MY MA het my geleer jy kan in hierdie wêreld ’n engel of ’n duiwel wees.
Kies jy die engel, dan gaan jy een of ander tyd ’n victim word. Kies jy die duiwel, dan kan jy score uit die suffering vannie engele. Daais jou enigste opsies, en sy’t daai keuse gemaak vi’ ons albei.
Binne die stilte van ons tent kan ek lees en skryf in vrede, maar die wêreld hierbuite is vlambaar. Mense is desperaat, gedompel in geweld, en beurtkrag en werkloosheid word al erger. Almal smag na iemand om hulle vrese en moegheid af te skakel, en daai iemand is ek.
Hulle wil hoor alles gaan oukei wees, en dis my werk om daai lieflike leuen in hulle ore te fluister.
Ek’s ’n menslike antidepressant, wat vi’ lydende mense ’n unieke diens bied: ’n persoonlike seëning wat hulle pyn kan verlig.
Ek en Ma is reisende verkoopsvroue. Ons verkoop hoop aan die hopeloses. Van dorp tot dorp smous ons met verlossing, vergifnis en liefde. Ons kliënte is verslaafdes, verwerptes, en allie verlore siele oppie sypaadjies.
Ons het ’n week gelede hier op Bredasdorp aangekom. Ma was, soos. Sy’t afgetrek op ’n verlate ou sokkerveld, en ons het twee betaal om ons tent op te slaan. Toe gaan sit ons agteroor — onder die wit seil — en wag. Die kliënte kom vanself. Elke keer. In elke dorp.