Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Studiewerkgids: Onderwêreld Graad 12 Huistaal
Studiewerkgids: Onderwêreld Graad 12 Huistaal
Studiewerkgids: Onderwêreld Graad 12 Huistaal
Ebook394 pages4 hours

Studiewerkgids: Onderwêreld Graad 12 Huistaal

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Best Books Studiewerkgids: Onderwêreld

Hoe goed ken jy jou voorgeskrewe roman? Verstaan jy die inhoud en struktuur? Is jy reg om eksamen te skryf daaroor? Hierdie studiewerkgids is spesiaal saamgestel om leerders te help om Onderwêreld, die voorgeskrewe roman vir Graad 12 Afrikaans Huistaal, ten volle te verstaan en te geniet. Dit voldoen aan die voorskrifte van die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en al die belangrikste aspekte van die roman word hierin gedek – in taal wat leerders verstaan. Onthou! Die gids kan nie op sy eie gebruik word nie, want daar word die hele tyd na die roman verwys.

Wat maak ons studiewerkgidse anders?

Hierdie studiewerkgids is deel van ’n reeks. Soos die naam sê, is dit nie net ’n gids wat inhoud opsom, vertaal en bespreek nie, maar ook ’n werkboek waarin leerders aantekeninge kan maak. Dit maak hersiening vir die eksamen makliker en hou waardevolle notas bymekaar in een boek.

Inhoud van hierdie studiewerkgids

• ’n Karakterlys.
• ’n Bespreking van die tekskenmerke van ’n jeugroman.
• Hoofstukopsommimgs, -besprekings en kontekstuele vrae.
• Inhoudsvrae per hoofstuk vir eksamenvoorbereiding en informele assessering.
• Formele assessering, literêre opstelle en toetse.

Alle studiewerkgidse in hierdie reeks is saamgestel volgens KABV-voorskrifte. Hierdie studiewerkgids sluit aan by Onderwêreld, die goedgekeurde voorgeskrewe roman vir Graad 12 Afrikaans Huistaal. ’n Volledige antwoordstel is verkrygbaar by www.bestbooks.co.za. [HYPERLINK]
LanguageAfrikaans
PublisherBest Books
Release dateMay 6, 2016
ISBN9781776070251
Studiewerkgids: Onderwêreld Graad 12 Huistaal
Author

Riens Vosloo

Riens Vosloo is tans ’n vryskutsamesteller van opvoedkundige tekste vir Afrikaans Huistaal en EAT (Gr. 4-12). Sy stel letterkunde bloemlesings saam – meeste daarvan vir die katalogus van die DBO. Sy is bekend vir reekse soos Piekfyn, Verskuns, Kroonsteen, A Handful of Life en Creative Outcomes.

Read more from Riens Vosloo

Related to Studiewerkgids

Titles in the series (6)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Studiewerkgids

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Studiewerkgids - Riens Vosloo

    Best Books Studiewerkgids:

    Onderwêreld

    vir Graad 12

    Huistaal

    Saamgestel deur Fanie Viljoen en Riens Vosloo

    BB_logo

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van die Best Books Studiewerkgids: Onderwêreld vir Graad 12 Huistaal kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaard instellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die vertoning te verbeter.

    Die bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek.

    Voorwoord

    Vir baie leerders is ’n voorgeskrewe boek die swaarste straf wat ’n onderwyser kan uitdeel. Dalk voel jy ook so oor boeke. Dalk maak voorgeskrewe boeke jou mismoedig, want soms is daar skaars ’n storie of jy hou nie van die karakters nie of dis net gewoon vervelig. Dalk het ’n boek nog nooit met jou gepraat nie.

    Maar dalk verander dit vanjaar.

    Onderwêreld is ’n boek met hoofsaaklik tienerkarakters. Dit speel af teen die opwindende agtergrond van kuberkrakers en nooi jou uit om speurder te speel. In Onderwêreld gaan ons saam vir Eckardt Wilken soek, die kuberkraker wat een Donderdagoggend spoorloos verdwyn het by Lawson Kollege. In ons soektog wag daar ’n paar verrassings. Daar gaan ook ’n paar vals leidrade wees, dus moet jy fyn lees.

    Onderwêreld wil iets doen wat geen ander een van jou vorige voorgeskrewe boeke moontlik gedoen het nie. Dit wil jou nuuskierig maak, dit wil jou aan die lees kry, dit wil jou uitnooi om vrae te vra oor die lewe. Daar sal kans wees vir lewendige gesprekke in die klas. Gee jou opinie, vra daardie moeilike vrae vir mekaar. Dink krities. Dink anders.

    Al die kuberkrakertegnieke in Onderwêreld bestaan werklik. Die boek is egter nie jou uitnodiging om hulle te probeer nie, maar omdat jy nou van hulle gaan uitvind, sal dit jou in die toekoms op jou tone hou.

    Onderwêreld is die eerste keer in 2008 gepubliseer. Sedert die publikasie was daar interessante verwikkelinge in die wêreld van tegnologie. ’n Term wat intussen ontstaan het, is hacktivism – of dan kuberkraker-aktivisme. Die bekendste kuberkraker-aktivis is seker Julian Assange wat die WikiLeaks-webblad bedryf. Edward Snowden was nie werklik ’n kuberkraker nie, maar sy aksies het ook die wêreld van internetsekuriteit beïnvloed. Lees op oor hierdie mense en besluit dan of dit ook op die temas in Onderwêreld betrekking het. Hou verder jou oë en ore oop vir nuusberigte oor kuberkrakers. Is hulle nog aktief hier onder ons? Wat doen hulle deesdae? Is korrupsie steeds ’n werklikheid in Suid-Afrika, soos dit was met die publikasie van die boek? Is daar steeds klasseverskille? Vra jouself en jou klasmaats af hoekom dit steeds die geval is? Hoekom verander dit nie? Wat kan jou generasie doen om dit stop te sit?

    Hierdie studiewerkgids is omvattend saamgestel om jou te help om Onderwêreld te verken. Ja, lees die boek eerstens vir die pakkende storie, maar gaan grawe daarna in die derms van die verhaal met behulp van hierdie gids. Dalk is daar iets weggesteek tussen die woorde wat jy nie raakgesien het nie. Die gids gaan jou help om ’n paar geheime in die teks op te diep, jy gaan meer uitvind oor die literêre aspekte soos die temas, oor motiewe, karakterisering, omgewing, plot, en meer. Verder is daar hulp met die skryf van literêre opstelle, inhoudelike vrae en vraestelle waarmee jy jou kennis kan toets. As ’n bonus kan jy daarna op YouTube gaan soek vir video’s oor die voorgeskrewe boek. Ons gesels daar ook oor die navorsing en literêre terme.

    Ten slotte, Onderwêreld gaan heelwaarskynlik jou laaste voorgeskrewe boek ooit op skool wees. Geniet dit en voorspoed met die matriekeksamen!

    Die samestellers

    Karakterlys

    Hoofkarakters

    http://thumb1.shutterstock.com/display_pic_with_logo/11733/121370938/stock-photo-smiling-teenage-boy-121370938.jpg

    Greg Owen (protagonis)

    Greg is ’n Graad 12-leerder aan Lawson Kollege, ’n elite privaatseunskool in die Drakensberge. Hy is oorspronklik van Sandhurst, Johannesburg, maar tydens die skooljaar woon hy in Huis Da Vinci op die luukse kollege-gronde. Greg is die skool se skrander hoofseun. Hy speel ook vleuel in die eerste rugbyspan. Hy het heelwat vriende en die ander leerders sien op na hom as ’n leier. Hy het egter ’n rebelse streep wat uitkom wanneer hy byvoorbeeld dok Pienaar teëgaan. Greg gee voor dat hy ’n harde ou is, maar sy broer se selfmoord het hom ’n emosionele knak gegee. Hy het nog nie sy broer se dood heeltemal verwerk nie. Almal wil hê hy moet sy broer se skoene vol staan, maar hy besef hy kan nie op akademiese en sportgebied presteer soos sy broer nie. Hy voel veral druk van sy pa met wie hy nie goed oor die weg kom nie. Ander druk kom van sy vriende, die skool en die polisie. Wanneer Greg rekenaars begin kraak, gee hy homself die naam G-4ce. Greg sien homself aanvanklik as iemand wat koeëlvas is, maar later besef hy dat dit nie die geval is nie. Hy is breekbaar. Hy is menslik.

    Eckardt Wilken (antagonis)

    Eckardt 2.jpg

    Eckardt is die nuwe matriekleerder by Lawson Kollege. Hy kom glo van die Kaap af, waar sy pa ’n industrialis is en sy ma Pilatus-klasse aanbied, maar dit kan ook ’n versinsel wees soos die res van sy leuens. Eckardt is ’n volslae alleenloper. Daar is iets misterieus aan hom, dis asof ’n mens hom nie werklik kan ken nie, en hy nie werklik geken wil word nie. Die kyk in sy oë herinner Greg aan sy oorlede broer. Eckardt is ongelooflik slim, ken die Griekse mitologie en weet hoe om rekenaars te kraak. Sy kuberkrakernaam is Ekk-0. Die 0 verwys na die nulle en ene wat gebruik word in rekenaars se werking. Eckardt se humorsin is wrang en soms moet ’n mens tussen die lyne lees om te verstaan wat hy sê. Eckardt se verdwyning by Lawson Kollege dra by tot sy misterieuse identiteit en is ’n snellermoment in die roman. Die leser vind mettertyd uit dat Eckardt ’n donker verlede het. Hy het in werklikheid net een doel voor oë by die skool: Hy kom wraak neem op Greg en sy gesin.

    Bykomende of newekarakters

    Doktor Alec Pienaar

    Hy is Lawson Kollege se jarelange skoolhoof. Sy doktorsgraad is vermoedelik in chemiese wetenskappe. Al die seuns noem hom Dok. Hy is ’n selfvoldane man en ’n geliefde, maar ook gevreesde leier wanneer hy agter ’n podium staan of agter sy donker houtlessenaar inskuif. Dit is sy taak om die leerders te verander in die sakeleiers van die toekoms. Hy verdra nie teenstand nie, nie eens van Greg die hoofseun nie. Dit is tans sy laaste jaar as skoolhoof. Die private sakebelange wat hy wil najaag, word duidelik wanneer hy ontmasker word as ’n korrupte witboordjiemisdadiger. Sy ware kleure wys wanneer hy Greg finaal dreig met: My mense sal jou kry.

    Greg se pa

    Greg se pa is die uitvoerende hoof van Turret Media, ’n magtige mediamaatskappy. Hy is ’n onverbiddelike korrelkop en perfeksionis. Hy soek gedurig fout by Greg. Voor ander mense kan hy vriendelik voorkom, maar hy is onaangenaam met sy vrou en kinders. Hy het ’n afsydige houding en verwaarloos sy gesin emosioneel. Hy het Greg byvoorbeeld verbied om oor sy dooie broer te huil. Dis asof hy Greg ook wil verander in ’n emosielose volwassene, nes hy. Greg se pa is ’n werkslaaf. Hy is gedurigdeur besig met saketransaksies, selfs wanneer hy met vakansie is. Uiteindelik moet hy erken dat dit sleg gaan met sy maatskappy en dat hulle finansiële syfers gekook is om beter te lyk vir beleggers.

    Rina Owen

    Greg se ma, Rina, is ’n weerlose vrou. Sy is uitgelewer aan haar man se bombastiese geaardheid. Sy werk nie self nie, maar lei ’n eensame lewe in hulle enorme rykmanshuis in Sandhurst. Soms is ’n huiswerker haar enigste geselskap. Sy woon af en toe vrouevergaderings by, maar ook hier vind sy nie vriende nie, want die vrouens by die vergaderings skuil agter hul gesigontrimpelings. Haar bestaan wentel grootliks om Greg. Sy sal selfs nietige takies vir hom doen, soos om sy tasse aan die begin van die skooljaar by die koshuis uit te pak. Greg is moontlik die enigste persoon wat haar verstaan wanneer hy sê: Sy het al klaar ’n seun verloor. Sy wil nie nog een kwyt wees nie. Sy leef in vrees dat Greg ook sal knak onder sy pa se druk en gee hom gereeld geld asof sy hom wil omkoop om te bly leef.

    John Owen

    John was Greg se ouer broer. Meisies was gek oor hom. Hy het blonde hare en ’n vriendelike, skaam glimlag gehad. Hy was versot op gevaarlike sport wat die adrenalien opjaag, veral witwaterroei en bergklim. John en Greg het baie goed oor die weg gekom. Hy was Greg se held. Toe hy nie meer die konstante druk van sy pa kon hanteer nie, drink John pille en sterf onderweg na die hospitaal. Aandenkings van John se prestasies op sport en akademiese gebied word in die Lawson Kollege-gedenkmuseum gehou. Sy uitgelate lewe en glimlag bestaan nou net in ’n vertoonkas agter glas.

    Mark Gibbons (Plank)

    Hierdie slim matriekleerder is een van Greg se nabye vriende. Hy is ’n geharde voorryrugbyspeler en het ’n afsku van gesagsfigure. Hy noem daarom die VRL-lede die uitverkorenes. Hy gebruik dwelms en is byna altyd onder die invloed, vandaar sy konstante glimlag.

    Thomas-Jean (TJ)

    TJ is ’n nabye vriend van Greg, en die een vir wie Greg vertrou met die inligting dat hy en Eckardt kuberkrakers is. TJ is ’n skrander matriekleerder, netjies op homself, en getrou aan die skool se elite status kom hy van ’n gesiene familie. Maar meer as dit – hy is ook die kleinkind van Thomas Lawson, die stigter van Lawson Kollege. TJ se optrede word beïnvloed deur sy trotse afkoms. Dit is hoekom hy vir Greg verraai om Lawson Kollege se eer te beskerm. TJ is boonop ’n denker, goeie strateeg en uitstekende skaakspeler.

    Nicole

    Sy is Greg se meisie. Hy noem haar ook Nicksie. Sy het lang, blonde hare, ’n fyn neus, mooi lippe en blou oë wat mooi kan flirt en terg. Greg is onseker oor sy gevoelens vir Nicole. Hy kan nie vir haar prontuit sê dat hy haar liefhet nie. Hy vermoed dat sy hom verneuk met ander ouens terwyl hy in die Drakensberge is en sy in Johannesburg. Nicole is ook ietwat befoeterd. Sy sal Greg sommer aanvat as hy nie haar oproepe neem nie, of haar nie terugbel soos hy belowe nie. Nicole sal nie skroom om Ecstasy-tablette in ’n nagklub te gebruik nie. ’n Mens kan aflei dat sy eintlik maar ’n bedorwe brokkie is, want haar pa laai vir haar ekstra geld op haar bankkaart. Wanneer sy nie haar sin kry nie, soos om na die Black Eyed Peas-konsert by Sun City te gaan, dreig sy om iets aan haarself te doen. Sy doen dit ten spyte daarvan dat sy weet Greg se broer het selfmoord gepleeg en dat dit hom geweldig sal ontstel.

    Inspekteur Nomvula Cele

    Hierdie speurder van die Bergville-polisiestasie is ’n ystervrou met ’n gemoedelike front, maar sy laat nie met haar sukkel nie. Haar huistaal is Zulu, maar sy praat foutlose Afrikaans. Tydens ondervragingsessies is sy ongelooflik skerp en laat sy Greg veral bloedsweet wanneer sy nader aan die waarheid kom. Sy vermoed Greg het iets met Eckardt se verdwyning te doen.

    Sersant Leon Botha

    Hy is inspekteur Cele se kollega. Sy noem hom soms net Botha of Botes. Hy het priemende oë, ’n snor en ’n kaalkop. Hy speel ook kat-en-muis-speletjies tydens ondervragings. Hy is ’n man met deursettingsvermoë en sit ’n hele aand in die donker om vir Greg dop te hou waar hy ’n stelsel kraak. So betrap hy vir Greg op heterdaad.

    Kwanele Twala

    Kwanele is die skool se onderhoofseun. Hy praat perfekte Engels, sonder ’n sweempie Afrika-aksent. Hy is ’n gebore leier, maar hy en Greg kom nie goed oor die weg nie. Greg glo dat Kwanele jaloers is omdat hy nie hoofseun is nie. Greg voel dan ook dat Kwanele op sy gebied oortree wanneer hy self VRL-vergaderings reël. Kwanele is tradisievas en probeer vir Greg keer wanneer hy vir Eckardt uit die mangat haal tydens die inisiasie. Kwanele besef dat daar fout is met Greg, hy kom nie sy pligte na nie en tree vreemd op. Uiteindelik neem Kwanele al hoe meer van Greg se take oor. Getrou aan sy aard as leier, bied hy sy hulp en ondersteuning vir Greg aan soos hulle aan mekaar beloof het toe hulle Trappers was.

    Pete Andersen

    Die skool se adjunkhoof. Hy is ’n gemoedelike man wat ’n grap sal maak met leerders en goed met hulle oor die weg kom. Hy staan in vir Dok wanneer hy uitstedig is, en organiseer ’n soekparty op die skoolgrond wanneer Eckardt verdwyn. Dit wil voorkom of hy ’n onkreukbare karakter het, maar dan vra hy dat die leerders help om die verdwyning toe te smeer en nie met hulle ouers daaroor te praat nie ten einde die skool se integriteit te beskerm. Uiteindelik staan hy die polisie by in hulle ondersoek.

    Bill Eden (Boggom)

    Lawson Kollege se wiskunde-onderwyser. Ten spyte van sy onaansienlike voorkoms is hy ongelooflik slim en word hy met Einstein vergelyk. Dit wil voorkom of hy nie alle feite rondom die verdwyning bekend maak aan die leerders nie.

    Oom Ian

    Die koshuisvader wat die seuns in toom moet hou. Hy steek ’n lopersleutel in die koshuis weg waarmee Greg toegang kry tot Eckardt se geslote kamer.

    Tom

    Die skool se nuwe terreinbestuurder. Hy is in sy dertigs, bruingebrand van heeldag in die son werk, en nie van die tipe mense waarmee Greg se familie assosieer nie. Hy sluit die biblioteek na-ure vir Greg-hulle oop. Uiteindelik blyk dit dat Tom en Eckardt kop in een mus is. Dit blyk ook dat Tom een aand in die koshuis op Greg kom spioeneer het. Tom help Eckardt om weg te kom nadat sy wraakplanne voltooi is.

    Joan Gibbs

    Doktor Pienaar se effens verstrooide sekretaresse. Sy help onwetend vir Greg om waardevolle inligting te bekom wanneer sy nie die rekenaarsekuriteitmaatreëls nakom nie. Sy is hulpvaardig, maar naïef.

    Aantekeninge oor Onderwêreld

    Die titel

    By die lees van enige literêre teks is die titel die eerste woorde van die verhaal wat die leser lees. Skrywers is bewus van die belangrikheid van verhaaltitels, en goeie skrywers bou dikwels inligting in die titel wat hulle kies. Dit is meestal nie dadelik vir die leser duidelik wat die implikasies van ’n titel op die verhaal is nie, maar dit is goed om aan die einde van die verhaal jou af te vra wat alles in die titel opgesluit lê en of dit vir jou enige inligting gee wat kan bydra tot ’n beter begrip van die teks.

    Die titel het verskeie toepassingsmoontlikhede in die verhaal: dit dui op die onderwêreld van die kuberkraker, onwettige bedrywighede wat gepaard gaan met korrupsie, die wêreld van die adolessent in ’n rigiede skoolmilieu, geldmag en vrees vir die dood.

    Onderwêreld het twee betekenisvlakke. Eerstens suggereer dit letterlik iets van die geheimsinnigheid van ’n metafisiese wêreld – ’n wêreld van misdaad, ondergrondse bewegings; dus ’n sinistere, onbekende, bose wêreld waarin die gewone mens nie wil wees nie weens sy vrees daarvoor. Tweedens kan dit op ’n mitologiese vlak verklaar word. In Onderwêreld kry ons ook die afdaal in die donker onderwêreld van die kuberruimte – krakers opsoek na die waarheid en ’n eie identiteit, ’n skans teen vrees en die dood:

    •Dit kan verwys na die onderwêreldse ryk (die hel, doderyk) van die Griekse god, Hades.

    •Dit hou ook verband met Orpheus (legendariese musikant, digter en profeet in Griekse mitologie) se reise in die onderwêreld opsoek na sy gestorwe vrou, Eurydice. (Orpheus in die onderwêreld is ook ’n bekende opera van Jacques Offenbach.)

    •Daar is ook die intertekstuele verband met die Faust-legende. Volgens hierdie legende word boosheid en verbode kennis bevraagteken. Faust verkoop sy siel aan die duiwelsgesant (Mephistopheles) om sodoende die hoogtste piek van menslike geluk en sukses te bereik. In Onderwêreld verkoop Greg se pa, Greg self en Eckardt as’t ware hul siel aan ’n duiwelsagent. Greg se pa gee homself oor aan mag, geld en korrupsie wat tot sy ondergang lei; Greg laat hom manipuleer deur die duiwelsgesant van die kuberonderwêreld (Eckardt), maar oorwin die boosheid in homself; Eckardt gee homself totaal oor aan die donker onderwêreld van kuberkrakery en raak ’n meester op hierdie gebied omrede dit deur sy wraak gevoed word.

    Motto

    ’n Motto (epigraaf) is ’n kort en kragtige sin om ’n sekere gevoel of idee uit te druk. Gewoonlik is dit ’n aanhaling uit ’n ander teks. In Onderwêreld is dit ’n aanhaling uit ’n werk van Dustin Dykes. Hierdie spreekwoord suggereer alreeds vir die leser dat die verhaal fokus op sekuriteit- en rekenaarstelsels, netwerke en kuberkrakers wat spreekwoordelik die stelsels aanval.

    Die volgende epigraaf onderskryf ook die idee van die motto. Die uittreksel uit die openbare verklaring, The Hacker’s Manifesto, impliseer die gedragsideaal van ’n kuberkraker – op jeugdige ouderdom begin die verset teen gesag en die reëls van opvoedkundige instellings. Die wêreld van die kraker is verhewe bo die normatiewe – meer uitdagend, meer avontuurlustig. Dít is die wêreld waarin Eckardt vir Greg lei.

    Manifes van die kuberkraker

    Die kuberkraker se manifes, wat betrek word met die motto uit die The Hacker’s Manifesto¹ (The Mentor 1986), dui reeds op die identifikasie tussen die jong volwassene (adolessent) se opstand teen die skool en ouerlike gesag, én die kuberkraker-generasie. Dit dui veral op die onbegrip van die ouer geslag vir dié generasie. Ook ander aspekte van hierdie roman word juis in hierdie manifes aangeraak: die kloningsproses op skool (we’ve been spoon-fed baby food at school); outoritêre gesag (we’ve been dominated by sadists); korruptiewe geldmag (run by profiteering gluttons); en die morele verval waarteen in opstand gekom moet word: You build atomic bombs, you wage wars, you murder, you cheat and lie to us and try to make us believe it’s for our own good, yet we’re the criminals (The Mentor², 1986).

    Die struktuur van Onderwêreld

    ’n Goeie skrywer weet dit is van die grootste belang dat ’n verhaal só sal begin (die inset) dat dit dadelik die leser se nuuskierigheid sal prikkel sodat hy/sy die verhaal verder wil lees. Daar is baie maniere waarop ’n skrywer ’n verhaal kan begin, en van die belangrikstes hang saam met die tydsverloop in die verhaal, die volgorde waarin die gebeure aangebied word.

    Die struktuur van Onderwêreld is tipies soos die aan- en afskakel van ’n rekenaarprogram: Die proloog (die inset van die verhaal) is die aanskakel van die rekenaar en die inskakeling in die program, die daaropvolgende 35 hoofstukke is die verskillende leggers van die program, die epiloog is die afskakel van die program en die rekenaar.

    Daar is twee verhaallyne: Die verlede wat handel oor die ontmoeting van Greg en Eckardt en Greg se inlywing in die wêreld van kuberkrakers, en die hede wat fokus op die verdwyning van Eckardt en al die gebeure wat daaruit voortspruit.

    Skematies kan die struktuur soos volg aangedui word.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1