Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Tot siens, koning Arthur
Tot siens, koning Arthur
Tot siens, koning Arthur
Ebook154 pages2 hours

Tot siens, koning Arthur

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Sylvia van der Merwe moet honderd ure gemeenskapsdiens doen, sy is geskors uit haar skool voordat sy matriek kon klaarmaak, en saans werk sy hard om die finansiële las vir haar enkelma en kleinboetie te verlig. Dit is wêrelde verwyder van enkele maande tevore toe sy nog planne gehad het om te gaan medies swot en gekies is as skoolprefek. Minstens is alles nie net sleg nie – haar hunk van ‘n boyfriend Hein is nog net so smoorverlief op haar, en die dienswerk by die ouetehuis is darem nie te sleg nie. En daar is tog vele ander alternatiewe beroepe as medies.

Wanneer haar kleinboetie egter siek word en die dokter by noodgevalle nie wil luister nie, moet Sylvia op haar instinkte staatmaak. Dieselfde instink wat vir haar sê dat alles ook nie pluis is met haar en Hein nie.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 20, 2012
ISBN9780624056232
Tot siens, koning Arthur
Author

Annelie Ferreira

Ná ’n BA en diploma in Vertaling aan die US het Annelie Ferreira as taalpraktisyn en subredakteur by Sanlam se Taaldienskantoor en Human & Rousseau Uitgewers gewerk. Daarna volg deeltydse- en vryskutwerk vir ’n verskeidenheid uitgewers en publikasies. Sy publiseer ’n aantal nie-fiksieboeke, asook ’n roman, Hoekom honde nie kan sing nie. Sy was die samesteller van Paaie, ’n boek oor verskillende godsdiensperspektiewe. Sy is getroud, met twee dogters, en bly tans in Bristol, Engeland, waar haar man as aktuaris werk. Sy reis gereeld terug na hulle huis in Durbanville. Haar jeugroman Tot siens, koning Arthur word bekroon as die Goue Wenner: Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2012 en die M.E.R.-prys vir jeugroman in 2013.

Read more from Annelie Ferreira

Related to Tot siens, koning Arthur

Related ebooks

Related articles

Reviews for Tot siens, koning Arthur

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Tot siens, koning Arthur - Annelie Ferreira

    Tot siens,

    koning Arthur

    Annelie Ferreira

    Tafelberg

    Hierdie boek is bekroon met die Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2011

    Wat min mense van my weet, is dat …

    … ek ’n seun se voortande uitgeslaan het in Graad Een. Dis nie heeltemal so ’n prestasie as wat dit klink nie – hy was in elk geval besig om te wissel.

    Om eerlik te wees, was ek nie jammer daaroor nie. Eintlik dink ek nie een van die meisies in die klas was jammer daaroor nie, en die meeste seuns ook nie. Hy het met almal gesukkel, hulle rondgestamp of hulle goed afgevat of gebreek.

    Maar daardie dag het hy die verkeerde girl se potloodblikkie op die vloer uitgegooi. My hou was vol op sy mond. Hy het soos ’n muis gepiep, toe rek sy oë – en toe spoeg hy twee bloederige tande uit. Toe moes jy hom hoor skree.

    Die juffrou het ’n briefie vir my ma gestuur. Ek het vir my ma verduidelik wat gebeur het en sy het gesê wel, as die onderwysers te useless is om te help … Maar ek moes probeer om dit nie weer te doen nie.

    Die ander ding wat min mense van my weet, is dat dit my droom is om ’n dokter te word. Dis hoekom ek my in ’n koma in werk vir wiskunde, skeinat en biologie. Ek is nie die slimste student nie, maar ek wil probeer om ’n beurs te kry.

    Dis ’n droom wat begin het min of meer dieselfde tyd as wat die ou se tande gewaai het.

    Ek was by ’n verjaardagpartytjie. Ek onthou nie veel van hoe die plek gelyk het nie, behalwe dat die mense ’n moewiese tuin gehad het. Vir my was dit omtrent soos ’n park, ’n miljoen keer groter as Ma se pot met die lelie in ons woonstel.

    En verder onthou ek die harde slag waarmee die voël teen die glasdeur agter my op die stoep vasgevlieg het. Ek het my amper nat geskrik, maar toe ek die klein groen voëltjie op die klipteëls sien lê, het ek dadelik gehardloop en hom opgetel. Hy het perfek in my hande gepas, sag en warm. Sy ogies was oop.

    Die tannie het oor my gebuk. Ag nee, het sy gesê, hy’s dood, kyk hoe slap is sy nekkie. En ’n ou glasogie nogal. Hy sal nie weer vlieg nie.

    Toe ek eindelik ophou huil het, was dit nie oor die yslike stuk verjaardagkoek wat die tannie in my hand gedruk het, of die simpel hanswors se grappies, of my ma wat gedreig het om my ’n helse pak slae te gee as ek nie nou stilbly nie.

    Dit was omdat ek besluit het ek sal eendag ’n dokter word. Sodat ek nooit weer iets so pragtig soos die gebreekte glasogie sal hoef te sien en te weet ek kan niks daaraan doen nie.

    (468 woorde)

    Sylvia van der Merwe

    Graad 11A

    bird.jpg

    Guinevere

    Ek begin sweet nog voor ek naby suster Pretorius se kantoor is, en nie net van die Kaap se Desemberhitte nie.

    Guine … Sy kyk weer na die vorm in haar hand en ’n fronsie keep tussen haar oë. Guinevere van der Merwe?

    Obviously maak die naam niks beter nie.

    Sylvia, sê ek vinnig. Dis my tweede naam. Niemand noem my Guinevere nie.

    Suster Pretorius haak haar leesbril met sy goue kettinkie af van haar neus en sit dit op haar bors neer.

    Daar is ’n vreemde reuk in Huis Andante.

    Nou ja. Haar oë is onverwags diepblou. Hulle flits X-strale deur my, asof hulle onmiddellik sal sien as my pankreas tatty is, of my blindederm of byniere of so. Ons vat nie gewoonlik mense in jou posisie nie, maar die maatskaplike werker het gereken daar behoort nie probleme te wees nie. Oumense is maar weerloos, jy weet. Ons laat in elk geval nie toe dat hulle waardevolle goed in hulle kamers hou nie.

    Hitte kruip op teen my nek. Dis nie vir diefstal wat ek in die moeilikheid is nie, oukei!

    U hoef nie bekommerd te wees nie, sê ek styf en kyk weg, na die portrette teen die muur. Dr. A.J. Benadé, 2 Mei 1933 – 26 Februarie 2010. Mev. G.C. Pieterse, 15 Junie 1938 – 3 Januarie 2011. Mev. H.G.I. Leonard …

    Ons het maar altyd hande nodig. Behoorlike versorging kos geld, en die meeste inwoners hier het dit nie breed nie. Die stoel skwiek toe suster Pretorius opstaan. Haar navy baadjiepak span om haar heupe. Kom saam.

    Ek volg haar af in die skemer gang. Aan die linkerkant is ’n rits liggroen deure met name in swart letters, tussenin smal vensters van ondeursigtige glas. Dis stil. Al wat mens kan hoor, is die veraf gesanik van ’n weedeater buite.

    Die reuk dryf saam, soos slegte asem.

    Hier aan die linkerkant is enkelwoonstelletjies waar die mense bly wat nog redelik selfversorgend is, wys suster Pretorius op ’n drafstap. Buite is die groter eenhede van die aftreeoord.

    Die volgende oomblik sluk ek omtrent my mangels in. ’n Gebulk ruk van iewers agter ons deur die gang. Ek swaai om, maar suster Pretorius verminder nie spoed nie.

    Dis oom Naudé, sê sy toe ek haar uitasem inhaal. Hy skree af en toe so, maar andersins is hy redelik by. Ons het nou maar twee dowe mense weerskante van hom gesit.

    Ons swenk om ’n hoek. ’n Krom omie met ’n loopraam kom verstommend vinnig van voor aangeskuifel.

    ’n Plek soos hierdie verg baie werk, dit kan ek jou sê, mense het nie ’n idee nie. Hier is verswakte bejaardes vir wie mens letterlik alles moet doen. Voer, was, bedpanne …

    Bedpanne?

    Suster Pretorius steek ’n arm uit om ons jaagduiwel te keer.

    Môre, oom! Die eetkamer is anderkant toe, nè? Sy draai hom behendig om, nes ’n Duplo-mannetjie.

    Môre, suster! groet die omie vriendelik. Ek’s nou nie ’n ortodontis nie, maar ek dink hy kort ’n tand of twee. Of twintig.

    Terwyl ons verder stap, praat suster Pretorius saggies na my kant toe. "Party dwaal. Jy moet maar altyd dophou. Hulle sal darem nie by die gronde kan uitgaan nie, daar’s sekuriteit by die uitgang, maar eenkeer is ’n tannie per ongeluk in die laundry toegesluit. Hulle het dit eers agtergekom toe sy die aand nie by haar buurvrou opgedaag het om Sewende Laan te kyk nie."

    Dit moet die eetkamer wees, ’n groot vertrek vol vierkantige tafels, vier stoele by elk. ’n Handvol wit- en gryskoppe sit klaar daar. Die gordyne voor die groot vensters is beige met blou blommetjies. Dis net halfpad oopgetrek, asof iemand bang is die oumense sal begin verkrummel van te veel lig, soos mummies.

    Verder aan is frail care, wys suster Pretorius af in die gang. Daar bly die verswakte bejaardes, en die mense met erge Alzheimers.

    Die oom met die loopraam charge verby ons na ’n tafel waar drie vrouens soos grys hasies sit.

    Aan die een kant van die eetkamer is ’n lang buffet-tafel met ’n breë luik na die kombuis toe. Daar werskaf twee vrouens, al twee met dieselfde navy rompe as suster Pretorius aan, en wit hemde.

    Sy neem my na hulle toe.

    Dis Guinevere van der Merwe, stel sy my voor. Sy kom uithelp, ek het van haar gepraat op ons laaste vergadering.

    Vinnige blik tussen die twee navy rompe. Hallo.

    Ek gloei witwarm. Sylvia, probeer ek koel. Almal noem my op my tweede naam, Sylvia.

    Sal sy solank sap bedien? vra suster Pretorius.

    Reg so. Navy Romp Een draai na die luik, waar twee skinkborde met glasies sap staan. Ons het vandag pienk grapefruit. Sy tel ’n skinkbord op en sit dit op ’n staaltrollie neer.

    Ek kan die nat kolle onder my arms voel, wil nie weet hoe my gesig blink nie. Ek vat die trollie aan sy handvatsel en begin stoot. Een ou skinkbordjie met sap is natuurlik niks teen wat ek al in die Plaaskombuis rondgedra het nie, maar as dit hulle gelukkig maak … Botsings met ’n loopraam of kierie kan dalk hier rond ’n occupational hazard wees.

    By die naaste tafel sit twee vrouens, een met ’n pienk strikbloes en wit hare in ’n Franse rol opgedraai, die ander in babablou, met yl grys krulle. Ek maak senuweeagtig keel skoon. Daar kom soms heel ou mense na die Plaaskombuis, maar hulle is gewoonlik saam met jonger mense, dan praat ek maar so in die bondel met hulle. Verder was die oudste mens met wie ek nog persoonlik te doen gehad het ons wiskunde-onderwyser, voor hy (vir die laaste keer) afgetree het laas jaar. Maar ek dink hy was van geboorte af nie all there nie, hy het nie Alzheimers of iets gehad nie.

    Wel. Here goes. Kom ons probeer opgeruimd. Goeiemôre, groet ek. Lekker grapefruit-sap vandag.

    Die tannie met die pienk bloes kyk belangstellend na my. Is jy die bruid? vra sy.

    Ek moet sê dis die een vraag wat ek nié verwag het nie. Die bruid?

    Nee, man, kan jy nie sien nie? chip die ander tannie in. Sy kom van die tiende verdieping. Sy glimlag verskonend. Jy kan mos sien. Die tiende verdieping.

    Hein! Help! Ek sien sy gesig voor my, die mond van ’n engel, sy oë vol duiweltjies. Wat sou hy gedoen het?

    … die tiende verdieping.

    Ek dink die blou tannie is op repeat.

    Ek sit haar glasie sap mooi voor haar neer. Eintlik, sê ek vriendelik, is ek hier om gemeenskapswerk te doen. Die hof het my gevonnis tot ’n honderd ure.

    Hulle kyk stralend na my. Die tannie in pienk se hand fladder na my arm. Jy moet jou rok betyds kry, partykeer moet dit verstel word.

    Oh boy.

    Ek loer na my horlosie. Nog agt ure op die tiende verdieping.

    bird.jpg

    Jou gat, man

    Ma se rooi Corsatjie wip net voor my by die motorhuis in. Ek cruise die poegie versigtig agterna, my linkerknie skraap amper teen die muur. Die motorhuis is soos

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1