Dit maak nie saak uit watter rigting jy Piet Plessis benader nie, jy gáán grondpad ry. Mense beweeg nie sommer diékant toe nie, tensy dit nodig is. Die dorpie lê ook nie langs ’n roete wat iewers heen lei nie. As jy uiteindelik daar aangekom het, is jou volgende stap waarskynlik om terug te gaan. Jy gaan selde verder.
Hier, noord van Vryburg waar Noordwes ’n duik in Botswana maak, is beeste en wild die grootste attraksies. In dié wêreld kom soek jy kalwers of koedoes. Óf vir moeilikheid as jy jou ná swaar reën op die R377 tussen Stella en Piet Plessis begewe. Gevolglik rek die oë van die twee vroue voor die laerskool toe my modderkoek van ’n bakkie by hulle stilhou.
“Lyk my jy is op ’n moerse avontuur!” sê Surika Coetzee voor sy haarself en Jana Mostert voorstel.
Surika sukkel nie met praat óf lag nie; sy doen albei voluit. Sy laat ’n vreemdeling binne oomblikke soos ’n vriend voel, en voor jy mooi weet wat aangaan, maak jy saam met haar grappies oor die groente wat Jana smous – uit brandewynbokse en ’n koelhouer. Maar wat Jana doen, is baie oulik, want by haar kry jy die varsste groenboontjies en spinasie denkbaar. Sy kweek haar groente op die plaas waar sy en haar man, Rikus Mostert, boer. Haar manier van praat verklap sy was nie altyd hier rond nie.
“Nee, ek’s ’n Boesmanlanner. Van doer annerkant Pofadder af.”
Voor enige foto’s van Piet Plessis se groentesmous geneem kan word, spring sy in haar bakkie. “Nog nooit nie! Jy sal my maar in die Boesmanland moet kom afneem, in my natuurlike habitat.”
Surika is