Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Geheime op Keurboslaan #8
Geheime op Keurboslaan #8
Geheime op Keurboslaan #8
Ebook260 pages2 hours

Geheime op Keurboslaan #8

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Berrie Serfontein is in die moeilikheid. In ’n fluistergesprek wat hy toevallig hoor, dreig ’n vreemde besoeker met ’n Amerikaanse aksent om onbekende geheime uit sy pa se verlede bekend te maak. Berrie besluit om sy pa ten alle koste te beskerm en om op een of ander manier die vreemdeling uit die pad te kry – hóé weet hy nie. Die seuns op Keurboslaan word gedurig gewaarsku om nie naby die grotte in die berg te gaan nie, omdat daar in sommige van die grotte dryfsand is. Berrie hoor egter nie die waarskuwing nie, en besluit om die vreemdeling na die grotte te lok en hom daar gevange te hou totdat hy ’n manier kry om die man te verhoed om met alles op die lappe te kom. Dinge loop egter onverwags lelik verkeerd . . .
LanguageAfrikaans
Release dateNov 23, 2009
ISBN9780798155663
Geheime op Keurboslaan #8

Read more from Theunis Krogh

Related to Geheime op Keurboslaan #8

Related ebooks

Related articles

Reviews for Geheime op Keurboslaan #8

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Geheime op Keurboslaan #8 - Theunis Krogh

    1

    DIE MAN IN DIE MIS

    Kom kuier in sonnige Suid-Afrika, sug Ruyssenaer, Keurboslaan Seunskool se onderhoofseun.

    Die reën stroom troosteloos by die prefektekamer se vensters af.

    Richard Serfontein, die hoof se seun en vanjaar ook die hoofseun, kyk goedig na sy beste vriend. Jammer jou klagtes is nie ’n kraan nie, sê sy manlike stem wat hom ouer as sewentien laat klink. Dan wend Richard hom weer na sy boeke.

    Hoekom moes jy nou weer begin praat, Ruys? kla Willem Willemse. Jy verbreek my konsentrasie.

    Hy laat sak sy rooikop op sy uitgestrekte arms op die tafel. Maar Ruyssenaer gaan aan om te maak of hy ’n dokumentêre program aanbied.

    Ons nader die pragtige Keurboslaan bo die Komativallei. Kyk hoe kruip dié dorpie weg tussen die berg se plooie, te midde van sy kabbelende silwer strome … Ekskuus, ek het bedoel sy stortende reënvloed. Iewers skyn die son, maar nie hier nie!

    Richard klap sy boek toe en kom staan langs Ruyssenaer by die kaggel. Hulle is die grootste onder vanjaar se prefekte, waarvan nie een klein is nie.

    Ruyssenaer bekyk sy vriende, eers Richard wat so baie na sy pa lyk, behalwe dat sy hare goudgeel soos sy ma s’n is, dan Rudolf Borneman wat voor sy tafeltjie bly sit om te studeer. Hy hou hom altyd ’n bietjie eenkant van die res. Langs hom sit en werk Gys Thiessen, een van Richard se baie neefs. Uit hom kon Ruyssenaer nog nooit veel wys word nie. Gys leer en speel hard, en hy doen sy plig as prefek, maar daar is ’n weemoedige trek op sy gesig wat ’n mens nie kan peil nie.

    Ruyssenaer het ook familieprobleme waarvan niemand behalwe die hoof en Richard weet nie. Miskien het almal op aarde iets wat hulle snags wakker hou, dink hy.

    Hoe lyk dit met die kleintjies? vra iemand skielik. Hulle maak gewoonlik droog in hierdie soort weer.

    Ma Mossie kyk mooi na hulle, sê Kleynhans.

    Ja, maar wat van die middelste klomp? vra Boet Lambrecht, die onderhoof se seun.

    Alhoewel sy ouers in die dorp bly, is hy nogtans ’n kosganger. Die hoof neem nie dagskoliere in nie. Dis sy eie skool wat hy met sy eie geld gekoop het, en al kom die Onderwysdepartement se inspekteurs gereeld hierheen waar hulle baie beleef ontvang word, sê niemand vir doktor Serfontein hoe om sy sake te bestuur nie.

    Hulle ruk handuit ná ’n week se reën, en dis geen wonder nie, sê Willemse. Riek, jou boetie gaan slae kry as jy hom nie regsien nie. Hy word by die dag meer onmoontlik.

    Ons was maar almal onmoontlik op dertien, sê Richard.

    Hy sal Berrie se streke nie bespreek tensy dit ’n saak is wat formeel voor die prefekteraad kom nie.

    Hy is skielik dik vriende met ons probleemseuns, sê Pienaar. Maar gelukkig is Loggenberg by, so dinge sal nie te skeefloop nie.

    Die probleemseuns van wie Pienaar praat, het elkeen die wet oortree voor hulle hierheen gekom het. Hulle was in verbeteringskole toe doktor Serfontein hulle vir ’n proefneming Keurboslaan toe gebring het. Ná ’n moeilike tyd het hulle goed aangepas, en nou is hulle deel van die skool.

    Loggenberg, ’n buitengewone groot seun van veertien, is besonder gewild. Alberts, wat aan ’n gevaarlike stadsbende behoort het, het hier ’n groot liefde vir musiek ontdek. Volgens Willemse, ’n uithaler-rugbyspeler en ook ’n goeie violis, vorder dié vroeëre lid van die berugte Glennis-bende verbasend goed.

    Die ander twee proefdiertjies soos Ruyssenaer hulle noem, is Jurie Verryne wat as gevolg van armoede en haglike gesinsomstandighede die pad byster geraak het, en Logan wie se grootouers hom so mishandel het dat hy ’n kleptomaan geword het.

    Alberts is seker besig om iewers op sy geleende viool te oefen. Niemand bekommer hulle oor hom nie, en waar Loggenberg is, is Jurie en Logan ongetwyfeld ook.

    Die gerieflike prefektekamer se deur word oopgepluk. Die onderwysers klop gewoonlik, maar nie mevrou Mostert nie. Sy is al die koshuismoeder hier vandat doktor Serfontein die skool by die voormalige eienaar, meneer Schoonbee, gekoop het. ’n Foto van die eerste skooltjie hang in die konsertsaal, saam met een van oorlede meneer Schoonbee. Mevrou Mostert het die huidige skool met sy pilaregange, visdamme, buitegeboue en swembad van die eerste baksteen af gesien vorder.

    O, hier is julle. Niemand doen diens op die speelterrein nie, nè! verwyt sy die prefekte.

    Almal staan vinnig op.

    Maar mevrou, kla Ruyssenaer, daar is mos nou net padda-vissies buite.

    Julle weet wat julle pligte is. Skaam julle! berispe mevrou Mostert die stewige jongmanne asof hulle agt jaar oud is.

    Riekie, het jy vir Berrie gesien? vra sy vir Richard.

    Nee, mevrou.

    Nou ja, vandag gaan daar moleste wees! Hy moet vir sy klavierles kom, maar hy is nêrens in die skool te vinde nie. Verder kom daar ook ’n paar seuns uit die middelskool kort.

    Mevrou hoef nie eens vir ons te sê wie dit is nie. Ons weet maar te goed, sug Danie Krynauw. Gerrit, Rynault, Leenderd, Beyers, Ben en Klaas, almal Serfonteiners, soos Loggenberg hulle noem. Maar om te wys dis nie net die Serfontein-neefs wat onbeheerbaar is nie, kan ons seker vir Brian Spaulding, Theo Killian en Rex Wienand bysit.

    Daardie verbrande klein Rex is eintlik ook ’n Serfontein, sê Boet. Sy ma is doktor se jongste suster.

    Om van sy pa nie te praat nie, sê mevrou Mostert bitter. Wienand was sonder uitsondering die stoutste seun met wie ek nog ooit te doen gehad het!

    Die proefbesies, Verryne en Logan, sal seker ook onder die oortreders wees, sê Ruyssenaer, en natuurlik Loggenberg, net om te keer dat die ander die skool nie te erg in die skande steek nie. Hy maak Loggenberg se skor oumanstem kostelik na: Dis die minste wat ek kan doen. Die mense was tog goed vir my.

    Loggenberg gaan nes al die ander slae kry, sê mevrou Mostert ferm. Riekie, ek is doodbang hulle is weer na die grotte toe, al is hulle verbied om dit te doen. Ek wil nie eens dink wat alles daar kan skeefloop nie.

    Niemand glimlag nou meer nie.

    Ons sal gou probeer keer, mevrou, sê Richard.

    Liewer net jy, Ruyssenaer, Krynauw en Lambrecht. Die ander van julle, bly hier en doen ’n bietjie diens in die verskillende speelkamers. Ek wil doktor nie met sy skryfwerk hinder nie, anders het ek hom laat weet hoe julle hier by die kaggel sit in plaas van om julle plig te doen!

    Die groot seuns het in werklikheid nou en dan gaan kyk of die juniors hulle gedra, maar hulle sal dit nie waag om met die koshuismoeder teë te praat nie. Buitendien het daar mos nou van die jongeres verdwyn.

    Die vier prefekte is gou op pad.

    Hemel, sê Boet. Gaan hierdie weer ooit end kry?

    Ekskuus dat ek julle menere pla, sê iemand wat van die teenoorgestelde kant af deur die reën en mis aankom.

    Richard sug. Hallo, Robert, sê hy nogtans. Ons kry onsself jammer, maar jy reën uit vrye wil papnat.

    Dit traak jou nie wat ek doen nie! antwoord Robert Conradie bitsig.

    Die sestienjarige dorpseun is verlangs familie van die Serfonteins. Sy pa se suster, juffrou Conradie, was jare gelede die skool se sekretaresse. Sy was sieklik, toe laat doktor Serfontein haar behandel deur sy broers, wat bekende dokters is. Daarna is sy getroud met die hoof se jongste broer, dokter Edward Serfontein, en hulle drie seuns is hier op skool.

    Sy sou baie vir haar armoedige familie kon gedoen het, en die hoof was bereid om hulle te help, maar Robert het hom van kleins af daarteen versit. Hy raak so ontsteld oor die saak dat sy ouers hom maar liewer uitlos. Niemand verstaan sy waansinnige weersin in wat hy daardie miljoenêrgespuis noem nie. En niemand kon hom nog tot ander insigte bring nie.

    Ek gee nie om wat jy doen nie, sê Richard op sy rustige manier. Dis net so vreeslik nat.

    Hoor hoe praat die kroonprins! spot Robert. Jy beter jou juniors gaan regsien. Hulle speel daar bo by die grotte waar die dryfsand is …

    Hoe weet jy daarvan? vra Boet Lambrecht.

    Hy het hier op Keurboslaandorp saam met Robert grootgeword, en het niks geduld met die iesegrimmige blonde seun nie. Doktor Serfontein wou hom destyds by die skool inneem, want Robert is baie intelligent, maar hy het glo soos ’n mal mens te kere gegaan toe sy ouers die aanbod wou aanvaar. Hy het ook geweier om na ’n ander goeie kosskool te gaan. Nou ry hy maar elke dag met die bus na die sekondêre skool op Vaalplaas.

    Hoe weet ek? lag Robert. Omdat ek daarop afgekom het! Ek het met ’n flits diep by die grot in gelig, toe sien ek hoe dit skielik verander asof dit baie dieper is, en toe ek ’n groen takkie ingooi, word dit ingesuig asof iets wat honger is daar onder wag! Toe bel ek julle kastige wonderlike hoof en waarsku hom.

    Sowaar! sê Ruyssenaer. Hoekom? Jy probeer mos nie gewoonlik help nie.

    Hy kon meer gesê het, maar die hoofseun se hand druk sy arm liggies.

    My pa het ons gewaarsku, sê Richard. Maar hy het nie gesê hoe hy daarvan weet nie. Die grot gaan een van die dae toegemessel word, en ’n paar van die ander ook, net vir veiligheid.

    Jy sal jou wat verbeel om nes jou pa te praat! spoeg Robert die woorde venynig uit. Ek het nou net vir jou kleinboet en sy maats gesê om daar pad te gee, maar hulle wil nie hoor nie. So laat hulle maar daar inval! Hulle bederf net ’n mens se werk.

    Soos blits is hy weg en by die randjie af.

    Watse ‘werk’ bedoel hy? wonder Ruyssenaer.

    Ek weet nie … sê Richard stadig. Wie kom nou weer daar aan? Is dit jy, Gys?

    Het die verdwaalde lammertjies terug skool toe gehardloop nadat die nare Robert hulle aangespreek het? vra Ruyssenaer vir Gys. Het Mossie jou gestuur om ons te roep?

    Nee, ek … ek het aangebied om te gaan kyk of hulle dalk in die dorp is. Sien julle.

    Hy moet mal wees om so rond te hardloop as niemand hom gevra het om te help soek nie, brom Krynauw.

    Die vier stap verder die digte mis in.

    Luister! sê Boet skielik. ’n Mens moes dit geweet het.

    Nee, julle gaan nie by die grot in nie! kom Loggenberg se stem deur die mis. Ek gee nie om of dit nie een van die diepes is nie. Julle bly weg. Ons is gewaarsku.

    Aag, Pog! sê ’n ander stem. Hoe kan ons buite in die nattigheid wors braai?

    Ons ken hiergdie grgotte van toeka se dae af, kondig Berrie se brystem aan. Hoekom is dit nou skielik gevaarglik?

    Berrie! Julle almal! Bly staan waar julle is! beveel Richard.

    Die seuns versteen asof weerlig hulle getref het, maar Brian Spaulding, uit pure baldadigheid, en Berrie om geen spesifieke rede nie, vlug soos bokke by die berg af. Soos alle Keurboslaners is Berrie gewoond aan strawwe oefening en hy is nie eens moeg toe hy by die eerste huise in die dorp kom nie. Van Brian is daar nie ’n teken nie.

    ’n Entjie links voor Berrie begin die hotel se heining. Keurboslaan is maar ’n klein dorpie. Nogtans bring ’n skool soos doktor Serfontein s’n voorspoed na die distrik, en deesdae gaan die pad Maputo toe ook hier deur, so die hotel is nie klein nie.

    Berrie weet hy is nou naby die hotel, nie omdat hy iets kan sien nie, maar omdat hy hier grootgeword het en al die paaie ken. Die mis is nou kombersdik, soos dikwels hier gebeur. Hy hoor iemand anderkant die heining op die stoep praat.

    Robert Conradie het vir my jou boodskap gebring, meneer Schuyler, maar ek moes nie gekom het nie, sê ’n jong stem ontsteld. Jy het belowe jy sal vir my ’n boodskap van my pa gee, maar nou klink dit of jy my wil dreig.

    Berrie is so dronkgeslaan dat hy skoon vergeet dis slegte maniere om ’n gesprek af te luister. Dis sy neef Gys wat daar praat. As hy Engels praat, het hy so ’n Amerikaanse aksent dat die ander groot seuns hom terg en sê hy gaan fliek te veel. Maar hoekom sal Gys nou op so ’n manier ’n boodskap van oom Justus Thiessen wil kry?

    Dis ’n Amerikaner wat antwoord. Hoe bedoel jy, dreig? Dinge is anders as wat ek gedink het. Toe jou pa ná jou ma se dood van sy trollie af raak en doktor Serfontein die hele ent Amerika toe gekom het om hom te sien, het ek gedink hulle is dik vriende. En toe hulle reël dat jy as sy suster se aangenome seun sal grootword terwyl Serfontein vir alles betaal, het ek gereken daar sal heelwat Serfontein-geld na jou kant toe kom. Hy is mos ’n miljoenêr na alles wat hy by ou P. F. Maxim geërf het? Maar nou lyk dit my jy het nie ’n sent nie!

    Hoe … hoe het jy van dit alles uitgevind? wil Gys weet.

    Ek was ’n verpleër by ’n kliniek vir senulyers. Jou pa was daar omdat hy ná jou ma se dood selfmoord wou pleeg. Dit weet jy tog self.

    Die man praat hard en sonder enige meegevoel.

    So dis dan Gys se storie, dink Berrie.

    Ek bespreek dit nie weer met jou nie, sê Gys. Ek gaan vir doktor Serfontein alles vertel. Dan kan jy vir hom sê wat jy hier soek.

    Wat ek soek, het niks met jou te make nie. Ek wou jou afpers vir geld, want jy sal nie daarvan hou as jou skoolmaats weet jy is eintlik Jan Fiskaal se seun nie! Robert hou niks van een van julle daar bo nie. Ek het dit dadelik agtergekom toe ek gister met hom praat. Die hotelmense het hom sien verbystap en vir my gesê hy is familie van doktor Serfontein op wie die dorp so trots is.

    Weet hy die waarheid … oor my? vra Gys hees.

    Toemaar, ek het nog nie vir hom gesê wie jy is nie. Maar hy kon my heelwat van Jan Fiskaal vertel. Volgens hom het baie mense vermoed Serfontein het die skurk gehelp om van die polisie te ontsnap.

    Berrie beheer sy asemhaling met moeite.

    Jan Fiskaal het die hele distrik op horings geneem, nog voor Berrie se pa getroud was, en stories oor doktor Serfontein wat hom goedgesind was, doen wel die ronde. Dis nie die eerste keer dat Berrie so iets hoor en afmaak nie. Hy weet hoe graag die mense oor sy pa skinder.

    Ek het bewyse! sê Schuyler nou vir Gys. Dis my geluk jou pa het destyds in die kliniek beland. Toe doktor Serfontein daar kom, het jou oubaas met die hele mandjie patats uitgekom. Hy het ook vertel hoe jy uit sy geyl agtergekom het hy was ’n skurk voor hy in Chicago onder arm seuns gaan werk het. Jy wou daarna niks met hom te doen hê nie, en dit het hom nog sieker laat word.

    Ja, Berrie onthou nou. Gys was maar tien of elf en Berrie was heelwat jonger toe die vreemde seun by tannie Evelyn-hulle opdaag. Al die kinders in die groot familie het gehoor hy is nou een van die Thiessen-seuns, en dat hulle liewer nie daaroor moet praat nie. Dit het vir Berrie niks besonders beteken nie. Hy weet net hy hou baie van Gys omdat sy neef altyd so stil en gaaf is.

    Hoe kan jy so gemeen wees! sê Gys nou presies wat Berrie dink.

    Ek het iets om te verkoop. Met wat ek kan vertel, sal die polisie ’n saak teen doktor Serfontein moet maak, selfs ná al die jare. Die pers sal aanhou krap tot die waarheid uitkom. Robert sê die mense praat al klaar omdat vier jong skurke hiernatoe ingevoer is. Dit sal groot skade doen aan julle held se naam en sy invloed in die wêreld; om nie te praat van die boeke wat hy skryf nie!

    Gys weet natuurlik nie Berrie staan en luister daar in die mis nie, maar albei seuns se gedagtes gaan in dieselfde rigting.

    As hierdie man na doktor Serfontein toe gaan, sal hy by die huis uitgesmyt word. Maar dan word die hele geheim ontrafel.

    Wag net so ’n dag of twee, smeek Gys. Miskien kry ek iets …

    Jou pa is nie ryk nie, maar hy het darem seker iets gespaar uit die salaris wat jou kastige oom hom betaal om sy jeugkliniek te bestuur. As jy na soveel jaar vir hom ’n mooi vriendelike brief skryf, sal hy wel sy hand in sy sak steek.

    Jou vark! hyg Gys.

    Maar Schuyler lag vir die seun.

    Wees net versigtig, sê hy dan. As jy vir jou pa vertel hoekom jy die geld wil hê, kom hy dadelik hiernatoe om sy groot vriend te red. Dis die soort mens wat hy is. Dan het die polisie hulle albei. Die behulpsame Robert sê daar is gerugte dat een van die mense wat jou oukêrel as struikrower aangeval het later dood is. So hy sal van moord aangekla word. Sê maar vir hom jy het geld op resiesperde verloor en toe gesteel en jy moet dit vir doktor Serfontein wegsteek.

    Gys kan sy ore nie glo nie.

    Praat die hoof soms met jou oor jou pa? wil die Amerikaner

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1