Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vuurvoël
Vuurvoël
Vuurvoël
Ebook334 pages7 hours

Vuurvoël

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Stella Mertens, Mark Dejongh en Riaan Steytler probeer elkeen iets uit hul verlede wegsteek . . . maar elke geheim het ’n vervaldatum. Daar is net ’n sekere tydperk wat ’n sekere hoeveelheid mense ’n geheim kan hou. 

In Vuurvoël, Elmarie Viljoen-Massyn se debuutroman, word donker geheime ontrafel wanneer die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van Big Pharma en ’n Serwiese dwelmkartel paaie kruis. ’n Hoogs leesbare roman wat getuig van puik navorsing.
 
LanguageAfrikaans
Release dateApr 14, 2023
ISBN9780798183413
Vuurvoël
Author

Elmarie Viljoen-Massyn

Elmarie Viljoen-Massyn is in 1976 in Pietermaritzburg gebore. Sy het nagraadse kwalifikasies in forensiese linguistiek, taalpraktyk en sielkunde. Sedert 2008 werk sy voltyds as vryskut-taalpraktisyn. Van haar verse verskyn in Nuwe stemme 6, New Contrast en Stanzas. Vuurvoël is haar debuutroman. Sy woon in Bloemfontein saam met haar man.

Related to Vuurvoël

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vuurvoël

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vuurvoël - Elmarie Viljoen-Massyn

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Elmarie Viljoen-Massyn

    Human & Rousseau

    Vir my ouers, Mattie en Elma,

    en vir Frans

    Hoofstuk 1

    ______________

    Donderdag 1 Augustus 2019, 08:03

    Experior-navorsingskliniek, Bloemfontein

    Is u reg? Kan ons maar begin? vra Alain. Hy glimlag met moeite.

    Deesdae verg dit elke greintjie krag vir hom om sy werk te doen en vriendelik met die studiedeelnemers te wees. Dis nie hulle skuld hy is in hierdie situasie nie.

    Nommer 24 gaan sit ongemaklik op die bed. Sy is die stil, agterdogtige een. ’n Jong blondine met dik grimering en lang naels met blinkertjies op. Alain onthou hoe sy hom op en af gekyk het die dag toe hy by die deur instap in plaas van Cynthia, die ander mediese assistent.

    Hy het eers gedink haar agterdog is om die gewone rede: sy voorkoms. Die lang, maer Kongolees met die groot oë. Hy weet hy lyk jonk vir sy ouderdom, dus moontlik onbevoeg. Maar hy het later besef sy was ongelukkig omdat sy weer die letsel wat soos ’n reuse-erdwurm oor haar maag lê, moes ontbloot. Vir ’n nuwe persoon, hierdie keer boonop ’n man.

    Jy’s nie van hier nie, jou Engels klink van oorsee, het sy gesê.

    Ek is gebore in die DRK, het hy geantwoord. En, soos hy altyd maak, bygevoeg: Ek het lank in Amerika gebly, daar gestudeer. Toe kom ek Suid-Afrika toe twee jaar gelede.

    Soos daardie dag, en die vorige kere, lê sy met haar arms oor haar maag gevou, wys net die letsel wanneer sy gevra word, trek dan weer haar bloes af en vou haar arms. Terwyl hulle deur die assesseringsvraelys werk, kyk sy anderpad.

    Op ’n skaal van een tot tien, was die letsel pynlik die afgelope paar weke? vra Alain. Jy onthou mos, een beteken glad nie, en tien beteken ja, baie.

    Sy knik. Ek dink … drie.

    Op ’n skaal van een tot tien, het die letsel gejeuk die afgelope paar weke?

    Ook drie.

    Op elke vraag gee sy ’n telling laer as die vorige keer. Met feitlik al die deelnemers wat Alain sien, is dit dieselfde storie. Daar is basies een afleiding om te maak: Die salf wat in hierdie studie getoets word, die nuwe tegnologie wat ontwikkel is om letsels, nuwes en oues, merkbaar te verklein, selfs te laat verdwyn, wérk.

    Skielik kyk sy na hom. Hoe weet ek jy tik die regte goed daar? Sy wys met ’n lang nael na die tablet in sy hande. Jy kan mos enigiets opmaak.

    Hy skrik, maar hou sy oë op die tablet. Dit is ’n ondenkbare ding om te doen, sê hy sag. Sy hande begin liggies bewe.

    Sorrie, ek wonder maar net.

    Ná hulle deur die vraelys is, sug sy: Die ding lyk tog kleiner?

    Hy soek die eerste foto’s van haar letsel, wys dit vir haar. Die dik rooi litteken van ’n paar maande gelede is nou net ’n ligpienk kronkeltjie oor haar maag. Haar gesig bly strak, maar haar oë word waterig. Sy draai haar kop weg, vee oor haar wange.

    Hy gee haar ’n oomblik. Hy moet nog die hele lys van newe-effekte met haar deurwerk. Hy wil nie, oorweeg dit om vir haar te sê sy kan gaan.

    Dan sit sy regop en sê: Jy kan maar net aftik op daai lysie van jou dat my kop steeds draai nadat ek die salf aangesmeer het. Dit bly ’n weird gevoel.

    Toe sy weg is, het hy nie kans om asem te skep nie, want Deelnemer 36 wag al. Hy is ’n aangename man, middeljarig, bietjie geset. Kom altyd in ’n geruite flenniehemp en jeans vir sy besoeke. En deur die loop van die studie het hy al hoe meer spraaksaam geword.

    Kyk hoeveel kleiner is dit al, hè? sê hy toe hy instap. Hy draai sy gesig. Die hoefystervorm, want dis waar ’n perd hom geskop het, sit skeef op sy regterwang soos ’n bose glimlag.

    Ja, meneer, ek sien so. Alain is opreg verbaas oor hoeveel kleiner, hoeveel ligter die letsel geword het.

    Gelukkig dink my vrou darem nog ek is mooi. Die man grinnik, voel-voel met sy vingers oor sy gesig. Hy gaan sit op die bed, frons effens. Mense is snaakse goed, jong. By die winkel … Party sal eerder nog in die tou wag vir iemand anders om hulle te help as om na my toe te kom.

    Ek is jammer om dit te hoor.

    Die man rol sy mou op sodat Alain sy bloeddruk kan neem.

    Julle gaan seker hierdie salf gou op die rak kry, gaan hy voort.

    Om ’n nuwe middel op die rak te kry, vat baie lank, meneer. Die studie is nou maar eers in fase twee. Daarna gaan dit deur fase drie. Dis jare se werk en baie geld. Sahpra moet dit ook goedkeur vir gebruik in Suid-Afrika. Én die FDA in Amerika as ’n mens die middel daar wil verkoop.

    Die man dink bietjie. Maar die salf wat julle elke keer vir my gee, jy weet nie watse salf ek kry nie? Niemand weet nie?

    Nee, meneer. Dis ’n dubbelblinde studie. Selfs die mense wat die salf ontwikkel het, weet nie watter deelnemers kry die regte een, watter kry die plasebo en watter kry die ander salf wat in die studie gebruik word nie. Alain kyk na die are wat begin bult op die man se arm soos die bloeddrukband al hoe stywer gepomp word.

    En niemand mág weet wie kry wat nie? Al is die dokters en die salfmense hoe nuuskierig? vra die man.

    Dis reg so.

    En ná die tyd?

    Ja, meneer, ná die tyd kyk hulle wel.

    Die man frons. Daar was seker al kere dat die mense wat die medisyne gemaak het, wou koekeloer – of gekoekeloer hét, uit nuuskierigheid?

    Alain onderdruk ’n sug terwyl hy die meting op die tablet intik. Miskien, maar dis heeltemal teen goeie kliniese praktyk. As so iets gebeur, sal die hele studie se geloofwaardigheid in die gedrang kom.

    En daar was seker tye toe hulle móés kyk? Toe dinge uitgebom het, mense begin spasmas kry of mal geraak het, of wat ook al?

    Die man het nie einde vandag nie.

    Ja, meneer, die studieleier mag die studie ontblind wanneer daar ’n noodsituasie is.

    Wel, dis seker obvious vir almal dat ek die regte salf kry. Hy wys na sy gesig.

    Alain glimlag styf, voel ’n dowwe geklop teen sy slape. Dis te vroeg om afleidings te maak. Daar is baie faktore wat ’n rol kan speel. En meneer moet onthou, die studie het mos drie bene: Daar is deelnemers wat die regte salf kry, deelnemers wat ’n plasebo kry, en deelnemers wat die beste salf kry wat tans op die mark is.

    Og, ek het al elke salf denkbaar probeer. Useless. En ek kan jou dít sê: As die ander guinea pigs so happy is met hierdie salf soos ek, gaan niemand niks hoef te koekeloer nie. Hy kyk Alain reguit in die oë. "Happy en happy, jy weet? Soos die vorige kere. Voel die ander guinea pigs ook so happy soos ek?" Hy maak sy oë groot en draai sy kop ’n paar keer in die rondte.

    Um, ek mag nie die ander deelnemers bespreek nie. Alain se hart begin so woes klop, hy is bang die man hoor dit.

    Moet jy dit nie intik op daai tablet nie? Dat ek weer happy voel nie?

    Ja, meneer, ek gaan nou. Sy palms sweet terwyl hy blaai na die afdeling vir newe-effekte. Enigiets anders wat meneer voel? Hoofpyn, droë mond –

    Nope. Los maar daai hele lys. Alles verder is hunky-dory. Nie dat die happiness nié hunky-dory is nie, hoor! Hy gee ’n laggie terwyl hy regop kom, sy mou afrol. Maar is dit normaal? Ek smeer hierdie salf nou al vir drie maande twee keer ’n dag aan, hoe lank moet ek dit nog so gebruik?

    Meneer moet nog net so aangaan. Die hoofstudieleier kyk na die newe-effekte. Sy sal aanpassings maak indien nodig. Alain sluk voor hy sê: En meneer moet ook onthou, as sy reken die newe-effekte is te erg, gaan sy meneer uit die studie haal.

    Nee-nee-nee, dis glad nie erg nie, ek sal vir haar sê. Ek kan nog my werk doen, kar bestuur, als. Dis net die rukkie ná ek dit aangesmeer het wat ek happy voel.

    Alain knik, sy hartklop bedaar effens. Genadiglik is die man stiller tydens die res van die besoek. Net voor hy by die deur uitgaan, sê hy met ’n knipoog: Ek gaan nou vir julle aptekertjie vra vir ’n bietjie ekstra voorraad vir die naweek. My skoonma kom kuier.

    Dit vat Alain ’n paar sekondes om te besef dis ’n grap. Hy glimlag flou, sak op die bed neer toe hy alleen is.

    Sy liggaam gaan nie hierdie spanning veel langer kan hanteer nie. En wanneer hy dink aan meneer Dejongh, een van die grootbase, se besoek volgende week, voel dit of hy nie asem kry nie.

    Hy staan op, gaan was sy hande voor die volgende deelnemer kom.

    Dinge was nie veronderstel om so uit te draai nie. Hy sou sy mediese graad kry en teruggaan Bukavu toe. Hy sou ervaring gaan opdoen by Panzi-hospitaal, op die been gebring deur dokter Denis Mukwege, wenner van die Nobelprys vir vrede vir sy werk onder slagoffers van verkragting. Later sou hy sy eie hospitaal begin op een van die tientalle dorpies in sy geboorteland waarvan almal vergeet het.

    Hy kyk af na sy hande by die wasbak, die helder water oor sy vel. Die reuk van die sanitêre middel in sy neus.

    Hy skrop sy vingers, hande en voorarms dat daar rooi krapmerke sit.

    Hoofstuk 2

    ______________

    Julie 2002

    Wilgehof, Bloemfontein

    Gaan Ouma weer môre hospitaal toe?

    Stella sit by die kombuistafel. Sy kyk na haar vingers wat die oranje en bruin patrone op die plastiektafeldoek natrek.

    Ek dink so, my kind. Hoekom? Ouma Esta is besig om toebroodjies te maak by die toonbank.

    Kan ek saamgaan?

    Ouma Esta kyk op, draai na Stella. Ons het al hieroor gepraat, kindjie. Mamma is nog nie reg nie. Sy gaan nie eers weet jy’s daar nie.

    Maar hoekom gaan Ouma dan?

    Die dokters wil met my praat. Sy pak die broodjies op ’n bord, sit dit op die tafel neer. Dan sê sy sag op pad yskas toe: Daar is baie dinge om oor te praat. Sy dink seker weer Stella hoor haar nie.

    Stella hou haar ouma dop terwyl sy ’n boksie melk uit die yskas haal, die deur hard moet druk sodat dit mooi toegaan. Sy kom met ’n effense hink terug tafel toe, gaan sit met ’n kreun. Stella het gesê sý sal die broodjies maak, maar haar ouma wou niks weet nie. Jy het hierdie vakansie heeltemal te hard gewerk vir ’n graadsewe-kind, het sy gesê.

    Dit maak Stella benoud om haar ouma so te sien. Sy was nog altyd sterk, kon beddens skuif, gras sny, het selfs een keer in die dak geklim om gif vir die rotte uit te sit. Nou raak sy moeg van skottelgoed was.

    Jy hoef nie bekommerd te wees nie, kind, sê ouma Esta. Ek sal nie teruggaan Bethlehem toe totdat jou ma weer gesond is en kan huis toe kom nie. Dan sê sy gemaak kwaai: In elk geval nie voordat ons daardie kuif van jou gesny het nie, ek kan skaars jou oë sien.

    Stella glimlag en vee haar kuif uit haar oë. Sy weet haar ouma het eintlik nie ’n keuse nie. Sy moet hier bly solank as wat nodig is, soos die vorige keer wat haar ma ’n ineenstorting gehad het. Ja, sy ken die woord. Dis opgeskryf in haar woordeboekie, saam met psigiater, delusie, skisofrenie en die ander woorde wat sy hoor wanneer almal dink sy luister nie.

    Sy hap aan ’n broodjie, kyk verbaas op. Wanneer het Ouma kaassmeer gekoop? vra sy deur die gekou.

    Gister toe ons winkel toe is. Jy het so deur die rakke gedwaal, jy het nie eers opgelet nie!

    Jissie, dankie, Ouma.

    Plesier, my kind. Ek wou jou net so bietjie bederf.

    Haar ouma was bleek van skok toe sy ’n week gelede hier instap. Wat maak jou ma dan met die kosgeld wat ek vir haar stuur? het sy gevra toe sy net die paar blikkies in die koskas sien, die swart piesangs in die vrugtebak. Jy’s die ene ribbes en skouerknoppe! Sy het later jammer gesê, sy het nie bedoel dat dit moet lyk of sy met Stella raas nie.

    Dis stil om die tafel terwyl hulle eet. Dan trek Stella diep asem in. Ouma het mos gesê hierdie nuwe dokter van Mamma is baie goed?

    Ja, my kind. Dokter Tredoux is een van die bestes in die land. Selfs die wêreld.

    Maar kan mense soos Mamma ooit regkom?

    Haar ouma se kakebeen raak vir ’n paar oomblikke stil, dan kou sy verder, sluk. Waar hoor jy sulke goed? By tannie Annatjie? Sy gooi melk in haar tee, dan suiker, begin woes roer.

    Stella knik. Tannie Annatjie is die buurvrou by wie sy bly wanneer haar ouma die hospitaal besoek. Dis ook sy wat in die middel van die nag kom help het toe Stella se ma die laaste ineenstorting gehad het.

    Tannie Annatjie ken nie hierdie dokter nie, sê haar ouma, steeds aan die roer sodat die tee oor die koppie se rand in die piering loop.

    Ja, Ouma.

    Stella weet baie dinge, al dink niemand sy verstaan wat aangaan nie.

    Sy weet byvoorbeeld sy is haar ouma se enigste kind se enigste kind. Haar ouma moes haar ma alleen grootmaak en met min geld – sy het by die poskantoor gewerk. Haar oupa het weggeloop toe haar ma baie klein was. Nes Stella se eie pa gemaak het.

    Sy weet daar is fotoalbums weggesteek in bokse hoog bo in haar ma se kas. Daarin is foto’s van haar ma toe sy so klein was soos Stella, nog foto’s van toe sy op hoërskool was, in al wat ’n sportspan is, op die verhoog met prysuitdelings. Op elkeen lag sy.

    Stella weet ook van die klein albumpie, heel onder in die boks, met die troufoto’s in. Haar ma in ’n lang wit rok, met ’n boepmaag. Sy wat Stella is, is in daardie boepmaag.

    En langs hulle twee, haar pa met ’n strikdas en deurmekaar hare. ’n Vreemdeling. Maar, het sy by die skool gehoor, baie grootmense in Bloemfontein ken hom goed. Hy was ’n letterkundeprofessor by die universiteit voordat hy terug is oorsee, na waar hy vandaan gekom het. Brussel. Sy het in die atlas by die skool gesien hoe ver dit is.

    Het jy genoeg geëet, my kind?

    Ja, dankie, Ouma.

    Haar ouma kyk haar ’n paar oomblikke aan. Waaraan sit jy so en dink? Wat sê tannie Annatjie nog?

    Stella trek haar skouers op.

    Jou ouma is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy begin die krummels op die tafel bymekaarvee. Ek kan in jou oë sien wanneer jy diep dinge dink wat jy vir niemand wil sê nie.

    Hoe bedoel Ouma?

    Hulle verander van kleur. Soos wanneer ’n wolk voor die son skuif en die blou van die lug so bietjie gryser word. Sy gooi die krummels in haar hand in die leë bord, sê sag terwyl sy opstaan, die stoel hard oor die vloer skuif: Nes jou pa s’n.

    Stella sê niks, sy vee net haar kuif terug oor haar oë toe haar ouma nie kyk nie. Dan staan sy op, vat die bord en haar glas en haar ouma se teekoppie wasbak toe. Toe sy klaar die skottelgoed gewas het, hoor sy ’n sagte gesnork vanuit die sitkamer.

    Sy stap na haar kamer toe, gaan sit kruisbeen op die bed en vat haar woordeboekie wat op die bedkassie lê. Sy maak dit oop by die plekhouer, ’n foto wat sy uit een van die albums gevat het.

    Van al die weggesteekte foto’s hou sy die meeste van hierdie een. Dis van haar ma en pa, en albei glimlag. Haar ma het die mooiste, blinkste blou rok aan, haar hare donker golwe om haar gesig, oor haar skouers. Eendag wil Stella só lyk op haar matriekafskeid.

    Maar vanmiddag draai sy die foto om, die gesigte na onder, knyp sy haar oë toe. Niemand mag weet wat sy dink nie. Dat dit soms lekker is as haar ma nie hier is nie, want dan hoef sy nie agter haar aan deur al die vertrekke te loop, kort-kort stil te staan om saam met haar te luister, haar oor teen die muur, teen die vloer nie. Om vir haar ma te sê, nee, daar is niks nie.

    Luister vir die dinge wat dalk nie daar is nie.

    Soos ’n radio in die verte wat tussen stasies is, het haar ma verduidelik. Of musiek wat nog speel oor oorfone van iemand wat dit afgehaal en weggeloop het. Insekte wat skarrel binne die mure.

    Spits jou ore, my kind.

    Aan die begin was dit maklik, want sy het niks gehoor nie. Dis stil binne die mure, onder die vloere. Later het sy agtergekom dis nooit rêrig stil nie. Jou ore suis heeltyd.

    Sy maak haar oë oop toe sy haar ouma se gekreun en stadige voetstappe in die sitkamer hoor. Sy druk die foto nog so onderstebo tussen die boekie se blaaie in.

    Hoofstuk 3

    ______________

    Maart 2019

    Brussel

    Stella sit met die woordeboekie op haar skoot, die sterretjies-oortrekpapier dof en verweer om die rande. Sy was sestien toe sy die laaste inskrywing gemaak het, twaalf jaar gelede.

    Anhidrose: Die vermindering of afwesigheid van sweetafskeiding. Die toestand wanneer jy nie normaal kan sweet in een of meer liggaamsdele nie.

    Dit gaan gepaard met duiseligheid, gloede, en in sommige gevalle, soos met haar, oormatige sweet op ander plekke aan die liggaam.

    Sy kyk op, sien haar potplante wat in die oggendson op die vensterbank staan. Sy is spyt sy kan hulle nie saamvat nie. Oor al die ander goed gee sy nie om nie. Daar is in elk geval nie veel om saam te vat nie. Niks teen die mure nie. Niks wat rondstaan nie. Soos sy dit verkies. Hoe minder dinge om haar, hoe beter.

    Tussen die boekie se blaaie is die foto van haar ouers. Sy haal dit uit, kyk vir ’n paar oomblikke daarna. Die foto het ’n spontane oomblik vasgevang, seker by ’n universiteitsfunksie. Haar pa in ’n tweedbaadjie, fluweelstrikdas; haar ma, ’n kop langer, in die saffierblou satyngewaad wat kleintyd vir Stella so asemrowend was. Elkeen kyk in ’n eie rigting, albei glimlag op sy of haar eiesoortige manier: haar pa met sy gereserveerde halfmaanmond, haar ma met haar hele gesig wat straal.

    Van al die weergawes van haar ma is dit die een wat Stella wil onthou. Gelukkig is dit op ’n foto verewig, anders het sy bes moontlik ophou glo dat daar ooit so een was. Dit is die ware weergawe, soos haar ma werklik was, en dalk weer kon gewees het as dit nie was vir die dinge wat in die fluitjieblaser se brief geïnsinueer is nie.

    Daardie brief is ook in die boekie, opgevou agterin. Sy wil nie nou daarna kyk nie. Sy ken dit buitendien woord vir woord uit haar kop.

    To whom it may concern

    I wish to report suspected ethical breaches in the clinical trial that is being conducted at Experior’s Bloemfontein site, which as you know is also the CRO for this study. I have witnessed some of these breaches first-hand, and I have reason to suspect there are others …

    Nié as jy kyk na al die persverklarings, referate, artikels in The Lancet, British Medical Journal en ander top- mediese vaktydskrifte oor daardie kliniese studie nie. Boonop verskyn dit op die Amerikaanse National Institutes of Health se clinicaltrials.gov-webblad. Die studie is in 2005 opgelaai, in ’n tyd toe dit nog nie eers verpligtend was om dit daar te doen nie. Dit getuig mos van eerlikheid, die hoogste etiese waardes?

    Op clinicaltrials.gov kon Stella die drie hoofrolspelers in die studie identifiseer:

    Dr. J.D. (Jan) Willemse, een van die studieleiers en volgens Google ’n Bloemfonteinse psigiater.

    HoffmanBecker, die farmaseutiese maatskappy, borg van die studie en ontwikkelaar van die nuwe middel, ziasidone, bemark onder die handelsnaam Ziasil, wat in die studie getoets is.

    Experior, kliniese-navorsingsorganisasie, onder wie se bestuur die Suid-Afrikaanse been van die studie gedoen is.

    En voeg van volgende maand af daarby: haar nuwe werkgewer. Die twee grootbase, Daan Steytler, CEO, en Mark Dejongh, COO. Die enigstes van die huidige bestuursvlak wat in 2006 tydens die studie by Experior gewerk het.

    Stella haal die brief uit, maar hou dit toegevou, beweeg haar vingers oor die kreukels wat soos fyn aartjies deur die papier loop.

    Sy het dit omtrent ’n jaar gelede gekry, toe sy by Ninazu begin werk het. Sedertdien is die brief al talle kere gelees, toegevou, oopgevou, weer gelees. Een keer opgefrommel, weggegooi.

    Sy is nou wel op pad Experior toe, maar wie weet of sy die twee grootbase persoonlik sal ontmoet? Hulle sit in Chicago by hoofkantoor. En watter een sal ’n mens eerder wil konfronteer met die fluitjieblaser se bewerings? Só wonder sy gereeld wanneer sy op die webblad na hulle gesigte staar. Daan Steytler, vol wange, klein ogies, joviale glimlag. Of Mark Dejongh, donker hare, breë gesig, oë soos staal.

    Sy sit die brief terug in die boekie, druk dit tussen die klere in haar tas, rits dit toe. Sy staan op, begin ’n laaste paar goed in haar handsak sit.

    In een hoek van die kamer staan ’n paar bokse van die nuwe woonstelmaat. Saskia het gou iemand gekry. Of eerder gewerf. Seker nóg iemand met ’n rillerverhaal van hoe Big Pharma haar of ’n geliefde se lewe geruïneer het. Iemand wat Saskia se woonstelmaat én kollega gaan word in Stella se plek.

    Saskia is vroeg reeds uit, in een van haar wyepyp-jeans, haar blonde hare in twee Franse vlegsels. Hulle het styf maar hoflik gegroet. Om te dink daar was ’n tyd toe sy Saskia bewonder het, haar onverskrokkenheid, haar sin vir reg en geregtigheid. Haar vermoë om dieper te kyk as die oppervlak, tot in die onderste donkertes van dinge waaroor niemand sal dink om vrae te vra nie.

    Sy moes nooit vir Saskia haar storie vertel het nie. Maar dit was so maklik, en sy wou so graag vir iemand vertel, ’n gewone mens, nie ’n traumatoloog, psigiater of fisio-, arbeids- of watter terapeut ook al nie.

    Nou, as sy daaroor nadink, besef sy hoe fyn Saskia haar gelees het. Jy moet oppas, jy’s cult-materiaal, so naïef is jy soms, het sy op ’n keer gesê, nog voordat Stella haar vertel het van haar ma.

    Haar foon pieng. Dis ’n Twitter-kennisgewing. Sy hou aan vergeet om dit af te sit. Sy wil nie meer sulkes kry nie.

    Die afgelope week trend die Ninazu-onthulling oor die farmaseutiese reus Quintus Laboratories.

    Quintus shares drop after Ninazu report

    Quintus a ‘bunch of charlatans’, says Ninazu report

    Ninazu a ‘bunch of charlatans’, says Quintus

    Ninazu: warriors for justice, or crackpot hacktivists?

    Sy is finaal klaar met Ninazu. Nev was briesend toe sy sê sy gaan loop. Jy weet al ’n hele jaar lank hier is iets aan die broei! Nóú wil jy iets aan die saak doen? Nadat ons, wat elke denkbare sisteem in die wêreld kan hack, niks kon uitvind nie.

    Sy het geskrik en hom net aangekyk, self nie geweet hoekom sy so lank gewag het om iets te wil doen nie. Seker maar haar tipiese besluiteloosheid, haar vrees vir die onbekende. Soms selfs vir die bekende.

    Sy lig haar tas van die bed af en gooi haar handsak oor haar skouer. Sy stap uit by die voordeur en maak dit agter haar toe, sonder om terug te kyk.

    Hoofstuk 4

    ______________

    Vrydag 2 Augustus 2019, 16:40

    Experior-hoofkantoor, Chicago

    Mark Dejongh staan voor die vloer-tot-plafon-vensters in sy kantoor op die derde verdieping van die nuwe Experior-gebou. Met sy bene uitmekaar geplant, arms voor die bors gekruis, kyk hy na die geboue ’n ent weg, die kampusse van Pfizer, Novartis, Takeda. Die farmaseutiese bedryf se big dogs, volgens Daan, sy vriend en vennoot van amper dertig jaar.

    Mark hou van hierdie tyd van die dag, laatmiddag, wanneer die son se felheid afneem, die lig binne geboue meer geskakeerd word. Dis ’n goeie tyd om sy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1