwanele Twala, en klap my op die rug. Seven o’ clock. Don’t be late.

    Wie het dit gereël?

    I did, kap hy terug.

    Vir wat? Ek is hoofseun, het jy vergeet?

    "So why didn’t you organise it then?" Hy loop weg. Ek het lus en … nee, wag.

    Probleme? vra iemand agter my. Mark Gibbons, a.k.a. Plank. ’n Tawwe ou, voorryspeler in rugby en, anders as wat mens sou verwag, slim ook. Maar omtrent altyd op ’n plug. Vandaar sy konstante glimlag.

    Niks wat ek nie kan handle nie, antwoord ek.

    Hoe lyk’it?

    Bullet-proof, Plank, en jy?

    Cool, man, antwoord hy. Reg vir die laaste jaar van vriendelik-verpligte breinspoeling?

    Wens dit was al verby, Plank, sê ek en probeer my greep verstewig om die handvatsels van die swaar tasse wat my vingers oopdwing.

    Net ’n heart-beat, my bru, dan laai jy daardie tasse weer in die kar en skud jy die stof en memories van hierdie plek van jou voete af.

    Wyse woorde, Plank. Hoop jy’s reg.

    Tussen die motor en Huis Da Vinci groet nog ’n paar ouens my. Maar ek het nie nou lus vir how’s-your-mothers nie. Daar sal later baie tyd wees daarvoor. Nou moet ek eers hierdie twee tasse in my kamer kry.

    Gee vir my een, sê my ma agter my.

    Dis oukei, Ma, ek sal regkom. Ek kan nie dat die ander ouens sien my ma help my om tasse te dra nie.

    Maar Greg, kyk net hoe swaar kry jy. Gee my dan net jou laptop … uh, skootrekenaarsak.

    Ek skud my kop, sit een van die tasse neer en hou die swart leersak na my ma toe uit. Sy sal nie rus as ek haar nie laat help nie, weet ek. En daar is seker een ding wat erger is as jou ma wat jou tasse dra: jou ma wat die heeltyd neul en kerm dat sy jou wil help. Asof jy vir die eerste keer skool toe gaan. Dit klink nou of ek kla. My ma is eintlik baie nice. Ek weet sy wil net die beste hê vir my. Help waar sy kan. Dit kom uit haar hart uit. En al lyk dit nie altyd so nie, wil ek ook hê sý moet net die beste kry. Eintlik kry ek haar jammer, want ek weet, as ek my goed neersit, en sy help uitpak het, moet sy terugry Jo’burg toe. Na daardie groot huis in Sandhurst, waar sy bedags alleen gaan wees. Waar sy net die huishulpe en die televisie as geselskap sal hê, soms my pa moet vergesel na die een of ander stywe werksfunksie, of, as sy genoeg moed bymekaarskraap, ’n vrouevergadering bywoon waar die skyn en venyn agter facelifts weggesteek word.

    En nou, Greg? Kry daardie tasse jou onder? vra ’n man by die koshuis se voordeur. Dit is Pete Andersen, die skool se adjunkhoof. "Hoop

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1