RETHA sug. Soos gewoonlik het Dirk nie eens daaraan gedink om die stoeplig vir haar aan te skakel nie. In die donker voel sy in haar handsak rond na haar bos sleutels, swets binnemonds toe sy eers ’n paar keer die verkeerde sleutel in die deurslot druk voor sy die regte een vind.
Sy laat die voordeur geïrriteerd agter haar toeklap. Kerneels kom vinnig aangedraf en vly hom teen haar bene aan, bewend in die lug van blydskap.
“Hallo, Kietsie. Jy alweer nie kos gekry nie?” Sy sit haar skootrekenaar en handsak op die eetkamertafel neer, buk en streel oudergewoonte oor die wit en grys pels voor sy deurstap televisiekamer toe.
Dirk sit soos gewoonlik en Facebook, die televisie blêrend in die agtergrond.
“Hallo. Het julle al geëet?”
Dirk kyk nie eens op van sy selfoon nie, knik net afgetrokke.
Sy sug en loer in die gang af. Anja is seker weer in haar kamer voor die rekenaar, besig met die een of ander IT-opdrag. Die arme