Daar was ’n dag, so vyf, ses jaar gelede, wat ek gesien het hoe Rosendal doodgaan. Soos dit maar met doodgaan gaan, het ’n aardige stilte oor die Oos-Vrystaatse dorpie gehang. Dit was nog nooit ’n bedrywige plek nie, maar hy het darem altyd ’n hartklop gehad. Daar was gewoonlik mense en honde op die restaurant Rosa se stoep. Iewers was van die kunstenaars se galerye of ateljees oop. In die strate sou jy minstens een mens met flambojante hare of klere teëkom.
Maar op daardie dag was daar niks nie. Die kunstenaarsegpaar Willem en Linda Pretorius se huis vol kinders het soos ’n eiland in die verlatenheid gevoel. “Dit gaan sleg met die dorp. Hier is nie water nie, die omgewing is vrekdroog en die mense trek weg,” het Willem bekommerd verduidelik.
Die enigste eetplek was die ou koshuis se kombuis. Dit moet seker ’n naam gehad het, ek kan nie onthou nie. Ek onthou wel die eienaar se 12-jarige seun het my steak gaargemaak, en toe hy dit voor my neersit, sê hy: “Ek hoop dis reg, Oom.”
DIE AFGELOPE TWEE JAAR het die dorpie se polsslag weer sterker geword. En op die oomblik klop dit behoorlik van nuwe lewe.
“Al wat Rosendal nodig gehad het, was ’n pandemie,” sê Debbie Agenbag. Soos heelwat ander, het Debbie en haar lewensmaat, Grietjie Lee, met die begin van die Covid-19-inperkings uit