DIT ontaard elke jaar in ’n vreeslike geraas en geblaas, met ’n pienk koek en kerse en klokke en ballonne. En ek haat dit elke keer – hierdie ding dat ek en my niggie so saam-saam verjaar.
’n Mens wil darem, wanneer jý die dag verjaar, hê die wêreld moet ’n bietjie tot stilstand kom en vir ’n oomblik net om jou draai. “Ons wag maar eerder tot Madeleintjie ook verjaar, dan vier ons julle tweetjies se verjaardae saam,” verduidelik my ma. “Siestog.”
Wanneer Madeleintjie ter sprake kom, is daar altyd ’n “siestoggie” by betrokke.
“Hoekom?” waag ek om te vra. Dis lank stil voor my ma van die skok herstel dat ek enigsins die gewoonte kan bevraagteken. “Omdat sy die jongste is, natuurlik.”
Hoeveel ek kon sondig in die drie dae wat ek voor haar gebore is dat ek so gestraf moet word, weet ek nie.
My ma en haar suster kloek elke jaar in mekaar se ore. “Hoe wonderlik