Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Serfontein-kinders #6
Die Serfontein-kinders #6
Die Serfontein-kinders #6
Ebook217 pages2 hours

Die Serfontein-kinders #6

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Doktor Roelof Serfontein, miljoenêr, wêreldbekende skrywer en hoof van Keurboslaan se beroemde seunskool, vind dit moeilik om die roman te voltooi waaraan hy reeds twee jaar lank skryf. Hierdie keer is dit sy eie vyf kinders wat hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik is. Die 14jarige Josef is die oudste, die maklike seun, maar Richard is duidelik sy pa se kind: effens teruggetrokke en sensitief. Die 8jarige Berrie se spontaniteit maak hom almal se maat, Diaan is waarskynlik die ‘normaalste’ kind, en Laetitia is geestelik en akademies heelwat ouer as vier jaar. Ook Karl, die aangenome seun van dominee Goosen, sowel as Tessa, wat haar man dokter Eugene Krynauw om kinderagtige redes verlaat het, se teenwoordigheid op Keurboslaan stel doktor Serfontein se geduld deeglik op die proef.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 25, 2009
ISBN9780798153812
Die Serfontein-kinders #6

Read more from Theunis Krogh

Related to Die Serfontein-kinders #6

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die Serfontein-kinders #6

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Serfontein-kinders #6 - Theunis Krogh

    Die Serfontein-kinders

    Theunis Krogh

    Human & Rousseau

    1

    AGTER DIE GLIMLAG

    Soos altyd halftien in die oggend staan die vyf Serfontein-kinders saam op die dek.

    Rondom die skip is die see helderblou, nou dat hulle nader aan die Kaap en verder van die tropiese hitte af is.

    Baie kinders en grootmense hou hulle met dekspeletjies besig, maar nie die Serfonteins nie.

    Van die mense wat nie speel nie bekyk die vyf kinders. Eintlik is hulle net doodgewone jongmense, maar hulle is doktor Roelof Serfontein se kinders, en hy is beslis nie doodgewoon nie. Almal wil hom leer ken, en bitter min mense kry dit reg.

    Hy is een van Suid-Afrika se rykste en mees invloedryke mense. Hy het ’n onbekende plattelandse skooltjie tot ’n uiters sukses-volle kosskool opgebou, en is in Europa en Amerika bekend as ’n skrywer van formaat. Sy romans is al vertaal in Engels, Frans, Duits en Italiaans.

    Die veertienjarige Josef is ’n aantreklike, stewige seun met kort, bruin krulhare en sy ma se groen oë en effens Romeinse neus.

    Die agtjarige Berrie lyk of hy eendag baie soos Josef sal lyk, kompleet met groen oë en sproete, maar nou is sy gesig nog sag en rond. Hy is die enigste van die kinders wat sy pa sover kry om te wys hy is lief vir hom.

    Dis juis vir hulle pa wat die kinders nou wag. Hulle het hulle ma vroeg vanoggend reeds gesien. Haar deur is nooit vir hulle gesluit nie en voor sesuur was hulle in haar kajuit. Hulle het oor haar en mekaar gerol en gespeel terwyl sy nog in die bed gesit het.

    Hulle het geweet hulle pa skryf in sy eie kajuit langsaan aan sy twaalfde groot roman. Wanneer moontlik kom hy per boot terug van sy sakereise oorsee sodat hy ’n ruk lank kan skryf en behoorlik rus voor hy ’n nuwe skooljaar aanpak.

    Sy verskyning op die dek is vir die vyf kinders die belangrikste oomblik van die dag.

    Dian, nou nege jaar oud, staan effens eenkant. Sy het haar pa se perfek gevormde gesig en donker oë, maar anders as met hom, moet ’n mens haar eers leer ken voor jy besef hoe aantreklik sy is. Dian blom net vir dié vir wie sy lief is en wat haar verstaan.

    Tiesjie is vier. Haar hare is krullerig soos haar ma s’n, maar dit het meer van die rooi as die goud daaruit geneem. Haar oë is ’n mengsel van groen en bruin. ’n Mens kan in hierdie stadium niks van haar gesiggie sê nie, behalwe dat dit baie beslis lyk.

    Maar dis Richard, of Riekie soos almal hom noem, wat dadelik mense se oë vang. Hy is net twaalf jaar oud en baie skaam, so die aandag is vir hom ’n marteling. Maar dit kan nie anders nie. Saam met sy ma se goue hare het hy sy pa se gesig, met die mond nou alreeds ferm. Hy is sterk en slank gebou; sy pa se eie seun. Juis daarom is hy die kind wat die moeilikste met sy pa klaarkom, en vir wie doktor Serfontein die minste te sê het.

    Al die ander kinders het ’n stokperdjie. Josef s’n is houtwerk. ’n Tuinhuisie van hout en sinkplaat in die agterplaas van die groot huis naby die skool se ingangshekke waar die gesin woon, is sy werkswinkel. Die Serfonteins word nie soos rykmanskinders grootgemaak nie. Hulle kry min sakgeld, en moet werk en spaar vir goed wat hulle nie daarmee kan koop nie. Josef gee elke sent wat hy in die hande kry uit op goeie hout en gereedskap.

    Dian is miskien skaam, maar sy sal sing so lank as wat haar ma bereid is om haar te begelei.

    Berrie is die hele mensdom se vriend – en dit hou hom besig.

    Tiesjie maak die pragtigste kleidiertjies, wat haar ma laat dink sy gaan eendag ’n beroemde beeldhouer wees.

    Maar Riekie het nie ’n stokperdjie nie. Sy gedagtes is net by sy pa. Alles wat hy doen, is ter wille van sy pa se goedkeuring. Hy kry egter min uiterlike bewys daarvan, al is hy slim en hardwerkend, en presteer hy in alles.

    Doktor en mevrou Serfontein daag uiteindelik op. Riekie kan ontspan. Die aandag wat hom so kriewelrig maak, is nou op sy ouers.

    Vreemdelinge is altyd verstom dat hierdie twee mense mekaar kon vind. Dit is te veel soos ’n feëverhaal. Hy is te aantreklik en sy is te mooi.

    Goeiste, Roelof! sê sy tergend terwyl hulle oor die dek na hulle kinders toe loop. Moet ons altyd almal se nekke so laat draai? Ek gaan een van die dae nes die koningin van Engeland begin wuif.

    Die aandag, as dit wel bestaan, is net omdat jy so mooi is, sê hy op sy hoflike, teruggetrokke manier.

    O nee! In die vyftien jaar wat ons getroud is, kry ek net hierdie soort aandag as jy langs my staan.

    Dan is daar seker fout met my gesig.

    Hier kom my kinders! sê sy.

    As hulle jóú kinders is, is almal vanoggend soet, sê hy rustig.

    Vyf stralende gesigte kyk op na hom toe. Dian lyk op hierdie oomblik pragtig.

    Vyf stemme groet op hulle verskillende maniere, van Josef se Môre, Pa! en Riekie se skugter gemompel, tot Berrie se vrolike Morge, Pa!

    Hy trotseer ’n goedige gespot deur dapper nog verder te bry. Pa se tgrui is nes ons s’n met die grolnek, net Pa s’n is grys!

    Doktor Serfontein is vir al sy kinders Pa. Nie een van hulle wil hom Pappa noem nie. Hulle ma is Mamma, maar wanneer hulle pa met hulle van haar praat, sê hy formeel jou ma.

    Hoe laat swem ons, Pa? vra Josef.

    Elfuur, as dit julle almal pas.

    Lekker!

    Wat gaan Pa nou maak? vra Berrie.

    Lees, as jy dit sal toelaat.

    Nee, maarg …

    Tot siens, dan.

    Berrie is vanoggend lus om te gesels, maar hy weet hoe min sy pa by die skool tyd kry om net vir ontspanning te lees. Dis hoekom hy daarvan hou om te reis. Berrie gee sugtend pad.

    Mag ek hier bly en ook lees? vra Dian.

    Ja, seker. Ek bestel vir jou ’n stoel.

    Sy kan myne deel, sê mevrou Serfontein. Sit hier op my voetbankie, Dian. Het jy ’n boek by jou?

    Ja, Mamma.

    Wat is jou planne vir die oggend, Laetitia? vra doktor Serfontein vir sy jongste dogter.

    Die kaptein het mos gesê ek mag na die brug toe gaan en help om die boot te bestuur, antwoord die vierjarige so vlot soos iemand wat baie ouer is.

    O, liewe tyd! sê haar ma onrustig. Wat makeer die kaptein? Pa se skool open vandag oor ’n week!

    As ek kan, sal ek die skip laat omdraai. Ek hou van New York en Londen en Dresden, en ek’s nie lus vir daardie skool op ons dorp nie. Ek wil liewer in ons eie skool leer.

    Jy is nog te klein, sê mevrou Serfontein. Die jongste seun in die kosskool is agt of nege.

    Tiesjie skud haar skouers ongeduldig en stap weg. Haar pa se wenkbroue lig terwyl hy haar agterna kyk.

    Jou dogter is te hardkoppig, sê die hoof. Maak tog werk daarvan, of geen man sal haar ooit by ons wil oorneem nie.

    Jou dogter is pure Serfontein, antwoord Helen.

    Hy gryns, soek dan na iets in sy sakke en frons. My pyp lê al weer in die kajuit, sê hy.

    Riekie wat heeltyd eenkant gestaan het, bied blosend aan: Kan ek dit vir Pa gaan haal?

    As jy so gaaf wil wees. Dit lê op die lessenaar. Die tabak en vuurhoutjies is ook daarby.

    Doktor Serfontein se oë ontmoet Riekie s’n en dwaal dan amper dadelik weer weg. Net sy vrou weet hy het ’n sterker gevoel vir hierdie kind as die ander en is daarom so styf teenoor hom. Mevrou Serfontein sug en glimlag gelyk toe sy Riekie sien wegstap.

    Julle twee gee my hoofbrekens … sê sy en bly dan om Dian se ontwil stil.

    Jammer. Maar jy bekommer jou verniet, antwoord haar man terwyl hy sy boek oopmaak.

    In die skip se grootste en beste kajuit staan Riekie ’n rukkie stil tussen sy pa se persoonlike besittings. Hier is sy tikmasjien met die stapels papier langsaan; links die bladsye wat vol getik is en regs die skoon velle. Die kajuit is pynlik netjies soos enige plek waar doktor Serfontein bly. Hier aan boord is dit ook sy slaapkamer.

    By die huis word die kinders selde in sy kamer toegelaat. Buite sy slaapkamer is daar ’n slaapstoep, byna in die takke van ’n groot ou boom. Daar is net ’n smal divan. Die hoof het ook sy eie badkamer.

    Riekie se tannie Coralie – die vrou van sy oom Adolf, sy pa se broer en ’n senior onderwyser by Keurboslaan Seunskool – het eendag vir hom ’n skuins, half spottende vraag gevra oor waarom hy verkies om alleen te slaap. Hy het dit nie heeltemal verstaan nie en ongemaklik gevoel, maar dis nou eenmaal hoe tannie Coralie is. Daarna wonder hy soms oor die vreemde bestaan wat sy ouers saam voer.

    Hy trek sy skouers nou op, skud die gedagtes af en stap vinnig terug met die pyp en ander rookgoed.

    Baie dankie, sê sy pa.

    Riekie wil die pyp graag vir hom stop, maar hy waag nie om dit aan te bied nie. Hy staan nog vir ’n oomblik, dan stap hy weg na waar Josef en ’n paar ander seuns gesels.

    Een van hulle, ’n seun met wakker bruin oë en ’n glimlag wat byna nooit verdwyn nie, roep na hom.

    Haai, Riekie! Gaan vra jou pa om saam met ons te kom dektennis speel.

    Doktor Serfontein speel soms teen twee seuns tegelyk en hulle geniet dit terdeë. Hulle voel nie net geëerd nie, maar sy ratsheid en berekende houe maak die spel opwindend.

    Nee, sê Riekie.

    Gaan jy dan, Josef.

    Aikôna! Hy lees en hy het nou net sy pyp opgesteek. Ek gaan hom nie pla nie.

    Wag, Berrie is nie bang nie. Berrie! roep die seun.

    Berrie kom aangehardloop. Wat makeerg? vra hy.

    Gaan vra jou pa om te kom tennis speel.

    Berrie se kort bene hardloop na sy ouers se stoele. Pa! roep hy van ver af. Die kêrgels sê Pa moet kom tennis speel!

    Dis gewoonlik maklik om met doktor Serfontein oor die weg te kom as ’n mens natuurlik en beslis optree. Hy sug effens terwyl hy die boek toemaak, maar staan op, trek sy baadjie uit, en gaan na waar die groepie seuns hom bewonderend staan en aankyk.

    Die een met die glimlag kom hom tegemoet. Baie dankie, doktor!

    Wie’s eerste aan die beurt?

    Niemand antwoord nie en die hoof kies self twee uit, speel hulle gedaan, en kies dan nog twee.

    Die seun met die bruin oë verdedig die beste. Hy is lank en rats en entoesiasties. Terwyl hulle speel, kyk doktor Serfontein hom ondersoekend aan. Net iemand met sy soort ervaring kan agterkom die seun steek iets agter sy glimlag weg en sy oë knip te ongereeld.

    Hy bêre sy eie twee seuns vir heel laaste en speel hulle sonder genade ook kapot.

    Toe almal genoeg het en uitmekaar gaan, vra hy vir Josef: Wie is daardie seun?

    Josef volg die rigting waarin sy pa kyk. Dis Karl Goosen.

    En sy ouers?

    Sy pa is glo ’n dominee. Dis daardie oom daar met die wit hare. Ek dink sy ma is sieklik. Sy kom byna nooit op die dek nie.

    Ek sien.

    Doktor Serfontein lees eers weer ’n rukkie, dan praat hy met sy vrou as hy sien Dian slaap met haar kop op haar ma se skoot. Het jy daardie seun al goed bekyk?

    Hy maak ’n kopbeweging, en sy kyk op na Josef waar hy en Karl teen die relings leun en gesels.

    Ja, natuurlik, sê Helen. Josef en Riekie is heeldag in sy geselskap, en ek hou hulle vriende altyd dop, sonder om hulle dit te laat agterkom.

    Hoe som jy hom op?

    Daar is iets verkeerd. Ek dink hy is ongelukkig agter daardie glimlag van hom. Baie ongelukkig.

    Ken jy sy ouers?

    Die ma glad nie. Ek het al ’n paar woorde met die pa gesels. Hy is ’n predikant iewers in Natal.

    Praat hy van die seun?

    Nee. Wil jy hê ek moet hom bietjie pols?

    As jy nie omgee nie.

    Goed.

    Dian word nou wakker en sy en haar ma stap weg om swemklere te gaan aantrek. Doktor Serfontein bly nog ’n rukkie sit om verder te lees, maar word byna dadelik deur Berrie onderbreek.

    Hy kom sit op sy ma se stoel en spreek sy pa versigtig aan. Hallo, Pa!

    Hallo, Bernard.

    Wat lees Pa daarg?

    Op die oomblik niks nie. Wou jy iets gehad het?

    Ek wou net bietjie gesels.

    Doktor Serfontein sit sy boek neer en suig aan sy pyp.

    Gesels dan maar.

    Berrie krul sy lyf soos ’n akkedis.

    Dis net … iets wat ek gedink het … Ek wou vrga … Is Pa lief vir ons?

    Is ek lief vir wie?

    "Ons almal … Al Pa se kindergs … en Mamma.

    Jou ma het nog nie gekla nie. En wat jou en jou broers en susters betref … Elke pa moet ’n sekere gevoel vir sy kinders koester. Die wet vereis dit.

    Berrie krul anderkant om.

    Nee, maarg … Pa is lief vir oom Gene, ek weet dit!

    Hierdie man wat so geweldig privaat is, is gelukkig al gewoond aan sy derde seun se vrae.

    As jy dit weet, sê hy, is dit minstens een ding waaroor jy nie vrae sal vra nie.

    Die hoof dink aan die kinders se geliefde oom Gene, die jong dokter Krynauw wat in sy kinderdae op hierdie gebied ook meer as ander gewaag het, en sy lippe verraai ’n effense glimlag.

    Daarg is dit! sê Berrie.

    Waar is wat?

    Pa lyk altyd só as oom Gene kom kuierg, of as iemand van hom prgaat! Dis hoe ek weet Pa is lief vir hom, en ek wil nou weet of Pa net so lief is virg ons!

    Die omstandighede is anders. ’n Man se kinders is sy kinders. Maar ’n mens soek ’n vriend tussen ’n menigte uit, omdat hy vir jou iemand besonders is.

    Berrie se groen oë rek van verontwaardiging. So Pa is liewerg virg oom Gene as virg ons!

    Vra hom hoe hy daaroor voel. Hy het as kind nes jy van sulke filosofiese gesprekke gehou.

    Doktor Serfontein staan op en gaan na sy kajuit om sy swembroek aan te trek. Berrie volg hom diep ingedagte.

    Baie later, net voor die formele aandete, praat mevrou Serfontein weer met haar man oor Karl Goosen.

    Sy is deftig aangetrek en hy dra ook sy aandpak toe sy by sy kajuit inkom. Hy sit voor die tikmasjien, maar staan dadelik op om haar te groet.

    Steur ek? vra sy.

    Nee. Dis tog byna tyd om na die eetsaal te gaan.

    "Ek het met dominee Goosen gepraat, soos

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1