EN DAAR sal geen blomme wees nie. Net vere.
Wittes.
Lorraine laat sak die boek op haar skoot en weet nie of sy moet lag of huil nie.
“Wanneer gaan ek so vinnig al hierdie goed gedoen kry? En nie in die kerk nie? Die res van die familie gaan mos ’n oorval kry. Ouma was wraggies nie meer by haar volle verstand toe sy dit geskryf het nie.”
“O, maar sy was, Lorraine. Kyk na die datum. Dit was vyf maande gelede. Ons almal weet sy was compos mentis tot die dag van haar dood. Sy was ’n ander tannie dáái. Ek is seker as sy kon, sou sy in Las Vegas gaan trou het, mét ’n nagemaakte Elvis en vals predikant.”
“Liewe hemel, Steyn, maar wat is hierdie? En waar het jy al gehoor van iemand wat haar begrafnis tot in elke fynste besonderheid reël, soos sy? Hoekom het sy dit nie voor die tyd met ons bespreek