Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Wit leuen
Wit leuen
Wit leuen
Ebook274 pages3 hours

Wit leuen

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in.

Helikopters, duikbote, kindersoldate, ongediertes, mensvreters… Wit leuen wemel van onwerklikhede, afdraaipaaie, en verrassings.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJan 18, 2022
ISBN9780624092339
Wit leuen
Author

Ruan Kemp

Ruan Kemp is ’n mynbou-analis, met grade in die joernalistiek, onderwys, en ingenieurswese. Hy woon op Hermanus saam met sy vrou en drie seuns. Hy debuteer in 2019 met Gedeeltelik Bewolk. Wit leuen is sy tweede roman. 

Related to Wit leuen

Related ebooks

Related articles

Reviews for Wit leuen

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Wit leuen - Ruan Kemp

    9780624089810_FC

    Tafelberg

    vir my beterhelf

    We don’t go for segregation. We go for separation. Separation is when you have your own. You control your own economy; you control your own politics; you control your own society; you control your own everything. You have yours and you control yours; we have ours and we control ours … We want the same for ourselves as you have for yourselves. And when we get it, then it’s possible to think more intelligently and to think in terms that are along peaceful lines. But a man who doesn’t have what is his, he can never think always in terms that are along peaceful lines.¹

    – Malcolm X, 1963

    The survival of apartheid is, indeed, the survival of a kind of socialism – often altruistically motivated – whilst the dissolution of colour injustice has been continuously assisted by competitive capitalism.²

    – William H. Hutt, 1964

    As die Weste selfs meewerk om ons daardie prooi te maak deur te probeer om in die nuwe atmosfeer wat heers, die steun en vriendskap van almal te kry ten koste van Suid-Afrika, dan moet hy daarmee rekening hou dat met die kommunisties-wording van ’n verowerde Suid-Afrika die strop net nouer getrek word om Europa en Noord-Amerika. Dit sou nie net ons end wees nie, maar ook die begin van hulle einde. Wanneer dus in daardie kringe gesê word dat hulle bly is dat Mandela ’n lewenslange straf en nie ’n doodstraf gekry het nie, want hy mag nog, soos Kenyatta, die leier in die toekoms word, dan sê ek: God verhoed dit! Sou dit gebeur, dan is nie net Suid-Afrika daarmee heen en kommunisties nie, maar dan sal die wêreld mettertyd deur die kommunisme verower word, want daarna sal val, die een na die ander, die enigste forte wat van ver die blanke beskawing nog beskerm teen daardie verderflike ideologie.³

    – H.F. Verwoerd, 1964

    Uiopa, circa netnou

    Hoe verloor jy die cloud? Dis eenvoudig; jy gee dit vir die staat, en jy gee dit ’n fênsie naam: Centralised Omnipresent Repository (CORe). Hoe meer jy vir die staat gee, hoe minder het jy, maar dis nie ’n nulsomspel nie; die ontmagtiging is eksponensieel, eksistensieel. Vat byvoorbeeld onderwys; as jy toelaat dat die staat die opperouer is, dan sit jy netnou met ’n generasie kinders wat nooit grootword nie, dan sit jy met kinders in beheer van die staat. En dit is noodwendig dat dinge gaan skeefloop, en dit is ook gewaarborg dat die blaam misplaas sal word – dis die mense se skuld; waarop die staat verder sal krap waar dit nie jeuk nie. Kyk na die staat, hy is ’n kind met ’n spastiese vinger, peuter met die skakelaar van die lewensenjin, aan en af, af en aan, totdat hy breek … Wat noem mens hierdie logika? Mens noem dit nie … Mens noem dit nie in staat nie.

    Gehard van Balkani

    1. Richter

    Richter, kaalvoet in ’n japon, staar na ’n muur van vlamme. Dit is ’n golwende roesbruin wolk, met kruid op sy warm asem. Dit knetter, en dit blaf wanneer dit spoeg. Klein vuurpyltjies verskiet deur die lug en plof gloeiend in die stof.

    Richter staan terug. Is dit die begin van ’n ding, of is dit nou dít? Loods iemand ’n aanval, of is dit maar net nyd? Hy gooi sy arms wyd, wys hulle moet maar kom.

    ’n Draakmotief op die japon laat die kledingstuk klein vertoon aan sy lyf, syagtig in dié bose lig. Kyk hoe loer die marmotte uit hulle hokke, kyk hoe glinster hulle oë, nuuskierig, maar dom. Soos mense. Kyk die handdoekies op die wasgoeddraad, wit lappies wat oranje bleik. Môre gaan dit vreemd ruik.

    Richter bekyk die afstand tussen die vlammemuur en sy huis; geen bedreiging nie. Soek sy kat. Verbeel hy hom, of hoor hy stemme agter die vlamme, kabbelende stemme soos kinders wat lag? Hopelik nie stout kinders nie – hy wat ’n muur afbreek, word deur ’n slang gepik.

    Dis dag, maar dis nog donker, net die reste van die vuur wat al om sy werf glim. Richter voer Dolfyn sy eieraanbrandsels, kielie die kat se wang, gee hom ’n piering melk. Die arme ding is só bang vir water, hy drink net melk. Dan maak hy sy hare klam, en Dolfyn verdwyn. Hy kam sy hare agteroor met Bay Rum-jel, pluis sy nekhare by sy kraag uit, kam dit bo-oor en gebruik die jel wat aan sy vingers oorbly om die punte van sy snor sywaarts te dwing. Dis ’n hartseer snor as hy hom nie kant toe kam nie, met ’n rooiheid daarin. As iemand vra, vertel hy van Viking-bloed, of maak ’n vuil grappie. Hy skeer sy ken.

    Richter haal sy handdoekies van die draad af, en vertrek dan met sy trok, ingewikkelde sigsag-ompaaie, al die pad stad toe, om die lastighede te ontduik, die tollenaars en die laspostenare. Knewel, knewel. Sou baie moeite spaar as hulle eerder boetes outomaties met ’n aftrekorder vat, dink hy, in plaas van soveel aanstellerigheid, soveel ordenaars. Trek af, hou stil, klim uit, maak oop, hoes … Loop vrek! Kyk hoe die son in die wolkekrabbers se ruite weerkaats, goud oor die duisternis stort.

    By die stadspoort lê ’n streep vuilvoetmense teen ’n muur onder seiltjies, vodde, pap kartonne. Die muur bied skuiling teen die wind, en snags kan jy daarteen vuurtjies maak. Hulle het nie nou nagmerries nie, want hulle is nog nie wakker nie. ’n Stille koor in gelid lê hulle, salig en gemaklik nog, terwyl die vroegoggendverkeer beginne verbybeweeg. Richter toets sy trok se enjinremme, woep-woep-woep, flits sy vervalste poortpas, en ry die engtevrees binne.

    Hy kry ’n stilhouplek lekker naby aan die polisiestasie, trek plastieksakke oor sy voete.

    Fokken belaglik, dink hy, absoluut sinloos. Hoe gaan die polisie enigsins kan help? Hy is besig om sy tyd te mors, maar hy steek nietemin die straat oor.

    Hy is tweede in die ry in die klagtekantoor. Daar is twee polisiemanne agter die toonbank wat vorms invul, en ’n kringtelevisiekamera wat almal vanaf een hoek teenaan die plafon moet dophou. Die kamera lyk egter vaakogig, soos die polisiemanne. Papierwerk maak mens moeg.

    Die polisiemag se grootste taak is om verklarings af te neem, dit oor te skryf, kopieerders wat vroeg pensioen vat vir die artritis, ’n gemeenskapsdiens. ’n Vriendelike versoek van die Polisiemeester hang teen die muur: Help ons om jou te help. Vermy polisillabiese woorde, byvoorbeeld. Wanneer jy die polisie gehelp het om jou te help, gaan jou storie in ’n legger, vergeetgrys om met die polisie se uniforms te kleurrym, en die legger gaan na kantoorblokke op kantoorblokke vol leggers, help-my-krap.

    Voor Richter in die ry loer ’n siek kind oor ’n bejaarde vrou se skouer, seker sy ouma. Richter luister na die gesprek agter hom, twee mans. Hy het gesien die een het bloed op sy klere, bloed op sy gesig.

    Uit die hoek van my oog sien ek hierdie helse rooi hanekam, soos ’n punk se hare, maar rubberagtig. Dis eers toe ek omdraai dat ek die skote registreer. En die hanekam wat homself herhaal op die bakkie se dak. Soos verf wat gegooi is. Ons het stilgehou vir ’n pis, van die manne het van die bakkie afgeklim en op die pad se skouer gaan staan om in die bos in te pis. Toe hulle toerits terwyl hulle terugstap, sê Jack hier langs my: ‘Nou pis ons éérs lekker.’ En toe kry hy die hanekam. Net só.

    Die man stamp Richter teen die skouer soos hy verduidelik. Richter tree nie vorentoe nie, want die kind voor hom kyk hom kwaai aan, asof dit sy skuld is dat daar al weer ’n verkoue aan die verbywaai is.

    So dit was ’n lokval gewees?

    Nee, dit was struikrowers. Dit was net klap-klap-klap, en oemf-oemf-oemf, soos die koeëls hulle teikens tref. Murg. En toe is ek uit. Blackout.

    Ek dink jy moet sê dit was ’n lokval. Los die pisstorie uit.

    Toe ek bykom, lê ek in die bos, ek is daar ingesleep, al die ander manne om my in hopies, morsdood. Die murg wat uitsteek.

    Definitief ’n lokval.

    My toolbox was op daardie bakkie.

    Richter draai om en gee die man ’n simpatieke kykie, dan merk hy dat die ry aansienlik gegroei het. Dalk moet ek ’n take-away vanuit my trok bedryf, dink hy, hier kom stilhou, dan noem ek dit Tref-en-trap, sal mooi lyk teen die kant van die trok. Of sommer net Padkos. Die koerant dophou vir massamoorde, slagtings, plunderye, dáár loop stilhou. Mystery Meat Special, met mayonnaise.

    Ek wil ’n klag lê van sabotasie, sê hy toe hy voor kom.

    Wat is die klagte? vra die konstabel.

    Iemand het my muur afgebrand.

    Brandstigting, beskadiging van eiendom?

    Ja.

    Hoe brand mens ’n muur af?

    Met vuur, natuurlik. Dit was ’n pendoringmuur.

    ’n Pendoringmuur?

    Ja.

    Het Meneer ’n muur met doringtakke gebou, ’n kraalaffêre?

    Nee, ek het die dorings opgehoop, hope en hope pendorings, al om my plot. Ek het hulle bakkievrag vir bakkievrag aangery wanneer die vroue klaar in die veld was. Eindelik het dit ’n muur gevorm, toe roep ek hokaai. Ek moes die dames laat gaan.

    Hoekom sou Meneer so iets doen?

    Ek kon dit nie meer bekostig om plukkers te huur nie. Ek kon geen mark vir my produk vind nie – my organiese tandestokkies.

    Die konstabel maak sy keel skoon.

    Organies was op ’n tyd gewild, gaan Richter voort, maar ek het daai boot gemis, toe’s dit skielik sintetiese vleis, en toe sit hulle die cloud af, en toe …

    Meneer, ek dink … Die konstabel dink ’n rukkie. Richter verbeel hom die kamera in die hoek knipoog. Ek dink nie, regstegnies gesproke, dat die taal enigsins bestaan om Meneer se probleem aan te spreek nie.

    Wat van diefstal?

    Wat daarvan?

    My tandestokkies. Dit was gister daar. En nou’s dit nie meer nie.

    Ek sê Meneer wat, kom later vandag wanneer die ry korter is, dan vat ek ’n verklaring.

    Konstabel, ek dink nie jy verstaan hoe ’n ernstige saak dit is dié nie. Ek weet van ’n man wat die mooiste roostuin gehad het, maar hy het nie ’n muur gehad nie, nou bly daar mense.

    Mense kan mos bly waar hulle wil.

    Nee, ek verstaan, en ek hou van mense, dis net, party mense verkies rose bo mense. Ek, byvoorbeeld, was weer lief vir my dorings.

    Volgende, asseblief.

    Maar jy kan mos nie ’n man net so wegwys nie!

    Volgende, sê die konstabel en rig sy wysvinger op die ry wagtendes asof hy ’n sneller trek.

    Richter gaps ’n legger waarop Register van Informante staan van die toonbank af, en druk dit onder sy hemp in voor hy omdraai. Definitief ’n mark dáárvoor, dink hy toe hy die straat oorsteek na sy trok toe. Voorop het hy met groot grys plakkers die woord agterstevoor om aangebring:

    polite

    Sedertdien word hy nie meer so baie afgetrek en deursoek by die gatvliegbeheerpunte nie, en ander voertuie maak gereeld pad vir hom. Dit is in ooreenstemming met hoe hy dink hy self in sy diepste wese is: galant. Vandag het dit nie gehelp nie; sy trok se linkervoorwiel is geklamp. ’n Pienk papiertjie teen die bestuurder se ruit sê hy word beboet omdat hy langs ’n fire hydrant geparkeer het. Richter gryns; F/H staan vir Fok hulle. En hoe gaan ’n klamp, nogal een wat gemaak is vir pensioenaris-tipe motors, dan nou hélp indien hulle by die brandslang wil uitkom?

    Hulle moes die trok weggesleep het, dan het dit sin gemaak. Hy kan die nommer op die papiertjie skakel en die boete afstry, of hy kan die domkrag uithaal en die band omruil, die klamp by die huis afslyp. Richter staan en kyk na die klamp, dan kyk hy na sy trok. Vyfhonderd binnebrandperde dryf sy platneustrok. Tweehonderd-vyf-en-sewentigduisend voet-pond per sekonde. Tien wiele op die perd, twaalf op die wa. Fok dit, besluit hy.

    Richter klim in sy trok, skakel die enjin aan en stoot die toere op, maak die koppelaar los. Die klamp maak ’n tjankgeluid toe hy losbreek. Richter gee die dash ’n kloppie en sê: Yster, dan draai hy uit op die grootpad en mik vir die Commons.

    Tussen die stede lê die Commons, ’n see van ellende, met enkele eilandjies van hoop, dorpies van vryliede⁴, vryhede, sterre in ’n Melkweg – ás jy hulle kan kry, as jy daar kan ín.

    Die pienk papiertjie maak irriterende klapgeluidjies teen die ruit. Richter draai dit af en die papier verkrimp, skeur los en waai weg. Hy voel hoe fladder sy haarlokke in sy nek, voel die wind teen sy wange.

    2. Gehard

    Sy kan hom vrekmaak, elke oggend wanneer hy hier op die rand van die bed sit en die laaste krummeltjies pap met ’n lepel uit die bordjie krap. ’n Geklingel waarmee hy haar droom aanhou beëindig. Om ’n droë roomysstokkie te lek, om aan tafel vir ’n tandestokkie te koes, pasoppie-kossies …

    Niks is erger as ’n lepel wat in ’n papbordjie skraap terwyl jy nog wil slaap nie.

    Wanneer sy pappies eendag klaar is, kry sy ’n soen op die voorkop, en dan is hy vort. Sy sweer sy sal nog een oggend die rewolwer onder sy kopkussing gryp en sy binnegoed teen die ruit laat spat.

    * * *

    Gehard gee Irene ’n soen op die voorkop, merk die spanning in haar wang, ’n spiertjie wat spring. Dan gaan spoel hy sy papbordjie en koffiekoppie uit, sorteer notas op sy lessenaar. Omdat hy in ’n goeie luim is, voer hy Irene se papegaai, fênsie krulkop-laboratorium-flop, vervloekte lawaaierige gedierte. Dan sluit hy die voordeur agter hom, en vertrek.

    By die hek groet hy: Meneer Hermes! Hoe lyk dit vandag?

    Die hekwag gooi sy een arm op en sê: Die wolke kom aangedrywe soos plat krokodille en die son skreeu: ‘Help!’

    Partykeer verstaan ek jou nie?

    Dit gaan reën.

    Goed, het jy iets nodig?

    Waarheen gaan jy?

    Sam se plek.

    ’n Pakkie Latakia, asseblief.

    Wat is dit?

    Vra maar daar by die tabakwinkel.

    Dis uit my pad uit.

    Oukei, next time, sê die hekwag, maak sy keel skoon.

    Gehard hou al met die rand van die dorp langs, en dan ry hy deur die poort op uit. Die poort is nou en kronkelend, met min skouer, stilhou verbode. Hy volg ’n trae bakkie op ’n afstand, vermy die manne agterop se kyke, hulle gesigte verskuil agter balaklawas. Hy bestuur met ’n halwe oog, danksy herhaling behendig by die draaie. Hy kan voel die manne se kyke soek syne terug, maar gee nie daaraan gehoor nie. Hoe gaan oogkontak help om mekaar beter te verstaan? Wie kry wie die jammerste? Hoe oppervlakkig.

    Hoe sê Charles gisteraand? Jy moet bietjie stadig met jou intellectual hardness.

    Jy moet die ander kant kan insien, het hy eers gesê.

    Wat? Luister hoe die doofpotte klingel? Wat van: hulle bestudeer die feite?

    Feite is nie alles nie.

    I beg to differ.

    Presies.

    Wat bedoel jy?

    Jou intellectual hardness. Stadig daarmee.

    Hulle het in die voortuin gesit en filosofeer, duifpeste met die windbuks uitgehaal. Die aandlug het skielik fris gedraai en hy het vir Charles Irene se japon gaan haal.

    Haar broer is net so aantreklik soos sy was: groot, nuuskierige oë, sterk wangbene. Hy het ook ’n fronsie wanneer hy glimlag, volronde lippe, ’n glimlaggie wanneer hy frons, ’n oop voorkop onder die krulle, slím. Dis toe sy jonger was, voor daardie godsverraderlike nag. Toe hy wat Gehard is nie daar was nie, toe hy te laat was. Toe hulle haar wegvat en hy moet opmop, opmop, op sy knieë met ’n lap sy verwyt uit die teëls uit vryf, totdat hulle laat weet het. Wat wil jy eerste hoor? Die slegte nuus, of die slegter nuus?

    Hulle het die vleis verbrand, altesaam nege duiwe gepot. Sewe het in die geut geval, een het spasties gespartel en toe reg voor hulle neergestort, die ander een het elders gaan vrek.

    Anderkant die poort is ’n naamlose gehuggie in die skadu van ’n koppie. Die meeste mense ry verby, want van die pad af lyk dit na ’n armsalige opset van verwaarloosde huisies, anonieme strate. ’n Karavaanpark wat permanente verblyf bied, al die wiele pap, kleinvee in kampies, honde wat blaf. Maar as mens inry, is daar villas agter koeltebome versteek, is daar Sam se plek weggesteek agter ’n trossie denne, ’n klubhuis wat in ’n kroeg omskep is. Vir dié wat weet.

    Gehard hou langs die tennisbaan stil. Niemand wat speel nie. Hy is vroeg, dis net Sam in die kroeg. Wonder hoekom Lubi laat is. Lubi, hulle ou buurvrou toe hulle nog op die plotte gebly het. Lubi wat onverwags opdaag vir tee, so jonk, haar glimlag stout van die onskuld, nietigheidjies oor die kontrei, en hy wat sukkel met gewetensbewings wanneer hy vir haar tee skink, tepels wat wys deur haar bloesie, terwyl Irene by die werk is. Kamtig ’n tuisonderwyser vir ambassadeurskinders, maar watse onderwyser het ’n handler? Ene Piers de Boyle. Sal die man bliksem as hy hom raakloop. Wens hy het geweet hoe die vent lyk. Wanneer hy oor die foon gevra het om met haar te praat, het hy hom verbeel die man het ’n benydenswaardige kennebak, ’n kom-moer-my-houding.

    Ná die tweede wyntjie klim daai ding van Gehard se rug af, wys hy vir Sam om te skink, staar hy na die verlate tennisbaan. Lubi met die smal heupe en die breë skouers, die lyf van ’n Olimpiese swemmer. Wanneer sy ná die tennisspelery inkom vir ’n drankie, gaan hy haar uitdaag. Vat hom dubbele rughand, daar’s hy, sien, daai deeltjie wat uitsteek, that’s something. Hy gaan haar vlinderslag soos ’n meerman. A, ie, meer mán! Hy gaan homself in haar verdrink.

    Gehard teug aan die wyn, dagdroom. Dan hoor hy dit, eers die fluister, en dan die vloed. Luister na die reën op die tennisbaan se blad, emmersvol, plot-plot-plots, soos balle wat hop.

    3. Neal

    By die Buro Regse Aksie, in ’n vuurvaste bunker twee verdiepings onder die Praetorium, sit Neal en krabbel terwyl hy vir ’n oproep wag. Die Praetorium is die staat se mangels, hou die kieme uit Uiopa uit, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad. Die gekrabbel is van verveling,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1