TED sit sy leë koppie neer. Die oggendson blink in die gladde oppervlak van die kombuistafeltjie. Hy gaan staan voor die lang, nou venster en tuur oor die ander meenthuisies in die gevangenis, ag, die sekuriteitskompleks, waar hy woon.
“Meneer Teddie, nou is jy mos vry om eindelik see toe te gaan en daar te bly en soos die wind te waai waar jy wil! Of hoe? Maar, wáár gaan hierdie ou vaal dorpie weer ’n wiskundeonnie soos jy kry?”
“Ai, Marga Nel,” het hy destyds geglimlag, “hulle sê mos niemand is onmisbaar nie, nie eens hierdie ou onnie nie. Buitendien, julle skryf eersdaags matriek, dan is dit koebaai Meraai en los julle my in elk geval alleen.”
Wat die jong meisie toe nie geweet het nie, is dat daar ’n behaaglike gevoel van algehele verligting in sy gemoed en op die krop van sy maag gekom het; dis asof al daardie knope begin loswoel het. En ook, geen Sondagnamiddag-blues meer nie. Hy was