Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Klassiek reeks: Op soek na Generaal Mannetjies Mentz
Klassiek reeks: Op soek na Generaal Mannetjies Mentz
Klassiek reeks: Op soek na Generaal Mannetjies Mentz
Ebook466 pages10 hours

Klassiek reeks: Op soek na Generaal Mannetjies Mentz

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wenner in De Kat/Sanlam se Groot Romanwedstryd (1997), Eugène Marais-prys (1999), M-Net-prys (1999).
Daar loop gerugte van twee honde en ’n jakkals, gruwelike gediertes, wat snags vreet aan mens en dier in die poorte deur die berge van die Brandwaterkom. Dis waar die Vrystaatse magte futloos aan die Engelse oorgegee het. Waar iemand die Kakie-eskorts in die poorte voorlê en wreedaardig straf – maar ook die hensoppers, tot selfs die pakdiere.
Drie Boere loop aan die spits van dié geheime Wraakkommando: die dierlike haaslip Niemann, die geslepe Voss, en hul ontsagwekkende leier, Mannetjies Mentz. Deur hulle kom talle burgers weer vry om voort te veg.
En in spelonke hoog teen die berg leef Boervroue en -kinders die Anglo-Boereoorlog deur. Ma, die onverbiddelike. Aunt Soph, die roekelose. Ounooi met die groot ore. En aunt Anne, die ontluikende. Hulle plaas het hulle self laat afbrand, en ’n onderlinge verdrag laat gedy hulle daar saam met Jan Witsie en sy half-Basotho, half-Griekwa mense.
Maar dis die verkeerde tyd vir Anne om te blom toe Mentz se burgers die gevange jong Kakie-luitenant daar los – verlief soos sy is, en blind vir die onvermydelike: dat die burgers sal terugkom, en dat hulle bloed sal soek.
En so word nog ’n konflik gebore, want Soph se eie broer, blink Frans Naudé, is deel van daardie Wraakkommando.
Botsing en hartstog, ontrou en lotsverbondenheid tussen Boer en Brit, wit en swart, mens en dier … Die mengsel is ryk en kragtig in hierdie verhaal wat diep en ver loop deur Afrika: tot onder sy skoonste berg, Kilimandjaro, en tot in die skadu van die grootste oorlog, in die middel van die vorige eeu.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780624078234
Klassiek reeks: Op soek na Generaal Mannetjies Mentz
Author

Christoffel Coetzee

Christoffel Coetzee is op 10 November 1945 in die Vrystaat gebore. Hy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer en aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het ’n meestersgraad in filosofie (cum laude) verwerf. Hy was ’n Rhodes-beurswenner en het aan die Universiteit van Oxford studeer. Christoffel het vir ’n tyd lank as ’n navorsingsassistent aan die London School of Economics gewerk. Hy was daarna ook joernalis en universiteitsdosent. As Namibiese burger het hy jare lank in Windhoek gewerk. Hy is op 17 Julie 1999 in Windhoek oorlede. Die jaar voor sy dood was Coetzee ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Noorde. Sy debuutroman, Op soek na generaal Mannetjies Mentz, het in 1998 verskyn. Hy was die algehele wenner van De Kat/Sanlam se Groot Romanwedstryd en het ook die Eugène Marais- en M-Net-prys vir dié roman ontvang.

Related to Klassiek reeks

Related ebooks

Related articles

Reviews for Klassiek reeks

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Klassiek reeks - Christoffel Coetzee

    Christoffel Coetzee

    Op soek na generaal Mannetjies Mentz

    Tafelberg

    VIR DRIE TEKKIEDRAERS:

    Kobus, my pa (1913-1995)

    Klein Koos, my broer (1950-1995)

    Jacobus, my seun (1984-)

    "Natuurlik is dit waar, en is daar ex analogia baie ooreenkomste tussen dit wat getuig word en dit waaróór getuig word, maar dan, die lewe, en die dood natuurlik ook, is tog ’n fabel wat altyd weer herhaal …"

    Regter Lucius voor die Kaapse Balieraad

    Ek dink: Wat sal dié ongelukkige man so jaag? Is sy skuld en pyn dan soveel erger as ons s’n? En ken ons generaal Mentz nou?

    – GENL. COEN BRITS, 1916 (1917?)

    Voorwoord

    Die tydskrif De Kat se romanwedstryd, met ’n besonder groot getal inskrywings, word in 1997 gewen deur die debuut van ’n skrywer van wie niemand nog gehoor het nie: Christoffel Coetzee. Daarna wen dié boek, Op soek na generaal Mannetjies Mentz, die M-Net-prys; dit word ook verwerk tot Afrikaanse toneelstuk wat groot sukses inoes. En toe sterf die skrywer, pas vyftig, plotseling. Sekerlik die verstommendste verskietende ster tot nog toe aan die Afrikaanse literêre horison.

    Coetzee se roman speel af in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, maar dit bied veel meer as ’n historiese weergawe van die oorlog. Die roman is ’n pakkende uitbeelding van boosheid en geweld, van die donker tweede natuur van die mens wat altyd aanwesig is en in tye van oorlog sterk na bo kom. Die sentrale elemente van die tweede natuur wat in Mannetjies Mentz uitgebeeld word, is wrede geweld en ongetemde seksualiteit. Die twee vertrouelinge van Mentz, Voss en Niemann, is (soos wat hul name suggereer) nie meer mense nie, maar diere – simbole van gewetenlose gewelddadigheid. Hierdie twee is die mees skrikwekkende verteenwoordigers van die bose, maar geen karakter ontsnap aan hierdie laere natuur van die mens nie. Mentz se naam suggereer dat hy ’n simbool van die mens is, ’n Elckerlijc-figuur – veral van die donker kant van mens-wees, in besonder van die mannetjies-mens.

    Die roman beeld intens gekwelde karakters uit, magteloos om hul drifte in toom te hou en afgerem deur die las van hul gewete. Nogtans, hoewel die boosheid soos ’n aansteeklike siekte versprei en ’n onontkombare skuldgevoel meebring, is daar ook tekens van hoop. Dit word onder andere bewerkstellig deur die Engelse soldaat Charlie White, ’n uitsonderlik eerbare man. White word onskuldig gemartel en vermoor deur Niemann. Dit is betekenisvol dat, net voor die vertelling van White se dood, ’n vlekkelose lam deur Jan Witsie se grootmoeder geslag word ter beskerming teen die bose. Charlie White en die lam word sodoende op die simboliese vlak met mekaar verbind. Dit is veelseggend dat, kort na die dood van Charlie White, Jan Witsie en sy helpers daarin slaag om die kommando van Mentz te verdryf; die dood van die slagoffer White het die verlossing moontlik gemaak. Witsie en White, wit simbole van goedheid en die stryd teen kwaad, oorwin uiteindelik Mentz se kommando.

    Nog ’n teken van hoop is die moontlikheid van bieg oor jou kwellinge teenoor ’n simpatieke luisteraar. In die derde deel van die roman vertel Blink Frans aan sy welwillende suster Ounooi van sy duister verlede om daardeur helderheid en vrede te vind. Die leser moet homself aan die een kant identifiseer met die Elckerlijc-figuur Mentz en sy trawante in die boosheid; aan die ander kant met Ounooi om die belydenis van boosheid simpatiek aan te hoor. In sekere sin word die leser daartoe gebring om hom oop te stel vir sy eie verhaal.

    Die roman het ’n tydlose relevansie vir die mens, steeds op soek na homself, na vrede en versoening.

    Chris van der Merwe

    Kaapstad, 2008

    DEEL I

    Inleidende redakteursnota:

    Op soek na ’n verlore generaal

    Ons geslag (gebore 1940-1950) is die laaste wat eerstehands die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) kon aanhoor: Ons hoor dit van grootouers, en van ooms en tantes. In uitsonderlike gevalle hoor ons dit van ’n ouer.

    Hierdie grootouers, ooms of tantes was meestal self kinders gedurende die oorlog. Die verhale is dus merendeels (met die uitsondering van dié van penkoppe) verhale uit die mond van dié wat verwyder van die frontlinies was. Dit was mondelinge oorlewering vanuit die perspektief van een geslag kinders aan ’n ander geslag kinders.

    Maar asof oornag sterwe die oudstryders uit. Kommandant Chris van Niekerk (1874-1966),¹ die laaste oudstryder wat ’n belangrike openbare amp beklee het, tree in 1960 uit as die president van die senaat, en ’n dekade later is dit klaarpraat met die oudstryders.

    Ons kan die gebrek aan ’n skriftelike nalatenskap van die oorlogsgeslag verskoon. Die waarde van die geskrewe woord was by hulle nog nie gevestig nie. Dit was ’n mondelinge gemeenskap. Eers met ons eie geslag vestig die geskrewe woord sigself (en twee geslagte later is ons nou weer opgesaal met ’n oordrewe klem op mondelinge oorlewering).

    Dit is die konteks waarbinne ek my ondersoek na generaal Mannetjies Mentz begin het.

    Ek het grootgeword in die omgewing van waar generaal Mentz die eerste keer geopereer het: die Oos-Vrystaat. Hier, ten minste wat die eerste fase van die oorlog betref, verrig (of pleeg?) hy sy grootste heldedade (sou ons verkies om dit so te noem). Dit is dus vanselfsprekend dat ek en my maters grootgeword het met generaal Mentz as die held van menige vertellings uit die oorlog.

    Dieselfde sentimente vind ek later onder my tydgenote, in die wye boog wat strek vanaf Lichtenburg tot oos van Pietersburg. Hier bring generaal Mentz die laaste fase van die oorlog deur, voordat hy soos ’n groot speld verdwyn.

    In ieder geval, daar was dele van die Vrystaat en Transvaal waar die roem van generaal Mannetjies Mentz gelykstaande was aan dié van De Wet of De la Rey.

    Ons weet Mentz het sy rang van veggeneraal ontvang van generaal De Wet, gedurende die sogenaamde heropbou van die Vrystaatse magte ná generaal Martiens Prinsloo se oorgawe in die Brandwaterkom. Terselfdertyd weet ons egter dat generaal De Wet se aanvanklike heropbou, in die woorde van president Steyn, impulsief was – wie vandag bevorder word, is môre vergete. Verder weet ons nie wie die hulle was wat vir generaal Mentz na die Kom gestuur het met die opdrag om saam met generaal Prinsloo gevange geneem te word nie. Dit is nie eens ’n uitgemaakte saak of daar hoegenaamd so ’n opdrag was nie, in welke geval generaal Mentz op eie inisiatief opgetree het.

    Maar selfs al het hy op eie inisiatief gehandel, beteken dit nie dat sy handelswyse nie steun van bo geniet het nie. Is sy bevordering tot generaal nie juis tekenend van goedkeuring van ’n opperbevelstruktuur nie?

    Kan ons dit uit die hand verwerp dat Mentz en sy kommando opereer as ’n soort vrykorps, onafhanklik van ’n offisiële bevelstruktuur? Kan ons dit uit die hand verwerp dat die rang van kommandant (soos Mentz bekend staan voor sy bevordering langs amptelike maar ongedokumenteerde kanale tot veggeneraal) ’n selfopgelegde rang was, op die kenmerkende manier van vrykorpse?

    En wat van veldkornet Voss? Watse soort veldkornet was hy? In die latere fases van die oorlog (en daarna, in Duits-Oos) staan oom Blink Frans Naudé as die adjudant bekend, al was dit nie ’n tradisioneel erkende rang in die Boeremagte nie. Is dieselfde nie moontlik die geval met veldkornet Voss en kommandant Mentz nie?

    Getuienis dui op die bestaan van onafhanklike groepe gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog, of ons dit met die titel vrykorps wil vereer of nie.

    In die loop van ’n paar dae kom Deneys Reitz [1927 (1983, inleiding deur Thomas Pakenham): Commando (Southern Book Publishers, Halfway House)] in die Vrystaat op drie sulke groepe af.

    At length, we came to Hoopstad town. The place was deserted […] That same afternoon a solitary German trader rode in from the south-east where he was serving with a small Boer commando […] This consisted of twenty men under an officer of the now defunct O.F.S. Artillery […] We spent a week with our friends. They were a ragged crew carrying a queer assortment of weapons, and what little ammunition they had they reserved for shooting game, which abounded, and they seemed quite happy so long as they could keep out of the hands of the British.

    Ten spyte van al die sorgvryheid van hulle bestaan lyk hierdie groep eerder na gemoedelike pligontduikers as na ’n vrykorps.

    So we had shot enough springbok and blesbok for biltong.We rode through this unpeopled waste until, some days later, we fell in with a party of Freestaters near the Sand River railway-bridge. There were nine of them under a Field-Cornet named Botha. They had been trying to derail a bridge, but the English were building block-houses along here and their attempt had failed, so Botha and his men were returning to their haunts in the mountain ranges […] near Wonder Kop. From here they made periodic raids down to the plains, and they must have given a good account of themselves […] Botha told me that he had at one time commanded over three hundred men […] He clung to his title of Field-Cornet, two of his men called themselves Corporals, the rank and file of his army consisted of six men […]

    Ten spyte daarvan dat omstandighede vir dié trotse negetal skeefgeloop het, lyk dit of ons te doen het met ’n gevegseenheid wat onafhanklik van ’n sentrale bevelstruktuur geopereer het – die tipiese kenmerk van ’n vrykorps. Hulle mislukking kan ons nie verhinder om hulle as sodanig te beskou nie.

    For two days we rode on […], reaching the next village, Fauresmith, by sunset. This place had also been abandoned by its original inhabitants, but we found it occupied by men little better than bandits. As we went up the main street a number of unkempt individuals rushed at us, rifle in hand, and ordered us halt. They crowded round threateningly, with shouts of Maak dood die verdomde spioene (Kill the cursed spies), although they must have known that we were nothing of the sort, and only wanted a pretext to rob us.

    Ook vrybuiters, benewens pligontduikers en vrykorpse het die jong Reitz teen dié laat stadium van die oorlog in die Suid-Vrystaat aangetref.

    Veral in die laaste fase van die oorlog is dit waarskynlik dat generaal Mentz se kommando as ’n vrykorps geopereer het – sien Blink Frans Naudé se opmerking dat hulle verkieslik op die grense van De la Rey se bevel optree. Die stand van sake gedurende die vroeëre fase is meer twyfelagtig. Hoewel daar nie aanduidings was dat kommandant Mannetjies Mentz in die Brandwaterkom deur die Britse magte aan die Boerebevel verkla is nie, is die vraag eerder: aan wie sou hulle hom kon verkla? Die Vrystaatse opperbevelhebber of hoofkommandant, generaal Martiens Prinsloo, was in die Kom onder Britse bewaking. De Wet was aan die vlug, en al sou hy opgespoor kon word, sou ’n klagte aan hom die offisiële status as nuwe hoofkommandant gee.

    In die laaste fase van die oorlog is daar na bewering lasbriewe deur beide die Boere en die Engelse magte vir Mentz se inhegtenisname uitgereik – ’n aanduiding dat hy hom aan die gesag van niemand onderwerp het nie.

    Volgens oorlewering het Mannetjies Mentz voortgeveg, ten spyte van die beweerde lasbriewe, tot vrede onafwendbaar was en hy sy kommando ontbind het. Maar dis tóé dat De la Rey vir Mentz en sy kommando in die bresse getree het. Dui dit daarop dat die Boerelasbriewe nie té ernstig opgeneem moet word nie? Met ’n paar getroue volgelinge – en De la Rey se hulp – glip hy oor die grens na Portugees-Oos-Afrika en verdwyn in Duits-Oos-Afrika.

    Ek groei op tot ’n amateurgeskiedkundige, en is in staat om die vertellinge uit my jeug met dié van die opgetekende geskiedenis te vergelyk. Dit tref my vroeg dat die figuur van Mentz nooit in geskrewe geskiedskrywing voorkom nie.

    ’n Populêre bron, van die chauvinistiese soort wat kom met kits-oordele van held of lafaard, is dr. Jacques Malan se Die Boereoffisiere, 1899-1902 [1990: J. P. van der Walt, Pretoria].

    Onder Mentz verwys ’n alfabetiese register en fotobronne ons na:

    Mentz, kmdt. Frans Egebertus (1849-1933): kommandant, Heilbron-kommando. Hy breek in 1901 saam met De Wet deur die blokhuislinie tussen Kroonstad en Lindley. Van die Mentze wat diens doen as Boereoffisiere word kommandant F. E. die meeste in die literatuur vermeld. Volgens prof. S. B. Spies se Methods of barbarism [1977: Human & Rousseau, Kaapstad] verklaar hy op ’n vergadering van offisiere te Vereeniging op 15 Mei 1902 dat daar ongeveer 200 gesinne onder sy beskerming is, en dat hy nie meer oor genoeg proviand beskik om die oorlog onbepaald voort te sit nie. Volgens dr. A. M. Grundlingh, in Die Hendsoppers en die Joiners [1979: HAUM, Kaapstad], waarsku kommandant F. E. by dié geleentheid dat die Boere die wapen sou neerlê indien die stryd voortgesit word.

    Mentz, kmdt. H.: Hy veg as luitenant onder generaal Beyers. 1910-1924: LV vir Soutpansberg. Kolonel in Wêreldoorlog I. 1919-1921: Minister van Lande, in die Smuts-regering.

    Mentz, veldk. N. J. (1845-Jan. 1900, † Acton Homes) van die Ermelo-kommando – sy graf in Natal gee sy geboortedatum aan as 1847 en identifiseer hom as van die distrik Heilbron.

    Nie een van dié persone pas die patroon van generaal Mannetjies nie.

    Deel 3 van Die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, onder die hoofredaksie van drs. D. W. Kruger en C. J. Beyers [1977: Tafelberg, Kaapstad] bevat die volgende inskrywings onder Mentz:

    Mentz, Hendrik (1877-1938). Die latere minister. Die inskrywing verskaf inligting wat, met die eerste oogopslag, van belang kan wees. Kolonel Mentz is in die Wittebergen gebore. Die Wittebergen en die Roodebergen vorm die Brandwaterkom (so genoem na die kort rivier wat daar ontspring en in die Caledonrivier vloei).

    In dié kom of vallei gee hoofkommandant Marthinus Prinsloo op 29 Junie 1900 aan generaal sir Archibald Hunter oor met die meerderheid Vrystaatse burgers, terwyl vroue en kinders toekyk uit die beskutte kranse waar hulle hul toevlug neem vir die loop van die oorlog.

    In die Nekke of Poorte wat toegang tot die Kom verleen, het generaal Mannetjies Mentz die eerste keer die vrugte van sukses geproe.

    Kolonel Hendrik Mentz word egter in Johannesburg groot. Verder is daar geen aanduidings dat hy ooit in die omgewing van die Brandwaterkom was nie, siende dat hy aan die Natalse front onder generaal Ben Viljoen en daarna onder generaal F. C. Beyers geveg het. Hoewel die generaal Mentz na wie ons soek die (mees) algemene familienaam Hendrik kon dra, weet ons nie of hy dit met die kolonel gedeel het nie.

    Kolonel Hendrik was bestem vir ’n publieke lewe ná die oorlog. Hy voer, as brigadekolonel, die Derde Berede Skutters in die Unie se kampanje in Duits-Suidwes-Afrika aan. Hy word deur generaal Louis Botha aangestel as militêre goewerneur van Windhoek. As minister van lande is die Mentzmeer na hom vernoem. In 1920 word hy die Unie se eerste minister van verdediging (’n feit wat nie deur Malan vermeld word nie). Hy woon verskeie konferensies by en lê die grondslag van die Suid-Afrikaanse vloot voordat hy in die 1924-verkiesing verslaan word.

    Ten spyte van sy besige openbare lewe, skryf dr. J. Ploeger in sy bydrae tot die Biografiese woordeboek, was dit nie bekend […] wie sy moeder was nie – en dít ’n korte vyftig jaar ná sy dood! Hierdie opmerking herinner ons hoe vlugtig persoonlike besonderhede van selfs openbare figure is – veral in ’n oorwegend mondelinge gemeenskap.

    Die ander twee inskrywings onder Mentz in die Biografiese woordeboek is dié van:

    Mentz, Joachim Frederik (1887-1957): NG Kerk-predikant en bittereinder, seun van kmdt. F. E.; en

    Mentz, Joachim Frederich (of Frederik) (1725?-1777): Landdros van die distrik van Swellendam.

    Joachim Frederich, oorspronklik ’n matroos, is die stamvader van die Mentze. Uit sy lendene en dié van Maria de Waal spruit driesentimeterkolom in die Wes-Randse telefoongids, drie sentimeter in die Bloemfonteinse, twee sentimeter in die Skiereilandgids, vyf sentimeter in die Oos-Randse gids, vier sentimeter in die Johannesburgse en twee sentimeter in die Durbanse gids onderskeidelik (gemiddeld vier inskrywings per sentimeter). Vir Oranjemund, Somerset-Wes, Queenstown en Tsumeb is daar ’n enkele inskrywing elk, in Kimberley en Windhoek twee, in Welkom drie en in Stella vier inskrywings. Swellendam, van waar Joachim Frederich en Maria begin met hulle beskeie aandeel aan die bevolking van die land se telefoongidse, loop ná honderd en tagtig jaar leeg van hulle afstammelinge, sonder ’n enkele inskrywing.

    Dit beteken egter nie dat die tydperk sedert die vestiging van Joachim Frederich op Swellendam met sy Maria ’n deurlopende periode van vermenigvuldiging verteenwoordig nie. Inderdaad, gedurende dié eerste Swellendamse jare is dit hittete of dié nuwe geslag oorleef dit nie aan die Kaap nie.

    Ds. A. P. Smit skryf in die Gedenk album van die Mentz geslag [1949: Pro Ecclesia, Stellenbosch] dat die huwelik van nagenoeg agtien jaar ’n gelukkige een was. Ds. Smit verskaf nie ’n bron nie, maar te midde van ’n kinderryke patriargale gemeenskap is dit te betwyfel of die eerste Mentz-egpaar veel troos kon put uit twee getroude dogters – een getroud met die liberale en berugte landdros Maynier wat uit die Graaff-Reinet van ons skoolgeskiedenis verjaag is deur die dapper Van Jaarsveld.

    Met ’n wolk van uitwissing oor hulle koppe is dit nie vergesog om te spekuleer dat blote hoop op oorlewing die enigste geluk was wat die Mentz-huwelik ten grondslag kon lê nie: Jan Frederik (gedoop 6 Jan. 1765) is blykbaar vroeg dood, en die laaste wat ons van [die tweede broer] Joachim Frederich [gedoop 15 Jan. 1769] hoor, is in 1802, toe hy as 33-jarige vrygesel steeds onder een dak verkeer met sy jongste broer, Hendrik (gebore 1776).

    As dit nie vir hierdie Hendrik was nie, was dit die laaste wat ons van ’n Mentz sou hoor. Hy is gebore toe sy vader reeds afgetree het – die hoop beskaam dus nie, maar is tot die uiterste beproef.

    ’n Jaar later is die stamvader se hoop vir altyd uitgedoof, sonder dat hy sien hoe die eerste Hendrik ses seuns en, byna as ’n toegif, sewe dogters uit huwelike met Maria de Villiers (1775-1837) en toe met Elizabeth Susanna Myburgh (?-1850) verwek. Hy strooi hulle wyd oor die nuwe land: vanaf die Drakenstein in die Boland tot in die Oos-Kaap by Somerset-Oos, Uitenhage en Bedford. Uiteindelik beland ’n tak van dié boom in die Suid-Vrystaat.

    Die eerste Hendrik sterf in 1860 by sy seun op Driekop, in die Smithfield-distrik. Oud en der dagen zat lui die skaars leesbare inskripsie op sy sandsteen-grafsteen.

    Die geslag Mentz is gered en telefoongidse van die toekoms ’n paar bladsye dikker, terwyl die geskrewe geskiedenis bly swyg oor ’n verlore generaal.

    Heraldry of South African families deur dr. C. Pama [1972: Balkema, Kaapstad] bevat geen familiewapen vir Mentz nie. Die draers van dié laaste naam Mentz word daardeur die (meestal) twyfelagtige aanspraak op patrisiërstatus gespaar. Die familiewapen vir Von Mentz voor in ds. A. P. Smit se gedenkalbum is ’n deursigtige poging, tipies van dié tyd, om met die Van der Bijls en De Villiers’s mee te ding om ydele eer. As ons dan nie ’n majoor Piet, ’n lord of selfs ’n Sakkie de Villiers het wat so lekker kan gesels nie, dan …

    Elke Mentz dra lig of swaar aan sy eie individuele misstap of parogiale eer en verdwyn tussen mynwerkers, afslaers en spekulante, onderwysers, boere, tailors, tinkers soos oom Joggem van Dewetsdorp, predikante, wilddiewe, klerke, ’n dokter of twee en ’n generaal wat soek geraak het.

    Die roem van generaal Mannetjies Mentz is hoofsaaklik streeksgebonde. Daar kan nou geargumenteer word dat ons ons daarom nie tot bronne kan wend nie.

    Dis deels waar.

    Selfs die mees uitputtende dokumentasie van die oorlog laat ons met leë hande wat generaal Mannetjies Mentz betref: die steeds onvoltooide reeks werke van wyle dr. J. H. Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902 [Die Staatsdrukker, Pretoria], swyg.

    In deel 1, Die Boere-offensief, Okt-Nov 1899, en in deel 2, Die eerste Britse offensief, Nov 1899-Des 1899, vind ons geen verwysing na enigiemand met die laaste naam Mentz nie.

    In deel 3, Die stryd in Natal, Jan-Feb 1900, is daar twee bladverwysings:

    Mentz, veldk. N. J.: Dit bevat ’n beskrywing van die Slag van Acton Homes in Natal, 16 Januarie 1900, waar hy sneuwel (maar volgens sy grafskrif sterf hy op 18 Januarie). Veldkornet Mentz word beskryf as ongeveer sestig jaar oud.

    Deel 4 en 5, Die Boere-terugtog uit Kaapland en Die Britse opmars na Pretoria, bevat weer geen inskrywing in die indeks van Mentz nie. Ons moet daarop let dat deel 5 die oorlog tot omstreeks Mei 1900 dek – twee jaar van stryd lê nog voor. Ook die oorgawe van hoofkommandant Prinsloo in die Brandwaterkom, waar die oorgrote deel van ons soektog na generaal Mentz afspeel, lê twee maande (en hoeveel verdere ongeskrewe boekdele?) in die verskiet.

    Die naam van kommandant (later generaal) Mannetjies Mentz duik in die weke en maande ná die oorgawe van Prinsloo se Vrystaatse hoofmag die eerste keer op. Indien die opvolgboekdele van Breytenbach ooit verskyn, sal dit dalk verdere lig kan werp op Mannetjies Mentz?

    Ons het dus bitter weinig waarop ons ons kan verlaat in ’n soektog na generaal Mannetjies Mentz.

    Maar wat weet ons van hom, selfs al is dit hoofsaaklik uit oorvertellings?

    Dat hy ’n baanbreker van die guerillataktiek was en hom hart en siel daarin gewerp het, tot ’n mate wat in alle waarskynlikheid nooit eers deur generaal De Wet en andere in hulle wildste drome oorweeg is nie. As sodanig is hy allermins ’n grensfiguur, maar sekerlik belangrik genoeg om in die chronologie van die SuidAfrikaanse Oorlog vir homself ’n eie plek oop te veg.

    Ons het dus die naam van ’n persoon wat na bewering betrokke was by sekere keerpunte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Oorlog.

    Ons het ook gedokumenteerde beskrywings van sekere gebeure sonder dat die dokumentasie Mannetjies Mentz daaraan verbind. So ’n koppeling vind slegs in die volksmond plaas.

    In hierdie gevalle is dit histories onverantwoordelik om ons op twyfelagtige mondelinge getuienis te verlaat deur te sê: In hierdie gebeure is die hand van generaal Mannetjies Mentz te bespeur. Die verklaring werp min of geen lig op die veronderstelde gebeure nie. Ons beveilig onsself liefs deur te sê dat nadere besonderhede oor die insidente verlore is, of dat ons verdere uitsprake voorbehou totdat ons oor feite beskik.

    Aan die ander kant, dit gebeur dat ons sommige oorlogsoptredes aan generaal Mentz toedig sonder dat dié insidente in sigself op enige sekerheid berus. In hierdie geval oorleef beide die voorval en die naam wat ons aan die beweerde voorval bind bloot in die volksmond. In dié totale afwesigheid van enige feite steek ’n geregverdigde twyfel sy kop dubbel en dwars uit.

    Dit gee aan die vraag of generaal Mentz werklik bestaan het ’n nuwe dringendheid.

    Ons leef in ’n tyd waarin mondelinge oorlewering ’n nuwe status as ’n aanvaarbare historiese aanspraak verkry. Hierdie status is oordrewe: oorlewering, in die afwesigheid van stawende dokumentasie, werk óf verskralend óf kreatief op die geskiedenis in. Ons kan die verskralende of kreatiewe invloed verduidelik na aanleiding van ’n voorval wat aan generaal Mannetjies Menz self toegeskryf word.

    Daar is voldoende dokumentasie dat ’n twintigtal swaar gewapende burgers die Brits besette Middelburg, Transvaal, vroeg een Mei-oggend in 1902 onder die skuiling van die eerste koue binnesluip. ’n Runnik en die onverskillige hoefklap van ’n perd verdwyn in die dorpenaars se donker drome, want daar is ’n verposing in die stryd: oor die hele land bespreek Boereoffisiere vredesvoorwaardes met hulle burgers en onder mekaar.

    Dit is die uur waarin selfs die ipekonderis sy eie simptome gediagnoseer het en nou tevrede slaap. Dis die uur waarin die slaaplose oplaas sluimer. Die gewete swig uiteindelik voor vermoeienis, want dis nou eers tweede hanekraai.

    In stilte beset die burgers die tronk. Die bewaarders, onder die bevel van ’n Engelse onderoffisier en merendeels bestaande uit hensoppers of hanskakies, is nou nog dronk van die vorige aand se ietwat vroegtydige viering van die vrede.

    Die storie lui dat die burgers onder die bevel van generaal Mannetjies Mentz en sy getrouste volgelinge staan. Hulle is op pad na Delagoabaai om ’n vrede te ontsnap wat hulle uitsluit. Voordat hulle egter aan hulle eie veiligheid dink, is dit nodig om ’n lid van generaal Mentz se kommando, Rooi Roux, uit die Middelburgse gevangenis te bevry – hy word aangehou op ’n klag van moord op ’n Engelse offisier. Die gewonde offisier is na bewering met die kolf van sy geweer papgeslaan, soos dit Rooi Roux se manier in geslote geveg met die vyand is.

    Generaal Mannetjies Mentz laat die paar gevangenes vry. In hulle eie tronkselle sluit hy die bewaarders toe. Toe die kommando die tronk en die onbewaakte barakke met dinamiet in die lug blaas, met die nuwe gevangenes en al, ruk die dorp uit sy diepe slaap.

    Die dweper sien die aarde bewe en voor hom oopgaan. Hy sal voortaan tussen uitverkorenes leef. Die ipekonderis sterf aan ’n geweldige bloeding op die brein. Hy verbaas hom oor die afwesigheid van pyn en oor sy vermoë om in sy sterwensuur tot op die stoep te stap. In die vervolg trap die slaaplose dou tot met die eerste lig.

    Sommiges beweer Mentz-hulle stroop winkels van lewensmiddele wat hulle by die konsentrasiekamp buite die dorp besorg. Daar word gesuggereer dat twee ruiters, een aan elke kant, Rooi Roux met moeite regop op sy perd hou, terwyl hy Kent gij dat Volk sing, want, kenmerkend, was Rooi Roux nie kieskeurig oor sy drinkmaats of die geleentheid ter viering nie – veral nie nou dat die datum vir sy krygsverhoor vinnig nader nie. Voordat generaal Mannetjies Mentz en sy kommando die dorp uitry, sonder haas, en met of sonder lewensmidddele bestem vir die konsentrasiekamp, herken heelwat Middelburgers hom en sy twee vernaamste adjudante, veldkornet Voss en Niemann. Weens ’n uiterlik wat hom agtervolg, ook waar hy nie gaan nie, is dit veral Niemann wat opvallend teenwoordig was in Middelburg. Aldus die storie.

    Wie ook al verantwoordelik was vir die ontsnapping van die aangehoudenes, dit was nie generaal Mentz nie. Dit kon enigiemand anders wees, luitenant Henri Slegtkamp² met die jammerlike oorblyfsels van kaptein Jack Hindon se verkenners dalk, maar nie generaal Mannetjies Mentz nie.

    Selfs oppervlakkig gesproke strook die dorpstorie nie met die min feite tot ons beskikking nie. So, byvoorbeeld, kon Rooi Roux nie sing nie, nie om sy lewe te red nie. Hy was nie ’n selfbewuste soort mens nie, maar menige bakleiery ontstaan om ’n besope Rooi Roux so ver te kry om te probeer sing. Tweedens, dit was ook nie Rooi Roux wat bevry is nie, wié ook al wié bevry het. Vir Rooi Roux was alle redding te laat, want teen Mei 1902 is hy langer as ’n jaar reeds dood – ten einde laaste byt hy in Maart 1901 naby Marico in die stof in ’n opdraande stryd tussen sy vertroude geweerkolf en ’n Britse saagbajonet.

    Laat ons argumentshalwe aanneem dat die beweerde feite met die waarheid strook. Dan ook kon die invallers nie generaal Mentz en sy kommando wees nie. Ten tyde van die Middelburgse inval was hy, vergesel van veldkornet Voss, Niemann en Blink Frans Naudé, al oor die Transvaalse grens in Portugees-Oos-Afrika.

    Hier is ’n voorbeeld hoe mondelinge oorlewering kreatief op die geskiedenis inwerk. Daar is ook verdere voorbeelde, nie altyd spesifiek uit die Suid-Afrikaanse Oorlog nie.³

    Dieselfde voorval wat die geskiedenis aandik, kan ironies ook gebruik word om aan te toon hoe mondelinge oorlewering die geskiedenis verskraal. Volgens oorlewering was generaal Mentz en sy kommando teen die einde van die oorlog dikwels in die Middelburg-omgewing bedrywig. Laat ons argumentshalwe aanneem dat dit histories korrek is om die meeste van die insidente in die Middelburg-omgewing aan hom toe te skryf. Het hierdie kleurlose maar werklike insidente, en generaal Mentz se aandeel daarin, in vergetelheid verval omdat dit minder dramaties of heroïes was as die een insident wat wel onthou word, naamlik die inval in Middelburg om Roux te bevry? Vandag nog word barste in huismure uitgewys as ’n gevolg van die ontploffing by die tronk.

    Verskraling, soos ook kreatiewe aandikking, is die direkte gevolg van dié verdigsel.

    Hoe gaan ons dus te werk om vas te stel wie Mannetjies Mentz was?

    ’n Moontlikheid is dat hy nie werklik Mannetjies Mentz heet nie, maar sonder om noodwendig ’n fiktiewe persoon te wees.

    Hierdie moontlikheid is nie so vergesog as wat dit mag klink nie. Kommandant Jan Vorster, alias Jan Pieter Retief, Kaapse Rebel deur dr. P. W. Vorster [1987: Military History Journal 7,4] vertel die verhaal van kommandant Jan Vorster (1846-1925) van die distrik Hay, Griekwaland-Wes. Hy word op 5 Augustus 1900 by Potchefstroom gevange geneem. As Kaapse rebel staar hy swaar gevangenisstraf in die gesig, en gee daarom sy naam aan as Jan Pieter Retief van Johannesburg. In September 1900 word hy na Ceylon gestuur.

    Vanuit Diyatalawa ontwikkel Vorster ’n elementêre kode – ’n verwysingsisteem om met sy familie in verbinding te bly. Hy teken sy briewe aan familielede as J. P. Retief. Ten spyte daarvan dat die owerheid sy briewe sensor, stel die Engelse nooit sy identiteit vas nie. Met die vrede in 1902 gee hy voor om ’n Hollandse burger te wees wat aan Boerekant geveg het, want amnestie sluit Boereoffisiere uit die Britse kolonies uit. Ná afkondiging van gunstiger amnestievoorwaardes kom kommandant Vorster op 15 Julie 1903 uit Holland in die Kaap aan.

    Is dit moontlik dat Mannetjies Mentz so ’n naam as ’n alias aanvaar het? In sy geval is daar egter geen aanduiding dat ’n kode gebruik was nie. Indien hy soos kommandant Vorster ’n alias gebruik, dan is dit waarskynlik om sy ou naam in onbruik te laat verval. Om welke redes ook al, die ou Mannetjies Mentz (onder watter naam ook al) moes van die toneel verdwyn.

    Tweedens: was Mannetjies Mentz nie, byvoorbeeld, ’n soort kollektiewe eienaam nie, geskep met die uitsluitlike doel om ’n kapstok te wees vir ’n spesifieke soort optrede waarvoor niemand verantwoordelikheid wou aanvaar nie?

    Is dit ondenkbaar dat die naam Mannetjies Mentz geskep is met die spesifieke motief om aanspreeklikheid te ontsnap? Is dit ondenkbaar dat die sinsnede die hand van Mannetjies Mentz ’n manier is om toerekenbaarheid, moreel of andersins, op te skort (of te verwys, of uit te stel, of oor so ’n breë omvang moontlik te versprei)? As die opskorting van skuld sou dit dan funksioneer as ’n sekulêre weergawe van ’n handeling van Bo (of, soos ander sal sê, uit die dieptes van die Duisternis).

    In Amerikaanse Engels, waar name in die ghetto uiteraard van minder belang is en dikwels diens doen as ’n skuiling, is ’n naam soms ’n handle: in ’n geval soos dié wat ons nou oorweeg, is ’n naam ’n blote handvatsel om koffers so vinnig moontlik uit die regterhand van toerekenbaarheid na die linkerhand van verontskuldiging te verskuif. Dit is ’n haak waarmee ons wolbale van die spoorlyn verwyder terwyl die lokomotief nader stoom.

    Verdere moontlikhede is legio. Veronderstel ons stel vas dat Mannetjies Mentz wel ’n historiese figuur was. Laat ons verder veronderstel dat hy besonder onbekwaam as kryger was. Iedere keer dat hy ’n geweer in die hand neem, het hy homself in die voet geskiet. Hy was ’n bespotlike figuur, die toonbeeld van onvermoë eerder as een van bekwaamheid, en hy dra die rang van generaal slegs in ’n satiriese of ironiese sin.

    Dan was beskrywings van voorvalle waarby die generaal volgens oorlewering betrokke was, nie waar van die historiese figuur Mannetjies Mentz nie. Dit was bloot bedoel om as oordrywing van die werklikheid verstaan te word. Mannetjies Mentz vervul hier die funksie van ’n Von Münchhausen-figuur.

    Ironie of satire het ’n eie sosiologiese agtergrond nodig waarop dit as ’t ware parasiteer. Die bepaalde omstandighede waarbinne Mannetjies Mentz as ’n Von Münchhausen-figuur geskep is, is nie noodwendig bevorderlik vir ironie of satire nie – die sosio-historiese eise van die historiese periode kan om ’n ander toon as dié van ironie of satire vra. Dan is dit moontlik dat die werklike sosiologiese agtergrond satire of ironie op sy kop keer.

    Teen só ’n agtergrond is dit denkbaar dat die bedoelde ironiese interpretasie van volksvertellings rondom die Mannetjies Mentz-figuur plek moes maak vir ’n letterlike of feitelike vertolking – die bedoelde bespotlikheid van die baron verander ongesiens in heldeverering. Marx kon nie die geskiedenis willens en wetens op sy kop draai nie; hy het ’n bepaalde konteks nodig gehad.

    Dit is moontlik dat die tydsgewrig ’n normale gesigswaarde van vertellings vereis. Enige ander (bedoelde) waarde wat aan die woorde geheg moet word, sal nie in dié konteks begryp word nie. So ’n ommeswaai van bedoeling is veral nie vergesog in ’n periode van nasionale heropbou nie. Dan soek ons eerder na werklike helde as na ironisering van heldfigure.

    In my soektog na generaal Mannetjies Mentz is ’n verwante moontlikheid aan die hand gedoen lank voordat ek op die dokumentêre bewyse afkom wat (so glo ek) die bestaan van generaal Mannetjies Mentz ’n waarskynlikheid maak (indien nie bewys nie).

    En selfs nadat ek dié dokumentasie bekom het (wat hier byeengebring is), is die vraag steeds: was dit voldoende om te weet wie Mannetjies Mentz was?

    Vroeg in my soektog na Mannetjies Mentz is moontlikhede vir die identifikasie van generaal Mannetjies Mentz reeds deur ’n veteraandrawwer teenoor my aan die hand gedoen.

    ’n Afgetrede skoolhoof van Krugersdorp vertel my dat hy oorspronklik kom uit ’n tak van die Mentz-familie wat steeds suid van Bloemfontein saamgetrek is. Hulle is die direkte afstammelinge van die stamvader en -moeder se vyfde spruit, Hendrik (1776-1860).

    Hendrik vestig hom langs die Caledonrivier, op die plaas Driekop. Dié kolonie Mentze bestaan nou hoofsaaklik uit neefs en niggies, en ander met meer verlangse verbintenisse. En dit is Mentz-wêreld dié: Mentzfort, Mentzburg en Mentzkraal is ’n paar van die name op die plaaskaart van Suid-Vrystaatse distrikte.

    Skemeraand ry ek dertig myl na die plaas van die afgetrede skoolhoof se broer. Hy is ’n gesellige man met ’n rooi vel en hare wat nog steeds rooiblond tussen grys is. Ek verduidelik, en die Mentz-kêrel sê: Laat ek eers vir ons ’n dop kry. Hy gooi die glas halfvol Klipdrift en vul dit op met Coke en ys. Nou kan ek op my gemak praat, sê hy.

    Ek hoop, sê hy, "dat jy kan sien ek was ons laatlam. My broer in Krugersdorp, die een wat jou hierheen gestuur het, is in sy laat sewentigs. Ek self is nou eers in my vroeë sestigs.

    Ek weet dus uiteraard minder as my broer se geslag oor dié tydperk waarin jy belang stel.

    Hy gooi nog ’n brandewyn en skreeu agtertoe: Gertie, is die bed oorgetrek vir die meneer? Nee, nee, dis nie moeite nie, met al die kinders die huis uit op hulle grond … beduie hy terwyl hy die brandewyn met die oog meet, want ’n maatglas kan so ’n dop

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1