Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Elf dae op 'n eiland
Elf dae op 'n eiland
Elf dae op 'n eiland
Ebook242 pages4 hours

Elf dae op 'n eiland

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Danika ontmoet uiteindelik die man wat sy net van 'n ou foto af ken: haar pa, bewaarder op 'n eiland in die Seychelles!
Die heel eerste aand op die eiland hoor sy toevallig van 'n ryk sjeik wat sy oog op die eiland het. Wat daarvan as hy nie werklik belang stel in ekotoerisme nie, maar in die finansiële gewin uit 'n painiet-myn? Uit die bloute kom nog bekendes uit Kaapstad op Cousin aan . . .
So word dit elf dae wat Danika nooit sal vergeet nie!
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateNov 26, 2020
ISBN9780624092131
Elf dae op 'n eiland
Author

Elizabeth Wasserman

Elizabeth Wasserman is a pathologist in private practice and extraordinary professor in the Department of Medical Microbiology at the University of Stellenbosch. She contributed to Nuwe Kinderverseboek (Tafelberg, 2009) and is the author of the Dogtective William, Dingesfabriek and Anna Atoom series, which was awarded the prestigious Alba Bouwer Prize in September 2013. Elizabeth and her family live in Welgedacht, near Cape Town.

Read more from Elizabeth Wasserman

Related to Elf dae op 'n eiland

Related ebooks

Related articles

Reviews for Elf dae op 'n eiland

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Elf dae op 'n eiland - Elizabeth Wasserman

    9780624089810_FC

    ELF DAE OP

    ’N EILAND

    ELIZABETH

    WASSERMAN

    TAFELBERG

    Dié boek is vir Marcelle en Yolanda,

    en al die voëltjies van die eilande.

    Sy maak haar oë oop, maar dit bly donker.

    Iewers raas die see, woedend. Die lug wat sy inasem is warm. Sy proe sout. Sy roer versigtig, maar haar lyf voel swaar, asof sy ver moes swem, of hardloop, of …

    Hoe het sy hier gekom?

    Sy draai op haar sy. Sy voel naar en duiselig. Haar klere is nat en daar is ’n kloppende pyn in haar boarm. Sy probeer regop kom. Die rots onder haar is glad en sy stamp haar kop hard teen iets laag bo haar kop.

    Sy trek haar bene op en laat rus haar ken op haar knieë, sluit weer haar oë en probeer dink.

    Alex. Hy was daar. En Trix en Gaby en … Waar is almal?

    Sy sak terug op die grond en gee haar oor aan ’n swaar, swart moegheid wat haar worstelende gedagtes oorweldig. Sy onthou niks meer nie en sy gee ook nie om nie. Die klip onder haar wang is klam en warm, en sy verbeel haar sy kan die hart van die aarde diep onder haar voel klop. As sy net hier kan bly lê, doodstil … totdat …

    Toe sy weer haar kop oplig, spoel lou water oor haar bene. Daar is flou lig, en sy skreef haar oë om beter te fokus. ’n Blink skerf maan kruip oor die horison en toor lig uit die see, ’n smal prentjie geraam deur donker rots.

    Sy is vasgekeer in ’n grot, en die gety kom in.

    * * *

    Die son sak in Seepunt

    Sjoe, dis rêrig koel hier!

    Danika glimlag senuweeagtig.

    Dit is ’n stunning uitsig, Danny-dude! Melody swaai haar hand met die blou geverfde naels in die rigting van die hawe en die berg. En jy sê jou ma hou elke Vrydagaand hierdie partytjies?

    Soirées! grinnik Lona. Melissa noem dit soirées, nie partytjies nie. Partytjies is so … voorstedelik. Hierdie is koel. Maar hoekom het jy ons nou eers genooi?

    Omdat jy en Lona die twee grootste nagmerries in die skool is, antwoord Danika in haar gedagtes. En mens weet nooit watter narighede julle Maandag by die skool gaan oorvertel nie, maak nie saak hoe koel julle nou dink dit is nie.

    Maar die twee divas is sekerlik die naaste wat sy aan vriendinne het. Dit is nie dat sy úit is nie – sy is nie weird of so nie. Dit is net asof sy nog nooit juis haar voete in ’n spesifieke groep by die skool kon vind nie. Dáár is die kategorieë swart en wit: jy is in of jy is uit. Jy is awesome of jy is nie. As jy presteer, is dit akademies of sport of kultuur. Dit help as jy mooi is of ryk is of as jou ouers op een of ander manier belangrik is.

    Maar ’n bietjie van als, soos in Danika se geval, maak nie juis ’n indruk nie. Want die wêreld steur hom nie veel aan gemiddeldes nie.

    Ten minste verloop hierdie aand sover nog verbasend glad.

    Wat drink julle, dames? Haar tante Trix kom aangeflerrie, ’n reënboogdrankie in die een hand en ’n lang sigaret in die ander. Weet sy nie mens is nie veronderstel om naby kinders te rook nie? Maar al vier Melody binnekort haar sewentiende verjaarsdag (Melody lyk al sewentien vandat sy ses is), is dit nie eintlik ’n partytjie vir kinders hierdie nie. Danika probeer keer. As sy weer sien, kry haar twee skoolmaats iets alkoholies in, as dit nie al klaar gebeur het nie. Sy loer wantrouig na die groen koeldrank in die glase op die tafeltjie tussen hulle. Wie het dit geskink? Sy self het al lankal geleer om water uit die kombuiskraan te gaan drink eerder as om enigiets te aanvaar van die spul wat elke Vrydagaand op die dak van hul huis in Seepunt kuier.

    Kaapstad is asemrowend, nie waar nie? Trix is een van Danika se ma se ouer tweelingsusters. Die ander een is Gaby. Hulle bly al vandat Danika kan onthou hier by hulle, in ’n woonstel onder die huis. Maar tweeling ofte nie: daar is so min ooreenkomste tussen Trix en Gaby dat Danika soms wonder of hulle van dieselfde planeet af kom.

    Nou fladder Trix haar vals wimpers terwyl die son se laaste strale vlamrooi strepe in haar slodderige krulle trek wat sy vanaand hoog op haar kop gestapel het.

    Wie is tannie nou weer? vra Melody astrant, met die klem op die Afrikaanse tannie. Is tannie Danika se regte tante?

    Trix giggel skel. O vader, nee, hartjie. En ek is heeltemal te jonk vir jou om my tannie te noem. Sy neem ’n lang teug van haar drankie. Die sambreeltjie tuimel grond toe saam met die as van haar sigaret, maar ’n reguit antwoord kry Melody nie. Trix wieg ritmies op maat van die musiek uit ’n luidspreker langs die waaiers van die lugversorger – net-net nie heeltemal so kliphard dat die bure dadelik sal begin kla nie. So, Nieks sê julle is die hot girls in haar klas. Duidelik! Die uitdrukking op haar gesig is soos dié van ’n kat wat ’n piering room raakloop. Is hulle Nieksie besig om uiteindelik maats te maak? Omtrent hoog tyd!

    Nieks? Is dit tannie se bynaam vir Danika? vra Lona, haar oë rond. Danika wonder benoud watter nuwe ellendes by die skool op haar wag noudat haar huis-noemnaam uitgelek het. Nieks. Danika. Maar wat maak dit saak? Nie een van die twee name het veel impak nie.

    Trix se vinnige blik som die twee skoolmaats op. Sy sien hul rokkies wat net-net te kort is, hul hakke net-net te hoog. Hulle dra genoeg maskara om ’n boek mee te skryf, sou mens dit as ink gebruik. Trix frons. Sy ken dié tipe. Sy was self so op dié ouderdom, en ’n deel van haar het waarskynlik daar vasgehaak, selfs al is sy in wat die meeste mense as haar middeljare sou beskryf. Middeljare se voet! Sy is nog bykans net so goed as wat sy twintig jaar gelede was. Sy lig haar glasie omhoog in ’n stille heildronk op haarself, op haar stoere jeugdigheid wat sy nog lank nie bereid is om prys te gee nie. Maar wat sou sy nie gee vir sulke ferm vel oor haar nek, arms en kniekoppe nie!

    Danika merk ’n beroering uit die hoek van haar oog. Stemme raak stiller en mense staan terug wanneer ’n man in ’n helderpienk baadjie die geselskap betree. Sy kop is kaal geskeer en hy dra ’n gitswart sonbril, asof sy eie oë nie die glinstering van die veelvuldige ringe aan sy vingers en die dik goue ketting om sy nek kan verduur nie.

    Elvis, darling! gil Trix en vergeet dadelik van die meisies. Sy trippel in sy rigting, haar heupe swaaiend soos die stert van ’n labrador onder die groen satyn van haar vintage cocktailrok.

    Wie’s hy? fluister Melody.

    Lyk soos ’n gangster! sê Lona, te hard. Is hy nie die ou wat hulle ‘The Jackal’ noem nie? ’n Paar mense in hulle onmiddellike omgewing draai om en gluur die meisie aan. Bakvissie! Mens sê tog nie sulke goed hardop nie?

    Danika voel ’n sweetlagie oor haar bolip damp. Wil julle nie eerder afgaan na my kamer toe nie? skerm sy. Ek het musiek, Taylor Swift se nuutste, en dalk kan ons ’n paar episodes van iets op my laptop kyk. Of een van die ou Audrey Hepburn-flieks. Ek het hulle almal!

    Maar Lona en Melody hoor haar nie eens nie. Iemand het die musiek harder gedraai. Bure se voet! Die son het gesak en nou is dit asof die stad se liggies vastrap in ’n flonkerkompetisie. ’n Seiljag se volgstroom trek ’n loodswart streep oor die silwer water van die baai, en die partytjie kry spoed. Die man met die pienk baadjie is die middelpunt van ’n bondel dansers wat met lawwe passies rondbons in die spasie tussen potplante en die lang tafel belaai met bottels en ’n paar leë borde waaraan krummels en verlepte pietersieliestingels nog kleef. Sy sien haar ma anderkant die dansers. Melissa Kuyler, bekende televisiepersoonlikheid, dra vanaand ’n nousluitende rok in middernagblou. Sy kantel haar kop met die blinkblonde hare en luister na wat iemand vir haar sê. Sy lag. En skuins agter haar is Gaby, gedienstig, besig om leë shot-glasies op ’n skinkbord bymekaar te maak. Met haar effens plomp lyf koes sy tussen die swaaiende lywe deur, haar los hemp en denimbroek uit pas met die pronkers en pierewaaiers om haar.

    Gaby se oë ontmoet Danika s’n so tussen die dansers deur en Danika trek ’n benoude bek in die rigting van haar twee bakvissie-skoolmaats, wat nou saam met die ander gaste in die middel van die beknopte spasie op die dak probeer dans. Gaby glimlag flou terug, sonder oortuigende gerusstelling. Sy het probeer om Danika te laat afsien van haar plan om haar twee skoolmaats na een van haar ma se soirée’s te nooi, maar nee! Nieks is nou op die ouderdom waar mens haar niks kan vertel nie.

    Asof die noodlot haar vrese wil beaam, skel die skril klank van sirenes skielik van onder in die straat. Almal storm na die reling om die daktuin en loer af na waar drie polisiemotors met skreeuende bande voor die voorhekkie tot stilstand kom.

    Die musiek word stil.

    Danika kyk om haar rond. Van die man met die skelpienk baadjie is daar skielik geen spoor nie.

    Babelas-blues

    Kan ek vir Ma tee maak?

    Melissa Kuyler sug. Sy het iets veel sterker as tee nodig, maar sy moet seker ’n voorbeeld stel vir haar enigste dogter. Koffie asseblief, Nieks-my-hart.

    Haar ma lyk vanoggend amper oud, so sonder grimering, haar blonde krulle skeef gedruk en toiingrig. Sy dra ’n sakkerige trui oor ’n grys kleefbroek. En tekkies, niks hoë hakke nie. Maar sy is nog steeds mooi.

    Het sy maar meer soos haar ma gelyk! Dit is die eerste versugting wat Nieks kan onthou vandat sy van voorkoms bewus geword het. Maar die roulette van gene toon geen genade nie. Nieks se hare is bruin, nie blond nie. In plaas van haar ma se helderblou kykers is haar oë net ’n vuilerige kakie – soms bruin, soms groen. Sy vermoed sy lyk meer na haar pa as haar glamorous ma, en waar dié ook al is, hy is beslis nie ’n male model nie.

    Sy roer ’n opgehoopte lepel kitskoffie by die koppie kookwater.

    Haar ma sug. Ek wens ek kon jou leer om eerder die espressomasjien te gebruik!

    Daar is dit weer: die sweempie kritiek in elke tweede sin wat haar ma vir haar sê, Nieks-my-hart ofte nie. Danika voel of sy net nooit iets reg kan doen nie. Maar Melissa is ’n perfeksionis, dit weet almal. Dit en haar onstuitbare energie lê aan die wortel van haar suksesvolle vroegoggendgeselsprogram op nasionale televisie, elke weeksoggend van halfsewe tot agtuur.

    Karelkat druk die katflap in die agterdeur oop en kom ingesluip, terug van ’n nag van kattemaai iewers in die agterstrate van hul buurt. Selfs hy lyk aan die verkeerde kant van kroes vanoggend. Die kat slinger sy stewige lyf tot teen Nieks se linkerbeen en leun lui teen haar, ’n vae erkenning dat sy huismense min of meer belangrik is vir hom. ’n Krapperige grom stoot op uit sy keel, maar hy wend nie ’n daadwerklike poging aan om te spin nie. Karelkat is te lui, of dalk is die ramkatte van Seepunt net heeltemal te koel vir spin. Hy spring op die vensterbank waar ’n kussing op hom wag, en krul hom op in die oggendson. Hy sluit sy oë. Die wêreld en al sy werklikhede traak hom min.

    Vandag is Saterdag, en gelukkig hoef Melissa nie lank voor die son opkom by die studio te wees soos elke weeksdag nie. Ma en dogter sou kon laat slaap as dit nie was vir die gruwelike chaos wat hulle die vorige aand oorrompel het nie.

    Kon Ma enigiets uitvind?

    Melissa teug aan die warm kitskoffie en frons. Nee. Ek was die hele nag in daai polisiestasie! Ek kon die twee nie eens sien nie. Hulle het my op ’n harde bank in die stinkende aanklagkantoor vol bergies en dronklappe laat wag, en eers drie-uur vanoggend vir my kom sê dat Gaby en Trix Maandag op borgtog kan uitkom, op die vroegste. In die Kaap gebeur niks oor ’n naweek nie!

    Danika kan haar ore skaars glo. Maandag! Hoe het dinge so skeefgeloop? Tannie Gaby en tannie Trix sit in die tronk op aanklag van dwelmbesit. Haar wêreld wankel. Nieks is al groot genoeg om te besef dat haar tantes nie engeltjies is nie – veral nie die uitspattige Trix nie – maar dwelms! En Gaby, hulle almal se steunpilaar, hoe is dit dat sy saam met haar tweelingsuster in die moeilikheid beland het?

    Natuurlik is hulle onskuldig. Melissa skuif ongemaklik rond op haar stoel. Ek weet nie hoekom hulle vir daai konstabel gesê het dis húlle sak nie. Een sak kan tog nie aan twee mense behoort nie! En …

    Nieks volg nie heeltemal haar ma se logika nie. Dit is sekerlik moontlik dat vele mense ’n aandeel aan daardie veelbesproke sak dwelms kan hê, maar nie Gaby of Trix nie. Dit sal sy sweer. Hulle probeer tien teen een om mekaar te beskerm, of dalk selfs haar ma! Gaby en Trix sal alles vir hul jonger sussie doen. In hulle oë bly sy altyd die baba, en daarmee saam haar dogter Danika, hulle Nieks, wat hulle as hul eie aangeneem en help grootmaak het.

    Met ’n ma soos Melissa is twee ekstras nie te versmaai nie.

    Wat nou?

    Voor Melissa haar dogter kan antwoord, lui die telefoon.

    Moenie antwoord nie! keer haar ma toe Nieks mik om op te tel. Dis tien teen een die pers. My selfoon is ook al vol missed calls. Die selfoon lui, asof gewek deur die verwysing. Dis Duncan! Melissa spring op om die oproep in die klein agtertuin wat na die berg se kant kyk, te gaan antwoord.

    Nieks hoor haar ma se stem vaagweg uit die rigting van die krismisrose wat teen die houtheining tussen hul erf en die bure s’n groei. Ja, ek weet … Ek weet … Ek … Maar hy is die duurste prokureur in die stad! Dink jy werklik … Ek weet … As jy so reken … Ek weet …

    Sy spits haar ore. Dit is ’n reusagtige gemors, maar … Nieks kan net dink wat Duncan aan die ander kant sê. Duncan is die nuutste man in haar mooi ma se lewe, een van die props, soos Gaby en Trix hulle noem. Haar ma se kêrels kom en gaan vinniger as wat sy haar haarstyl kan verander. En hulle is almal volgens dieselfde patroon gesny: ryk, aan die ouerige kant en mal oor haar glansryke ma – minstens vir ’n rukkie. Dan beweeg Melissa weer aan. Asof sy nie regtig anker kan gooi in haar stormagtige lewe nie.

    Nieks koes weg toe haar ma skielik omdraai en haar by die agterdeur gewaar.

    Ek kan dit regtig nie nou verder bespreek nie. Nie hier nie! My dogter is reeds omgekrap … Nou goed. Gee my ’n halfuur … Ja, ek weet. Dit vat my nie só lank om reg te maak nie! Goed, ’n uur. Sien jou dan.

    ’n Uur en tien minute later is Melissa gestort, geonderlaag-en-maskara, en in ’n wolk van Franse parfuum kom sy by die trap af, nog besig om ’n oorbel vas te klik. Duncan se blink sportmotor wag reeds vir haar voor in die straat. Nieks wuif vir haar ma totsiens van die rusbank af waar sy haar toegewikkel het in ’n bont kombers wat Gaby gebrei het. Sy kyk skaars op van haar skootrekenaar se skerm.

    Nieksie, ek is later terug. Duncan gaan help. Ons moet planne maak.

    Met ’n geklik van haar Jimmy Choo-hakkies op die keistene buite is haar ma weg.

    Die stilte pak saam in die leë kamers van hul huis.

    Nieks klap haar rekenaar toe en kruip onder die kombers uit. Sy dwaal op met die trappe tot op die daktuin wat oor die hawe uitkyk. Oral lê tekens van die vorige aand se gefuif. Gewoonlik ruim Gaby alles op, maar nou is

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1