Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Agter die skerms: Seks en dwelms in TV-land
Agter die skerms: Seks en dwelms in TV-land
Agter die skerms: Seks en dwelms in TV-land
Ebook244 pages2 hours

Agter die skerms: Seks en dwelms in TV-land

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Met hierdie ware verhaal onthul die akteur en televisie-vervaardiger Christo Gerlach die skokkende werklikhede agter die glans van die vermaaklikheidsbedryf.

As kind moes Christo die papawers uit sy ouma se tuin ruk omdat sy oupa in die Volksblad gelees het dat dié blom 'n bron van opium is. Jare later sou Christo homself moes ruk uit die kloue van 'n kokaïene-verslawing.

In sy soms pynvol eerlike verhaal vertel hy van sy soeke na die liefde en aanvaarding wat sy pa nooit vir hom gegee het nie, van hoe hy TV-ster geword het in reekse soos Piet-my-vrou, Sterretjie en Transkaroo, en later vervaardiger van top-reekse soos Idols, Glitterati en Tonge los. Hy ontbloot sonder skroom wat agter die skerms van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf aangaan. En hy praat ook reguit oor sy verslawings aan kokaïene en Stilnox.

En dan is daar die skim van Alfredo - die man wat in sy donkerste ure deel van sy vernietiging was. Christo se reis neem hom van die donkerte tot 'n plek waar genesing kan begin - 'n nuwe lewe van selfaanvaarding.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 16, 2012
ISBN9780624058076
Agter die skerms: Seks en dwelms in TV-land

Related to Agter die skerms

Related ebooks

Related articles

Reviews for Agter die skerms

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Agter die skerms - Christo Gerlach

    PA

    My selfoon lui. Dis my swaer. Hoekom sal hy my bel? Ek ignoreer dit. My selfoon is op silent in die redigeerkamer. Dit was teen die einde van Mei, 2006 en ons werk aan kykNET se Idols. Die eerste episode gaan Sondag uit.

    Dis nou Donderdag. Ons is agter.

    Ek kyk af toe die sel weer flikker. Dis weer my swaer. Ek kyk op na die redigeerskerm. Toe die selfoon die derde keer flikker, tel ek dit geïrriteerd op en loop uit.

    Hallo!

    Christo. Jammer om te pla. Rob klink soos hy maar altyd klink. Dis jou pa en tannie Coba. Hulle was in ’n ongeluk. Hulle is al twee op slag dood.

    Nee.

    Christo?

    Ek hoor my suster op die agtergrond huil.

    Ek moet my show klaarmaak. Ons is agter. Die eerste episode gaan Sondag uit.

    Dis al wat ek kan uitkry.

    Toe my suster harder huil, sit ek my selfoon af.

    Ek loop na die koeldrankmasjien toe. Ek sien niemand raak nie. Drie blikkies Creme Soda. Dit sal my kalmeer. Suiker help vir skok. Die groen ambulans, sê ons altyd ná ’n dranknag. Skielik is dit nie snaaks nie.

    Ek kan Daniel nie bel nie. Hy is in ’n vliegtuig op pad Kaap toe.

    Ek gooi slukke Creme Soda in my keel af. My mond bly droog. Ek glip in ’n leë, donker redigeersuite in. Ek wil my kop teen die glas­mure stamp.

    Ek bel die vriend wat Daniel by die lughawe in die Kaap moet optel. Sy selfoon is af.

    Ek los ’n boodskap: Denis, my father and his wife died in an accident. Ask Daniel to phone me.

    Ek sou eers later hoor hulle is nie albei op slag dood nie. My pa het nog veertig minute geleef. Al was hy breindood.

    My selfoon lui weer. Dis my suster. Sy huil net. Ek begin ook huil en druk die foon dood. Ek sukkel om my neus droog te vee met my hemp.

    Ek probeer beheer kry oor my gevoelens. Loop terug redigeerkamer toe. Ek gaan sit op die stoel langs die redigeerder met my Creme Sodas. Ek kyk, maar sien bitter min. Ek sukkel om te hoor wat hy sê of vra. Ek weet net ons is nog ver van klaar.

    Minder as twee uur later lui my foon. Dis Daniel. Ek stap vinnig uit. Hy hoor nie ek het opgetel nie.

    Denis, I don’t believe it. Both of them?

    Sy stem is helder aan die ander kant, met die lughawegeraas op die agtergrond. Aankondigings van vlugte wat kom en gaan, van die lewe wat aangaan.

    Yes, Daniel, both of them, antwoord ek hom. Al is ons verhouding nie die ideale saamwees wat ons aan die res van die wêreld voorhou nie, is hy die mens wat ek nou die graagste by my wil hê.

    My familie moet wag vir ’n opening in my skedule voor hulle ’n datum kan vasmaak vir die begrafnis.

    Dis soos twintig jaar gelede toe ons moes wag om ’n datum te be­paal vir my ma se begrafnis. My broer was besig met sy weermagopleiding in Angola, maar net een oproep na generaal Magnus Malan se kantoor het verseker dat hy betyds uit die oorlogsgebied op Clocolan kon aankom. Met die generaal se afsterwe in 2011 het ek met gemengde gevoelens oor sy lewe en loopbaan gelees, maar my opinie van hom het bly vassteek by die menslikheid wat hy getoon het met ’n gewone gesin se versoek vir ’n seun om sy ma se begrafnis by te woon.

    Clocolan se NG kerk is stampvol vir my pa en tannie Coba se begrafnis. Die rye en rye mense registreer net vaagweg by my toe ons familie die kerk inloop. Ek hoor skaars wat die dominee sê.

    Toe ons in die begraafplaas stadig na die oop grafte loop, val dit my by dat net ’n wintersdag in die Oos-Vrystaat so mooi kan wees. Die lug is ’n skoon witblou. Die lied wat die swart mense sing, is seer van mooi. Hel-seer.

    Ek kyk met gemengde gevoelens hoe my pa se kis afsak tot bo-op dié van my ma. Haar kis is nog in ’n perfekte toestand, met die nou droë blommerangskikking en die goudgeel linte net soos hulle destyds in strikke gevou is. Dit lyk asof iemand deur die jare gereeld die kis se geelkoperhandvatsels blinkgevryf het.

    My pa se graf was eintlik langs hare, destyds al bespreek met my ma se dood. Maar toe hulle die graf begin grawe, kom hulle agter daar is reeds iemand in die graf begrawe. Net in Suid-Afrika . . .

    Nou is hulle saam in een graf. Soos dit hoort, wil ek my ma hoor sê. (Die feit dat my pa ’n veel gelukkiger huwelik met sy tweede vrou gehad het, is nou nie meer belangrik nie.) Hy is op vyf dae na presies twintig jaar ná my ma dood, in Mei, dieselfde maand. Pinkstertyd. Ek onthou dieselfde bessierangskikkings in die kerk. En hoe graag my ma ons huis omgetower het met potte vol bessies – rooi en oranje bessies met of sonder dorings.

    Tannie Coba word net ’n paar grafte verder begrawe, in dieselfde ry as my ouers, langs háár eerste man. Haar graf is ook bestel toe hy dood is. Twee families langs twee oop grafte. Wonderlike tannie Coba. Ek huil oor tannie Coba wat my so onvoorwaardelik aanvaar en in haar huis en lewe toegelaat het.

    Dit voel asof alles so vaag en verwyderd om my gebeur. Is dit die pille wat my suster my gegee het om te sluk net voor die diens? Mense kom groet wat ek nie dadelik kan eien nie. ’n Neef van my pa. Niggies wat ek jare lank nooit gesien het nie. Ou onderwysers wat nog leef. ’n Swaer van my pa wat ek uit my kinderjare onthou as baie emo­sieloos, selfs koud, kom druk hom snikkend teen my vas.

    Die dominee wat die diens gelei het, kom stel hom aan my voor. Ek onthou weer die dominee op Ficksburg se kerkstem: Eer jou vader en jou moeder . . .

    Wat ek nou weet – en wat ek gelukkig toe nie geweet het nie – is dat die skuld en skok oor my pa se dood my lewenspad onherroeplik sou verander. Daardie koue wintersdag in Clocolan se begraafplaas was die begin van ’n selfverdelgende pad wat ek heeluit en heluit sou moes loop. Ek sou myself tot in die grond toe verrinneweer omdat ek my pa soveel keer vervloek het. Ek moes gestraf word vir sy gewelddadige dood.

    Ek moes hom eer. Ek het hom nie geëer nie.

    My eerste herinnering aan my pa is die kombuisdeur wat hy flenters geskop het. Dit was op my vierde verjaarsdag. Die rede vir sy woede was omdat my ma mense genooi het vir die onthulling van my ge­skenk in ons sitkamer: ’n groot houtsleutel met die syfer 4 in geelkoper daarop. Daarmee saam ’n groot geraamde foto van my, geneem deur ene Jan Hoekstra.

    Ek onthou ook hoe my pa doodluiters die deur weer aanmekaar ge­sit het. Met gom en klein spykertjies tik-tik hy saggies en reëlmatig asof niks gebeur het nie. Hy sit die hamer neer net voor die eerste gaste by ons huis aankom. Die hekkie in die middel van die sipreslaning is oop­gelaat, en hulle loop reguit op met die sementpaadjie wat weerskante versier is met smal beddings pers blomme. Hulle klop aan die glas van die voordeur. Ek kyk na my ma se grimering. Sy lyk nie soos ’n ma wat pas deur ’n hele herrie is nie. My pa is maar afsydig, soos altyd. Praat net as iemand met hom praat. Ek kan die pa wat ek uit my kleuterjare onthou, in grootmensterme beskryf as menssku, om die minste te sê. En besitlik en jaloers.

    Die partytjie wil maar nie ontdooi nie en bly ’n stywerige affêre. Die kuiergaste sit in die formele sitkamer na mekaar en kyk. Op die 1960’s-winkelhaakbank en bypassende groen-en-wit stoele. (In die 1990’s het die retro-etiket dit weer mode gemaak.) Almal glimlag stywelip vir me­kaar, die koppe knik. My ma se gulheid was miskien effens oordrewe, maar net ’n geoefende oog sou dit kon agterkom. Of ’n vierjarige oog­getuie.

    Dit was die begin van baie jare se voorgee. Ek sou altyd een lewe hê, maar ’n ander lewe begeer. Die begin van ’n leeftyd van fantasie en begeerte na iets beters – ’n leeftyd waarin die werklikheid net nooit goed genoeg was nie. Ek was ook nie goed genoeg vir myself nie, en ek het verskillende selwe aan verskillende mense voorgehou. ’n Ver­kleurmannetjie. Dit was ’n hanteringsmeganisme wat die gevaarlike fondament vir ’n psigotiese persoonlikheid (sou) kon vorm. Boonop het ek dit netjies gekoppel aan ’n paranoïese sy wat altyd sou vrees om uitgevang te word. Of om verwerp te word.

    Alles tesame ’n resep vir ’n psigiese ramp. Een met ’n ingeboude tyd­skakelaar, en daardie skakelaar was my pa se dood.

    GEBOORTE

    Ek wou om die dood nie gebore word nie.

    Ek het uiteindelik, nadat my ma dae lank in kraam was, die eerste lewenslig aanskou. Dae lank was natuurlik ’n oordrywing, maar dis hoe die lydingstorie deur die jare oorvertel is. Ek is genadiglik met be­hulp van ’n tangverlossing gebore. My ma was verlos van haar barensnood, en ek was verlos van die baarmoeder. Waarvan ek duidelik nie verlos wou wees nie.

    Niemand het dit ooit so beskryf nie, maar elke keer as iemand vertel het hoe swaar my ma tydens my geboorte gekry het, het ek net bloed gesien. Bloed orals. En nie eens my ma se eie bloed nie.

    Want terwyl ek volstrek geweier het om toe te gee aan die geboorte­proses, is die volgende deel van die storie dat ek my ma só aan’t bloei laat raak het dat die hospitaaltjie op Clocolan nog bloed uit Bloemfontein moes laat kom. Met ’n klein vliegtuigie. Ek kan nie meer ont­hou hoeveel pinte bloed nie, maar dit moes ’n hele paar gewees het. Dit was die enigste uitweg om te keer dat my ma haar doodbloei, en my oupa Le Grange het daarvoor betaal.

    Dit was egter nie net ’n kwessie van betaal en ’n paar pinte bloed val uit die lug uit nie. So maklik was dit nie. Die vliegtuigie kon daai tyd nie op Clocolan land nie, en my oupa en my pa moes die outydse twintig myl (veertig kilometer) Ladybrand toe jaag, waar die naaste lan­dingstrook was. In Oupa se groot grys Plymouth.

    Ouma Le Grange, in haar jonger dae ’n vroedvrou, versit geen tree van haar tweede jongste dogter se bed in die kraamsaaltjie waar my ma in kraam, maar ook nie in kraam, was nie. Waar sy geboorte wou gee en ek nie gebore wou word nie.

    Jou ma het vreeslik swaargekry met jou geboorte. Jy kan maar sê sy was op die rand van die dood, moes ek sommer baie vroeg in my kinderlewetjie hoor. Daarna is dit talle kere herhaal. Want veral die twee oumas wou seker maak dat ek nie vergeet nie. Hulle het my van kleins af laat voel dit was my skuld dat my ma amper doodgegaan het met my geboorte.

    En terwyl ek nog ’n keer na die storie luister, en die eerste skuldgevoelens oor my bestaan leer ken en daarmee begin worstel, moet ek my dan boonop nog dom hou ook. Ek kon hulle mos nie laat agterkom dat ek lankal uitgewerk het ’n baba kom uit ’n ma se maag en dat die ooievaarstorie net . . . wel, net ’n ooievaarstorie is nie. In werklik­heid ’n volslae leuen, terwyl ’n kind geleer is om nooit te jok nie.

    Sou ek iets sê, sou ek net weer moes hoor ek is darem so voor op die wa, ’n regte klein japsnoet. Maar ek kan dink wat ek wil. Dink word my enigste uitweg.

    Soveel so dat Angelina, my ander ma, gereeld net haar kop ge­skud het terwyl sy anderpad kyk. Kleinbaas dink te veel. Die kleinbaas se kop, dié sal seer word.

    Wyse woorde, maar dit sou dekades later eers insink tot ’n werklikheid.

    Nog iets wat my oor my geboorte vertel is, is dat dokter Schulenberg die dokter was wat my ma se lewe gered het (en seker myne ook) op die sesde Augustus hoeveel dekades gelede. Dokter Schulenberg was ’n tipiese kleindorpse Joodse geneesheer (geneeshere is deesdae selfs op klein dorpies ’n seldsame verskynsel), en hy is met allemintige agting en respek behandel deur al die dorpsmense.

    Ek kan nie onthou dat enigiemand ooit genoem het dat ek deel was van daardie wonderwerk nie. Ek was bloot die baba wat nie wou saam­werk met geboorte nie. Die baba wat vasgeskop het. Waaragtig letterlik. My ma se weergawe van my geboorte was dat sy deur die pyn groot ge­skrik het toe sy my stukkende gesiggie sien. Gekneus en geskraap van die tangverlossing. Die gebreklike bene het sy nie dadelik raakgesien nie, en hulle het dit ook nie dadelik vir haar gesê nie.

    Sonder dié nuus was dit al klaar nie ’n maklike tyd wat vir my ma voorgelê het nie. Ek was nou wel nie ’n koliekbaba nie, wat blykbaar enige nuwe ma se grootste nagmerrie is. Dis net dat ek om die dood nie wou byt aan die idee van tepels en borste nie. Ek sou my ook nie laat dwing nie. Ek het net my tandvleisies ingespan en gebyt.

    My ma het toe gelukkig melkkoors ontwikkel en ek het gelukkig ’n bababottel gekry. Die salige prentjie van ma met baba wat rustig haar bors knie, sou my ma nie beskore wees nie.

    Toe sy eindelik ná ’n lang slaap in Clocolan se hospitaaltjie tot verhaal kom en na my vra, was dit my vroedvrou-ouma se taak om haar van my bene te vertel. Die dokter sê dis dalk omdat jy tot op die laaste in jou swangerskap gewerk het en by die lessenaar gesit het.

    Dit was die begin van die hegte band tussen my en my ma. Só heg dat dit seker as ’n bietjie onnatuurlik beskryf kan word. En dit as ge­volg van ’n liefdevolle skuldgevoel. Sy het gevoel dis haar skuld dat haar kind twee krom bene het. Die dokter het wel gesê dit kan reggemaak word, maar dit sal ’n lang ruk duur.

    Die prosedure het heel eenvoudig daarop neergekom dat ek na die groot hospitaal in Bloemfontein moes gaan, waar albei my bene gebreek en in gips gesit sou word om weer reguit aan te groei. Die praktyk was nie vir my ma en pa so eenvoudig nie, want die bene moes toe nog ’n keer of wat gebreek word.

    My pa het oor en oor vertel hoe hulle klein tweedehandse karretjie (was dit ’n Hillman?) langs die pad gaan staan het op pad Bloemfontein toe. En my ma het oor en oor vertel hoe sy moes sukkel om die morsigheid by my boude skoon te kry, wat heeltyd by die gipsomhulsel sou inglip. Ek kan – natuurlik – niks daarvan onthou nie.

    Jare later kom ek toe iewers in ’n solderkamer op ’n paar pare "gebreklike’ skoene in ’n groot trommel af. Saam met ou stukke gips, ge­stoor tussen vergeelde Saries, Landbouweekblaaie en Huisgenote. Dit was deel van ’n tyd wat my ma seker maar wou wegpak, maar tog ook nie. Ook die foto’s van ene Steenkamp, die verloofde wat haar so te sê voor die kansel laat staan het. Dit was nege maande voordat sy my pa ontmoet het. Net drie maande later is hulle getroud.

    Septembermaand. Ma se rebound-maand.

    Ek is in Augustus die jaar daarna gebore.

    Ek weet nie hoekom nie, maar toe ek met jou pa getrou het, wou ek net dadelik ’n kind hê, sou my ma vertel. Gevolg deur die magiese woorde: ’n Seuntjie soos jy . . . Voor ons in die skiprestaurant by Bethlehem se dam getroud is, was jou naam al klaar gekies.

    Ek het haar menigmaal aangepor om dit weer vir my te sê. Dit het my altyd baie geliefd laat voel. Geliefd, en terselfdertyd ’n bietjie selfbewus. Maar voor ek my kom kry, glip dit weer uit: Hoekom wou Ma ’n kind hê net toe Ma-hulle getroud is?

    As sy nie dadelik antwoord nie, wag ek nie lank genoeg nie.

    ’n Seuntjie soos ek? Dan het die herversekering altyd weer ge­kom. ’n Seuntjie soos jy.

    Dit was uiteindelik seker maar ’n vrywillige keuse, maar my dierbare ma het onteenseglik haar deel bygedra tot die Griekse tragedie van my lewe. Sy het die tipiese Freudiaanse moffiema gespeel en wetens en on­wetens ’n verhogie vir haar klein Oedipus geskep. Eers jare later sou ek besef dit was alles gekoppel aan haar eie vrese, seerkrye en kompleksi­teite. Haar eie gepantserde drome wat onvervuld gebly het.

    En dis hierdie minder mooi herinneringe aan haar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1